Orania – Die waarheid sal seëvier

Deur Sarel Roets

orania-betonletters

Orania in die Noord-Kaap. (Foto: verskaf)

Vir die meeste mense in die meeste dorpe en stede in Suid-Afrika is die teenwoordigheid van joernaliste ’n teken dat iets gebeur het. Gewoonlik het iets skeefgeloop. Soms, maar nie gewoonlik nie, is dit oor ’n buitengewoon goeie en mooi gebeurtenis. Joernaliste en nuuswaardigheid maak mense opgewonde, ongeag of die rede vir die emosie Schadenfreude (leedvermakerigheid), nuuskierigheid of die moontlikheid van ’n paar oomblikke van bekendheid is.

Dié reël geld egter nie vir die man wat weet dat hy homself aan die verkeerde kant van ’n slegte storie bevind nie.

Ek is van kleins af grootgemaak in ’n trotse Afrikanerhuis met streng Christelike waardes. Anders as die algemene persepsie is konserwatiewe en trotse Afrikanerskap, soos dit in meeste ouerhuise geleer word, nie haatdraend nie. Rassisme word nie van kleins af met lepeltjies gevoer nie. Die pilare waarop my jong psige gebou is, is konsekwentheid, eerbaarheid, regverdigheid en arbeid adel.

Dit was juis hierdie vier waardes wat my vir die grootste deel van my jongmenslewe redelik negatief oor Orania laat dink het. Ek het aanvanklik bitter selde aan Orania gedink. Ek was reeds in my laat twintigs toe ek die eerste keer op Orania besoek afgelê het. Dié mitiese dorp het op ’n vreemde manier my jong Afrikanerhart geprikkel. Dit was anders. Anders as die nuwe demokratiese Suid-Afrika, maar ook anders as apartheid Suid-Afrika.

Aan die begin van 2012 verhuis ek en my gesin na Orania. My redes was veelsydig, maar dit was alles goeie redes met rein motiewe. Veiligheid vir my gesin, werkgeleenthede, ’n funksionerende munisipaliteit en ’n gesonder leefstyl was bydraende faktore, maar nie die grootste oorweging nie. Die idee en die plan het vir my sin gemaak. Vir die eerste keer sedert Jan van Riebeeck se koms aan die Kaap het ’n groep Afrikaners die behoefte gehad om, menslik gesproke, volkome op hulleself staat te maak. My grootste eureka-oomblik was toe ’n goeie vriend vir my verduidelik het waarom ek nie swart mense sien wat die vuil werk doen nie.

“Sarel,” het hy gesê, “waarom dink wit mense, en spesifiek Afrikaners in Suid-Afrika, dat hulle te goed is om toilette te skrop en bakstene te pak? Is dit omdat ons dink ons is beter as ander?”

Tot my eie skaamte moes ek ja antwoord. Ek het nog nooit so daaraan gedink nie.

Orania staan op vier pilare: eie arbeid, eie instellings, eie ekonomie en ’n eie grondgebied. Die belangrikste hiervan is ons eie arbeid. Sonder eie arbeid kan nie een van die ander pilare sinvol, regverdig, eerbaar en volhoubaar gestalte kry nie. Oraniërs, Afrikaners en ook Suid-Afrikaners moet besef dat die bereidwilligheid om in alle opsigte vir jouself verantwoordelik te wees, die enigste roete na vryheid is.

Ja, sowel Orania as die ANC en die EFF se ekonomiese vryheid berus grootliks daarop dat verantwoordelikheid geneem word vir jou eie alles.

Vir baie Suid-Afrikaners sal dit ironies klink. Vir Oraniërs is dit vanselfsprekend. Die feit dat letterlik elke politieke gesprek, met ’n wye verskeidenheid rolspelers binne die Suid-Afrikaanse politieke en kulturele landskap, op wedersydse respek uitgeloop het, dien as bewys vir die sukses van die Orania-idee.

Ek kon in die 29ste jaar van my lewe vir die eerste keer ’n regverdige en eerbare plek vir Afrikaners in Afrika sien. Ons vra niemand vir gunsies en gawes nie en ons stel onsself nie aan as ander se hoeder of regeerder nie. Ons neem self verantwoordelikheid vir ons eie alles, maar ons wil dit graag met die res van die wêreld deel. Ons het antwoorde op moeilike vrae vir Suid-Afrika, Afrika as kontinent en vir die ganse mensdom. Afrikaners wat met Oraniërs kan identifiseer, kan werklik die juk van apartheid afskud en met trots ’n plek in die wêreld volstaan, al bly jy nog nie hier nie. Ek het Orania gekies, want dit is reg. Dit is regverdigbaar. Dit is eerbaar. Dit is trots. Dit is nuuswaardig.

Is dit dus vreemd dat joernaliste van oor die wêreld Orania besoek? Soms word tot drie internasionale nuusspanne per week in Orania ontvang. Ja, dit is vreemd! Tradisioneel word verwag dat joernaliste die geroepe mense is wat die verantwoordelikheid dra om aan die mensdom die waarheid te vertel deur die weergee van akkurate feite. Ongelukkig het tye verander en het joernalistiek grootliks ’n ideologiese onderbou gekry.

Die Orania Beweging is ’n lede-organisasie binne Orania wat ook verantwoordelik is vir die ontvangs en begeleiding van besoekers soos joernaliste aan Orania. Ons is die skakelkantoor waarby joernaliste aanmeld om ’n beter begrip van die gemeenskap van Orania te kry. Daarom neem die Beweging die verantwoordelikheid om onderhoude met lede uit ons gemeenskap te reël. Dit word toenemend vir ons ’n uitdaging, want Oraniërs wil nie meer aan die media blootgestel word nie.

Gasvryheid is ’n Afrikanertradisie en enige persoon wat Orania al besoek het, sou oplet dat ons ’n immer-groetende gemeenskap is. Alle besoekers word gasvry ontvang. Ja, ongelowige Thomas, ook mense wat nie Afrikaners is nie, ongeag van die kleur van jou vel. Ons is trots daarop. Ons is goeie Afrikaners.

Die ou Boeregesegde lui egter dat ʼn mens nie ’n gegewe perd in die bek moet kyk nie. In Orania-Afrikaans beteken dit dat jy nie op ons sagte stoele moet kom sit, ons koeksisters en boeretroos geniet en vir ons met ’n skynheilige glimlag op die gesig vertel hoe jy jou verblyf in Orania geniet het, net om huis toe te gaan en jou dikwels vooraf geskrewe artikel net so te plaas nie, dikwels met ’n gepaardgaande armsalige foto wat die negatiewe narratief steun.

Verstaan ons reg: ons is nie bang om die moeilikste vrae te beantwoord nie. Inteendeel, dit is vir die leierskap van Orania belangrik dat ons idees uitgedaag word. As ons nie die vrae kan beantwoord nie, het ons die verantwoordelikheid om selfondersoek te doen.

So gebeur dit dat die Beweging se skakelkantoor onlangs ’n oproep ontvang van ’n Suid-Afrikaanse maatskappy wat konsultasiewerk vir internasionale TV-spanne doen. In die gesprek met ons kantoor verduidelik die konsultante dat ’n Nederlandse TV-span Orania wil kom besoek om ’n storie te doen vir hulle plaaslike nuuskanaal. Die program waarvoor die opname gedoen moes word, handel oor die verskillende kulture oor die wêreld heen. Die besoek aan Orania sou deel uitmaak van ’n groter storie aangaande postapartheid-Suid-Afrika. Tydens hierdie verkennende gesprek het die Beweging se kommunikasiehoof snuf in die neus gekry, maar tog teësinnig ingestem tot die besoek. Die konsultante het hom hart en mond beloof dat die besoek bona fide is. Daar is selfs ’n weddenskap van R500 tussen hulle aangegaan.

‘n Paar maande later daag die span van Nederland in Orania op. Alle voorbereidings is getref om vir die joernaliste uit ons stamland net die beste Afrikaner-ervaring te gee. Die verantwoordelikheid is aan my opgedra om vir die span ’n regte boerebraai te reël. Nadat ek ook my bekommernis uitgespreek het oor die aangeleentheid en die feit dat ek, my vrou en kinders aan die genade van ’n onbekende groep joernaliste uit Nederland oorlaat, is ek ook verseker dat die span werklik net Orania en Afrikaners se beste belange op die hart dra. Ek het ook teësinnig ingestem, maar besluit om van my kant af net die beste voor te sit. Gemarineerde T-bene, braaibroodjies, skilpadjies en selfs ’n slaai… my vrou het daarop aangedring. Die maaltyd is afgesluk met bier en brandewyn terwyl ons gesels oor alles wat Afrikaners Afrikaners maak. Nie ’n woord is gerep oor rassisme, apartheid of die kleur van ons vel nie.

Ses maande later moes die konsultante die R500 in Orania se Maatskaplike Raad se bankrekening inbetaal. Alhoewel die woord apartheid nie in een onderhoud met ’n Oraniër gebruik is nie, was apartheid die kernwoord om Orania te beskryf. Oraniërs, ja ook ek en my kinders is uitgebeeld as agterlike rassiste.

Kort ná hierdie besoek het daar ’n kennisgewing by een van die restaurante in die dorp verskyn wat in vier Europese tale vra:

“Attention all white journalists from Europe. Please leave your prejudice at the entrance”

Sarel Roets

Tydens die afgelope nasionale verkiesing het ’n TV-span van eNCA Orania besoek en drie dae hier deurgebring. Weer eens is geen moeite ontsien om die besoekers met boeregasvryheid te verwelkom nie. Xoli Mngambi wat aan die stuur van die span was, het verskeie moeilike vrae aan ’n verskeidenheid inwoners gestel, wat telkens sinvol beantwoord kon word. So is Joost Strydom, die kommunikasiehoof van die Orania Beweging, herhaaldelik gevra of swart mense welkom is in Orania. Die antwoord was telkens dat enige mens wat by ons reëls inval en ons gemeenskap respekteer, welkom is, maar dat slegs Afrikaners hier woon en werk. Verskeie kere is daar verduidelik dat Orania nie ’n rasgebaseerde wit dorp is nie, maar ’n kultuurgemeenskap wat grondwetlik beskerm word. Sekondes ná die laaste onderhoud met Oraniërs word daar teruggeskakel na die ateljee waar Vuyo Mvoko die uitlating maak dat Orania “That white enclave” is waar swart mense slegs welkom is as “garden boys and domestic workers”.

Hierdie onbillike opmerking het tot gevolg gehad dat die Orania Beweging besluit het om die eNCA by die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika aan te kla. Ons het die aanvanklike saak en die daaropvolgende appèl teen die eNCA gewen. Die eNCA was verplig om Orania, op die lug, om verskoning te vra en die saak reg te stel.

Orania sal voortgaan om die media in ons dorp te verwelkom. Ons sal aanhou om gasvry op te tree teenoor vriend en vyand. Orania het ’n goeie storie en ons is opgewonde om dit met die wêreld te deel.

Om die bekende sanger Chris Chameleon aan te haal: “Ek (Orania) is nie die ou vloerlap waarmee jy jou Sadduseër-gewete poleer nie.”

Op die ou end het Orania, soos in alles wat ons doen, niemand se hulp nodig om te oorleef nie. Ten spyte van byna 30 jaar se negatiewe publisiteit groei ons gemeenskap steeds teen 10% per jaar. Dit wil voorkom asof joernaliste wel ’n Orania nodig het.

  • Sarel Roets is die uitvoerende hoof van die Orania Beweging

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

43 Kommentare

Johan ·

Pragtig Orania, hou so aan, ons is trots op jul, en een van die dae hopelik almal deel van Orania.

Leon ·

Bo blink, onder stink. Soos met alle toere word net die mooi gewys en nie werklikhede nie. Daarom kan joernaliste mooi goed skryf. Krap so ‘n bietjie die verf af en daar sal ander dinge sy kop uitsteek. Die Afrikaner was nog nooit ‘n “goeie” mens nie. Hy het ‘n paar lelike skete em klappe. Die Afrikaner sal jou in die rug steek as jy hom ‘n kans gee. Ek kom a l 63 jaar saam met hom. Het hom al mooi uitgekyk. Sal wye draaie om Orania loop, danki.

AJ. ·

Leon
Kry ek nou die gevoel dat jy dalk een van daardie rugstekers is wat almal onder dieselfde kam wil skeer. Ek sal te skaam wees om myself n` Afrikaner te noem met so n` siening oor almal.

Beloofde Land? ·

Ons gesin praat al lankal daarvan om (aansoek te doen?) om in Orania te gaan bly. Daar is egter so baie onbekende uitdagings. Ek sou graag eers meer wil weet. Ek sal maar Orania Google om inligting te kry en selfs daar n besoek gaan afle voor ons besluit.
Dankie vir die enorme hoop in n klein artikel Sarel.

John ·

Miskien is dit nodig dat Orania sy verblyf-beeld nie via eiendomsagentskappe verskaf nie, wat uiteraard op winsneming gebaseer is. As dit Orania se erns is, moet die gebied nie soos ‘n eksklusiewe veiligheidseenheid beheer word nie, wat moontlike intrekkers eers soos ‘n gevaarlike bedreiging hanteer wat ook eers ingebreek moet word onder die totempaal… want aanploeter is die gevolg… En luister mooi, ons hou jou dop…

Stephan de S ·

@ Leon , dis maklik om sulke opmerkings anoniem te maak oor andere,maar jy sê niks oor jouself nie. Ons weet niks van jouself nie. Gestel dit blyk dat jy die grootste onsmaaklikste skerminkel is op twee bene is. Deur jou oordeel en vooroordeel kry mens tog n baie goeie insig in jou wese. Eks bietjie ouer as jy en weet dat ” onsmaaklikheid”oral oor die wêreld gelyk versprei is
Dankie vir die mooi artikel MM.

Elred Ferreira ·

Ek bly nou 10 maande op Orania, dis soos n tuiskoms vir my. Dis fantasties om weg te wees van die chaos van die Piesang Republiek…..

Johan ·

> want aanploeter is die gevolg

Orania se ekonomie groei teen gemiddeld 10% per jaar. Suid Afrika sukkel on teen 1% te groei. Wie presies “ploeter aan?”

koos ·

Sarel en jou Span. Baie geluk met van die grootste prestasie wat bereik is deur drome in praktyk te plaas. Trots om die stuk werk te lees!!

skurweberg ·

Ek wonder maar net, hoe die leiers in Oranja ‘n kwaadwillige buitestaander sal hanteer? Kwaadwilligheid is nie altyd ‘n gebrek aan insig, kennis of agtergrond nie, maar ‘n blatente poging om suksesverhale af te breek en te vernietig.

johannes lacock ·

DIt is en bly maar so die (valsnuus) is die grootste vyand van die werklikheid

Afr-Bond Aftreeoord Kliek ·

Julias en sy maats het ook belowe om lede te word en dis net ‘n kwessie van tyd……

Positief ·

Ek dink sekere Afrikaners kan baie gelukkig wees in Orania, maar ander glad nie.
Ek persoonlik het al vakansie gehou in Orania (Aan-die-Oewer) en dis heerlik daar. Ek het egter geen behoefte om permanent in Orania te bly nie. Ek verstaan nie daardie behoefte nie.
Ek bly in ‘n stad met baie gerief en waar ek bly is dit baie veilig. My kinders is in goeie Afrikaanse skole. Hoekom dan trek? Ek sal eerder Australië/NZ toe as ek moet. Maar selfs dit wil ek nie (en ek kan).
Ek wil graag vir die Oraniërs vra: Sal jy ander kulture nooi om by jou aan te tafel te eet? Indien nie, hoekom nie?

Frans C ·

Positief as jy werklik so positief is,sal jy mos die vraag onder jou eie naam vra,of hoe?

Jan ·

Ek is seker ander kulture het al in Oranie kom kuier, terloops dit is ook nie teen die wet om net binne jou eie kultuur groep te assosieer nie, vryheid van assosiasie is ń basiese mense reg.

Christiaan ·

Positief, jy is seker een van daardie joernaliste wat nie kan of wil verstaan dat ons as trotse Afrikaners in harmonie leef met SA en die wêreld nie. Hier deel ons gereeld ‘n ete aan tafel met besoekers van alle kulture, net soos dit elders in die wêreld geskied. Irrelevante vraag…

RP ·

Presies die vraag wat ek laas gevra het, toe word daar vir my vertel eks besig om moedswillig te wees. Ek kan eenvoudig nie met sulke denke vereenselwig nie. Aan al my mede Afrikaners, ons bloed is nie so suiwer soos julle dink nie. So hoekom wil julle nou skielik dit suiwer he? As ‘n bruin mens deel wou wees van Oranie (hoekom weet ek nie), sou hy mag? Indien die antwoord nee is, dan is julle n klomp rassiste. So eenvoudig soos dit.

Mooiso! ·

Elke mens / volk het die reg tot selfbeskikking. Werk die reënboognasie hier in die RSA? Hoe lyk die misdaad hier? Is die howe regverdig (ook met Penny Sparrow?)? Hoe lyk die RSA na ‘n skame paar jaar onder ‘n toenemende muslukking van ‘n regering (of lees ek Eskom, SAL, SAUK, en nog ‘n lang lys entiteite verkeerd?) Al stem ek nie met als van Orania saam nie…. net die feit dat hulle onder dieselfde kam geskeer word as die Christen, die Witmens, die Konserwatiewe, sê sommer gou waaroor die “fake” media gaan…. meestal bedrog en leuens. Of hoe dan… is daar nie vir jare heen beweer dat die stories rondom staatskaping nonsens is nie?? En nou het dieselfde media gat om gegooi….

Piet ·

1.) Ek wonder hoekom daar deur die media/bemarkings kantoor gewerk moet word as joernaliste oor Orania wil skryf? As jy’n artikel oor bv. Langebaan wil skryf dan skryf jy dit net. Het geen toestemming nodig nie.

2.) Is daar eiendoms reg in Orania?

3.) Dit help nie om op Maroelamedia oor die wenne te lees wat Orania het nie. Die ander media moet dit ook wys.

4.) Ultra regse groepe soos ‘Lads Society’ is Australie wat melding maak van Oriania help beslis nie die saak van ‘n nie rasistiese Orania nie. Hoekom sal sulkes na ‘n ‘kultuur’ organisasie kyk?

5.) Die wikipedia artikel is stokoud.

6.) Begin om Orania te bemark met feite en statistieke. Bv. hoeveel huise word maandeliks gebou, ouderdomme van die inwoners, hoeveel industriee is daar, ens.

7.) Wie beman die polisie stasie?

8.) Is daar water sekerheid? ‘n Vyandige regering kan dit mos blok.

9.) Is daar ‘n poskantoor of koerier dienste?

10.) Internet toegang?

Dit is die goed waaroor ek wonder. Dit maak nie vir my saak wat die hoofstroom ‘vals’ media skryf nie.

Piet ·

O ja, is daar ‘n definiese/omskrywing wie ‘n Afrikaner en Boer is?

Gert ·

1) Orania is nie net nog ‘n dorp nie. Dis ‘n Beweging, ‘n vooruitsig, ‘n maatskappy en ‘n vryheidstrewe. Langebaan is nie Orania nie en kry nie weekliks joernaliste nie.
2) Jy kan aandele in die maatskappy koop en stemreg kry. Maar jy kan nie jou huis aan mense verkoop wat nie verblyfsreg het nie. Beste belegging in Afrika.
3) Die ander media is vals.
4) Wie gee om oor die menings van regse Australianers??
5) Wikipedia word opgedateer maar hulle verander dit telkens terug. Wonder hoekom…..
6) Word lid van die Orania Beweging dan sal jy al die inligting kry en minder vrae hê.
7) Jy bedoel Orania Veiligheidsdienste? OVD word deur Orania amptenare beman.
8) 100% watersekerheid. Waterregte, eie pompstasie, eie suiweringsaanleg met die beste drinkwater in Suider Afrika.
9) Daaglikse koerierdienste en posgeriewe.
10) Uitstekende Internet toegang en kry eersdaags veseloptiese dienste by.
11) Eks ‘n Boere Afrikaner. Steur my nie aan mense wat daaroor wil redekabel nie. Hulle is tydmors-sleutelbord aktiviste.
Jy het vergeet om te vra oor mediese dienste. Orania het hoogs opgeleide mediese personeel, ambulans, 24 / 7 noodeenheid, bejaarde sorg, tuissorg, noodhulp opleiding, oornag herstel fasiliteit, reserwe nood personeel, onbeperkte doktersbesoeke teen minimale koste, apteek, oogkundige, fisioterapeute en selfs ‘n kliniek met Arbeidsterapeut.
Laaste vraag: Is dit die beste plek in die wéreld? Antwoord: Beslis.

Boerseun ·

As moet vra sal jy nooit weet nie, en sal jy dit ook nooit wees nie. Almal hou nie van Rugby of krieket nie, en eish my bra, vra jy of daar intenet is terwyl die mense uit Orania die stuk geskryf het. Seker n posduif na die www gestuur.

Dirk Breytenbach ·

Daar is geen polisiestasie nie want die polisieman sal niks he om te doen nie………. Internet is vryelik beskikbaar, laaaaankal……………

Thinus Erasmus ·

Ek was al daar. Ek is ñ Afrikaner en sal nog eendag nog daarheen trek. Waarom wil mense hê dat net die Afrikaner moet uitreik en in almal se goeie boekies kom om te bewys
hul is nie rassiste nie? Ek sien nie juis dat ons voormalige vyande met apologie en skuldoffer ons vergifnis soek nie.
Maar jy is reg Leon, daar is die vuil verradelike element wat soos kanker ons Volk wil vernietig, maar ek het nuus vir jou Leon – die Afrikaner sal oorleef, het nog altyd en sal aanhou!

Philip ·

Hi Riena
Daar was in die jaar op een stadium oor die 60 swanger vrouens in die dorp. Weet nie presies hoeveel daar tans is nie maar ja mense bring hulle kant. Gemiddelde ouderdom op Orania is 33. Skole groei baie mooi en die kleuterskole word alweer vergroot met nuwe klaskamers. In Pretoria was ons die uitsondering met ons vier kinders, in Orania voel ek effens agtergeblewe want lyk my nie die mense kyk televisie nie. Kom kyk bietjie hoe wemel ons strate en die pragtige dorpswembad elke dag van kinders. Dis hartverblydend.
Groete

Riena ·

Wat ek graag wil weet is, wat is hul kindergetal? As dit onder drie kinders gemiddeld per gesin is, is dit `n doodloopstraat. Dan is daardie 10% groei slegs op werwing en nie deur eie aanwas nie. Dan wys dit dat selfs die mense van Orania nie hoop het vir die toekoms nie. `n Eie nageslag skep `n toekoms van hoop. Rol op daardie moue en werk(plant voort) ……..self

Drikus Kotze ·

My skoonouers het ‘n ruk terug besoek gaan aflê in Orania, soort van ‘n verkenningstog. ‘n Vraag wat by ons familie opgekom het is die vererwing van jou aandele in die Orania maatskappy sou jy tot sterwe kom, hoe werk dit? ‘n Ander ongemaklikheid is dat daar tans ‘n nuwe bedryfshoof aangestel is nadat ongeruimthede met Carel Boshoff aan die lig gekom het, hoe waar die bewerings is, is te betwyfel sien Maroela Media: Orania wys nuwe presedent, bedryfshoof aan. Dr John Strydom het ander doelwitte, aspirasies en gevoelens, en sommige van die inwoners is nie eensgesind met die nuwe bedryfshoof. Dit kan problimaties wees vir die toekoms van Orania.

Dolf ·

Orania moet die proses begin om af te stig en ‘n republiek te word. Dit sal antwoorde en rigting verskaf aan ander groepe wat soortgelyke ideale koester.

Feite ·

Baie mooi vir Orania en sy mense. Mag hulle net van krag tot krag gaan en doen wat reg is en sorg dat hulle uit die nuus en die kalklig uitbly!

Neels ·

Orania sal die enigste plek wees waar Afrikaans gaan oorleef. Taal en kultuurorganisasies kan solank soontoe verhuis.

Maria Boshoff ·

Dié van julle wat minder goeie en mooi dinge hier kwytraak, is net naganig oor Orania se suksesverhaal. Iemand vra oor water. Die magtige Oranje Rivier vloei daar deur, hoeveel meer water is dan nodig?!
Knap gedaan Orania, doen so voort! Ons was ook n goeie klompie jare gelede daar by Aan die Oewer en was aangenaam verras.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.