Outonomie vir die Afrikaanse Gemeenskap: Teoretiese en politieke vereistes

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion.

In deel 1 van die artikel oor die bevindinge van die onlangse konferensie van Solidariteit oor “Outonomie vir die Afrikaanse gemeenskap” is gekyk na praktiese vereistes soos demografie, onderwys, veiligheid en die ekonomie. In deel 2 word die vereistes wat politieke denke betref, beskou.

ʼn Volk of groep kan immers nie selfseggenskap kry as hy dit nie ten diepste begeer en nastreef nie. Daar word ook na die verskillende opsies van territoriale en nieterritoriale outonomie gekyk.

Selfstandigheid en eie politieke denke

ʼn Mens is geneig om teorie as onnodige, intellektuele denkoefening af te maak en net op die praktiese aspekte soos veiligheid of die maatskaplike te wil fokus, maar outonomie kan nie verkry word as dit nie deur die wil tot selfstandigheid onderlê word nie.

ʼn Volk wat voos en verslae is (soos sommige Afrikaners), dring nie aan op outonomie nie, want hulle voel hulle verdien dit nie. Dit help ook nie om iets van die regering te wil afsmeek deur sy eie ideologie te gebruik nie (“ons is almal Suid-Afrikaners en wil hierdie land opbou vir alle mense, daarom wil ons graag erkenning kry …”).

Prof. André Duvenhage praat van “gekose trouma” en “gekose glorie” as deel van ʼn volk se mitologie wat nodig is vir sy selfbeeld. By die Afrikaner is die “gekose trouma” van sy geskiedenis die Engelse oorheersing, die bedreiging deur swart stamme en die konsentrasiekampe. Die “gekose glorie”, waardeur die trouma in die verlede oorkom is, is die vryheidstryd teen Britse oorheersing asook die Groot Trek wat ʼn antwoord op sowel Britse oorheersing as swart bedreiging was, en die heropstanding ná die Tweede Vryheidsoorlog. Elemente wat ʼn hedendaagse Afrikaner-mitologie of gekose glorie moet bevat, is volgens Duvenhage individualisme, republikanisme, Protestantse werksetiek, vooruitgangsgeloof, versetoriëntasie, ʼn verbintenis tot eie taal en kultuur. Hy tref ook die vergelyking met Israel en die leidende rol van Theodor Herzl as grondlegger van die Sionisme daarby.

Prof. Danie Goosen se bydrae lig uit dat die Afrikaner se gebrek aan ʼn sterk selfgelding deels te doen het met die beperkte kennis van sy eie geskiedenis. Waar die kennis in die verlede nie verder terug gestrek het as tot die Groot Trek nie, is dit nou amper net beperk tot die apartheidsverlede van die 20ste eeu. ʼn Amper religieuse sondeval-en-verlossing-narratief heers, waar die “goeie” Mandela-era weer herstel moet word waartydens almal kamstig gelyk en vry was. Die fokus bly daarby op die staat en nie op selfstandigheid nie. Die Afrikaner kan nie selfstandig raak solank hy verknog bly aan die staat en alles deur die staat gedoen wil hê nie. Denkers soos Danie Goosen, Carel Boshoff en Koos Malan wys hier ʼn nuwe weg anderkant die dwanglogika van die territoriale staat en plaas die fokus eerder op gemeenskappe as die beginpunt van politieke handeling.

Die Afrikaner het in die verlede sy eie ideologie (byvoorbeeld Christelike nasionalisme en republikanisme) ontwikkel en kon die Britse Ryk daarmee oorwin en Suid-Afrika dus lank regeer. Dit sou nie die geval gewees het as liberale imperialisme net deur die Afrikaner oorgeneem is nie. ʼn Terugkeer na uitgediende ideologieë wat deur die tyd ingehaal is, is natuurlik net so min ʼn oplossing. Vernuwende denke wat ʼn antwoord op ons volk se dilemma bied, is die antwoord, nie die herkou van oorsese ideerigtings nie.

Grondwetlike bepalings

Daar is grondwette en internasionale verdrae wat erkenning aan minderhede en hulle kulturele regte gee, maar geen van die regte is wetlik afdwingbaar nie. Die Suid-Afrikaanse Grondwet het ʼn paar artikels wat erkenning aan sekere elemente van outonomie gee, soos moedertaalonderwys, kultuurrade en beperkte territoriale selfbeskikking. Die regskenner prof. Koos Malan het egter tereg daarop gewys dat daar nie op die Grondwet staatgemaak moet word as dit kom by die afdwing van outonomie nie. Die Grondwet word ook geïnterpreteer deur die howe, en die howe is reeds sterk getransformeer, en word nog verder getransformeer, wat beteken dat regters die Grondwet vertolk volgens die heersende tydsgees. Immers volg regspraak die praktyk en skep nie praktyk nie, iets wat dikwels verkeerdelik gedink word. ʼn Voorbeeld is die artikel 185-kommissie, wat eintlik bedoel is om taal en kultuur te beskerm, maar wat deur die regering tot ʼn nasiebou-instrument met min praktiese waarde omskep is.

Die benadering van Afrikaners moet dus wees om praktyke te skep (wat verkieslik nie in stryd is met die Grondwet nie) en dit dan erken te kry. Orania is daarvoor ʼn voorbeeld. Artikel 235 laat so iets toe, maar die artikel is nie afdwingbaar nie. Jy kan nie ʼn outonome gebied eis op grond van grondwetlike bepalings of internasionale verklarings nie.

Territoriale en nieterritoriale selfbeskikking

Prof. Deon Geldenhuys vra die vraag waarom volke outonomie wil hê. Dit gaan oor kulturele handhawing, fisieke veiligheid en voorspoed deur beheer (of ʼn mate van beheer) oor die ekonomie en finansies. By verskillende volke is die faktore verskillend belangrik. Vir die Afrikaner is al drie aspekte belangrik, maar fisieke veiligheid staan tans voorop.

In Suid-Afrika is daar ondanks ʼn onsimpatieke en sentralistiese staat vorme van beperkte outonomie aanwesig. Daar is regeernetwerke, kulturele (nieterritoriale) outonomie, funksionele outonomie en plaaslike territoriale outonomie. Eersgenoemde twee werk binne die staatlike paradigma, laasgenoemde twee daar buite.

Regeernetwerke is die samewerking met regeringsinstellings deur druk- en lobbygroepe soos die sakesektor, burgerlike instellings (AfriForum) en partye. Hulle probeer die regering oortuig om aan sekere eise toe te gee, alliansies te vorm en oplossings te vind. In ʼn land soos Suid-Afrika waar die regering hom min steur aan minderhede is die invloed van regeernetwerke beperk.

Kulturele nieterritoriale outonomie is moontlik as ʼn volk soos die Afrikaner (of die Afrikaanssprekendes) wat wyd verspreid woon en omtrent oral ʼn minderheid is, besluit om ʼn kultuurowerheid of kultuurraad te stig wat na sekere belange omsien, soos onderwys of erfenis. Dit is iets wat egter afhanklik is van die staat. Die Suid-Afrikaanse Grondwet maak in beginsel (maar in vae terme) daarvoor voorsiening, maar by die regering ontbreek die wil om so iets te laat werk, en enigiets wat “eksklusief” is, word gewoonlik as bedreiging gesien. Ook Afrikaners kon tot dusver nog nie met ʼn gesamentlike plan wat wye steun geniet, vorendag kom nie. Daar is altyd die moontlikheid om so ʼn kultuurraad eers provinsiaal in te stel. Die provinsie Wes-Kaap maak in sy provinsiale grondwet blykbaar daarvoor voorsiening en in ʼn sterk Afrikaanse provinsie sal ʼn kultuurraad sin maak.

ʼn Voorbeeld vir funksionele outonomie is organisasies soos AfriForum en Solidariteit, wat parallelle strukture vestig waar die staat nie meer sy werk kan of wil doen nie. Voorbeelde is geprivatiseerde veiligheid soos buurtwagte, of die oorname van munisipale funksies soos die herstel van paaie, krag- en waternetwerke, die instandhouding van openbare geriewe, monumente, en so meer. Besluite oor eie sake word geneem en die vakuum wat die staat gelaat het, word gevul sonder dat daar formele outonomie-wetgewing van toepassing is.

Plaaslike territoriale outonomie in Suid-Afrika vind in praktyk tot dusver eintlik net in Orania plaas, ʼn selfbesturende Afrikanergemeenskap wat alle funksies van ʼn munisipaliteit, en selfs sekere funksies van ʼn staat (soos gesondheid, welsyn en veiligheid) privaat bedryf. Daar is egter ook al meer outonome privaat woonbuurte soos Melrose Arch (stedelik) of Steyn City (semi-landelik) waar alles binne ʼn geslote opset plaasvind, soos woon, vermaak, koop, besigheid, en so meer. Die maatskappy vorder heffings in, voorsien private veiligheid en ʼn gedeelte van die dienste. Winkels, ontspanningsgriewe en selfs kantore is alles binne die kompleks. Dit is selde nodig om so ʼn opset te verlaat. Daardie privaat stede het egter, anders as Orania, geen Afrikanerkarakter of -oogmerk nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Arend ·

Dat die bereiking van wesenlike selfbeskikking ‘n lang stryd gaan wees, is gewis. Myns insiens is daar net een model, soos dit by Orania en Kleinfontein toegepas word: beset jou eie grond en verrig jou eie arbeid. Enige ander model wat samewerking of goedkeuring van die staat vereis, is dood gebore . As die staat Orania en Kleinfontein kon vernietig, sou hulle dit lankal gedoen het. Die onus rus dus op ons om ons eie toekoms te beveilig…

Eish ·

Nou presies wat sê dit vir ons gewone sterflinge?
Dat ons gedoem is tensy ons op saamtrek op n kol? Onmoontlik tensy boere, besighede en beroepslui, en gewone mense alles los en vertrek. Totaal onmoontlik tensy ons gedryf word deur politieke oproer om alles te los, ons grypsak te vat en te verkas. (Dalk die ylbevolkte Noord Kaap)

Ons gaan almal vashou aan ons inkomstestroom totdat so n ingrypende situasie dit regverdig. Intussen sal ons moet saamleef met die kleptokratiese verval en meer en meer blootgestel word aan bestaansbedreiging.

Bitter swaar tye vir die gewone Afrikaner, bitter tye.
Ongelukkig verleen die huidige situasie hom daartoe dat die stelselmatige “paddakookproses” met sulke inkremente plaasvind dat die Afrikaner stelselmatig afskilfer tot n nie-entiteit met weinig invloed.

John ·

Lyk so indien die ANC se wil geskied en ons weet Iemand ander is eintlik die Grootbaas, maw die toekoms is menslik totaal onvoorspelbaar. Wat wel nodig is, is dat ons Afrikaners ons ook nie as die verontregte uitverkorenes van Afrika sien nie en nederig voor die Vader buig (en nie ander gode nie)… en ons naaste-naaste, wat erg ly onder die huidige ‘tsoenami’, bystaan. Afrika is dominerend en eis samaritaanskap/gewetenswroegings eerder oor die ‘ander’ as ons eie/sake/kultuur. Omdat ons Afrikaners so ‘n losse kulturele bestaan voer kry hulle dit telkens reg om ons swak te maak en die ‘eie’ ly daaronder.

Danie ·

Meskien moet julle besef nie alle afrikaners deel julle ideolgie nie. Dis mos eenvoudig sit julle geld saam koop n stuk grond en leef outonomies.

Nouja ·

10 uit 10 vir nog ‘n probeerslag, maar nee dankie. Daar is geen moontlikheid dat ek ooit selfs hierdie droë kus dorp sal verlaat om na Orania of Kleinfontein of waar ook al te trek vir politieke redes nie. Dit moet inderdaad bitter sleg gaan voordat dit selfs enigsins moontlik oorweeg sal word. Hoekom? Omdat ek die volkstaters haat of iets? Nee. Hier is al baie kenmerke van wie en wat die Afrikaner nou al voorgehou, maar daar is een aspek wat dikwels oor die hoof gesien word – aanpasbaarheid. As Afrikaans sprekende Caucasiêr roem ek my daarop om my by einige land en omstandighede aan te pas en te floreer. Ek hoef nie tot ‘n volk te behoort om my eie identeit en voortbestaan te verseker nie. Ek kan dit net so goed in Hartenbos doen as wat ek dit in Sydney of Bulawayo kan doen. Dit is nie nodig om in ‘n laer of in Orania te bly om gelukkig en vooruitstrewend te wees nie.
Luister mooi. Wroemm!! daar ry nog ‘n meubelvervoer vragmotor verby Hopetown op pad na die verdoemende provinsie vir wie so baie lief voor is om te haat.

voortrekker ·

ek sal ongelukkig nie kan saamgaan , maar hier is n hele paar huise in Clifton en Constantia wat ek sal goed oppas as die eienaars trek Orania toe en plettenberg baai se vakansie huis.

Oom Piet ·

Aanbid God Almagtig, vra, glo en ontvang in geloof met dank. Eer en behoed u vader en moeder en u dae in u geboorteland sal verleng word in eerbare wysheid en samelewing in blydskap en voorspoed. Elke mens kan innoveer en oor-produseer vir verhandelbare wins. Verslawing nes eieregtigheid en diefstal erge euwels. Boesem vertroue van andere in u in. Glimlag en wees opreg medemens inagnemend.

Wonder ·

Ek is op ‘n interessante plek in my lewe… my kinders is amper almal klaar gestudeer en bedink planne om om hul erens te vestig vir die toekoms. Ek is amper by aftrede. Moedig ek hul aan om Weskaap se kanttoe te verhuis gedagtig aan die hoop dat daar dalk in die toekoms daar ‘n groter konsentrasie van Afrikaners/Afrikaanses sal wees? En ek volg hul dan later?
Of moedig ek hul aan om hul tassies te pak en oorsee te gaan probeer siende dat hul nog geen vaste belange soos eiendom en permanente werke hier het nie?

rassie ·

Sebastiaan,

Dankie vir deel 2 van die konferensie se menings.

Stem met baie van die bevindinge saam. Veral met die gedeelte, soos wat in jou artikel genoem word, dat:

“Ook Afrikaners kon tot dusver nie met ‘n gesamentlike plan wat wye steun geniet vorendag kom nie”.

My vraag aan die Afrikaner konferensieleiers is dus die volgende:

Voorsien hulle dat hulle ooit eendag, na al die filosofering en teoretisering oor die afgelope 25 jaar, met ‘n wyd ondersteunde plan vorendag gaan kom wat wettig, moreel aanvaarbaar en prakties uitvoerbaar sal wees? Indien wel, wanneer beplan hulle om hierdie plan op die tafel te plaas?

Soos dit tans vir my lyk gaan dit moontlik nooit gebeur nie.

Loeis ·

Dit sal help as meer mense vir ‘n party soos VF+ stem wat ten gunste van selfbeskikking is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.