Openbare beskermer gaan nie nou trekpas kry

Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer. Foto: ANA

Dit is teen hierdie tyd ’n voldonge feit dat die Hoofstuk 9-instellings waarvoor daar in die Grondwet voorsiening gemaak word en ons demokrasie moet beskerm, nie behoorlik funksioneer nie.

Party werk kennelik nog beter as ander – soos onlangs gesien in die ouditeur-generaal se uiters kritiese ouditmenings en terugvoering oor die stand van plaaslike regering. Andersyds weet die publiek egter nie eens wat instellings soos die kommissie vir geslagsgelykheid (ja, daar bestaan so iets) doen nie terwyl die Menseregtekommissie se werk van growwe vooroordeel en ondoeltreffendheid getuig.

Die opvallendste kreeftegang word egter by die openbare beskermer (OB) bespeur. Sedert adv. Busisiwe Mkhwebane se aanstelling in Oktober 2016, was dit toenemend duidelik dat sy nie net nié haar effektiewe voorganger, adv. Thuli Madonsela, se voorbeeld deur middel van selektiewe niksdoen gaan nastreef nie, maar ook ander meer sinistere motiewe aktief gaan najaag.

Haar aanstelling is hartstogtelik deur oudpres. Jacob Zuma en die ANC, en meer versigtig deur die EFF, ondersteun – nooit ’n goeie teken nie. Sy was ook ’n voormalige spioen, wat op sigself seker nie ’n sonde is nie, maar sy het onder verdagte omstandighede by die Staatsveiligheidsagentskap (wat sterk Zuma-bande het) beland deurdat sy ’n beter besoldigende pos by die departement van binnelandse sake laat vaar het om sonder goeie rede daar te gaan werk.

’n Openbare gevaar

Sy het begin deur die kantoor se TV’s op die Gupta-beheerde ANN7 te laat instel om sodoende die ideologiese belyning van die personeel te verander. Daarna het sy Madonsela op kleinlike maniere begin teiken en blatante valshede oor haar verkondig.

Haar ware lojaliteite – en totale ontbloting as ’n onbevoegde pion – was egter die gouste deur die Absa-Bankorp-verslag ontbloot. Daarin het sy gevra dat Absa R1,1 miljard terugbetaal as gevolg van ’n apartheidsera-lening deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) aan Bankorp, Absa se voorganger. Sy het haarself ook toe die reg aangematig om voor te stel dat die SARB se mandaat gewysig word om nie meer inflasie te teiken nie, maar om op sosio-ekonomiese kwessies te fokus – iets wat totaal buite haar magte en mandaat val.

Sy het vervolgens pak in die hooggeregshof in Pretoria gekry en haar bevindinge is met kostes van die hand gewys. Sy is ook, onder meer, beveel om 15% van die SARB se regskoste uit haar eie sak te betaal.

Barney Mthombothi skryf juis onlangs in Sunday Times dat Mkhwebane dadelik ná hierdie petalje in die pad gesteek moes word. Maar helaas . . .

Dan was daar ook die Estinamelkplaasondersoek en -verslag. Dit was ’n teksboekoefening in hoe om iets so skreiend te white wash. Die ANC se sekretaris-generaal en destydse Vrystaatse premier, Ace Magashule, en Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale bronne, is nooit genoem of ondersoek nie. Sy het bloot vir Magashule aangemoedig om provinsiale amptenare te ondersoek.

Maar dis nie net wat sy gedoen het wat haar verdag maak nie, maar ook wat sy nié doen nie. Sy het al telkens die media en publiek gemaan om geduld aan die dag te lê met die ondersoeke oor die Guptas en staatskaping, want hulle is kompleks en vat tyd. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Valke het al soortgelyke stellings gemaak.

Dis te verstane as dit aanvanklik die geval was dat hulle nog tyd nodig het, maar om eerlik te wees, raak dit nou al verregaande. In Oktober is Mkwhebane al twee jaar in die saal en ons het al weinig gesien van hoe sy hierdie Gupta-olifante in die vertrek wil takel. Sy gee nie eens self terugvoer daaroor nie en sê net iets daaroor as sy daaroor gevra word. Trouens, sy doen niks om uitvoering aan haar grondwetlike kernmandaat – om korrupsie en onreëlmatighede in die openbare sektor te ondersoek – te gee nie. Sy het ook al telkens versuim om by die parlement verantwoording oor haar optrede te doen. Dis blatante minagting van die mense wat haar in die eerste plek dié pos gegee het.

Pleks daarvan om ware misdade en onreëlmatighede te bekyk, hou sy haar eerder met beuselagtighede besig. Die nuutste is ’n bevel aan die Wes-Kaapse wetgewer om binne 30 dae “gepaste stappe” teen die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, te doen oor ’n twiet waarin sy gesê het dat kolonialisme se nalatenskap nie slegs nadelig was nie.

Miljarde rande is in die staat en by staatsbeheerde ondernemings oor die afgelope dekade verduister en sy is gepla oor ’n vergete twiet wat ook nie binne haar mandaat val nie. Zille gaan nou die beslissing deur ’n hof laat hersien en Mkwhebane kan ’n herhaling van die Absa-debakel beleef. Selfs al doen sy dit nie, is dit steeds ’n verdoemende aanklag teen haar en haar kantoor.

Nie slegs ’n Zuma-lakei

Die vraag is hoekom sy nog hoegenaamd in die post-Zuma era verdra word. Sy is eintlik ’n maklike teiken om te verwyder omdat onbevoegdheid en wangedrag kwalifiserende vereistes ingevolge die Grondwet is vir haar afdanking. Die Nasionale Vergadering, ANC en pres. Cyril Ramaphosa kan eintlik maklik van haar ontslae raak.

Tog is sy steeds in haar pos en gaan klaarblyklik vrypostig voort om haar amp te misbruik om byltjies te slyp terwyl daar geen aanduiding is dat die ANC as die grootste party van haar ontslae wil raak nie (en hulle steun is wel deurslaggewend daarvoor). Die Zille-affêre is instruktief in hierdie verband. Die ANC hou haar juis in hierdie belangrike pos om hul opponente, soos Zille en die DA, by te kom en hul eie oortredings weg te steek. Hulle weet dat as die proses om ’n nuwe OB aangestel te kry, van voor af begin, kan dit uitloop op die aanstelling van iemand soortgelyk aan Madonsela omdat Mkwhebane so swak is. Die ander vraag is ook wat sy als van hoëlui in die ANC af weet. Haar verwydering is ’n risiko wat hulle nie voor volgende jaar se verkiesing (of as’t ware enige ander tyd) sal wil loop nie.

Die beste vir hulle en haar is om haar in haar pos (en lojaal) te hou en dat hierdie onheilige alliansie tussen haar en die ANC voortduur totdat haar termyn in 2023 verstryk. En dit is waarskynlik wat gaan gebeur, tensy die publiek, opposisiepartye, burgerlike samelewing en media baie harder begin agiteer om haar te laat verwyder.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Paul ·

O’ja en elke keer as daar ‘n bevinding teen haar is, is sy geskok.

My skuld ·

Ek erken dit is my skuld as belastingbetaler want ek doen niks om my ekonomiese mag te gebruik om die regering te druk om my geld verantwoordelik te bestee nie.

Pietman ·

Die internasionale kredietgraderingsagentskappe het juis genoem dat openbare instellings struktureel swak is en ekonomiese groei benadeel, en dus broodnodige werkskepping strem. Dit is een van die redes waarom die onlangse aankondiging oor ons krediet status onveranderd gehou is. Dis impliseer dat dit vir die ANC meer belangrik is om politieke mag te behou as om die burgers van die land te dien – die ironie is dat die regering spesiale gesante aanstel om te gaan geld leen dmv beleggers – nou ja, beleggers met soveel geld is nie onnosel nie – hulle sien presies raak wat kredietagentskappe ook sien – so, is daar enige logiese denke oor in die regering?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.