Ou spore maar nuwe weë

1024px-Majuba_LondonNews

Die Slag van Majuba. Foto: Wikipedia.org/Richard Caton Woodville, Jr.

Ds. Johan Schütte se feesrede by vanjaar se Majubafees:

Skaars 150 km hiervandaan, by Danskraal, het my oupa ses geslagte terug op ʼn kanon geklim en sy eerste woorde was: “My broeders en mede-landsgenote …”. Die eerste woorde van die bekende 1838-Gelofte. ʼn Week later vind die Slag van Bloedrivier plaas.

Nou kan iemand dalk vra: “Waarom kon hy dit doen?” En die antwoord is: Want hy was ʼn Protestant!  Hy was ʼn afstammeling van die Hugenote, wat vir hul geloof uit Europa moes vlug.  Die gevolg van Martin Luther wat sy 95 stellinge 500 jaar terug aan die kerkdeur vasgespyker het, was dat gelowiges begin breek het met die “ander godsdiens” van daardie tyd. Daarom hoor ons so duidelik in ons voorouers se woorde en geskrifte dat hulle mense was wat in noue afhanklikheid van die Drie-enige God geleef het. Hulle het geglo dat God oor alle aspekte van die mens se lewe heers en alle dinge beheer. Hul gereformeerd-protestantse erfenis was soos ʼn penwortel waarmee hulle die lewende water uit Gods Woord getrek het om vrugbaar tot sy eer te leef.  Saam met hierdie gereformeerd-protestantse geloof wat hul lewens deurtrek het, het daar egter nóg iets in hul are gevloei.

Dit was ʼn republikeinse strewe om hulself te regeer, vry van enige vreemde oorheersing. Daarom lees ons reeds van talle republieke in ons volk se geskiedenis nog vóór die Slag van Majuba plaasgevind het: Die Republieke van Swellendam; Graaff-Reinet; Winburg, Potchefstroom, Lydenburg, Stellaland, Utrecht, Vryheid.  Ja, ook die Oranje Vrystaat en die Zuid-Afrikaanse Republiek.

Dit was veral in die Vrystaatse Republiek waar die gereformeerd-protestantse geloof en die republikeinse strewe baie mooi tot uiting gekom het in die Vrystaatse grondwet en veral dan onder die regering van president Brand met sy bekende gesegde dat alles sal regkom as elkeen sy deel doen.

In hierdie bekende gesegde hoor ons ook die klanke van ʼn gemeenskaps-gerigtheid. Dit is nie net elkeen vir homself nie, maar elkeen het ʼn deel om te doen.

Dit is egter baie hartseer dat vir meer as 40 jaar ná die Slag van Bloedrivier daar nie veel van hierdie gemeenskaps-gerigtheid in die ZAR tot sy reg gekom het nie, soveel so dat daar selfs ʼn burgeroorlog was. Die Gelofte het baie vinnig grootliks vergete geraak. Weens onder meer hierdie gebrek aan ʼn gemeenskapsgerigtheid, kon bedreigings moeilik die hoof gebied word. Verder was die staatskas basies leeg en die burgers was nie baie ywerig om kommandodiens te doen nie. In 1872 merk ds. Cachet heel tereg op dat die burgers so verdeeld is, hulle lyk meer soos vier of vyf verskillende volke as na een volk. Daarby maak hulle nog die liberalis, TF Burgers, daardie jaar die president. Dit was onder meer ook hierdie onderlinge verdeeldheid wat die Britse anneksasie so maklik laat plaasvind het.

Maar dit was hier by Majuba wat dit verander het. Hier het ʼn volk, wat eintlik nog nie eers werklik bestaan het nie, vir ʼn opskudding gesorg deur die magtige Britse weermag vernederend te verslaan. Dit word die vierde en finale veldslag van wat ons sou leer ken as die Eerste Anglo-Boereoorlog, die enigste oorlog wat die Britse leër in twee eeue verloor het. Wat egter vir die Britte ʼn vernedering was, was die saamsnoer van gereformeerde republikeine tot ʼn nuwe gemeenskap. ʼn Volk het hier by Majuba opgestaan. ʼn Volk wat nie soos ʼn betonfiguur oor tyd geset en droog geword het nie, maar ʼn volk wat in die hitte van die stryd opgestaan het, soos ʼn warm yster uit die vuur wat op die aambeeld gevorm word tot iets besonders.

Dit was ʼn besonderse volk. Luitenant Hector MacDonald was hier een van die gevangenes en hy het later geskryf dat die Boere onmiddellik ná afloop van die geveg vir langer as ʼn uur Psalms gesing het en al die eer vir die oorwinning aan die almagtige God gegee het. Daarom is die volgende jaar se proklamasie, dat 27 Februarie voortaan ʼn publieke feesdag en ʼn dag van verootmoediging voor die Here moet wees, nie vir ons vreemd nie.

Vanoggend moet ons met hartseer vra wat van daardie volk geword het?  O ja, ons hou van feesvier, ons is immers hier vir die Majubafees. Maar weet ons ook nog iets van verootmoediging? Jy kan lekker saam by die Cantus sing, maar sing jy net so heerlik die Psalms?

Waar het dinge vir ons verander? Die antwoord is nie “met die verkiesing van 1994” nie!  Lank voor dit het daar reeds iets in die Boerevolk verander. Die veranderinge wat in 1994 gekom het, gee vir ons bloot ʼn samevatting van waarop die 20ste eeuse geskiedenis in ons land uitgeloop het. As ons die 20ste eeu se geskiedenis van Suid-Afrika in ʼn neutedop moet opsom,  kan dit iets wees soos: Die SAPPE het die stryd gewen.

Sien, ons voorouers se stryd het nie met die oorwinning hier by Majuba tot ʼn einde gekom nie. Selfs nie eens later met Republiekwording nie. Vir dekade ná dekade is onder meer hierdie drie kenmerke van ons voorouers: hul gereformeerd-protestantse karakter, hul republikeinse strewe en hul gemeenskapsgerigtheid, aangeval en afgebreek.

Die liberalisme en humanisme het ons volk ingedring en daaraan gewerk om ons van ons geloofswortels af te sny. Die volk moes losgemaak word van sy God en sy kerk. Of jy hom nou ongelowig of sektaries maak, kry hom net weg van die waarheid af … Oortuig hom dan dat hy nóú die waarheid beet het …

Die republikeinse strewe van patriotte moes verander word, ʼn volk moes ʼn nasie word; die Boere-Afrikaner moes ʼn Suid-Afrikaner word. So moes ook die gemeenskap vervang word met die individu. So asof jy jouself kan wees los van die gemeenskap waaraan jy behoort.

In die 21ste eeu, hier aan die voet van Majuba, is die uitdaging vir ons om die SAPPE te laat ophou wen. Want sien, as ʼn volk die pad byster raak, hou hy nie noodwendig dadelik op met bestaan nie. Dit is juis dan tyd om terug te keer en vanuit ons wortels die pad van die toekoms te plavei. Daarom is die oproep in die eerste plek: Terug na die ware God. Terug na sy Woord. Nie ʼn nostalgiese teruggryp na die “goeie ou dae” nie. Nee, dan gaan jy nog nie ver genoeg terug nie. Gaan verder, gaan terug na die God uit wie, deur wie en tot wie alles is. Daar by Hom en uit sy Woord gaan jy leer om trots te wees op wie die Here jou gemaak het. Daar gaan jy leer om te leef soos wat Hy van jou vra. Daar gaan jy streef na dit wat God vir jou beloof het, waar gaan word. Kom ons word nostalgies oor ons liefde vir God en dit wat Hy in ons geskiedenis gedoen het.

Dit is presies wat ons by die AP Akademie wil doen. Of ons studente nou onderwysers, sielkundiges, leraars, joernaliste of filosowe wil word, ons leuse dui die rigting aan: Ou spore – nuwe weë.

Vanuit die voetspore van diegene wat die stryd deur die eeue getrou gestry het, wat die toets van die tyd deurstaan het, wil ons die pad van die toekoms plavei. In die voetspore van diegene wat die Here Jesus getrou nagevolg het. Nie om mense te vereer nie, maar tot eer van die grote Skeppergod.

As jy vandag jou medalje koop en jy sien Martin Luther se gesig daarop, onthou dan dat hy maar net die instrument in God se hand was waarmee daar gebreek is met die “ander godsdiens” van sy tyd. Net soos wat daar voor in die ingangsportaal van die HS van Blerk-saal by daardie boomstomp baie duidelik gesê word: Hierdie is nie ʼn heilige boomstam nie, maar dat ons Boerevolk slegs die heilige God eer …

Mag dit weer met opregtheid van ons volk gesê word. As jy vandag hier loop op die ou spore van ons voorouers, onthou dan voordat hulle hier by Majuba oorwin het, het hulle eers by Paardekraal teruggekeer na die Here toe. En toe hulle terugkeer na die ou spore wat hulle verlaat het, kon hulle nuwe weë baan, selfs teen die steil kranse uit. Dit alles terwyl hulle die Here vir die oorwinning vereer het. Mag daar vandag iets van hierdie spore op elkeen hier afsmeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

John ·

Humanisme, word ons wysgemaak, is belangriker as ons geloof en menseregte as etiek. Niks is meer verkeerd nie buiten om iemand se dringende drange tee te staan. Op die’ manier word Afrikaners lamgele tot waar hulle glo dat alles wat hul glo, het en nastreef onderhewig is aan andere se gelowe en begeertes. Bang De Klerk & Kie is deur Mandela onder die invloed van Ghandi & Kie oortuig dat paradyslike vrede kan heers as totale oorgawe sonder oorlog kan plaasvind ten spyte van die ANC se terroristiese/kommunistiese/antichristiese aanslag. En almal dien hul Bybels, gesangeboekies en wapens in soos soet seuntjies en ontvang die ou skelm, Nobel, se vet prys. En die ANC ontbind sy weermag en erken die regte van hul naaste, die blankes. Reg?

Tokkie ·

U verwoord wat ek in my hart voel – en u is reg ons moet as volk weer by God uitkom, dit is waarvoor ek elke dag bid.

Paternoster ·

Destyds was die katolieke kerk soos die liberales vandag, en die protestante was soos vandag se beweging na regs. Dit gaan gebeur en ons word al sterker regoor die wereld.

John ·

In Exodes 14:15 dring die Here daarop aan dat Moses ophou om Hom die hele tyd net aan te roep, maar iets daadwerkliks doen tydens die gevaarlike uittog uit Egipte en die volk vasgekeer was en eerder wou sterf. Bogenoemde gebeure dui op aanbidding maar ook aksie ooreenkomstig die bedreiging. Wil ons deesdae ook net aksie van Bo sien maar ons sit met gevoude bang handjies, angsbevange en depressief soos ‘n muis gehipnotiseer deur ‘n slang?

Rynhardt ·

Die rede oor hoekom ons mense die Gelofte vergeet het, is ons mense het gewoond geraak aan rugby, partytjies en sokkie-sokkie! Ons mense het hul geloof geplaas in die ooms met kerkpakke wat gese het:”Ons gaan verewig regeer!” Grootste fout ooit.Die Afrikanervolk moet beheer neem oor sy verstand en ophou om die ooms in pakke te vertrou.Dan sal mense deur hul leuens begin sien.Die Afrikanervolk besef nie hoe donkertydperk hom met mening in die gesig staar nie.Jy sal vinnig n hegte volk moet word!

Thysie ·

Ons as Afrikaaners sal nooit saam staan nie. Ons sal moet terug keer na God en sy woord. Die vyand het ons net waar hy ons wil he.

Ada ·

Ek glo tog ons sal saamstaan wanneer die dood ons in die gesig staar op groot maat – wat ‘n Burgeroorlog beteken. Dit gaan kom. Ek glo in die Here en Hy het ons die verstand gegee om uit te werk hoe om ons te beskerm. Ek glo nog steeds in die Gelofte. Ons almal moet dit egter onthou en vereer. Dit is baie baie noodsaaklik vir ons voortbestaan en ook vir ons nageslagte.
In die Bybel lees ek dat God ons en ons kinders sal vergeet as ons van Hom vergeet. Dit is baie kragtige woorde.

Paternoster ·

Die president en effleier vra direk vir n burgeroorlg teen ons so ja dit kom en ons moet dit besef.

JC ·

Dankie, dankie, dankie, my hart jubel oor u woorde.
Ek sal ALTYD bly bydrae tot die AP Akademie se groei. Wonderlik!
Kom ons keer terug!

Ron ·

My sentiment is roerend eens met die berig en kommentaarders se sentimente. Al vraag wat by my opkom: As ons Goddelike aanroep en ingryping hier as die primere saak beskou en van toepassing wil maak op vandag, wat het gebeur dat die 2de vryheidsoorlog so skeef geloop het? Moet net nie probeer insinueer dat die mense van die Boere Republieke nie naby genoeg aan hulle Geloof gelewe het nie.

Valie ·

Die 2de Vryheidsoorlog was ‘n siftingsproses, die korrels is van die kaf geskei. Dit is deel van ‘n proses wat ons later beter sal verstaan. Net so is die beproewinge van hierdie volk nie noodwendig net ‘n slegte ding vir hierdie volk nie.

Delta Mike ·

Nooit ooit het het die Boervolk se voorgeslagte gepraat of geskryf van “hierdie drie enige god snert” nie, hulle het God die Almagtige Skepper aanbid wat die een en enigste God is. Kry jou feite reg Johan Schutte.

Vollies ·

Delta Mike, jy is so deur die liberaliste gebreinspoel jy glo jou eie snert. Tien teen een dink jy nie eers aan jouself as `n liberalis nie. Lyk vir my eerder jy is een van die ouens van wie daar gepraat word – iemand watvan die ware God weggetrek is en nou glo jy, jy is by die waarheid. Die Drie-enige God is inderdaad die enigste ware God. So is Hy deur die VOC, Van Riebeeck, die Hugenote, die Voortrekkers en hul getroue nasate bely. Jou verdraaide weergawe van jou eie feite, laat jou in die steek. Jou weerspreking van die geskiedenis en geskiedkundige bronne getuig van jou onkundige verblindheid.

Valie ·

Laat hierdie volk opstaan. die oplossing is nie by politici nie, maar binne-in elkeen van ons. Daar is nie een Afrikaner wat kan sê dat hy/sy niks kan doen nie. Al ondersteun jy die vryheidsgedagte met ‘n paar Rand elke maand, of oriënteer ‘n paar twyfelaars, of spit ‘n sooi vir onafhanklikheid….. Alles sal regkom, AS ELKEEN SY DEEL DOEN.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.