Orania keer terug na normaliteit

Du Preez de Villiers

Deur Du Preez de Villiers 

Ons doen nooit wat ons sê ons gaan nie, nè?

Wat maak ons nog hier?

Hierdie plek is nie ons s’n nie.

Huis is waar jou mense is,

my mense het nie tuisland nie.

Ons doen nooit wat ons sê ons gaan nie,

wat maak ons nog hier?
(“Parkiebank” deur Fokofpolisiekar)

Woorde soos selfstandigheid en onafhanklikheid val vir almal sag op die oor, maar word deur multikulturele meningsvormers dadelik aan woorde soos separatisme, eksklusiwiteit en apartheid gelykgestel wanneer daar oor Orania gepraat word. Dit is per definisie fopnuus.

In 2010 het Beeld sy lesers gevra of hulle in ’n volkstaat sal wil bly. 56% het ja gesê. In ’n meningspeiling in 2015 het Netwerk24 sy lesers gevra of hulle dink dat selfbeskikking ’n goeie idee vir Afrikaners is. Uit die 2 500 deelnemers was 94% van hulle positief daaroor. Ongeag die grootte van die steekproewe, die resultate is merkwaardig en openbarend.

Die hoofstroommening in Suid-Afrika bly ook nie ver agter nie. Met Orania se ontstaan was die projek uitgekryt en verwerp as ’n rassistiese enklawe, maar dit het mettertyd verander na ’n houding van “los hulle net uit, want hulle pla niemand nie”. Vandag kan andersdenkendes nie meer hul nuuskierigheid beteuel nie en baie gaan kyk “skelm” wat daar aangaan.

Die redes vir hierdie houdingsverandering is voor die hand liggend.

Die afstammelinge van burgers uit lande soos Frankryk, Duitsland, Nederland, Brittanje en ’n paar ander kan hulself nie meer met die volgende vereenselwig nie:

  • Dit is nie normaal om jou belastinggeld in ’n bodemlose put te stort terwyl ’n tweede belasting betaal moet word aan alternatiewe dienste soos munisipale instandhouding, ’n posnetwerk, mediese fondse, kragvoorsiening, skoon water en sekuriteit nie.
  • Dit is nie normaal om inkomste- en BBP per kapita-vlakke van Westerlinge in ander lande te handhaaf terwyl ons deurlopend van bevoorregting en uitbuiting beskuldig word nie.
  • Dit is nie normaal dat die ekonomie van ’n demokratiese, ontwikkelende land met ’n klassiek liberale Grondwet dramaties krimp nadat dit reeds vir 25 jaar aan wêreldmarkte blootgestel is nie.
  • Dit is nie normaal dat opleiding en onderwys tot onder Westerse standaarde daal nie.
  • Dit is nie normaal dat politieke leiers hulself aan haatspraak teen wit mense skuldig maak nie.
  • Dit is nie normaal vir ’n Westerling om aan soveel haat- en martelmoorde, of aan ’n moordsyfer van 35,8 per 100 000 blootgestel te word in ’n tyd waar daar nie amptelik ’n oorlog teen ons verklaar is nie.

Met die vooruitsig op ’n nie-Westerse oorname het verskeie volkstaatprojekte deur die jare ontstaan, maar baie het nie in hul doelwitte geslaag nie. Die redes kan wees dat onderlinge samewerking nie hoog op ons Afrikaners se prioriteitslys is nie, of dat die eksterne druk nie sterk genoeg was nie.

orania-betonletters

Orania in die Noord-Kaap. (Foto: verskaf)

Orania is amper drie dekades oud en het maar al te dikwels die wind van voor gekry. Die inwoners wou vir ’n aantal jare net nie na wense vermeerder nie. Maar Orania het die afgelope vier jaar skielik dramaties begin groei – ekonomies en getallegewys. Dit is ongetwyfeld so dat die druk op Afrikaners onhoudbaar geword het, maar dat Orania ook verby sy tandekrystadium is, is verseker.

Hierdie merkwaardige projek het by die punt gekom waar sy trekkragte noemenswaardig geword het. Mense kan vandag ’n beter bestaan daar maak as waarvandaan hulle kom. Die stootkragte is nie meer die enigste rede waarom Afrikaners soontoe migreer nie.

Vandag is dit ’n verrykende en heuglike ervaring om hierdie groeiende en progressiewe dorp te besoek. (Progressief in die sin dat daar na moderne antwoorde op probleme gesoek word en aan die voorpunt van nuwe tegnologie gebly word.)

Orania gaan nou deur ’n baie opwindende oorgangsfase. Die pioniers wat die fondament vir selfstandigheid gegrawe het en bereid was om harde klippe te kou omdat hulle net een doel voor oë gehad het – vryheid is belangriker as gerief – word nou vinnig aangevul met mense wat weer die tersiêre dienstebedryf laat groei. Die pioniers het die tafel gedek vir ’n nuwe generasie wie se behoeftes meer gesofistikeerd is en gerief belangriker ag. Hulle benodig ’n vollediger ondersteuningsnetwerk en -dienste om te kan funksioneer. Hierdie mense is broodnodig om ’n volwaardige stad te laat ontwikkel – en elke siel tel, want enige persoon wat tot die ekonomie bydra, beteken groei.

Die ekonomiese profiel begin ook al hoe meer na ’n tipiese Wes-Europese dorpie neig. Soos in ander Westerse lande bly eie arbeid ’n uitdaging – iets wat Orania vir lank nog sal nodig hê. Die anderkant van die munt is dat arbeiders reeds meer verdien as hul eweknieë in die res van Suid-Afrika, want die vraag-en-aanbod-beginsel en vryemarkkragte doen hul werk.

Orania verrig egter wondere om stabiele arbeid op die dorp te verseker. Hulle word deur ’n sterk maatskaplike diens en gemeenskapsnetwerk ondersteun en trek voordeel uit gesubsidieerde behuising. Gelukkig beweeg ons na ’n tyd van outomatisering en kunsmatige intelligensie, wat verhoed dat arbeid ’n langdurige bottelnek sal word. Orania kan dus spog dat hul werkloosheidsyfer feitlik nul is, en hulle sit met ’n opkomende ekonomie terwyl korrupsie, onbevoegdheid en misdaad op groeigunstige vlakke gehou word. Hierdie is faktore wat beleggers laat regop sit. Die potensiaal is legio.

Die gemeenskap se eie kultuur, wat op Orania ontwikkel het, is dinamies en gevestig en skep ’n solidariteitsgevoel onder die lede. Orania het ’n baie homogene gemeenskap wat gekenmerk word deur ’n gedeelde waardestelsel en waar onderlinge vertroue baie hoog is. Dit is alles ’n resep vir produktiwiteit, eendrag, samewerking en ’n hoë vlak van geluk. En ja, die diversiteit onder Afrikaners is hoog genoeg om dit ’n ryk en gebalanseerde gemeenskap te maak.

Die vraag is of jy as Afrikaner tevrede gaan wees om te emigreer of in ’n land agter te bly met ’n 29,1%-werkloosheidskoers waar 17 miljoen mense afhanklik van ander se belastinggeld is om te oorleef. Is jy gemaklik daarmee dat jou eiendom soos ’n “expat compound” in ’n Derdewêreldse en oorloggeteisterde land lyk terwyl die ekonomie rondom 0,5% ekonomiese groei wankel?

Andersins kan jy jou gewig agter ’n dorpsgemeenskap gooi met ’n 12,6%-groei in indiensneming en wat op pad is om ’n stad, of ’n stadstaat of selfs ’n volkstaat te word.

In die afsienbare toekoms gaan hier genoeg surplus geld gegenereer word om ’n woestyn te tem, verbysterende robot-tegnologie te ontwikkel, kernkragsentrales te bou, klimaatsverandering op die regte manier te bekamp en bes moontlik ’n ruimteprogram te loods.

Dit is alles doodnormaal vir ’n Westerse samelewing.

  • Du Preez de Villiers is ‘n landboujoernalis wat ook graag sy neus in politieke sake steek. 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

37 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jeanne Hugo

As jy 1 keer Aan-die-Oewer besoek het, wil nerers anders vakansie hou nie.

Lafenis vir die siel!

John

… kernkragsentrales bou… oy broe… koebaai!

Elred Ferreira

Rome is nie in 1 dag gebou nie, dit vat tyd, maar dis baie duidelik dat ORANIA groei en n sukses verhaal is. Daar is geen plek in Suid Afrika waar jy veiliger is as in ORANIA nie, en die munisipaliteit kry jaar na jaar skoon oudits. Soos met enige suksesverhaal egter, sal daar altyd bitterbekke wees wat die plek kritiseer…..

Frank

Opwindend…

Eddie

Die groot problem bly steeds dat die Afrikaners te klein dink ,nie ‘n Nasionale doelwit (e) het nie en nog moeiliker saamstaan en saamwerk ! Afriforum kan na my mening die katalisator wees om dinge te verander !