Oplossings vir owerheidsmislukkings

skaak-strategie-dink-skaakbord-skaakspeler

Foto: Pixabay/Pexels.com

Deur Andries Opperman

Kyk wat julle doen, want julle spreek nie reg vir die mens nie, maar vir die Here…

Waarom begin met ‘n aanhaling uit Kronieke as owerheidsmislukking die onderwerp is? Hou tog net kerk en staat uit mekaar! Die Bybel is ons boek vir die hemel. The Leviathan is ons boek vir die aarde.

The Leviathan is die pennevrug van Thomas Hobbes, een van die vaders van die sosiale kontrak. Hierin kom hy tot die gevolgtrekking dat individue hulself saambind in politieke samelewings deur onderlinge ooreenkoms. Die regering en sy wette is ‘n gevolg van die gemeenskaplike wil van die onderdane.

Maar skryf George Orwell dan nie, Four legs good, two legs better?

Elke politieke toespraak en besluit word ingerig om maksimum persoonlike voordeel te verkry, hetsy finansieel of polities. Debatte oor oop toilette word misbruik om stemme te verwerf. Liedere word gesing om volgelinge op te sweep. ’n President laster om sy party se vooruitgang te bevorder: When you vote for the ANC, you are also choosing to go to heaven. Nog ’n president deel die land se burgers in twee groepe: Africans en Whites met die uitsluitlike doel om die groter groepering van die twee te probeer paai.

En die volk skreeu: Ons soek meer! Ander se plase! Groter sportnutsvoertuie! Meer rugbywedstryde!

Panem et circenses…

Die leiers val oormekaar om op hierdie ritmiese dreunsang na die massas se pype te dans om tog net nog ‘n stem te verwerf, om tog net nog ‘n setel te bekom, om tog net nog ‘n sitplekkie iewers te kry.

En daar waar die nasies bymekaarkom, word die gebou van die Europese Unie in Straatsburg noukeurig ontwerp om soos die toring van Babel te lyk. Ons mense kan soos God wees, mits ons saam ‘n sosiale kontrak sluit om humanistiese appels te eet.

Waarom reken sommige dan dat hierdie appels suur is? Waarom smul ander dan sappig aan dieselfde appels?

Volgens watter standaard beoordeel ons mislukkings en prestasie? Oor watter objektiwiteit en geheelbeeld beskik die feilbare sterflike mens? Meerderheidstem? Wat gebeur met my menseregte as die meerderheid dit uit die Grondwet uitskryf?

Groot getalle maak verkeerd nog nie reg nie. Die mens struikel sonder kompas, sonder absolute norm. Hierin setel die kern van owerheidsmislukking.

‘n Ongewilde stelling in ‘n postmoderne samelewing. Dit skreeu nie ten hemele nie, maar ten aarde. In ‘n tyd wanneer die mens en sy natuurlike regte verafgod word, is dit ondenkbaar om nie die uwe as middelpuntvlietende krag te beskou nie.

Lang vergete stemme roep

Die handhawing van die tradisie van ons volk is noodsaaklik vir sy organiese ontwikkeling en vir ons onderwerp is ons aangewese op Calvinistiese lewens- en wêreldbeskouing, omdat die Afrikaanse volk histories ‘n Calvinistiese volk is. Uit 1935 weerklink die roepstem van prof J.A. du Plessis in Koers in die Krisis.

God heeft deze Christelijke Staat opgericht en een Christelijk Gouvernment, dat die Kerk buiten om zal beschermen en ook ik, eerwaarde Heeren… 12 Mei 1898 weergalm hierdie wekroep van Paul Kruger tydens sy inswering as president.

Hierdie spoor loop deur die geskiedenis tot by Jan van Riebeeck se gebed: “…volgens U goddelike wil is ons geroep… “

Sien u die ironie?

Die Afrikaanse kultuur wat die drie-enige God as die bron van gesag en die insteller van owerhede erken het, roei nou in dieselfde lamlendige bootjie stroomaf met al die ander postmodernistiese humaniste. Nie God word gehandhaaf nie, maar die mens! En as die mens ons meetsnoer is, dan is die grootste denkbare boosheid ’n crime against humanity.

Aan die Skepper van hemel en aarde behoort alle mag. Romeine verklaar onomwonde: “ … daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel… hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede.” Daarom moet owerhede aan God verantwoording doen.

Daniel getuig vreesloos voor die heidense koning Nebukadnesar: “Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne. Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het… “

‘n Owerheid wat misluk en selfs vyandig optree teenoor sy onderdane, is ‘n tugtiging van God oor ‘n ongehoorsame volk.

Owerheidsmislukking word voorkom deur die drie aspekte van burgerlike regering te versoen met die riglyne deur God self ingestel: Die owerheid moet sy plig nakom. Wetgewing moet God se wet weerspieël. Die volk moet gehoorsaam wees.

Is die antwoord vir Suid-Afrika se polities en sosio-ekonomiese probleme dalk te vinde in die Keynesiaanse model, soos sekere staatsamptenare wil glo? Sal meer staatsinmenging ‘n toekomstige utopie skep? Word die staat ons verlosser? As die hele land se ideologie die mens eerste stel, waarom sal die leiers anders wees?

Owerhede moet die skares minder paai. God het hulle ‘n dure plig opgelê: Hulle moet die Christelike godsdiens beskerm en reg en geregtigheid laat geskied. ‘n godvresende prof Du Plessis waarsku: “Die Kerk is nie ‘n toevallige vereniging van godsdienstige mense nie, en die staat kom nie op as die produk van ‘n wilsaksie van ‘n soewereine volk nie. Dit is nie ‘n sosiale kontrak nie. Nee, beide kerk en staat is deur God gewilde en ingestelde institute.”

Hierdie erkenning van gesag en aanvaarding van die owerheid se opdrag vind weerklank in die Afrikaner se kerklike belydenis. ‘n Christelike owerheid wonder nie wat sy plig is nie. Hy is nie besig met selfverryking nie. Nog minder is hy korrup.

En wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God? wil Miga weet.

Die owerheid moet regspreek. Hy moet ‘n wreker wees om dié wat kwaad doen te straf. Betrag die liefde. Sien die skare en word innig jammer vir hulle. Versorg jou onderdane. Beskerm die weerloses in Soweto, Alexandria, Khayelitsha sowel as op Strydfontein, Wildebeeslaagte en Immerpan. Ontferm jou oor die weduwees en die wese. God vra nie beloftes van ontferming vir stemdag nie. Hy eis onvoorwaardelike gehoorsaamheid. “Bescherm” veral die kerk as Sy bruid. Wandel met jou God… en ook rassekwessies sal vervaag.

Parlementêre wetgewing moet God se wet weerspieël. Plato en Cicero noem wette die siel van die staat. In die woorde van Calvyn het die wet dan ten doel dat medemense mekaar met opregte liefde moet omhels. Die sentrale wet van God is om die Here jou God lief te hê en jou naaste soos jouself. As die owerheid landswette hieraan meet, in stede van die Verenigde Nasies se Manifesto vir Menseregte, sal hulle regspreek sonder vrees of mislukking.

Ook die volk werk mee aan die owerheid se mislukking of sukses. Keer op keer hou die Here ‘n volk verantwoordelik vir hul dade. Hy tug of seën hulle dienooreenkomstig met ‘n bepaalde regering.

Hoe moet die volk dan bydra tot die owerheid se sukses?

Eer die koning, se Petrus. Ons volk moet ons onderwerp aan regeerders wat oor ons aangestel is, nadat ons onsself onderwerp het aan die Persoon wat self sy gesante aanstel.

Burgers, ons optredes het ’n direkte invloed op ons land se vrede.  Een Swart Maandag is nie genoeg nie. 1 Pet 3:9-12 “Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe. Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir wat verkeerd is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie. Hy moet afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; hy moet vrede soek en dit najaag. Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners.”

Wees eensgesind. Bou saam. Wees vol ontferming. Bewaar jou tong op sosiale media en by die stopstraat op pad na die kafee.

Helaas, in ‘n samelewing waar geleer word om aan te dring op persoonlike regte is dit bykans onmoontlik om neer te buig voor Goddelike reg.

Kyk wat julle doen, want julle spreek nie reg vir die mens nie, maar vir die Here…

  • Opperman is ‘n deeltydse dosent in ekonomiese bestuurswetenskappe by Aros, ‘n dosent in Chinees by Learn Chinese SA. ’n Vroeër weergawe van hierdie artikel was die naaswenner van die Dink Na 2011-skrywerskompetisie van die FAK en die Vereniging van Regslui vir Afrikaans.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eish ·

Die artikel staan kop en skouers uit bo elk oor die onderwerp van regerinsgskwessies.
Ek is baie dankbaar vir akademici soos hierdie.
Hul is dun gesaaI…

Jerry ·

Die oplossing vir owerheidsmislukkings in n demokratiese bestel le by die stembus. Indien Suid Afrikaners soos Zimbabwiers verkies om nie owerheidsverandering by die stembus aan te bring nie is die kanse goed dat Suid Afrikaners se keuse net soos Zimbabwiers se keuse hulle vir drie tot vier geslagte lank kan treiter en straf.

Frans C ·

AS ‘n mens die Bybel wil aanhaal,moet ‘n mens dit volledig doen,want in dieselfde Bybel
lees ‘n mens 2 Kor 6 -14-18. die volgende:
14
Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?

15 Hoe kan daar eenstemmigheid wees tussen Christus en Belial? Hoe kan ‘n gelowige dieselfde belange hê as ‘n ongelowige?

16 Hoe kan ‘n ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van God en afgode? Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: “Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”

.
17 Daarom: “Gaan van hulle af weg en sonder julle af,” sê die Here, “en moenie wat onrein is, aanraak nie.” “Dan sal Ek julle aanneem,

.
18 en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees,” sê die Here, die Almagtige

En tog het Afrikaner leiers nie geaarsel om met ongelowiges by Kodesa te vergader
om ‘n nuwe bestel vir al die volke van Suid Afrika uit te werk,met rampspoedige gevolge
soos dit die afgelope 24 jaar te sien is.
Is een vergadering daar geopen met skriflesing en ernstige gebed?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.