Ouma se advies aan die ANC

Ace Magashule (regs), sekretaris-generaal van die ANC, by ‘n spesiale NUK-vergadering in Irene, Gauteng. (Foto ANA)

Tans word die verskillende begrotingsposte in die parlement bespreek. Met groot entoesiasme en selfversekerdheid neem van die nuwe voorsitters van hierdie portefeuljekomitees aan die debatte deel. Van hierdie nuwe voorsitters is, onder andere, Mosebenzi Zwane, Faith Muthambi, Bongani Bongo en Supra Mahumapelo. Baie ernstige korrupsiebewerings is reeds in die media en by die Zondo-kommissie oor elkeen van hulle gemaak. Verder is dit bekend dat hulle as lojale Zuma-ondersteuners trots is op hul bande met die Gupta-broers.

Supra Mahumapela, nuwe voorsitter van die portefeuljekomitee oor toerisme, sê dat ANC-leiers wat nie die ANC-beleid uitvoer nie, nou geteiken gaan word. Hier verwys hy na die ANC se beleidsbesluite by die 2017 Nasrec-konferensie.

Van hierdie besluite handel oor die Reserwebank en grondonteieining. Dit is ’n uitdagende klap in die rigting van Cyril Ramaphosa as president. Mahumapela voeg daarby dat sulke ANC-leiers volgende jaar by die ANC se halftermyn-beleidsoorsigkonferensie beoordeel gaan word. Daar is reeds bespiegel dat die Zuma-faksie, wat tans deur Ace Magashule in die ANC gelei word, volgende jaar by hierdie ANC-konferensie van Ramaphosa wil probeer ontslae raak. Die hoofklagte sal wees dat hy nie die kongres se beleid uitvoer nie.

Hierdie interne ANC-faksiegevegte laat my aan my ouma se advies dink.

“As jy ’n pynlike abses toeplak, word dit net erger. Die beste oplossing is om die abses oop te steek sodat al die gemors kan uitkom. Dan word dit gouer gesond,” was ouma se praktiese advies.

Die ANC glo duidelik nie in hierdie advies nie. Hulle plak hul faksiegevegte-abses toe en beskerm dit.

Hoe het Mosebenzi Zwane, Faith Muthambi, Bongani Bongo en Supra Mahumapelo, ongeag die korrupsie- en staatskapingbewerings, voorsitters van die parlementêre portefeuljekomitees geword?

Ace Magashule het hulle met gewetenlose brutaliteit op die ANC afgeforseer.

Die geveg oor Magashule en sy faksie is nie ’n vriendelike politieke meningsverskil nie. Dit is ’n geveg tot die spreekwoordelike politieke dood waar die verloorders in die tronk kan eindig. Daarom durf Ace Magashule en sy faksie nie onderskat word nie.

Magashule se sondes is geleidelik besig om hom in te haal. Die boek Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture spel dit uit. Die Zondo-kommissie beweeg ook nader aan die Estina-melkskandaal terwyl Zuma voor die kommissie begin getuig het.

Vir oorlewing gebruik Magashule dieselfde strategie as wat Zuma gebruik het. Hy kry persone lojaal aan hom in sleutelposisies. Dit sluit die voorsitterskap van parlementêre portefeuljekomitees in. Wanneer die aanklagte teen hom en sy faksie op die spits gedryf word, het hy lojale persone in sleutelposisies om hom te beskerm. Hulle moet seker maak dat die “regte” besluite oor hom geneem word.

Terwyl Ramaphosa by die kabinet Lekgotla was, het Magashule Kaap toe gevlieg om hierdie Zuma-faksiename as nuwe portefeuljekomiteevoorsitters by die ANC koukus aan te kondig. Toe Ramaphosa daarvan hoor, het hy die aankondiging gestop. Volgens binne-inligting het hierna ’n heftige argument tussen die ANC se topses plaasgevind. As kompromie is hierdie name wel behou, maar na ander portefeuljes verskuif. Teleurstellend en skrikwekkend dat niemand van die ANC se topses die moed of insig het om die gevolge van hierdie kompromieë vir die ANC, maar ook vir Suid-Afrika, uit te spel nie.

Die Zondo-kommissie se finale verslag moet na die parlement gaan. So ’n verslag word dan na ’n parlementêre portefeuljekomitee verwys. Hierdie komitee moet die verslag se aanbevelings aanvaar of verwerp.

Alles dui daarop dat baie negatiewe bevindings oor hierdie nuwe portefeuljevoorsitters gemaak gaan word. Dit gaan ’n ernstige refleksie werp op die ANC-leiers se swak oordeel dat hulle hierdie persone as voorsitters benoem het. Hierdie voorsitters kan ook nie self die aanbevelings oor hulle hanteer nie.

Die alternatief kan wees om ’n parlementêre ad hoc-komitee aan te wys vir die Zondo-verslag se aanbevelings. As hierdie komitee sy werk reg doen, behoort die aanbevelings reguit na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys te word vir kriminele vervolging. Gaan die ANC bereid wees om dit te doen?

Dan volg uitgerekte hofsake waar een ná die ander van die ANC se prominente portefeuljekomiteevoorsitters aangekla word. Dit kan jare duur. Met die plaaslike verkiesings op pad, verseker dit ’n deurlopende verleentheid vir Ramaphosa en die ANC. So ’n deurlopend stinkende abses gaan alle aandag van Ramaphosa se drome en sy nuwe daeraad aftrek.

Politieke waarnemers het begrip getoon toe Ramaphosa van die Zuma-faksieleiers aanvanklik in die kabinet en in die ANC behou het. Dit was nodig vir ANC-eenheid met die oog op die verkiesing.

Daar is egter aanvaar dat hy ná die verkiesing sal skoonmaak, die abses sal oopsteek en van die korruptes ontslae gaan raak. Daarna sal hy sy volle aandag aan die ernstige landsprobleme gee. Met die aanwys van die nuwe portefeuljekomiteevoorsitters is presies die teenoorgestelde boodskap gestuur.

“Steek die abses oop en raak ontslae van die kwaad,” was ouma se advies. As Ramaphosa hierdie advies volg, is daar nog hoop. Anders gaan ons maar op die ou korrupte trant voortstrompel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

John ·

En doktor het hoeveel jaar as adjunk-minister gedien en die pleistertjie, teen oumie se raad in, toegeplak gehou? Maar die pensioentjie loop nou mooi, nou kan ek die dekseltjie lig… Oeps, sies, dit ruik dan al dok… Die nuwe plan, nou dat die sweer opklaar: Kom Groenie, jy ken van groen woude, daai boom wat opskiet in die kaapse… mense is nou fluks. Ko ons koloniseer daai lappie, pappie. Ko al my vliende, ko… pak op… Ons trek terug na die liewe familie en ons eige, eige grontjie…

Gert ·

Dis baie lelik, ongevraagd en boonop onwaar. Dr Mulder het baie hard vir ons belange gewerk regdeur sy loopbaan.

Jerry ·

Daar is absoluut geen aanduidings dat die ANC nie op die huidige korrupte trant sal voortstrompel nie, inteendeel die meerderheid politieke ontledings dui daarop dat die situasie gaan aanhou versleg vir die meer gematigde ANC faksie lede wie toenemend geteiken gaan word deur die “gangsters” van die ANC en eff. Die gematigdes gaan toenemend aangeval, beledig, afgekraak en vals beskuldig word! Die “gangsters rule” en Suid Afrikaners wat dit nie kan raaksien nie, moet oogkundiges toe gaan sodat hulle oe getoets kan word. Dan sal hulle ook sien dat dit wel n ongeneeslike abses is wat die lig blok aan die einde van die tonnel!

Pikkie ·

Kyk na die spelling van “Mahumapelo” – dis nie oral korrek nie.

lewies ·

Al wat vir my persoonlik sekerheid oor die toekoms gee, spesifiek oor die pad wat Suid-Afrika homself nou bevind is die woorde uit Matt. 12:24. Dit is ‘n beginsel en ‘n noodwendigheid, omdat hierdie woorde deur Christus-self gese is. “Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde, en geen stad of huis wat onderling verdeeld is, sal bly staan nie. (Die Bybel Nuwe Vertaling, (Suid–Afrika: Bybelgenootskap Van Suid–Afrika) 1983. )

Vlakvark ·

In sy werk “1984” skrywe George Orwell: “Throughout recorded time, and probably since the end of the Neolithic Age, there have been three kinds of people in the world, the High [klein minderheid regerend binnekring elite], the Middle and the Low. … The aims of these three groups are entirely irreconcilable. The aim of the High is to remain where they are. The aim of the Middle is to change places with the High. The aim of the Low, when they have an aim – for it is an abiding characteristic of the Low that they are too much crushed by drudgery to be more than intermittently conscious of anything outside their daily lives – is to abolish all distinctions and create a society in which all men shall be equal. … For long period the High seem to be securely in power, but sooner or later there always comes a moment when they lose either their belief in themselves or their capacity to govern efficiently, or both. They are then overthrown by the Middle, who enlist the Low on their side by pretending to them that they are fighting for liberty and justice. As soon as they [Middle] have reached their objective, the Middle thrust the Low back into their old position of servitude, and themselves [Middle] become the High. … Presently a new Middle group splits off from one of the other groups, or from both of them, and the struggle begins over again.”

Why? ·

So, Vlakvark, as ek dit nou reg het, “the have not’s want what the have’s have” – expropiation without compensation, siezing of monolistic capital.
And when they have it they don’t know what to do with it? Dis presies wat nou aangaan.

aj ·

Die ‘gangsters’ is kommuniste wat glo in rewolusie en ‘n aardse paradys vir werkers. Alles behoort aan die staat!

Die kapitaliste glo in vrye onderneming en privaatbesit.

Wie gaan die ‘geveg tot die dood’ wen?

Ek en jy is nie ‘n faktor in die GEVEG nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.