Opstaan uit sinkkamertjies en kastele gaan bou

Deur Kobus Kok

Prof. Kobus Kok.

Ópstaan, vórentoe. Volhárd. Dis in ons Suid-Afrikaanse bloed. Ons noem selfs ons skole daarna. Hoërskool Helpmekaar (nou Helpmekaar Kollege). Hoërskool Vorentoe. Hoërskool Dinamika. Ons noem ons skole na ons digters en skrywers. Mense soos Jan Cilliers, CJ Langenhoven. Maar as jy mooi kyk, sal jy sien dat die name wat ons so gee, gebore is uit die smeltkroes van vuur en pyn.

Ek lees vandag iets wat Dana Snyman op Facebook geskryf het oor Jochem van Bruggen wat die bekende Ampie-verhale geskryf het. Die meeste mense weet nie meer van die Ampie-boeke nie. En nog minder sien hoe dit ons vandag kan inspireer. Eens op ʼn tyd was daar ʼn skooltjie met die naam Jochem van Bruggen, vernoem na dié skrywer wat onder meer die Hertzogprys verskeie kere gewen het. Maar vandag is dit die Mphe-Thutu-skool. Die groot uitveër van die demokratiese oorgang het die stories uitgewis sodat niks van Ampie se stories en die skrywer oorbly nie. Maar tog is die draaiboek dieselfde en kan dit ons almal steeds inspireer.

Ampie gaan oor die smeltkroes van vuur en pyn na afloop van die Anglo-Boereoorlog en die depressietyd daarna. Mense se gesigte was grys soos die verskroeide aarde, en die koue konsentrasiekampe nog gegraveer op die lyne van hulle gesigte en op hulle moeë lywe. In sinkdakkrotte teen vuil heuwels het die armblankes gewoon. Dana Snyman haal Van Bruggen in een van die Ampie-boeke aan: “Verpotte sinkkamertjies en met-blik-toegelapte huisies langs mekaar gepak is ʼn broeiplek van ons armblankes. [D]ie armblankedom filter deur smal strate en benoude erfies na die sink- en blikhuisies”. Die oorlewingsgees van die armblanke word uitstekend uitgedruk deur Van Bruggen in die volgende woorde: “Nou is hy die produk van wat sy liggaam en sinne wil. Bang vir wat sterker, en wreed teen wat swakker is as hy; lief vir sy maat, sku vir alles wat vreemd is, gulsig as hy eet of drink, en tevrede met die hardste bed as hy wil slaap.”

Dit klink so bekend…

Wat ons egter moet onthou, is dat dit ons mense is oor wie Van Bruggen praat. Mense wat ʼn arm bestaan in “verpotte sinkkamertjies” en “sinkdakkrotte” en wat dáár broei, ken. Maar ons het ópgestaan. Vórentoe. Deur volharding. Die geleerdes praat van die kontekstuele wêreld van ʼn teks en die referensiële wêreld van ʼn teks. Daar is die konteks waarin ʼn teks oorspronklik geskryf is. Maar dan lees jy as leser dit in ʼn andere konteks, vandag. Soos ek die teks lees vloei die twee wêrelde so oormekaar soos ʼn mens doen in Photoshop se overlay-funksie. As ek die woorde so uit Ampie lees, vloei twee beelde oorvleuelend oor mekaar: Ek sien hoe sekere mense vandag ook vasgevang is in “verpotte sinkkamertjies” en in “met-blik-toegelapte” krotte. Hulle loop rond met moeë lywe en koue lyne oor hulle gestroopte gesigte. Maar díe keer is daar iets mis in die sisteem. ʼn Wíl om strategies vórentoe te gaan. Hoe kan dit wees dat die sosiale sisteem homself so blatant saboteer? Met korrupsie en bedrog en slapheid wat nie in stand hou of innoveer nie. Ons erf ‘n kasteel en toor hom om tot ‘n krot.

Sosiale sielkunde wys daarop dat sommige sosiale traumatiese gebeure deur mense kollektief benut kan word op so ʼn wyse dat dit ʼn trampolien word wat jou vorentoe vat. Maar dit kan ook só aangewend word dat dit ʼn sinkgat skep wat jou afsuig. Die vraag is wat het die meeste krag? Positiewe waardes wat jou trek, of waardes wat gemotiveer word deur vergelding?

Om ʼn skool ʼn naam te gee soos Vorentoe, en Helpmekaar, Jan Cilliers of Jochem van Bruggen, beteken dat dit ʼn toestand in ons denke verteenwoordig wat ons alreeds bereik het, of minstens dan ʼn strewe of gerigtheid na die positiewe ideale wat die persone of waardes verteenwoordig. Ideale wat ons nie slagoffers maak nie, maar oorwinnaars en mense wat die onreg teen hulle transendeer. Ek dink slagofferretoriek is ʼn sinkgat en nie ʼn trampolien nie. Wanneer gaan ons land weer daarby uitkom? Dit kan tog net as ons álmal dit doen. En nie mismoedig word nie.

Vanuit sy klaskamer op Helpmekaar in 1951, wat vanuit die heuwel uitkyk oor Johannesburg, skryf mnr. JC van Eyssen ʼn lied wat later Hoërskool Linden se skoollied word. Hy was van 1921 al ʼn onderwyser by Helpmekaar en mens sien hom sit en tuur oor die goudstad aan die een kant en die veld aan die ander. Hy skryf oor ʼn pronkskool tussen boorde in die noorde waar die bulte kartelend glooi. Die laaste paragraaf druk die gees van die mense in daardie tyd uit wat opgestaan het uit die armblankekrisis, en uit sinkdakkrotte, en kastele van skole gaan bou het:

Langs die grootpad na die Noorde
waar die bulte kart’lend glooi
Staan ʼn pronkskool tussen boorde
Met ʼn toekoms wat jou nooi!

Aan die een kant roep die Goudstad
aan die ander kant die veld:
Dis die stem van woeste weelde
Teen die stem van Trekkerheld!

Ons hou wat mooi is uit die voorgeslag:
ons bou daarop ʼn beter toekomsdag,
Staan sterk en nooit vervaard
want ons leuse is Volhard!
Ons volhard, Volhard, Volhard!  

Let op die woorde “toekoms wat jou nooi!” En hoe om vas te hou aan wat mooi is uit die verlede. Hoe om daarop te bou met die oog op ʼn béter toekomsdag. Deur sterk te staan. Maar nie vervaard nie, en ook nie verward nie. Ons het ʼn fokus, ʼn verwagting. En ons staan op, ons help mekaar, ons volhard en ons gaan vórentoe. Ons het ʼn Gees wat ons nie bang en lafhartig maak nie. ʼn Gedrewe gees wat inherent met volharding positief streef teen verval in gryse lyne van middelmatigheid en mismoedigheid.

Ons het mekaar nodig. En ons moet mekaar inspireer. Daar is baie verhale van mense wat dit doen. Kom ons vertel ook daardie verhale. Veral nou in die krisis van die smeltkroes waarin ons tans is.

Laat ons nie vergeet wie ons is nie. En veral nie wie ons kan wees nie!

  • Kobus Kok is professor in Nuwe Testamentiese Studies aan die Evangelische Theologische Faculteit Leuven in België en Buitengewone Professor aan die Universiteit van Pretoria.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Uitstekend geskryf! Die Afrikaner kon nog elke terugslag oorlewe en by die put van vernietiging uitklouter. Sal dit hierdie keer gebeur? Of was 1994 die datum van die laaste hoofstuk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.