Orania se stadsdroom vir Afrikaners

Welcome-To-OraniaEk het in Pretoria as ʼn regte stadsjapie grootgeword. Naweke het ons by winkelsentrums gaan fliek en melkskommels gedrink en toe ons ouer word, was dit drankies en etes by een van die vele uithangplekke in die stad. Ek het baie tyd in musiekwinkels met hulle oneindige verskeidenheid deurgebring en my vriendinne het hulle verlustig in die nuutste uitrustings in winkelsentrums. Omtrent al my vriende het ná skool universiteit toe gegaan waar hulle grade verwerf het. ʼn Groot deel van ons vriendekring het hulle in ʼn professie bekwaam wat beteken dat werksgeleenthede tot groter plekke soos Pretoria, Johannesburg, Kaapstad en Bloemfontein beperk is.

Toe ek ʼn paar jaar gelede na Orania verhuis het, was my vriende uit die veld geslaan. Nie omdat Orania se strewe vir hulle vreemd was nie, hulle is immers almal trots op hulle herkoms en erfenis, maar omdat Orania ʼn dorp is. Hulle was bekommerd oor waar ek sou gaan fliek, ʼn bier drink en klere koop. Hulle was bekommerd dat my lewensgehalte gaan daal en dat ek nie ʼn behoorlike inkomste sou verdien nie. Verder is my vrou ʼn oogkundige. Hulle was dus baie bekommerd oor hoe die skuif Karin sou raak.

Mettertyd het hulle besef dat Orania ʼn lewensgehalte bied waarmee min plekke kan meeding. Die veiligheid en rustigheid, maar belangriker nog, die vryheid om jou taal en kultuur uit te leef is iets wat aan hulle onbekend was. Hulle belangstelling is geprikkel en ʼn skuif van hulle eie was skielik nie meer so belaglik nie. Realisties gesproke is ʼn skuif vir die meeste van hulle egter nie onmiddellik moontlik nie. Om dit vir hulle moontlik te maak sal Orania eers ʼn stad moet wees.

Die afgelope week het die Orania Dorpsraad in samewerking met die Orania Beweging ʼn stadskongres aangebied waar die strategie om Orania van ʼn dorp tot ʼn stad te laat groei bespreek is. ʼn Plan van meer as R180 miljoen wat oor die volgende vyf jaar op verskillende maniere vir dié doel in Orania aangewend gaan word, is deur die uitvoerende hoof van die Dorpsraad, Frans de Klerk, bekendgemaak. Ingevolge dié plan gaan daar in spesifieke terreine belê word om te verhoed dat die bestaande groei gekniehalter word terwyl dit terselfdertyd gestimuleer word. Kom ons kyk wat behels die plan en hoe dit gewone Afrikaners sal raak.

Eerstens moet daar voldoende behuising met die nodige infrastruktuur wees om inwoners te huisves. Daar is reeds miljoene bestee aan die uitbreiding van Orania se kragnetwerk. Die begroting vir die verdere uitbreiding van infrastruktuur en woonerwe tesame met die oprigting van ʼn ontwikkelingskantoor beloop meer as R41 miljoen vir die volgende vyf jaar.

Verskeie Afrikaners het die afgelope jare as entrepreneurs ontpop – baie van hulle in die vervaardigingsbedryf. ʼn Stad moet oor voldoende infrastruktuur beskik sodat dit vir hulle moontlik is om hulle ondernemings na Orania te kan verskuif. Daarvoor moet nywerheidskorwe, ʼn sakekern en stadsplein en kantoorruimte geskep word. Hiervoor word meer as R58 miljoen vir die volgende vyf jaar begroot.

Opleiding is baie belangrik vir die ontwikkeling van ʼn stad. Dit gaan egter nie net oor skool en tersiêre onderrig nie. Matriek is belangrik, ʼn graad is belangrik, maar die belangrikheid van ambagsopleiding moet egter nie agterweë gelaat word nie. Daarom word daar meer as R39 miljoen begroot vir skool-, tersiêre en tegniese opleiding oor die volgende vyf jaar.

Dan moet daar ook oor gemeenskapsgeriewe gepraat word. Aan die een kant moet Orania belê in toerisme maar terselfdertyd ook in bekostigbare behuising. Behuisingsprojekte soos Elim, Nerina en Soetdoring voorsien reeds bekostigbare behuising aan gesinne en enkellopende mans en vroue. Dit is baie belangrik vir enige gemeenskap se groei dat daar bekostigbare behuising beskikbaar gestel word aan diegene wat dit andersins nie sou kon bekostig om na Orania te verhuis nie. Hiervoor word R19 700 000 oor die volgende vyf jaar begroot.

Dit is enkele voorbeelde van hoe die begroting van meer as R180 miljoen oor die volgende vyf jaar aangewend sal word. Toerisme, landbou, aftreegeriewe, die boubedryf en professionele dienste sal oor die volgende vyf jaar intensief ontwikkel word. Orania gaan ʼn stad word waar die Afrikanerkultuur bewaar, bevorder en gevier word.

Intussen raak my vriende se skeptisisme oor Orania minder. Hulle gaan immers die naweek kom kuier en ons gaan fliek en drankies en ʼn ete by een van Orania se voorste restaurante geniet. Ek gaan hulle aan my ander vriende voorstel wat rekenmeesters en ontwikkelaars met suksesvolle loopbane in Orania is. En aan die einde van die aand gaan hulle by Orania se spoghotel tuisgaan. Hulle sal sien dat Orania se strategie om van ʼn dorp tot ʼn stad te groei glad nie vergesog is nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Pieter Krige ·

James. Met die stadskonferensie het ek een baie belangrike feit agtergekom: Orania is veel groter as die plek waar ons werk, woon en leef. Orania is ‘n plan, ‘n idee maar ook ‘n realiteit. Orania is hoop. Hoop wat ons mense so nodig het. Orania gaan nie ‘n stad word nie, dit gaan #mySTAD word. Dit is juis die rede hoekom ek ook, soos die Klein Reus, vandag moue oprol en werk. Ons bou ‘n stad want ons kan, mag en moet. Opwindende tye.

Herman ·

Ek was al in Orania, en behoort aan Oranie beweging. Eendag wil ek wel gaan ek ook daar bly. Dis ons toekoms Orania.

Anthony ·

In die konteks van stads bou, is hierdie bedrae wat julle noem, relatief min. Dit is egter ‘n groot stap in die regte rigting. Wat Orania reggekry het, self tot en met nou, is niks minder as verbysterend nie. Julle het my volle ondersteuning.

Ebert ·

Die be drag wat begroot is moet in die perspektief gesien word dat dit slegs vir die volgende 5 jaar geld. Daarna sal daar seker nog begrotings wees wat met enige sukses groter sal wees.

Ter interessantheid: In ons Westerse kultuur is ‘n stad se status nie bepaal deur die grootte van sy bevolking nie, maar eerder deur die feit dat dit ‘n oktrooi ontvang het wat aan die inwoners selfregering gee. In die middeleeue het dorpe sodanige oktrooi ontvang wanneer die inwoners ‘n katedraal gebou het.

In die Verenigde Koninkryk is daar vandag 6 stede met bevolkings minder as 15 000 mense. Australië se kleinste stad Devonport het 30 000 inwoners. Athene in Griekeland het 15 000 inwoners gehad toe hulle die Parthenon gebou het.

Terwyl Orania nie reusagtig hoef te word om die status van stad te verwerf nie, sal sy grootte afhang van hoe bereidwillig Afrikaners is om haar te bou.

Oom Ekonoom ·

In die berig word die inligtingstegnologie bedryf nie as n fokusbedryf uitgelig nie maar ek hoop dit is wel n fokusbedryf, want Dan kan julle slegs met menslike hulpbronne, breinwerk en kreativiteit, wat nie veel ander skaars hulpbronne soos water en minerale verg nie, baie inkomste en werk genereer. Sagteware, apps ens. kan inkomste van regoor die wereld na Orania bring. Nie net Orania nie maar Afrikaners in die algemeen moet begin fokus op die bedryf.

Ebert ·

Goeie plan.

Die ontwikkelingsplan op die Orania webwerf verwys na internetverbinding en dat daar nou ook breëband op Orania beskikbaar is.

Dalk moet ons Orania help om ‘n sentrum te begin wat grade aanbied in programmering, ondernemerskap en skeppende kunste.

Oom Ekonoom ·

Ebert, Ja, hulle het hulp hierin nodig, en n Baie goeie begin sal simmer verniet wees: daar is top universiteite se kursusse gratis beskikbaar in hierdie bedrywe by http://www.coursera.org, http://www.edx.org en udacity. Dit is al opleiding wat nodig is en skool kinders, Jong mense en ander belangstellendes kan gehelp word om van die kursusse bewus te word, om dit te bekom (downloadible op tablette), en om studiegroepe te begin. Geen rede om opleiding van voor te probeer begin nie, hierdie en ander platforms gee reeds die beste wat die wereld kan bied. As die Afrikaner hulself in hierdie IT bedrywe kan bekwaam, sal ons weer n baie sterk volk word, baie vinnig ook.

Oom Ekonoom ·

Dankie Ebert vir die skakel na jou artikel, dit is n uitstekende opsomming van sommige van die belangrikste geleenthede om inkomste in die moderne digitale ekonomie te genereer. Ek stel voor om die inhoud met nog meer artikels en info brosjures uit te pak en aan baie Afrikaners te versprei in Orania en die res van die land. Dan ook om studiegroepe of so te begin om nuwe tegnologie aan te leer uit bogenoemde opleidingswebsites. Dit gee simmer baie hoop vir die toekoms van ons mense.

Oom Ekonoom ·

Egbert, jou artikel som geleenthede in digitale ekonomie baie goed op en moet verder uitgepak word, baie meer mense moet hiervan en van bogenoemde opleidingswebsites bewus gemaak word, en dalk ondersteun word via studiegroepe.

Jo ·

Dit klink hemels, sterkte vir julle by
Orania, mag julle van krag tot krag gaan.

Gert ·

Indien jy nog nie op Orania was nie, doen moeite en gaan soontoe. Wat alles daar gedoen is en gedoen word is ‘n pragtige gesig en kan ons Afrikaner Volk net trots wees daarop want alles wat daar is, is deur Afrikaner kennis en hande daar aangebring. Ek hoop en bid dat julle van krag tot krag sal gaan.

Theresa ·

Beslis ‘n opsie. “as ek moeg word vir die lewe in die stad …” hoop jul onthou nog die liedjie – daar is nog hoop.

Jan. ·

Ja man, Afrikaners maak my opgewonde en trots. Orania, Afriforum, Solidariteit, Akademia, boerekos ens. My seun studeer Stads en Streeksbeplanning by die PUK. Hoe kan hy dalk help? Ek tree oor 4 jaar af en dis daar by Orania tussen my mense waar ek my spaargeldjies wil gaan bele. Hou so aan Afrikaners.

Ebert ·

Tydens die opening van die Vrouemonument by Bloemfontein het oudpresident Steyn die volgende gesê: “hierdie monument is nie gebou uit die rykdom van die rykes nie, maar uit die armoede van die armes.” Dit nadat klein bedraggies geld deur die oorlewendes van die konsentrasiekampe regoor die land bymekaar gemaak is.

Orania se storie is soortgelyk.

Besoek Orania se webwerf en sluit an as jy saam ‘n verskil wil maak.

johann brits ·

Mooi so-as dit van my alleen afgehang het,was ek ookal daar.

John ·

Akademia kan gerus sy kampus na Orania uitbou en ook tegniese rigtings aanbied. Dit kan net positiewe gevolge inhou as ‘n ondersoekspan by Israel kersopsteek. Daar is baie te leer. Moet ook nie al jul doen en late aan die groot klok hang nie. Vertel ‘n Pa aan almal hoeveel hoenders hy in die bank het? Solidariteit kan ook hierdie raat volg. Moenie dink die SA-regering knik die kop, vol lof vir al die vordering met selfverwesenliking nie. Die groen duiwels is listig. ‘n Sekuriteitssisteem en veiligheidsbeamptes is primer tot enige volhoubare groei. Beheer deur stokou afgetrede SA-burgers lei tot ‘n soort ‘gloryfied’ aftreeoord-konsep. Dis fataal. Die verlede kan nie in toekomsbou oorheers nie. Dit kan net die basis vorm. Krag moet so gou as moontlik onafhanklik opgewek word!

Etienne ·

Ek sekondeer Johan, beplan om volgende jaar by Akademis te studier.Sal lekker wees om my studies op Orania voort te sit.

Etienne ·

Baie geluk aan Orania met die inisiatief, ek dink hul is op die regte pad.Die emmer bloed aan die Oos Rand en landswye stakings en anargie is op pad.Daar is groter kragte aan die werk as wat ons tans waarneem. My voorspelling is dat Orania binne die volgende jaar ongekende groei gaan beleef.Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie.

Francois ·

Orania bied vir Afrikaners onbeperkte opsies! Ons leiers droom en dink groot en ek hou daarvan! Ek ondersteun Orania en gaan self moue oprol en dit maak verwesenlik. Ek wil ook eendag (binnekort) n huis daar besit. Lekkerder as by die see!

André Lochner ·

Is daar in die Orania omgewing potensiaal vir ‘n sonplaas?
Met eie kragopwekking kan die doelwit van selfonderhoudende dienslewering ‘n hupstoot kry.

Henry ·

Wil lyk asof die EFF allerlei slegte planne met Orania het.
Wat sê Orania se mense oor hierdie bedreiging?
Wat is die kanse dat EFF die kitaar in julle provinsie kan slaan?

John ·

Oppas! Het julle al van die Trojaanse houtperd gehoor. Hy word deesdae rooi geduco. Mooi en blink. Hy eet koeksusters lewendig op en sy woorde is juis daarom so soet soos stroop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.