OSV in Grondwet is inderdaad gewettigde diefstal

Bennie van Zyl. Foto: Reint Dykema

Suid-Afrika se toekoms word gyselaar gehou deur ’n emosionele besluit van die parlement wat ’n mosie aanvaar het dat ’n ad hoc-komitee van die parlement bewoording moet saamstel om die onteiening van grond sonder vergoeding grondwetlik moontlik te maak.

Dit is nadat daar in 2018 ’n sogenaamde openbare konsultasieproses plaasgevind het waar die publiek geleentheid gegun was om kommentaar oor hierdie saak in te stuur aan die parlement en waar daar ook openbare verhore gehou was waar die publiek insette kon gee. Baie duidelik is die skriftelike insette wat gefundeer en in beste belang van Suid-Afrika se inwoners ingedien was, nie verreken nie. Emosies het geseëvier en is ’n uiters kortsigtige besluit uiteindelik geneem wat enige belegger wat rasioneel dink, behoorlik sal afskrik. Dit bring mens onmiddellik by die vraag uit naamlik of dit vir die ANC gaan oor hul politieke party se behoud of gaan dit oor die toekoms van Suid-Afrika en sy inwoners?

Vir 25 jaar is die ANC in beheer van Suid-Afrika en sy inwoners se toekoms waar hulle beheer het oor die beleidsomgewing. Waar staan Suid-Afrika tans gegewe die twee primêre verantwoordelikhede wat ’n regering in ’n demokrasie het, naamlik dat daar na die veiligheid van die inwoners omgesien moet word en ook dat ’n gunstige klimaat geskep moet word waar beleggers graag sal wil belê?

Die ANC het dit reggekry om ten minste drie aspekte te laat groei, naamlik die misdaad, armoede en werkloosheid. Die mees elementêre ekonomiese beginsels word hoegenaamd nie toegepas nie en het die vertroue in Suid-Afrika sodanig getaan dat ons op die punt staan om afgegradeer word tot rommelstatus. In hierdie tydsgewrig dwing die ANC (met seer sekerlik die ondersteuning van die EFF) seker die mees kortsigtige beleidsrigting tot nog toe af deur dit grondwetlik te wil maak dat die staat die burgers en beleggers se bates mag neem sonder om daarvoor te betaal.

Dit is in suiwer Afrikaans blatante gewettigde diefstal.

Tydens die ad hoc-komitee van die parlement se vergadering – wat getaak is om te kyk na die bewoording van hoe hul artikel 25 van die Grondwet wil wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak – op 6 November 2019 waarna verskeie individue genooi was om insette te kom gee het, het verskeie rooi ligte hard en duidelik aangegaan.

Die insig wat sommige van die parlementariërs openbaar oor hoe die ekonomie werk en wat dit gaan verg om die jaarliks groeiende sosio-maatskaplike krisis van Suid-Afrika die hoof te bied, ruk mens tot stilstand. Dit bring groot kommer na vore indien daar besef word dat die soort denke die skeppers is van wetgewing wat ons land moet rig vir die toekoms.

Geen kommer oor die moontlike afgradering van Suid-Afrika na rommelstatus bestaan nie.  Inteendeel word die vraag gestel, naamlik: wie is Moody’s – dit is handgemaak en kan daarom maar net weer omgedraai word! Die gevolge van waar eindig die sneeubal-effek van ’n afgradering na rommelstatus is vir my té omvangryk om te kan verwerk.

Die verwysingsraamwerk wat as grondslag dien vanwaar daar geargumenteer word oor eiendomsreg, is gebaseer op ’n verdraaiing en leuen oor die geskiedenis van die ontwikkeling van grondbesit. Dit het dalk tyd geword dat die geskiedenis in ’n onafhanklike internasionale hof getoets word. Die persone wat so skreeu oor kolonialiste en gronddiefstal gaan dan dalk agterkom dat hulle ook tweedegenerasie-inwoners van Suid-Afrika is en self volgens hul eie “beginsel” nie aanspraak het op enige grond in Suid-Afrika nie.

Dit is nie moontlik om die geskiedenis oor te skryf nie, maar kan elkeen wat die verantwoordelikheid van die toekoms aanvaar, help skryf aan ’n positiewe geskiedenis van vandag en môre? Op watter grondslag wil en behoort mens te bou aan die toekoms?

Dit gaan tog oor ’n lewens- en wêreldbeskouing met die vraag op watter begronding wil mens bou.

Gegewe die ideologies-gedrewe fondament wat die drieparty-alliansie sedert 1994 vir Suid-Afrika giet en die uitkomste wat op alle terreine ervaar word, raak dit die vraag in hoe ’n mate kan Christen-begronde Afrikaners verlief neem en maar gedweë toekyk hoe hul toekoms van hul en hul nageslag gesteel word. Dit geld net so vir al die verskillende volkere van Suid-Afrika wat ’n eie kultuur steeds koester.

Die keuses in dié verband is verskillend vir mense. Daar is ’n klein persentasie wat pak vir die buiteland dalk net omdat hulle kan; dan is daar persone wat assimileer met dit wat die ANC as sy reënboognasie opdis. Heelparty mense werk voluit om dit te maak werk – die werklikheid hier is net met watter stel waardes gaan daardie mense (saam met die ANC) anderkant uitkom?

Dan is daar heelparty groeperinge wat verskillende vlakke van ontevredenheid ervaar en word uiteenlopende moontlike oplossings aangebied. Dit is gewoonlik hierdie laasgenoemde groeperinge wat redelik intens met mekaar besig is en diskrediteer en afkraak en hulle deurlopend besig hou met die plant van agterdog. Met die koms van die sosiale media het selfs individue nou ’n platform gekry en kan selfs met geen aanhang ’n redelik “kryger” word wat glo hy of sy het baie impak en ondersteuning nie.

Natuurlik moet daar in die tydsgewrig geluister word na enige rasionele en konstruktiewe insette. Niemand kan inderdaad daarop aanspraak maak dat hulle die antwoorde het vir al die knelpunte nie. Dit bring mens by die rol van die verskeidenheid organisasies. Indien ’n persoon ’n probleem met die skaakklub se reëls op die dorp het, is die aangewese weg mos nie om by die tennisklub te gaan kla oor die skaakklub en dit wat hulle volgens jou oortuiging verkeerd sou doen nie. Daar moet by die skaakklub aangeklop word en indien mens dit nie doen nie en nie betrokke raak nie, het mens eintlik niks te sê oor die skaakklub nie.

Daar is uiteenlopende strukture en organisasies vandag in die volkshuishouding – elk met ’n spesifieke doel. Daar is instellings wat binne-parlementêr sowel as buite-parlementêr op die akker van die staatkunde en politiek woeker en werk. Toets elkeen teen jou persoonlike oortuiging, waardes en beginsels en gaan gooi jou gewig dáár in om oor die politiek jou bydrae te maak. Afbrekende kommentaar wat vrylik rondgegooi word, behoort eintlik deur almal net geïgnoreer te word. ’n Volwasse persoon in die stryd sal konstruktiewe en verantwoordelike insette respekteer, al word daar heeltemal daarmee verskil. Die uiteindelike oplossing gaan heel moontlik ’n kombinasie wees van vele insette op verskeie platforms.

Intussen lê die proses van onteiening sonder vergoeding duidelik ter tafel. Indien dit, soos dit tans blyk, wel deur mag en geweld deurgedryf gaan word daarom teen einde Maart te laat dien in die parlement, is die uitdaging groot vir rolspelers in Suid-Afrika.

Wat bly oor wat gedoen kan word?

  • Die publiek moet hul stem laat hoor en ernstig beswaar maak teen sodanige wysiging van die Grondwet;
  • Strukture moet uitreik en deel word van die ad hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsreg wat reeds in 2008 gestig is en waar verskeie organisasies mekaar ondersteun om die beginsel van privaat besitreg as grondslag van ekonomiese groei nie te verloor nie;
  • Maak bydraes vir fondse om te kan litigeer in dié verband. Hierdie saak sal tot in die hoogste howe (nasionaal en internasionaal) gedryf moet word; en
  • Raak konstruktief, gee beweegruimte vir mekaar en kom positief na vore en lê moontlike oplossings ter tafel.

Hoeveel keer in die verlede het ons al vir mekaar gesê dat Suid-Afrika is by ’n kruispad? Dit was inderdaad telkens so gewees en was die vraag toe en ook nou baie relevant. Daar was egter elke keer wel ’n uitkoms.

Mag ons elkeen in alle opregtheid terugkeer na die weg waar Jesus Christus die middelpunt van ons bestaan is – dán sal ons die nodige wysheid en insig ontvang om die regte keuses te maak – ook by hierdie kruispad.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

cr ·

Ek sal defnitief ‘n bydrae maak. Ons moet die diefstal stopsit!

Judge Dredd ·

Daar sal wel ‘n uiteindelike uitkoms wees – maar meeste sal nie van die antwoord hou – so ons speel maar hierdie speletjies tot die dag aanbreek….

potlood ·

Dit is wat seb ook is gewetigde diefstal die diskriminerende wette teen wit minderhede dit is krimineel ,maar ons aanvaar dit en stem by elke verkiesing DA net soos swart kiesers ANC stem ongeag hoe die land vernietig word.

Feite ·

Insiggewende skrywe. n Kombinasie van dinge wat gedoen moet word vir hofsake plaaslik en internasionaal. Dit is die skrywer se oplossing soos waar alle oplossings tans organisasies heen lei, maar die, “wat daarna” indien hofsake begin skeefloop (worst case scenario), daardie voorgestelde oplossing bly by die huidige touleiers ontbreek!

Gerhardt O ·

Die hartseer van OSV is dat ALLE rolspelers op die ou end gaan verloor. Bv die eiendomsmark sal ophou bestaan en banke sal nie bouwerk finansier nie. So wat doen mens dan met jou grond as dit klaar bewei is. Dan besit die Zoeloe koning alreeds die beste land ook. Ek dink dis tyd vir n propaganda veldtog maar doen dit in al die amptelike tale…

Stamhoof ·

‘n Demokrasie met Konings, Tradisionele Leiers en Stam Hoofde? Die nuwe SA is dus nie demokraties nie.

KrokodilBotha ·

Praat en redeneer, ons sal sien hoe dit uitwerk. In Zimbabwe het hulle nog nie die grond opgeeet gekry nie.

an ·

Mens onderhandel slegs uit ‘n posisie van mag!

Niemand onderhandel met swakkelinge nie.

In Afrika kom mag nog altyd deur die loop van ‘n skietyster.

Ja swaer ·

Wag maar, Zumpie het SA mos onwettig/ ongrondwetlik laat onttrek vd Internasionale Strafhof. Ramaphosa wil ‘n groot internasionale kat wees en sal sorg dat SA deel bly daarvan. Dan sodra die gewettigde diefstal v grond begin, moet alle rolspelers saamstaan en die sake na die Internasionale Strafhof vat en die SA regering v diefstal aankla daar. Solank Ramaphosa ‘n blink sterretjie wil wees, is die VN en IS darem nog ‘n ligpuntjie vir die regering se gewettigde diefstal

Piet Steenkamp ·

Solank die geskiedenis verdraai word en so aan kinders, kiesers en die wêreld opgedis word, sal drakoniese maatreels om ‘n deel van die bevolking onder te ploeg, nie ophou nie. Dit is tyd dat ‘n regstelling van die geskiedenis van stapel grstuur word. Kry ‘n “Zondo” kommissie oor geskiedenis op die been.!

JAN ·

Die moderne ABO gewapende roof wat lank uitgerek word. Hmm
Vraag is hoe om dit te stop en beveg ?
Ons benodig operasionele strategiese beplanning.
Voorstelle?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.