Outonomie-reeks: Taiwan

(Foto: Philip FONG/AFP)

Anders as Israel, wat doelbewus en doelmatig geskep is as staat vir ʼn volk wat geen tuiste van sy eie gehad het nie, het Taiwan oftewel die Republiek van China eerder toevallig as eie staat ontstaan. ʼn Toevlugsoord was dit net soos Israel, in dié geval vir die verloorders van ʼn ideologiese burgeroorlog.

Die twee lande het ook in dieselfde onstuimige tyd kort na die Tweede Wêreldoorlog ontstaan. Taiwan is histories deel van China, maar het ʼn effens ander geskiedenis gehad as die Chinese vasteland, omdat dit as eiland verskeie kere deur vreemde magte beset is. Dit is ook, interessant genoeg, die enigste deel van China wat nooit onder kommunistiese beheer was nie en wat hom altyd gesien het as die vrye, kapitalistiese teenmodel vir die kommunistiese China. Ook vandag is opinies in Taiwan sterk verdeel oor die vraag of dit ʼn model vir ʼn beter, demokratiese China is wat eendag weer met die vasteland sal herenig, of ʼn land op sy eie met sy eie identiteit. Taiwan geniet min en kwynende internasionale erkenning, maar is vir alle praktiese doeleindes lankal ʼn staat en boonop ʼn baie suksesvolle een. Dit is ʼn baie dig bevolkte en sterk verstedelikte staat met sowat 24 miljoen mense op slegs 36 000 vierkante kilometer (effens groter as Lesotho).

Geskiedenis

Taiwan het ʼn inheemse oerbevolking gehad wat vir duisende jare ongesteurd en geïsoleerd geleef het, tot Chinese van die vasteland in die 17de eeu ook daar gevestig het. Dit was ook in dié tyd wat Taiwan onder die aandag van Europese magte gekom het wat basisse die beheer oor die speseryhandel in die Ooste gesoek het. Deur die Spanjaarde, wat ʼn kort rukkie daar was, is die eiland Formosa genoem, waarna dit ʼn Nederlandse besitting en deel van die Oos-Indiese handelsryk geword het.

Die Nederlandse besetting het egter net enkele dekades geduur en hulle is deur Han-Chinese veroweraars van die Quing-dinastie sowel as deur die inheemse bevolking uitgedryf, amper in dieselfde tyd toe die Kaapse nedersetting gestig is. Na die verowering het ook aansienlike getalle Chinese van die vasteland op Taiwan gevestig (vandag is net nog 2% van die inwoners afkomstig van die oerbevolking).

Japan het aan die einde van die 19de eeu, as groot moondheid, na vore gekom en China in die Japanees-Chinese Oorlog oor Korea verslaan en in die proses is ook Taiwan, waarop Japan lankal ʼn oog gehad het, as buit ontvang.

Vir 50 jaar, tot en met die einde van die Tweede Wêreldoorlog, het Japan vir Taiwan beheer. In die Tweede Wêreldoorlog het China, as bondgenoot van die VSA en onder leiding van generaal Tsjiang kai-Tsjek, die Japanners help verslaan en Taiwan herower, alhoewel die Chinese deur die inheemse Taiwannese deels as nuwe besetters ervaar is.

Die langdurige insurgensieoorlog tussen die kommuniste onder Mao tse-Tung en die nasionaliste onder Tsjiang is uiteindelik in 1949 deur eersgenoemde gewen en Tsjiang en sy party Kuomintang (KMT) het met hulle volgelinge, sowat twee miljoen mense, na Taiwan gevlug en daar inderhaas ʼn land en regering opgebou wat vir hulleself die aanspraak gehad het om die hele China te verteenwoordig. Taiwan, bekend as die Republiek van China (in teenstelling met die kommunistiese Volksrepubliek van China), het hom tydens die Koue Oorlog in die Westerse kamp geskaar en massiewe finansiële en militêre hulp van die VSA ontvang. Die geld is ook vir infrastruktuurprojekte gebruik, wat die basis vir die vinnige ekonomiese groei gelê het.

Polities was Taiwan, onder die Kuomintang en met Tsjiang as diktator, egter vir dekades streng beheer en geen demokrasie is toegelaat nie uit vrees vir kommunistiese infiltrasie. Eers jare na Tsjiang se dood in 1975 het sy opvolgers stadig begin demokratiseer en opposisie toegelaat in die vorm van die Demokratiese Party (DP). In 2000 het die DP vir die eerste keer die verkiesing gewen en regeer ook tans weer. Terwyl die KMT nog steeds droom van ʼn hereniging met ʼn nie-kommunistiese China iewers in die toekoms, is die DP ten gunste van onafhanklikheid vir Taiwan, maar beweeg baie stadig om die status quo met China nie te versteur nie.

Die ekonomiese wonderwerk

Soos die meeste ontwikkelde state het Taiwan die verskeie stadiums van ekonomiese ontwikkeling deurgegaan, van landbou tot hoë tegnologie − net geweldig vinnig, naamlik in ʼn kwessie van dekades, nie van eeue nie. Kort na die magsoorname deur die Kuomintang in 1949 is uitvoergerigte landbou bedryf, daarna is oorgegaan tot die verwerking van die landbouprodukte.

In die 1960’s is begin met invoervervanging deur nywerheidsproduksie te bevorder. Aanvanklik is lae waarde produkte soos klere, skoene en plastiekspeelgoed vervaardig, vanaf die 1980’s meer en meer verbruikerselektronika veral vir uitvoer, en daarna rekenaars en hoë waarde gespesialiseerde elektroniese produkte en onderdele.

Dit het natuurlik nie van self gebeur nie. Behalwe vir die massiewe belegging in infrastruktuur, was ook belegging in onderwys en opleiding van kardinale belang. Daar was ʼn doelgerigte ekonomiese ontwikkelingsbeleid nodig, belegging in navorsing, en natuurlik ʼn werksywer en doelgerigtheid deur die bevolking. Beleggingskapitaal vanuit die VSA het ook ʼn rol gespeel. Taiwan staan saam met Hongkong, Suid-Korea en Singapoer as die vier Asiatiese Tiere bekend: klein Oos-Asiatiese state wat die sprong van Derde na Eerste Wêreld in enkele dekades voltooi het. Die ekonomiese voorspoed het tot ʼn hoë lewensstandaard en tot politieke stabiliteit gelei.

Die stryd om erkenning

Taiwan loop die pad van meeste state: van aanvanklik amper algemene erkenning na net nog ʼn handjievol klein state wat Taiwan amptelik erken. Die rede is natuurlik die druk van kommunistiese China en die Een-China doktrine: geen staat wat Taiwan erken, kan met China diplomatieke betrekkinge hê nie en is daarmee ook uitgesluit van die handel met China.

Die gety het veral in die vroeë 1970’s gedraai, toe die Verenigde Nasies (VN) besluit het om die kommunistiese Volksrepubliek van China eerder as die Republiek van China, oftewel Taiwan, as die verteenwoordiger van China te erken. Ook die VSA, Taiwan se belangrikste bondgenoot, het in die 1970’s die realpolitieke keuse gemaak om kommunistiese China te erken toe dit duidelik geword het dat die kommuniste daar was om te bly en nie deur Taiwan oorgeneem sou word nie. ʼn Bystandspakt en massiewe militêre hulp deur die VSA het egter verseker dat Taiwan sy de facto soewereiniteit kan verdedig. China het so ver gegaan om Taiwan met oorlog te dreig indien hulle eensydig onafhanklikheid sou verklaar. Vir China is Taiwan ʼn opstandige provinsie. Dit is egter die enigste deel van China wat nie deur die kommuniste verower is nie en die laaste oorblywende deel van die oorspronklike Chinese Republiek wat op die Keiserryk gevolg het. Anders as kommunistiese China, is Taiwan se regering intussen demokraties gelegitimiseer.

Taiwan is vir alle praktiese doeleindes ʼn onafhanklike staat, sonder om deel van die VN te wees. Daar is in talle lande Taiwannese kontakburo’s en handelsmissies, wat soos ambassades funksioneer. Die land dryf wêreldwyd handel, regeer homself en sy weermag beskerm sy grense. Taiwan is selfs deel van talle internasionale organisasies en neem ook aan byeenkomste soos die Olimpiese Spele deel, egter op aandrang van kommunistiese China onder die naam Chinese Taipeh, om die fiksie te behou dat dit eintlik ʼn provinsie van China is. China meng ook gereeld in Taiwannese politiek in en probeer om met dreigemente die verkiesingsuitslag te beïnvloed. Vir China is die KMT die kleiner euwel, omdat hulle nog steeds hereniging met China in die toekoms voorstaan, terwyl die DP Taiwan se eie identiteit beklemtoon.

Die vyandigheid tussen die twee lande verhoed egter nie dat daar sterk ekonomiese bande is nie. China is die grootste beleggingsbestemming van Taiwan, en dit word natuurlik deur die familie-, taal- en kultuurbande vergemaklik. Ook toerisme tussen die twee lande groei.

Maroela Media gaan in die komende weke tweeweekliks artikels plaas as deel van ʼn reeks oor outonomie, waarin die term en hoe dit in praktyk neerslag vind onder die loep geneem sal word. In die reeks word daar nie net na outonomiese state gekyk nie, maar ook na mikrostate wat outonoom funksioneer en wat dit in praktyk ook in Suid-Afrika mag beteken. Die reeks is deur Sebastiaan Biehl geskryf wat oor merkwaardige kennis rakende die internasionale politiek en die funksionering van verskeie politieke stelsels beskik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.