Open Stellenbosch, transformasie en die US

stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. Argieffoto.

Frederick van Dyk skryf uit die Adam Tas-studentevereniging se perspektief:

Die atmosfeer op die Matie-kampus kan met een woord beskryf word: elektries.

Nie net as gevolg van die luide aandrang op verandering deur groepe soos Open Stellenbosch nie, maar ook die sensitiewe gesprekke en debatte tussen studente oor die kampus, die status quo en die geskiedenis laai die Bolandse lenteluggie tot hoogspanning. Adam Tas, as studentevereniging wat hom sedert 2007 beywer vir Afrikaans se grondwetlike plekkie onder die Matie-son, beskou hierdie nuwe tydgees nie as ’n armageddon vir Afrikaans en sy behoud op die universiteit nie. Inteendeel, ná deeglike en rasionele ontleding van die verskeie standpunte besef ons dat die huidige atmosfeer juis geleenthede en pligte van kardinale belang skep.

Open Stellenbosch (OS) het vroeër vanjaar as ’n dinkskrum vir studente met standpunte van ’n soortgelyke aard ontstaan. Die organisasie het van ’n klein groepie kritiese denkers binne ’n paar maande tot ’n magtige populistiese stem op die kampus ontwikkel. ’n Stem wat studente en personeel se diepste en mees gevestigde oortuigings bevraagteken en selfs aangeval het; wat mense met ’n wye reeks reaksies – van ’n ligte bolip-sweet tot knaende irritasie tot ongekende woede en onsekerheid – gelaat het. Die organisasie het sy ideologiese ammunisie en vinnige publisiteitsprong grootliks te danke aan sy makkers in die #Rhodesmustfall-beweging, wat tot groot opskudding op die Ikey-kampus (UK) gelei het. Vir sommige is OS ’n messias, vir ander ’n wolf in skaapklere, vir die res ’n irriterende muskiet wat sy eie brandstof sal uitwoed. Sover is daar grondige bewyse vir die eerste twee perspektiewe, maar OS blyk die standaard vir studentepolitiek keer op keer te ontwyk, juis omdat die groepie vasbyters weier om uit te brand, ten spyte van ’n reeks taai nederlae!

Hoe maak ’n mens met hierdie OS-fenomeen? Wat moet ons dink, hoe moet ons rasionaliseer, as “ons” kan verwys na die liefhebbers en belangstellendes in Afrikaans, die taal? Hoe skiet ons hierdie olifant, en indien hy geval het, waar begin ’n mens eet? Moet ons hom in die eerste plek skiet, of hom dalk sy plek in die wildtuin van hoër onderwys gun? En hoe kan ons transformasie laat plaasvind sodat almal met ’n glimlag wegstap?

Adam Tassers het gou tot die besef gekom dat die logiese reaksie (om OS te beveg) nie vrugte gaan dra nie. Indien ons eerlik met onsself en rasioneel is, sal ons weet dat die boublokkies van OS studente net soos ons is. Mense met al die vrese, onsekerhede en Angst wat saam met adolossensie as ’n gemeenskaplike geskenkpakkie kom. Inderwaarheid is hul einddoel op universiteit gelyk en ewe waardig aan enige ander Matie s’n: om graad te kry en met lekkerkry klaar te kry. Om die werkmark met selfvertroue en kwalifikasie te  betree. Om eendag kos op my familie, gesin of afhanklikes se tafel te kan sit. Om my vet studielening af te betaal. Om menswaardig en seker en suksesgedrewe die lewe in te stap.

Opgesom, om mens te word. Om te oorleef, met ’n tikkie meer fleur. Dit kan dus nooit regverdigbaar wees om ons broeders en susters in die studentestryd die skerpkant van die pistool te wys nie.

Juis daarom het ons die teleskoop waarmee ons OS bekyk het met ’n mikroskoop vervang. Ons het OS se status van “vyande” na “medemense” verander. Die onmiddellike gevolg was dat die aard en stemming van ons houding na dié van ’n volwasse, beskaafde debat verander het. Sonder dat ons ooit ons eerste beginsels of missie hoef prys te gee. Ons kan dus OS bestudeer en krities oor hulle dink, wat ons ’n waardiger en eerliker perspektief kan gee rondom dié groepering se doen en late, eerder as om simptomaties en aggressief te werk te gaan en elke daad van OS aan te val. Adam Tas werk dus met die onderliggende, fundamentele bestaansredes en argumente van OS, pleks van hul oppervlakkige kenmerke wat ander organisasies keer op keer onsuksesvol probeer aanvat.

OS se ideologie, kortliks, kan verstaan word volgens die Marxistiese ontleding van die geskiedenis, veral die koloniale verlede, soos geteoretiseer deur skrywers soos Frantz Fanon (1925-1961), ’n filosoof en psigiater wat die psigiese en (by uitbreiding) politiese gevolge van kolonialisme en post-kolonialisme op gekoloniseerdes beskryf het. OS maak egter nie bloot op Marx-gebaseerde teorie staat nie, maar eerder op die breër studieveld bekend as kritiese teorie (Critical Theory) wat daarop fokus om die redes agter ongelykheid te probeer beskryf. Die sogenaamde derde golf feminisme (Third Wave Feminism), kritiese gender-studies en kritiese rasseteorie is al drie onderdele van die verskeie subvelde van kritiese teorie. Hoewel ons nie noodwendig OS se ideologie sommer as onsinnig afskiet nie, is Adam Tas se liberale oriëntasie met betrekking tot kampuspolitiek en aktivisme dikwels kwaai teenstrydig met die premisse van kritiese teorie. Waar liberalisme hom bemoei met die vrye regte tot assossiasie, kultuur, godsdiens en oortuiging van keuse, is kritiese teorie meer gefokus op die klassestryd tussen groepe wat, relatief tot mekaar, histories ongelyk is. Hiervoor word die establishment (US-bestuur) dikwels sonder goeie feitelike ondersteuning blameer. Adam Tas soek eerder vrede en vooruitgang in die Afrikaanssprekende individu, ongeag ras of etniese oorsprong, se grondwetlike reg om Afrikaans as akademiese voertaal en as een van die 11 amptelike tale in die grondwet te hê. OS soek egter, onder meer, radikale transformasie van die status quo om gelyke behandeling van alle studente te bewerkstellig wat hul akademiese voertaal betref.  Engels, alleenlik en deur die bank aan almal, word as die gelykmakende remedie voorsgeskryf. Daarmee saam dra die been van kritiese rasse-teorie ’n post-apartheid soort Afrikanisme of Afrika-nasionalisme by, wat aan OS sy kenmerklike regtervleuel Swart Bewussynsretoriek gee. Adam Tas, weer in die liberale tradisie, beskou ras en etnisiteit as faktore wat ons kan verenig in verskeidenheid, soos die grondwet vra, en ons steun dus nie OS se idee dat die verskille tussen rassegroepe radikaal uitgelig en beklemtoon moet word om die parameters van ongelykheid te probeer bepaal nie. Veral hul Afrika-nasionalisme, wat radikaal en soms ekstreem uitgeoefen word, het volgens ons nare reuke van rassisme, soos die optrede van sommige OS-lede al telkemale getuig het.

Die feit dat OS se onderliggende ideologie identifiseerbaar is, maak dit makliker om gemene grond tussen ander partye en OS te vind, en om logiese denkfoute in OS raak te sien. Die meeste partye soek gelykheid vir alle studente en droom van ’n oplossing vir die huidige onstabiliteit. Hoe hierdie gelykheid en regverdigheid bereik word, is egter juis waar die grootste wrywing ontstaan. Tans is die wrywing van só ’n aard dat studentegroepe nie meer na mekaar luister nie, en polarisering die noodwendige hartseer gevolg is. Die feit dat OS hardkoppig weier om met die US-bestuur te praat maak die situasie nog meer gespanne. Die uiteindelike dooiepunt tussen die partye is ons insiens nie volhoubaar, gesond of konstruktief nie.

Adam Tas is rasioneel ingestel en krities wat alle groepe se optrede in die verband, insluitende ons eie, betref. Ons wil leer uit foute, deurlopende introspeksie doen en dus deurlopend ontwikkel. Ons ag die grondwet van die Republiek van Suid-Afrika as ons vernaamste en gelyke reëlboek in enige konflik of onderhandelingsgeleentheid. Daarom is ons in die posisie om meer objektief na die US-sage te kyk. OS se werketiek is eerstens nie aanvaarbaar binne ’n demokratiese en konstitusionele Suid-Afrika nie. Om klasse te ontwrig, loopbaanuitstallings (private ondernemings en werkgewers se eiendom!) te bestorm, toe te laat dat lede “one settler, one bullet” sing en ras-gelaaide retoriek rondgooi, is nie regverdigbaar volgens enige van die grondwet se bepalings of die gees, strekking en oogmerke daarvan nie. Dit is selfsugtig, onverdraagsaam en diskriminerend. Ook die ideologiese terminologie soos “wit bevoordeling” (white privilege), “institusionele rassisme” en “dekolonisering” is in die geheel gesien polariserende, betekenislose, leë retoriek indien daar nie logies deurdagte definisies, bewyse en konsensus daaroor bestaan nie. Tans is onsekerheid oor al hierdie OS-jargon ’n enorme bron van konflik wat andersins vermy kon word. OS roem ook graag daarop dat dit ’n “kollektief” is wat nie sentrale leierskap wil hê nie, aangesien dit strydig is met hul “anti-hiërargiese” oortuigings. Die kritiek wat Adam Tas hierop lewer is dat hierdie skynbare leierloosheid geen ruimte vir konsekwentheid of verantwoordbaarheid laat nie. Indien OS-lede dan buite die groep se mandaat optree, maar namens die organisasie praat, is daar geen strukture van krag om lede tot orde te roep nie. In effek kan enige lid enigiets sê en bloot die verweer opper dat hy of sy namens OS praat. Aangesien daar nie strukture is om sodanige lid te hanteer nie, reflekteer so ’n lid se houding op die hele organisasie. Siende dat OS-lede boonop nog diverse opinies het, bestaan daar dus geweldige wisselvalligheid. Hoe kan sulke wanorganisering vertrou word?

Adam Tas het ’n mate van begrip vir OS se weiering om met die US-bestuur te praat, aangesien daar nie altyd genoeg moeite in die vroeë dae van die OS-beweging gedoen is om dialoog uit te roep nie. Ons argumenteer dat OS se beskuldigings van “institusionele rassisme” ernstige klagtes is wat bewyse benodig. Die wat beweer moet bewys. Ongelukkig was OS se houding in dié verband nie sover van veel waarde nie. Geen moeite is al gedoen om bewerings van “institusionele rassisme” te staaf nie. Die duidelike tekort aan “apartheid”-tipe regulasies in die universiteitsreglemente help nie juis om hierdie bewerings te ondersteun nie. Klagtes van rassisme binne sosiale kringe en koshuise is kommerwekkend, en Adam Tas is dit met OS eens dat gevalle hiervan dringend aandag moet kry en uitgewis moet word. Dit is ’n logiese denkfout, en ’n bitter gevaarlike een, om te beweer dat enkele gevalle van rassisme noodwendig spreek van ’n groter, geïnstitusionaliseerde rasse-vooroordeel. Sonder bewyse is hierdie blote spekulasie en Adam Tas verwelkom enige regverdige, objektiewe bewyse vir of teen hierdie bewerings. OS het hierdie denkfout ongelukkig al so erg geïnternaliseer dat sommige lede amper paranoïes raak daaroor, en die radikales het telkemale die denkfout as regverdiging gebruik om lelike veralgemenings rondom wit studente, bruin studente, apolitiese swart studente, Afrikaners of Afrikaanssprekendes te maak. Slagspreuke soos “I feel like I’m in Europe” en “I can’t breathe – all this whiteness!” spreek daarvan. Die feit dat die US-bestuur juis deur OS as die grootste klip in die pad van transformasie beskou word, is te wyte aan misverstande van beide kante. Min dialoog is in die begin van 2015 aangebied en OS se ongeduld het gelei tot die knellende dooiepunt wat tans bestaan. Adam Tas is van mening dat dié wantroue nie ’n bilaterale oplossing tussen die bestuur en OS gaan toelaat nie. Wyer deelname is nodig.

As oplossing glo Adam Tas dat die pad na transformasie slegs aangepak kan word indien multilaterale rondetafelonderhandelings die model word om die huidge konflik te hanteer. As OS vra dat mense moet #Luister, is hulle reg. Ons moet begin luister, en begin onderhandel, met die grondwet as ons hoogste rigtingwyser. Ons as studente, as makkers-in-die-stryd. Op hierdie manier, en hiermee alleen, sal ons ’n gemeenskaplike basis en blywende oplossings kan vind. Slegs só kan ons konsensus vind oor wat transformasie behels, sodat ons dié grondwetlike plig kan nakom sonder dat die regte van enige persoon of groep ingeboet word. Slegs só kan Stellenbosch Universiteit vir die hele land, ander universiteite en die wêreld wys dat ons konflik beskaaf kan hanteer, en dat ons die lesse van die Kodesa-onderhandelinge ernstig opneem.

Tans is daar ’n studentegedrewe inisiatief op die kampus aan die groei, bekend as “Kodesu” (Konvensie vir ’n demokratiese Stellenbosch Universiteit) wat mik om die onderhandelings by Kodesa as voorbeeld te gebruik vir probleemoplossing op Maties. Adam Tas, tesame met verskeie ander studentegroepe, ondersteun hierdie inisiatief. Die begin van die einde, of altans, die geleentheid daarvoor, het gekom.

Die atmosfeer by Maties is meer gelaai as wat Eskom se kragopwekkers ooit sal kan droom om te wees. Ons gun alle studente die interessante tye, maar ons gun hulle ook vrede en voorspoed in hul studie. Dié wense kom egter teen die prys dat ons almal, ook OS, na mekaar moet begin luister en saamwerk na ’n goue middeweg.

Masimamelane. Let us Listen. Kom ons luister.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Poplap ·

Hopelik is daar ook ander studente groepe/organisasies wat Stellenbosch Universiteit se karakter as ‘n oorwegend Afrikaanse instelling wat met Afrikaanse geld en durf totstand gebring is kan beskerm teen die Leniniste en verdwaalde liberaliste.
Tussen OS en Adam Tos is daar nie veel hoop nie.

Emile ·

Die jagter en die beer ontmoet in die bos.

“Wag voor jy skiet”, se^ die beer, “kom ons onderhandel oor ons verwagtinge. Wat verwag jy uit ons ontmoeting?”. “Wel, ‘n beervel-karos teen die koue.” se^ die jagter. “En jy?”

“n Warm maaltyd”, se die beer.

Hulle sit toe saam en onderhandel. ‘n Halfuur later staan die beer alleen op en stap weg, beide sy en die jagter se behoeftes bevredig….

AP van Schalkwyk ·

As n oud matie voel ek dat daar met hierdie hele oproer oor taal , kultruur en aanbieding van klasse in Afrikaans en al die ander sogenaamde rassistiese optredes slegs n rookskerm is om om af te breek. Die uiteindelike doel is om Stellenbosch te verander na n Engels medium inrigting.
Onderskeie studies het aangetoon dat moedertaal onderrig verreweg die beste medium is vir suksesvolle studies
Maties is n AFRIKAANSE instelling met internasionle erkenning as n uitnemende en suksesvolle universiteit.
Hoekom moet die tradisie van n lang tyd nou verander word om n aantal persone wat NIE deel van die bestaande kultuurgroep op Maties is nie verander word om n minderheid tevrede te stel nie

As jy nie tevrede is met wat jy kry nie is dit jou goeie reg om te verander na n instelling waar jy tevrede sal wees met jou opleiding in n taal van jou keuse

Maties is Afrikaans. Hou dit so!!!!!!

Therese van Schalkwyk ·

Al wat ek vir Frederick van Dyk van Adam Tas kan sê, nadat ek hierdie relaas gelees het, is: Ek hoop van harte jou generasie gaan nog hier en daar Afrikaans hoor op die Matie-kampus. Julle kinders en kleinkinders gaan beslis nie.

Daar kom darem wragtie ‘n tyd dat ‘n mens met meer oortuiging mag stry vir een of twee Afrikaanse universiteite in ‘n land met soveel Afrikaanssprekendes en soveel Engelse universiteite!

George Bekker ·

Adam Tass skep self ‘n swak indruk: woorde, woorde en retoriek. OS se basiese standpunt is dat daar net vir Engels plek op Stellenbosch is (direk teen die grondwet in). Absolute stellingsinname teen hulle is die enigste opsie en Adam Tass se onbeholpe reaksie is nutteloos.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.