Ou vriendskap wek kommer

landbou-trekker-oestyd

Foto: Jed Owen/Unsplash.com

Deur TLU SA

In sekere kringe is daar met groot opwinding gewag gemaak van die moontlike totstandkoming van die sogenaamde Agribusiness Development Agency oftewel ADA. Prominente mense daarby betrokke is inmiddels 72-jarige oud-NP-minister, Roelf Meyer en die byna ewe bejaarde oudpresident Kgalema Motlanthe.

Die twee, saam met sogenaamde megaboere, beoog om buitelandse geld te bekom om grondhervorming vir die staat deur te voer sonder om die staat se geld daarvoor te gebruik. Buitelandse lenings sal bekom word en die lenings sal dan terugbetaal word deur die uitvoer van voedsel en produkte na die lande wat die lenings voorsien het, skynbaar hoofsaaklik Arabiese lande.

Dalk is dit net weer goed om die geheue te verfris oor Roelf Meyer. Hy was voor 1994 die NP-regering se hoofonderhandelaar met die ANC om ’n nuwe Grondwet en ’n nuwe bestel te vestig. Aan die ander kant was die hoofonderhandelaar vir die ANC ene Cyril Ramaphosa. Die twee het in daardie proses groot vriende geword en duidelik was Ramaphosa die meer geslepe onderhandelaar en die ANC het, volgens talle bronne, meer gekry as wat hulle verwag het. Daarteenoor is dit ook al geboekstaaf dat die destydse president FW de Klerk, Roelf Meyer daarvan beskuldig het dat hy te veel aan die ANC gegee het en “ons uitverkoop” het.

Meyer was nog ’n rukkie minister in Nelson Mandela se kabinet, waar hy dus in wese ANC-beleid moes uitvoer. Net daarna het hy die politieke toneel verlaat.

Toe sy ou boesemvriend Ramaphosa staatshoof geword het, het Meyer homself bereid verklaar om betrokke te raak om Ramaphosa te help om ekonomiese groei te bewerkstellig. En uitgesproke kies hy landbou daarvoor – juis daardie ekonomiese sektor wat die meeste geraak word deur beleidsonsekerheid en grondonteiening sonder vergoeding hom in die gesig staar, en waar grondhervormingsprojekte sover ’n mislukkingsyfer van meer as 95% geregistreer het.

Sogenaamde megaboere word by die proses betrek, nadat daar al verkeerdelik bewerings gemaak is dat 10% van die megaboere sowat 75% van die kos voorsien – iets wat ’n propagandastelling is wat nog nêrens bewys is nie. Die middelslag kommersiële boer se rol word daardeur ten onregte afgespeel en in sekere landboukringe is die vrees reeds uitgespreek dat Ramaphosa, wat as megawildboer naam gemaak het toe hy ’n aandeel in ’n buffel gekoop het teen R34 miljoen, gemene saak gemaak het met die groot boere en daardeur die kleiner kommersiële landbouer aan die lot van regeringsbeleid oorgelaat het.

Roelf Meyer word nou ingespan om daarmee te help en skynbaar het mense se geheue al so vervaag oor Meyer se rol voor 1994, dat hulle nou juig oor sy betrokkenheid by die nuwe projek.

Opmerklik was dat een van die sleutelrolspelers in georganiseerde landbou, TLU SA, nie genooi was na ADA nie, waarskynlik juis omdat dié organisasie die spreekbuis van die middelslag en kleiner kommersiële landbouer verteenwoordig, hul spreekbuis is en dit geboekstaf is dat hy ernstige probleme het met die ongedefinieerde transformasie. Daarom sou dié organisasie waarskynlik met sy nugtere denke, reguit beleid en ononderhandelbare volhoubare ekonomiese inslag, dalk net ’n lastigheid sou kon veroorsaak vir die ADA-poging.

Die samewerking van die ou vriende Ramaphosa en Meyer, spel dus nie noodgedwonge iets goeds uit nie, want Meyer gaan uiteindelik maar weer die ANC se beleid vir hulle uitvoer, tot nadeel van landbou en die land.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Rubber ·

Daar is sekere mense wat ‘n voetnota gaan word in die Afrikaner geskiedenis. By nou weet ons al dat in 94 het die NWO se pionne begin om die vernietiging van die Afrikaner uit te voer.

Nico K ·

Eerste keer wat ek weer iets hoor van Roelf Meyer. Waar was hy al die jare en hoekom was hy so stil. Ek het niks teen hom nie en as hy wil help sal dit beter wees as niks. Maar ek wil darem hoor hy erken dat hy ‘n fout gemaak het in 1994. die groot fout wat hy gemaak het was om toe te gee dat affirmative action (d.w.s. diskriminasie op grond van ras) in die grondwet ingekryf word.

Sarel ·

Geweet hy sal iewers betek word. Al verwag dat hy in die Kabonet sou dien

Hans ·

Ek is baie bekommerd oor die situasie-want dit wil voorkom asof daar net aan sekere groepe en organisasies se politiek korrekte “insette” aandag gegee word.

aj ·

Miskien ‘n ‘bedekte seën’ dat TLU nie ingeskakel het by ADA nie!

…. die misluk syfer is so hoog van alles waaraan Roelf raak!

Gert ·

EK dink Roelf het al herhaaldelik bewys dat hy nie in die Afrikaner se belang optree nie. As ek verder uitwei sal my kommentaar seker verwyder word.

Andries ·

Nee wat, as hoofonderhandelaar het Meyer versuim om behoorlike verantwoordelikheidsklousules vir politieke ampdraers in die Konstitusie te laat opneem. Kan Meyer die volgende vrae beantwoord:
1. Hoekom is daar geen spesifieke bepaling in die Grondwet ingevolge waarvan ‘n President, Minister of ‘n parlementslid teen wie ‘n prima facie-saak van ernstige wangedrag uitgemaak is, uit die amp geskors kan word hangende ‘n finale beslissing deur die hof of ‘n administratiewe liggaam nie? (Indien daar so bepaling was, sou daar nie so gesukkel gewees het nie om van poltieke misdadigers uit die parlement ontslae te raak nie.)
2. Waarom is daar geen klousule in die grondwet aangaande die aanspreeklikheid teenoor die burgers van Suid-Afrika nie? Hoekom het Par.19 (Politieke regte) van die SA Grondwet nie die volgende reg nie: “Elke burger het die reg op ‘n regering wat deursigtig en verantwoordbaar is .”
3. Hoekom word politici toegelaat om hulself te polisieer met nuttelose gedragskodes waaroor daar geen grondwetlike beheer is nie?
4. Waarom is daar nie in die Grondwet voorsiening gemaak vir ‘n onafhanklike Integriteitskommissie om beheer oor die onetiese gedrag van politici uit te oefen nie?

Jannie van Niekerk ·

Dink Roelfie die kanarie dat enige boer hom gaan vertrou?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.