Outonomie vir die Afrikaanse Gemeenskap: Die praktiese vereistes

Afrikaner

Argieffoto.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut het onlangs ʼn twee dag lange werksessie onder die titel “Outonomie vir die Afrikaanse gemeenskap” in Centurion aangebied waar die room van die Afrikaner se denkers, meningsleiers en akademici vergader het. Die werksessie is gereël deur proff. Deon Geldenhuys, Koos Malan en Bertus de Villiers, al drie kenners ten opsigte van selfbeskikking. Die lys sprekers en deelnemers het omtrent gelyk soos die Afrikaner se “who’s who”.

Ek wil nie die werksessie opgesom weergee nie, maar eerder die bevindinge indeel in praktiese en teoretiese vereistes vir outonomie.

Praktiese vereistes vir outonomie:

Demografie: Outonomie sonder konsentrasie is moeilik om te beoefen, maar daar is wel voorbeelde waar ʼn wydverspreide minderheid ʼn mate van outonomie oor sekere nasionale sake het, soos onderwys en kultuur. Die demografiese situasie van die Afrikaner spesifiek en Afrikaanssprekendes in die algemeen is een van die redes vir die gebrek aan outonomie. In die Wes-Kaap en Noord-Kaap is Afrikaanssprekendes in die meerderheid, maar dit is juis hier waar die aandrang op outonomie die geringste is, miskien juis omdat die Afrikaanse omgewing of die DA-regering die druk van transformasie minder voelbaar maak. In Gauteng is daar ʼn redelike konsentrasie Afrikaanssprekende wit mense ofte wel Afrikaners, maar hulle aandeel neem af aangesien Gauteng ʼn magneet vir veral swart mense van elders in die land en van ander lande in Afrika is.

Die goeie nuus is wel dat Afrikaanssprekendes se getalle nie so sterk agteruit gaan soos dikwels aanvaar word nie (weens emigrasie en lae geboortekoers), en dat daar ook weer heelwat Afrikaanssprekendes uit die buiteland terugkeer na Suid-Afrika. Daar is talle veranderlikes, maar die getal Afrikaners (wit Afrikaanssprekendes) sal op so tussen 2,5 en 3 miljoen in die afsienbare toekoms te staan kom, en Afrikaanssprekendes gesamentlik tussen 6 en 6,5 miljoen, te danke aan ʼn geboorteaanwas onder bruin Afrikaanssprekendes. Sowat 40% van alle Afrikaanssprekendes is wit en 60% bruin (met ook enkele swart mense). Afrikaanssprekendes verteenwoordig sowat 13% van die Suid-Afrikaanse bevolking en toon ʼn geringe persentasieafname in die toekoms.

Die Afrikaanssprekende bevolking, veral die Afrikanerbevolking word kleiner, ouer, armer en moet meer en meer vir homself sorg. Daar is drie basiese migrasietendense: na die Wes- en Noord-Kaap, na gevestigde dorpe en stede, en oorsee. Onder bruin Afrikaanssprekendes is daar ʼn al hoe sterker neiging om te verengels. Dit wil ook voorkom asof Afrikaans vir bruin Afrikaanssprekendes veral ʼn kommunikasiemiddel is en nie deel van hulle identiteit nie, anders as by die wit Afrikaanssprekendes, waar taal ʼn wesenlike deel van die identiteit is.

Onderwys: Vir ʼn volk of taalgroep is onderwys een van sy kernbelange. Hoewel Suid-Afrika se grondwet moedertaalonderwys waarborg, word die bepaling grootliks uitgekalwe deur die allesoorheersende vereiste van “transformasie” en toeganklikheid. Die ANC as kwasi- sosialistiese party wil ook geen land met ʼn verskeidenheid tale en volke hê nie, omdat dit lei tot groter outonomie vir die volke. Hulle wil so ver moontlik alles onder een gesentraliseerde onderwysstelsel met Engels as voertaal verenig. Dit laat ʼn baie beperkte ruimte vir outonomie in die onderwys, wat openbare of staatskole betref. In die voormalige Model C-skole het die ouers se beheerrade nog steeds ʼn mate van invloed, en Fedsas veg met hofsake om dit te behou. Met die nuwe, voorgestelde onderwyswet is dit net ʼn kwessie van tyd voor die staat alle skole verengels en in lyn met sy agenda bring.

Afrikaners moet op twee fronte veg: Daar waar nog goeie Afrikaanse openbare skole in plekke met ʼn Afrikanerkonsentrasie is, moet hulle gekonsolideer word om die skole vol te hou. Twee Afrikaanse skole wat halfvol is (en dan met Engelssprekende leerders volgemaak word) moet eerder saamgroepeer en een skool vorm. Verder moet ook nie vergeet word van kleuterskole nie. Meer en meer kleuterskole is deesdae in Engels om “almal te akkommodeer”, maar waar Afrikanerkinders na Engelse kleuterskole toe gaan, het hulle later ook geen behoefte meer aan ʼn Afrikaanse laerskool, hoërskool en universiteit nie. Daar moet dus na die begin van die opvoedingsketting gekyk word en ʼn pyplyn-benadering gevolg word van Afrikaanse onderwys van kleuter tot volwassene.

Die private ofte wel onafhanklike onderwysopsies moet terselfdertyd uitgebou word. Solidariteit het met Sol-Tech en Akademia reeds groot stappe op die terrein van tersiêre onderwys geneem. Daar is egter ʼn leemte aan Afrikaanse onafhanklike skole. Die CVO-skole kon om watter rede ook al nie die meerderheid Afrikaners oortuig nie. Talle onafhanklike skole is ook Engels. Hier is koördinasie nodig. Afrikaners moet ook besef dat Afrikaanse onderwys konsentrasie vereis. Daar kan nie in elke plattelandse dorp meer ʼn Afrikaanse skool wees nie, soos dit vroeër die geval was. Sekere dorpe met ʼn noemenswaardige getal Afrikaners en ʼn aktiewe ouergemeenskap moet as onderwyssentrums geïdentifiseer word, veral in die noorde van die land, waar die druk vir verengelsing nog sterker is as in die Wes- en Noord-Kaap.

Veiligheid: Ons werk met ʼn al hoe meer verswakkende staat en veiligheidsdienste. Die bewyse van groeiende misdaad, veral aanvalle op boere en hulle werkers is daar. Private veiligheid en persoonlike betrokkenheid deur veiligheidsopleiding neem ook al hoe meer toe. Daar is egter geen eenvoudige antwoord op die veiligheidsituasie nie. Dit hang saam met die toestand in die land van ʼn verswakkende regering wat onluste nie meer kan verhoed nie, en dit selfs by tye stook, faksiegevegte, bendegeweld, ʼn kultuur van wetteloosheid en permissiwiteit, die afwesigheid van voorbeelde en van sterk leierskap.

Afrikaners as gehate minderheid en boere spesifiek sal altyd sagte teikens wees waar hulle geïsoleerd en as absolute minderheid wyd verspreid woon. Uiteindelik is ook hier konsentrasie en eie arbeid die antwoord, maar onder die huidige omstandighede is dit vir meeste boere nie werkbaar nie. Nasionale en streeks-veiligheidskoördinering is die aangewese pad, en meer persoonlike betrokkenheid. Op die polisie kan nie meer vertrou word nie, maar waar moontlik (en daar is goeie en effektiewe polisielede) moet hulle betrek word.

Ekonomie: Dawie Roodt het redelik spesifiek gepraat oor die moontlikhede van ʼn digitale ora, Orania se eie ruilmiddel. Voorlopig is die plan om die reeds bestaande papier-ora (koepon) te digitaliseer om transaksies te vergemaklik. Die geleenthede vir ʼn soort Afrikaner-ruilmiddel in die toekoms is egter legio. Die banke soos ons dit ken is ook iets wat in die toekoms drasties gaan verander. Die tendens is al hoe meer na private geld. Bitcoin is reeds ʼn inisiatief in dié rigting, wat egter intussen van sy doel om ʼn alternatiewe geldeenheid te wees afgewyk het en veral vir spekulasie gebruik word. Volgens Roodt is ons wat die nuwe digitale ekonomie betref in ʼn Wilde Weste-fase (soortgelyk aan die dot com-borrel van 2000 toe die internet nog nuut was) waaruit ʼn paar stabiele en groot rolspelers en ʼn duidelike rigting gaan oorbly.

Taal en kultuur: Prof. Bertus de Villiers praat van ʼn deelnemingspiramiede van taal en kultuur: Dit wat by die huis beoefen word, soos gesels, lees, sing en ontspanning; dit wat op gemeenskapsvlak beoefen word, soos taal- en kultuurfeeste, klubs en gedenkdae; dit wat al selfstandigheid verteenwoordig, soos onderwys, dienste en bejaardesorg en laastens die hoogste vlak van politieke outonomie met beleidmaking en besluitneming. Die eerste drie kan ook nie-territoriaal geskied, die laasgenoemde slegs territoriaal.

Dit is nie voldoende om Afrikaans aan te hou praat nie, soos dikwels gesê word. Dit moet ook saamgaan met gemeenskaplike taal- en kultuuraktiwiteite wat van die taal meer maak as net ʼn kommunikasiemiddel. Waar taal net ʼn kommunikasiemiddel is, sal dit maklik vervang word deur ʼn ander, dalk makliker en meer praktiese taal (juis dit gebeur veral onder bruin mense, maar ook onder jong stedelike Afrikaanssprekende wit mense, vir wie Engels “meer prakties” as Afrikaans is). Dit moet deel van jou identiteit wees om voort te bestaan. As jy ʼn taal wil beskerm, beskerm die sprekers van die taal, het Flip Buys gesê.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

27 Kommentare

Basson ·

Goed saamgevat.
Ons moet hand en tand (die wetgewing be)veg om skole Afrikaans te hou, want as dit eers vernietig is…

Eish ·

Nou nie juis wat ek sou bestempel die ideale scenario vir ons voortbestaan nie. Genade, maar die wit Afrikaanssprekendes is min!

Die praktiese implimenteerbaarheid van konsentrasie is n saak van onmoontlikheid. Boere, besighede en meeste professionele mense se ligging is absoluut krities vir inkomsteskepping. Dit gaan nie werk nie.

Die groot stok in die speek, wat ek ook ervaar, is die ouerwordende, verarmende wit bevolking. Van die 2.5 miljoen is 600 000 alreeds sodanig verarm dat hul geen lewensveranderende besluit kan finansier nie. Die syfers groei met 7500 per jaar. Ons sal moet kyk na wit plakkerskampe waar mense met waardigheid arm kan wees. So n konsentrasie sal verseker vaardighede insluit wat benut kan word in eie belang. In hierdie opsigte val ons totaal uit die bus uit. Ons sal moet kyk na die verarmende deel van ons mense!

Die groot probleem van die welvarendes onder ons, is dat oorlewing in die land verg n selfsugtige metodiek van bestuur van jou bates ten einde jou lewenstyl te handhasf en oorlewing te verseker.

Mag die leiersfigure geseën word met passie vir die pad vorentoe. Mag hul energiek planne implimenteer wat n verskil maak. Mag wysheid in matelose genade hul omvou. Want ek, ek is moeg gestoei.

JC ·

Baie, baie dankie Sebastiaan. Die artikel word opreg waardeer.
‘n Boer maak ‘n plan!

Saamprater ·

Die reg op Selfbeskikking word in die Konstitusie gewaarborg en is gekoppel aan n behoefte daarvoor. Soos ek verstaan, nie gewaarborg omrede daar ‘n meer/minderheid mense in ‘n area bly nie.
Doen ‘n aanlyn referendum on behoefte te bepaal, en gaan eis Konstisionele regte daarvoor op.
Slegs as ons die nuttelose VN se betrokkenheid wil inroep kan ons die lidlande wat die minderheidsgroeppe verteenwoordig kry om ons Internasionale reg op onafhanklikheid te bevestig.
Eers die eerste stap, kondig n area af, en moedig arm/ryk om te kom investeer, werk en skole te skep.
Ek sien nie Hoekom ons eers n meerderheid in n area moet wees om ons as volk se Konstisionele regte op te eis nie. Vir my is dit politiekery en hulle skuif die doelpale onwederregtelik.
Dan, terwyl die ander verkiessing hou oor ons lot is ons besig met ons eie toekoms-planne.

Sebastiaan ·

Daar is nie ‘n internasionale reg tot onafhanklikheid nie. Selfs die mooiklinkende regte wat in die grondwet of die VN se handves staan is nie wetlik afdwingbaar nie. Vat byvoorbeeld die artikel in die SA grondwet se handves van regte wat lui “elkeen het die reg op toegang tot geskikte behuising.” Dit beteken nie ek kan ‘n huis van die staat eis nie. Net so min beteken die VN se handves se bepaling oor nie-selfregernede entiteite se reg tot selfregering (hoofstuk 9, artikel 73) dat ‘n groep mense namens ‘n volk ‘n eie staat kan eis wat hulle nie eers fisies beset nie.
Moet my nie verkeerd bestaan, ek is 100% vir ‘n Afrikanerstaat, maar moenie daarby op VN Handveste of verklarings (wat vir voormalige kolonies bedoel was) staatmaak nie.

PvZ ·

Afrikaner skole en universiteite, veiligheid, ens. ens. ens. kan maklik gefinansier word met Afrikaner geld. Waar is die punt wanneer ons nog as Afrikaner ekonomie kan winste genereer om belasting te betaal? As die dood van die Afrikaner ekonomie ‘n eindpunt is, hoe identifiseer ‘n mens die tyd wanneer belastinggeld nie oorbetaal word aan jou vyand nie, maar aan mense wat help om skole, universiteite, veiligheidsisteme, maatskaplike strukture ens. te onderhou. Wanneer begin ons, ons belasting weerhou?

Disselboom ·

Hou van wat PvZ skryf; maar die opbou na regte harde stryd wat uitgaan vanuit die beskouing van die Afrikaner as ‘n volk, wat as volk optree en dus die reg tot selfs aanval het as dit deel is van die verdedigingsplan, word gedemp deur die beskouing van die Afrikaner as ‘n blote minderheidsgroep, met so kenmerk of twee soos taal, maar wat maar net ‘n minderheid in ‘n groter nasie van vele tale en kulture is. Die spontane Swart Maandag (en ander optogte binnekort) teenoor die geïnstitusioneerde 25 November-optog (formele organisasie wat dit reël) is interessante geskiedenis wat afspeel.

rassie ·

Sebastiaan,

Met betrekking tot selfbeskikking het ek ‘n paar vrae wat niemand blykbaar wil of kan beantwoord nie.

Anders as toentertyd toe die begrip “Die Afrikaner” met identiteitskriteria, toekomsvisie en al, deur die Afrikaners se destydse “Wie is Wie” geformuleer en afgedwing was, is Afrikaners tans in verskeie sub-groepe, elk met sy eie identiteitskriteria, toekomsvisie en “wie is wie” verdeel.

My probleem is dat geen enkle sub-groep van Afrikaners wat selfbeskikking voorstaan, my oor die afgelope kwart eeu van ‘n gedetaileerde selbeskikkingsplan wat wettig, moreel aanvaarbaar en prakties uitvoerbaar is, kon voorsien nie.

My vrae is dus:

1. Wie is volgens jou mening “Die Afrikaner” waarna jy verwys?

2. Wanneer jy dan in jou artikel praat van die “Wie is Wie” van “die Afrikaner” wat die konferensie gelei het, watter spesifieke sub-groep van Afrikaners se “wie is wie” bedoel jy?

3. Benewens die teoretiesering rondom selfbeskikking en enkele moontlike praktiese oplossings, wat het die konferensie in spesifieke detail besluit oor vrae soos presies wie, presies waar, presies wanneer, presies hoe, met presies watter fondse, ens ens?

Sal dus moontlik goed wees as jy ook die “ten besluite” gedeelte van die notule kan meedeel. Ek vertrou dat dit al die gedetaileerde antwoorde op die vrae in vraag 3 hierbo sal beantwoord.

Sebastiaan ·

Rassie,

om jou vrae te beantwoord:

1. Ek verstaan Afrikaner in die tradisionele sin: wit Afrikaanssprekendes. Die konferensie het soms van Afrikaners, soms van Afrikaanssprekendes gepraat, maar die sprekers en deelnemers was almal Afrikaners.
2. Sien ook antwoord een. Die “wie is wie” was feitlik al die bekende name in Afrikanerkringe, diegene wat breedweg glo aan outonomie, synde territoriaal of kultureel, en wat hulleself as Afrikaners beskou. Dus geen Piet Croucamps, Max du Preez ens nie, maar Flip Buys, Dirk Hermann, Carel Boshoff, Koos Malan, Danie Goosen, Deon Geldenhuys, Bennie van Zyl, Pieter Mulder, Jan Bosman, Johan Roussouw, Paul Colditz, Theuns Eloff ens ens. Wat ook goed was, was dat dit ‘n breë spektrum was.
3. Daar gaan ‘n opvolgkonferensie wees wat oor die praktiese stappe gaan. Daar sal dan ook besluite geneem word. Hierdie was eers om die terrein te verken. Onthou, vir lank was outonomie of selfbeskikking gesien as ‘n “regse randeieridee”, dit is goed as dit nou ‘n breë konsensus onder Afrikaners raak.

Gerhard ·

‘n Eie Afrikanerstaat is die enigste oplossing mense, so moeilik as wat dit is. Hou op met drogredenasies. Afrikaners kan hulself nie instand hou as ‘n minderheid in die groter Suid-Afrika nie. Verder gaan die assimilasieproses lelik wees. Wat julle nou sien gebeur is nog niks nie.

chris du plessis ·

Ek dink dis nogal komieklik om te se dat ‘the who’s who’ van selfbeskikking kenners by die byeenkoms was. Ek is al meer as meer as 7 jaar intensief bertokke by selfbeskikking vir Afrikaners.
Dis duidelik net die Afriforum/Sol eksperts wat die noord kaap strategie van Sol aanhang wat teenwoordig was.met n eensydige perspektief. Daar is baie ander eksperts wat glad nie saam sou stem nie.
Dan word daar n stelling gemaak wat waar is, maar nie toe gepas word nie. – “Outonomie sonder konsentrasie is moeilik om te beoefen, ..” met n relaas dat Afrikaners nie gekonsentreerd is nie. Dit is totaal misleidend. Daar is 1.3 miljoen Afrikaners gekonsentreerd op die Hoëveld en Pretoria. Met die korrekte begrensing kan daar n gebied afgebaken word waar hulle n aansienlike meerderheid uit maak. Klaarbleiklik is die ‘eksperts’ wat betrokke is by Sol, nie op hoogte met hierdie tiepe goed nie anders sou daar nie sulke onwaarhede verkondig word nie.
Die Afrikaner Strategie Komutee is tans besig met n ondersoek na demografie, historises grond aanpsrake en ander internasionale regsbeginsels wat dit moorntik maak vir Afrikaners om wel n area af te baken waar hulle tans as n meerderheid gevestig is , met die oog op territoriale selfbeskikking.
Dis jammer dat die Solidariteit beweging en Afriforum net hul eie agenda dryf sonder breedvoerige insette. Daar is mense met die regte kennis daar buite wat ook werk aan selfbeskikking, wat betrek behoort te word. ……

Anoniem ·

“Met korrekte begrensing kan daar ‘n gebied afgebaken word”.
Ek stem glad nie met jou saam nie. Die regering as ook swart meerderheid in Pretoria sal nie so ‘n gebied toelaat nie. Dis net eenvoudig nie prakties nie.
Die Noord Kaap bly maar die beste opsie.

John ·

Ons spring eers oor die afgrond en dan sit ons ure en vergader oor hoe om weer bo uit te kom. Die Wes-Kaap word telkens genoem. Die Maleiers en Kleurlinge plus massas uitlanders, ryk en arm, woon daar. Vergeet dit. Waar anders buiten vir plekke soos Orania wat nie seker kan wees oor ‘n langdurige voortbestaan nie, veral wanneer dit floreer (dis juis ons probleem… iets wat ander jaloers kan maak). Ons kan nou maar net droom oor kanse verspeel… Maar moenie ‘worry nie’, De Klerk & kie is besig met ‘n nuwe plan… gee net kans… gee net kans.

Vrye Boer ·

Sebastiaan,

Verduidelik asb aan my hoe werk dit…

Vir baie jare lank is daar van ons mense wat sefbeskikking najaag, net om deur Afriforum/Solidariteit/Flip Buys afgemaak te word as “Regse Randeiers” en nou kom julle met presies dieselfde geprek wat al jare lank gevoer word en nou is dit skielik reg? !

Dit is Afriforum/Solidariteit/Flip Buys wat vir jare lank nie om die tafels wou sit oor die idees nie, maar nou, omdat dit die room, die wie is wie , van die Afrikanerdom is, nou is dit ewe skielik aanvaarbaar.

Ek sien baie name nie op julle lys nie, name wat al jare lank selfbeskikking dryf…

Al hierdie gesprekke, al die idees wat julle nou voer is al lankal deur baie ander groepe gevoer…

So verduidelik vir my hoekom hierdie “Randeiers” wat julle geskep het, nie om die tafel sit nie, siende dat julle nou jare na hulle, dieselfde idees begin kry?

Hierdie elitistiese “Wie is wie van die Afrikanerdom” skep die idee julle dink julle is beter as die res van die volk.. dieselfde volk met “Regse Randeiers” wat al laaankaaaal die gesprekke voer wat julle nou eers begin voer…

Sebastiaan ·

Moenie “julle” praat as jy nie mense se geskiedenis ken nie. Ek is al ‘n volkstater vandag ek politieke verstand as student gekry het, sedert die 1990’s, en sit die “regse randeiers” juis in aanhalingstekenes omdat ek (en Pieter Mulder, Flip Buys ens) as sulke afgemaak is nie deur Solidariteit nie, maar deur die NP, DA, akademici, meningsvormers, sakemense ens. Die rede hoekom daar so ver min van outonomie gekom het was moontlik omdat dit net ‘n klein deel van die volk was wat hulle daarvoor beywer het (en ongelukkig nie altyd realisties was nie). Toegegee baie tyd is gemors en kanse is verspeel, maar as outonomie nou onder ons mense ‘n versugting word, hoekom moet ons dit nou smalend afmaak?

Sensor ·

Die toekoms van Afrikaans lê in Nederlands en die toekoms van die Afrikaner. .. wat is en of wie was die Afrikaner ?

Reinhardt ·

Ek is geneig om saam te stem, maar sal nog meer gesprekke hieroor wil sien. Ek dink ons moet liewer saam met Nederland begin werk, as hulle sou wou. Hier in SA gaan ons tot en met einde van dae baklei vir oorlewing.

rassie ·

Sebastiaan,

Baie dankie vir jou antwoord.

As ek jou antwoord reg verstaan is die enigste kwalifikasie vir Afrikanerskap deesdae dat jy wit moet wees en Afrikaans moet praat. Jy merk op dat dit die tradisionele definisie was. Daarmee kan ek nie heeltemaal saamstem nie. Die tradisionele definisie van Afrikanerskap het baie sterk klem geplaas op Christenskap as die fundamentele karaktertrek van die tradisionele Afrikaner. Ek neem dus aan dat dit nou verval het.

Te oordeel aan die kommentare in Afrikaanse media deur wit Afrikaanssprekendes, of dan te wel, volgens jou definisie, Afrikaners, het baie van hulle probleme met byvoorbeeld Prof Theuns Eloff se deelname aan Dakar.

Die terrein word nou reeds vir 25 jaar verken. Gedurende hierdie tydperk het ons so goed gevorder in probleemformulering dat feitlik alle konferensies en verklarings slegs daaroor gaan sonder enige praktiese oplossing.

Dit is dus verblydend om te sien dat daar ‘n opvolg konferensie beplan word om nou ook die praktyk van Afrikaner selfbeskikking aan te spreek sodat dit vasgestel kan word of dit hoegenaamd moontlik is of nie. Sal bly wees om te verneem wanneer dit gaan gebeur.

Jy merk ook op dat dit nie net oor Afrikaners gegaan het nie, maar ook oor Afrikaanssprekendes, hoewel die sprekers almal Afrikaners was.

Synde dat die meerderheid Afrikaanssprekendes, volgens jou artikel, bruin mense is, sal dit moontlik goed wees om hulle ook in te sluit wanneer dit oor die voortbestaan van die Taal gaan.

Verneem graag verder van jou.

Sebastiaan ·

Rassie, jy is reg, die Christenskap is inherent deel van die Afrikaner en ek kan my moeilik daarsonder as Afrikaner sien. Maar daar gaan nou weer talle wees wat sê hulle is trots Afrikaner maar nie ‘n Christen nie, en hulle word uitgesluit ens. Dit is ‘n oneindige debat. Terloops, by die konferensie is daar gebid voor ete, so die Christelike gees van die Afrikaner was wel teenwoordig.
Wat die bruinmense betref kan daar samewering oor taal wees, alhoewel daar by hulle blykbaar min emosionele binding aan Afrikaans is en bruinmense by taalaksies selde teenwoordig is. Dit was die konferensie se aanbieders se keuse om van “die Afrikaanssprekende gemeenskap” en nie “die Afrikaner” te praat nie, dit was nie my keuse nie. In die aanbiedings self het dit egter veral oor die Afrikaner gegaan en niemand het beweer dat die Afrikaanssprekendes een volk is, of dat taal alles is.

Reinhardt ·

Sebastiaan, en daarin lê die probleem. Volgens jou en baie ander moet n Afrikaner dit en dit en dit wees, anders is hy nie n Afrikaner nie. Ek sien nie myself as uiters gelowig nie, maar ek praat Afrikaans en baklei vir my taal. Ek luister ook nie na tradisionele Afrikaanse musiek nie en ek is vir seker nie n boer nie, het in die stad grootgeword. Dank vader ekt min pigmente in my vel, anders was ek vir seker nie n Afrikaner nie.

Daar is net een manier om te bepaal of jy n Afrikaner is: As jy reken jy is een. Dit is dit. Niemand kan vir jou sê jy is nie een nie.

Henry ·

Inderdaad Reinhardt!
“…niemand kan vir jou sê jy is nie een nie…”

Ek het laaaankal reeds besluit om my nie aan enige siel se oordele oor my Afrikanerwees te steur nie. Is van geen belang nie en sal vir seker nie my, of my familie, of my pelle op enige wyse beïnvloed nie.

Soos my wyse ou moeder sê: “Sulke uitsprake vertel meer van die spreker, as wat dit van enige nut vir mens of dier is”

Disselboom ·

Sien daar in Media24 dat selfs dr Theuns Eloff het nou ontdek dat die grondwet so geskryf is dat die algemene meerderheidsbelang die minderheidsregte eintlik oortref. Lyk al hoe meer of daar net “wigte” is, sonder veel “teenwigte”. En wat kultuur betref, wil dit lyk of ons nou rieldanse as ons (ja, Disselboom is deel van die Afrikanervolk en voel deel van “ons”) kultuur omhels – soos by Afrikaanse Taalraad se Kokertoekennings, waar van ons mense soos Werner Human toekennings ontvang het.

Rupert Ashford ·

Mmm, as ek so kyk na die kommentare (en kommintare) gaan dit nog nie swaar genoeg met die Afrikaner om ernstig te wees nie – nog baie dwarstrek en lugkastele. Goeie uiteensetting Sebastiaan, maar ons sien uit na die opvolgkonferensie om oor die praktyk ingelig te word.

Henry ·

Indien ‘n eie “onafhanklike” Afrikanerstaat/enklawe vir hoogstens 3 miljoen siele iewers binne die RSA se grondgebied toegelaat sou word, sal die bekende ‘rassisme’ kitaar wêreldwyd getokkel word, op die wysie van “die Afrikaners se herskepte Apartheidstaat” wat ge-isoleer, ge- boikot en ge-watookal moet word.

My familie en pelle het vir seker geen aparte woongebied, staat of provinsie nodig om ons lewens as Afrikaners te verseker, te geniet en bowe-al met trots te waardeer nie.

Die Jode het tsv groot bedreigings oor talle eeue heen, hul gebruike, taal, godsdiens, kultuur en geestelike onafhanklikheid behou, sonder ‘n eie staat/grondgebied wat hulle eers eeue der eeue later verwerf het.

Hoe gouer ons Afrikaners die onderlinge twiste oor regs, links, christen, ateïs, tuisland ens staak en ons Afrikanerskap en Afrikanerwees uitleef, aanpas en geniet, hoe gouer sal ons vorentoe kan beweeg.

Gerhard ·

Die Jode het n volkstaat en dit is die enigste plek waar hulle werklik Jood kan wees.

Vrye Boer ·

Sebastiaan,

In jou skrywe verwys jy self na die “wie is wie” van die Afrikanerdom en stel daar die standaard dat die “belangrike” Afrikaners nou die idee begin ondersoek. Hierdie houding, sowel as die eksklusiwiteit wat Afriforum en kie nou rondom die saak skep, deur nie al die leiers en organisasies wat al jare selfbeskikking najaag, in ag te neem nie, is die wortel van ‘n nuwe ONS en JULLE debat.

Sebastiaan- Dink vir ‘n oomblik aan al die mense en die ure en die werk wat al ingegaan het in navorsing en gesprekke rondom selfbeskikking en nou word daardie mense nie in ‘n inklusiewe manier benader nie…

Sebastiaan- Verstaan mooi dat Afriforum en kie van ‘n VOLKSAAK nou ‘n organisasie se saak maak deur nie inklusief te wees en al die groepe te nader nie…

Verstaan dat Afriforum nie die VOLK is nie, maar dat as julle so iets wil doen, julle die mense in die volk moet betrek eerder as om ‘n ONS en HULLE te skep deur ‘n klein elite, eksklusiewe groepie aan te stel oor ‘n saak wat ‘n hele volk raak…

Hierdie is nie smalend, soos jy beweer nie, hierdie is ‘n pleidooi… Moenie ‘n volksaak vat en dit eksklusief aan ‘n groepie maak nie….

Groetnis.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.