Ou konsensus in Westerse wêreld uitgedien

Die Amerikaanse president, Donald Trump, klim uit Air Force One toe hy Woensdag 13 Junie by die Andrews-lugmagbasis vanaf Singapoer land. Dit volg ná sy ontmoeting met die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-oen. (Foto: Alex Brandon, AP)

Die Weste, daardie bekende magtige trans-Atlantiese alliansie wat sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog op politieke en ekonomiese terrein die wêreld gedomineer het, is tans besig om ’n omvattende herskikking te beleef.

Nooit oor die afgelope sewentig jaar was daar seker ’n Amerikaanse president wat soveel onsekerheid in die verhouding tussen die VSA en Europa binne instellings soos die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo), die G7 en die Verenigde Nasies veroorsaak het nie. Geen ou en gevestigde beginsels is meer ononderhandelbaar nie.

Die Westerse konsensus van die afgelope dekades was grootliks geskoei op liberale waardes wat groeiende multikulturalisme, die uitbou van die welsynstaat, die vermyding van militêre konflik, vryhandel tussen vriendskaplike state en die afnemende invloed van identiteit, geloof en grense behels het.

Vandag is hierdie konsensus uitgedien. Massa-emmigrasie na Amerika en Europa, die mislukte Amerikaans-geleide oorloë in die Midde-Ooste, die opkoms van Oosterse ekonomieë met ander arbeids- en monetêre spelreëls is van die redes hiervoor.

Weinig politieke ontleders in die VSA sou dit geglo het indien iemand selfs net vyf jaar gelede voorspel het dat ’n Republikeinse president verkies sou word wat invoertariewe teen Amerika se grootste handelsvennote sou instel, uitgesproke teen die Bush-oorloë in die Midde-Ooste sou wees en die leiers van Europa die een ná die ander weens die onttrekking aan en heronderhandeling van ooreenkomste sou vervreem.

Baie min Amerikaners sou ooit kon dink dat ’n Republikeinse president in onderhandelinge met die leier van Noord-Korea sou tree.

Die onttrekking van die meer as dertig duisend Amerikaanse soldate wat steeds teen ’n enorme koste in Duitsland teenwoordig is, is nou ook op die tafel en waar dit juis die Republikeine was wat dit in stand wou hou, is dit nou hulle president wat hierdie duur en uitgediende praktyk tot ’n einde wil bring. Vandag is 90% van Republikeine volgens peilings tevrede met hul president. Al hoe meer kommentators bespreek nou die groeiende kans dat Trump oor twee jaar tot nóg ’n termyn as president verkies kan word.

In Europa is die ou sentrum-linkse en sentrum-regse partye wat vir dekades lank lande soos Duitsland, Nederland, Italië, Spanje, Frankryk, Oostenryk en België regeer het, besig om weg te kwyn met die opkoms van nuwe partye wat almal sterker ideologies gedefinieerd is.

Met Brittanje se uittrede uit die EU het leiers van lande soos Duitsland en Frankryk nou ook nog hul hande vol met die rebellie uit die sentrale en oostelike dele van Europa deur lande soos Pole, Hongarye, Slowakye, Bulgarye, talle Balkan-lande en, meer onlangs, ook die nuwe regse regerings van Oostenryk en Italië.

Dat daar geen politieke konsensus meer tussen Amerika en Europa bestaan nie is ’n feit, maar die konsensus binne Europa rafel ook toenemend uit. Niks van hierdie veranderinge voorspel dat die Europese Unie, die Verenigde Nasies of Navo skielik tot ’n einde sal kom of dat transatlantiese verhoudinge heeltemal in duie sal stort nie.

Wat dit wel beteken, is dat die Westerse politiek meer vloeibaar geraak het en dat heelwat veranderinge in die komende jare nodig sal wees.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Miskien moet daar dalk indringend aandag gegee word aan die opkomende ‘3de mag’ met duistere skenkers wat nou die wereldtroon bestyg en hiet en gebiet en volkere en politieke kommentators aan hul voete het, nl die wereldpers onder leiding van CNN en die ‘jakkals’ wat selfs presidente uitdagend bespot: ‘ware feite’ onder hul neuse druk; die sg ‘weters’ en ‘drywers’. WO3 is ‘n moet tussen Rusland en die VSA, die NWO moet gevestig word; die ‘beeld’ moet aanbid word. Soos rotte uit Hamelin gestroom het, betower deur die slinkse fluit… so word ons gestuur… bestuur deur slinkses na Armagedon… en ons doen vrywillig saam… jollie en high op die droom van rooi bloed… ons eie.

JAN ·

Die tyd van beroeps politici is verby.
Politiek se aandrywing basis is vyandskap.
Trump verplaas die uitgediende politieke model met ‘n sake model baseer op vriendskap.
Soos wat die Hollandse Oos Indiese Kompanie van destyds was. Ons Jan v R se base. Was skouspelagtig suksesvol met massa migrasie en hervestiging. Basseer op gesonde sakebeginsels.
Toe kom vat die Ingelse die Kaap in 1800 en vestig ‘n politieke kolonie. Met grootste onrus en geweld en migrasie tot gevolg.
100 jaar later roof die Ingelse bokryer Sakemanne weer die 2 poliieke entiteite van Tvl en Vrystaat in ‘n grusame grootste gewapende roof.
Maar die sake model van die myne het tog stabiliteit gebring op ‘n ongemaklike politieke konsensus manier.
Die politieke drome van die Afrikaner was baseer op suiwer sakebeginels behalwe voogdyskap en geweldig suksesvol tot met die moord op Verwoerd.
So stoom ons maar voort – meer afhanklik van ‘n Goddelike ingreep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.