Openbare Beskermer of openbare bedreiging?

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer, in die Konstitusionele Hof. (Skermgreep: Siphelele Dludla/ANA)

Ons huidige Openbare Beskermer (OB) is onder verdenking gebring deur ’n paar ernstige bevindinge deur ons regstelsel in terme van haar integriteit en eerlikheid. Dit laat belangrike vrae ontstaan oor haar vermoë om haar pligte doeltreffend uit te voer. ʼn Mens wonder boonop hoe sy in die eerste plek in so ’n belangrike pos aangestel is, en tweedens waarom dit so moeilik is om haar te vervang, haar tekortkominge ten spyt?

Die verloop van gebeure moedig Suid-Afrikaners aan om ons konstitusionele orde, die beskerming daarvan en die rol wat die burgery daarin speel in alle erns te heroorweeg.

Volgens die Suid-Afrikaanse regering se begrip gee die OB se amp aan haar die mag – wat deur nasionale wetgewing beheer word – om enige gedrag in staatsake of in die openbare administrasie van enige regeringsfeer te ondersoek wat daarvan verdink word of beweer word om onvanpas te wees, of wat tot ’n onbehoorlikheid of vooroordeel kan lei.

Die Konstitusionele Hof het bevind dat die OB se ondersoekmodel in geheel gebrekkig is, dat sy oneerlik was oor haar afsprake tydens die ondersoek en dat sy ’n aantal valshede in die verloop van die litigasie voorgehou het. Verskeie regters het sommige van Busisiwe Mkhwebane se verslae as irrasioneel, vaag, onsinnig, teenstrydig en ongrondwetlik beskryf. Sommige regters het verdere inkriminerende bevindinge en opmerkings gelewer; soms selfs so ver gegaan as om te verklaar dat sy ter kwader trou opgetree het, oneerlik en bevooroordeeld was, verskeie onwaarhede voorgehou het, nie haar grondwetlike pligte begryp nie en onder eed gelieg het.

Wanneer dié oorvloed verdoemende uitsprake van sulke hoë gesag oorweeg word, asook die aangewese rol die OB, kan ʼn mens nie anders as om te wonder of Mkhwebane se optrede nie lynreg met haar pligte bots nie. Die Konstitusionele Hof se fel uitspraak skets sekerlik die prentjie dat die huidige OB beduidende skade aan die reputasie en status van haar amp aanrig – indien nie die einste publiek bedreig wat sy aangestel is om te dien en beskerm nie. Om eerlik te wees, behoort sy ’n toonbeeld van betroubaarheid, geloofwaardigheid en integriteit te wees. Dit is nou te betwyfel of sy wel oor hierdie eienskappe beskik.

ernst-van-zyl

Ernst van Zyl. Foto: Verskaf.

Die amp van die OB is spesifiek geskep om as belangrike wig en teëwig teen die misbruik van regeringsmag op te tree. Dit is ’n noodsaaklike teëwig in ons konstitusionele demokrasie en indien dit onder verdenking kom, kan dit tot die toenemende wanfunksie van die konstitusionele orde lei.

Neem ʼn mens in ag dat Suid-Afrikaanse belastingbetalers haar salaris betaal met die vertroue en redelike verwagting dat sy haar integrale pligte met die nodige sorg en ywer nakom, word dit duidelik hóé ernstig die implikasies van die Konstitusionele Hof se uitspraak vir ons konstitusionele demokrasie is. Die vooruitsigte dat Mkhwebane opgevolg sal word deur ’n OB wat die toonbeeld van eerlikheid, integriteit en onpartydigheid is, blyk egter baie skraal te wees. Die amp se mandaat van onpartydigheid is in die reël maar met aanstellings geïgnoreer. Willie Spies van Hurter Spies Ing. het tereg opgemerk dat hy van geen ander hoofstuk 9-instelling weet wat soveel hersieningsaansoeke teen hom het nie.

Alles in ag genome blyk dié saak vrugbare grond te wees vir nuwe perspektiewe en benaderings van hoe ons konstitusionele orde moet funksioneer; ook hoe dit in toom gehou moet word. As die staat duidelik in hierdie opsig faal, word ’n verhoogde konstitusionalisme vry van die regering ’n dringende oorweging vir bespreking. Die tyd het aangebreek dat die burgery ’n sterker standpunt inneem as die bewaarders van die steunpilare van ons konstitusionele orde. Organisasies soos AfriForum het reeds die eerste treë gegee om só ’n paradigmaskuif te verwesenlik, vernaamlik deur sy veldtog om die wysiging aan artikel 25 van die Grondwet teë te staan. In die woorde van Victor Hugo: “Niks is so kragtig as ’n idee waarvan die tyd aangebreek het nie.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

John ·

Die amp van die OB moet afgeskaf word. Hoeveel misdrywe vind nie in SA plaas nie, wat ongestraf gelaat word… nie eers ondersoek word nie. Een persoon wat in ‘n kantoor sit en net telefoniese ondersoeke doen en uitsprake lewer; as super-regter regeer, maak die vervolgingsgesag en ander hoèr amptenary oorbodig. Fire haar of sluit die res.

LV ·

Ek dink jy het darem n bietjie van n wanbegrip hoe die OB se kantoor funksioneer.

Rubber ·

Ons sit al met die ANC vir 25 jaar. Ons is dom genoeg om dit demokrasie te noem. Dink ons werklik daar is “teenwigte” in ‘n totaal korrupte staat. Die oorweldigende mag van die ANC ondersteun deur armlastiges wat met belastingbetalers se geld gevoer word, maak die OB net nog ‘n tandelose posisie wat manipuleer word die Mafia ANC.

LV ·

Daar is tog n rol vir n OB as dit reg funksioneer,kyk maar na sommige uitsprake van die vorige OB.

Henry ·

Stem allie pad saam met Rubber.
Sy tweede sin is soooo innie mirril vannie kol in!!!
Al verskil wat ek het, vir wat dit werd is, is dat Die ANC veels te onnooslik en kru is om enigsins met die Mafia gelyk gestel te word.

Netso ·

25 Jaar later en die wat nou wet en orde moet handhaaf in SA se hande drup almal van die bloed !

Gemaskerde Sopbeen ·

“Die Wet” is onderhewig aan interpretasie…………..NIE twee regters sal dieselfde uitspraak lewer in enige saak nie. Nou WAAROM is die “Openbare Beskermer” NET EEN person? Hoekom bestaan dit nie uit ‘n bank regters nie? Daar is meer as genoeg van hulle in die land om hierdie belangrike posisie te beklee.

Dink vir Jouself ·

Ons moet werk met die kaarte waarmee ons gedeel is. Ons moet dit so rangskik of herrangskik en speel dat dit ons posisie versterk. Die Openbare beskermer het die potensiaal om ‘n kritiese rol te speel in ‘n funksionele Grondwetlike demokrasie. Dit help nie ons gooi hande in die lug en gaan sit koponderstebo onder ‘n boom nie. Ernst is reg as hy sê Afriforum en ander burgerlike samelewingsorganisasies moet probeer red wat daar te redde is. Die oorsaak van die probleem moet aangespreek word. Dit is die aanstellingsproses en afdankingsproses wat gewysig moet word. Hierdie opionie is ‘n waardevolle bydrae tot die debat en spreek die wese daarvan aan.

koos ·

Hierdie aanstelling wys weereens dat die prez van hierdie land te veel mag het wat aanstellings betref. Zuma het haar aangestel met die wete dat sy nog vir jare nadat hy weg is, sy belange sal beskerm.

nabetragting ·

Daar is een belangrike aspek waarvan daar nie veel gese word nie en dit is dat die EFF, die OB, al die pad ondersteun, omdat sy kan help om hulle sinistere planne uit te voer. Die feit dat Malema vrouedag gebruik om oorlogspraatjies te maak as die howe nie gaan se wat hulle wil hoor nie is ‘n openlike uitdaging van staatsgesag en meer spesifiek die regstelsel waarop ons almal op hierdie stadium steun. “To take up arms” het net een betekenis en dit is burgeroorlog of ‘n staatskreep. Die ANC se prioriteite was nog nooit reg nie, maar in enige geval waar oorlogspraatjies en uittarting van staatsgesag plaasvind, behoort met mening aangevat te word. Ons kan nie net “sitting ducks” wees en dinge hoor en sien gebeur en daar word nie veel gedoen om hierdie brutale en onverantwoordelike uitlatings toe te laat nie. Die OB en Veiligheidstrukture disstansieer hulle deur stil te bly oor enigiets wat die EFF se. Hierdie uitlatings is 100% erger as rassisme, aangesien dit ‘n bedreiging is vir alles in SA. Niemand weet wat agter die skerms van die EFF aangaan nie, behalwe opleidingskampe wat deur hulle lede bygewoon word. Watter bedreiging is hulle werklik vir landsveiligheid? Die SADF is finansieel gedreineer volgens nuusberigte. Laasgenoemde was nog nooit in die geskiednis so’n sagte teiken vir infultrasie deur ongewenste elemente soos vandag nie.

Sarel ·

Dit gaan nie oor die Kantoor van die OB nie maar wie daar aangestel is. Haar voorganger, Tulie Madonsela het baie goed gevaar maar sy was nie ‘n Zumaliet nie. Selfde met die pos van President , jy kan dit nie afskaf nie maar dit gaan oor die persoon wat die pos beklee.

Waarheid ·

Stem saam SOBBEEN! So ob persoon en helpers moet ALLEENLIK BETAALING kry vir sake wat met UITKOMS in BEPERKTE
TYDSDUUR TOT BY VONNISOPLEGGING LOOP.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.