Pandemies van die land

Bennie van Zyl. Foto: Daleen Gouws

ʼn Paar maande gelede was die woord ‘pandemie’ gewis nie iets wat in die spreektaal rondgegooi is nie. Covid-19 het dit kom verander. Selfs die president van die land het sy woordeskat só uitgebrei dat, wanneer hy oor die geslagsgeweld teen vroue en kinders praat, hy dit ook as ʼn pandemie beskryf. Hy praat dus van ‘die twee pandemies in die land’.

ʼn Pandemie (vanuit Grieks: pan (alle) en demos (mense)) is ʼn aansteeklike of oordraagbare siekte wat vinnig oor ʼn land of groter gebied versprei. Dit is in werklikheid ʼn epidemie, maar net op ʼn wêreldwye skaal. Die feit dat geslagsgeweld vergelyk word met ʼn wydverspreide siekte, is interessant. Of die drastiese voorkoms van hierdie geslagsgeweld regdeur die wêreld plaasvind, is nie iets waaroor ek my kan uitlaat nie. Dalk moes die president eerder daarvan gepraat het as ʼn epidemie. Laat ons egter nie stry oor grammatika nie – dit illustreer wel die erns van die saak.

Wanneer ons ondersoekend na Suid-Afrika kyk, besef mens dat daar eintlik meer as een epidemie is wat ons land teister. As ons die erns ontleed van elkeen en wat dit aan ons land se inwoners en hulle toekoms doen, kan ons dalk ook maar die president se voorbeeld volg en dit ook pandemies noem.

Covid-19

Die virus wat die begrip ‘pandemie’ weer deel gemaak het van die spreektaal. Ons moet beslis nie ʼn fout maak en die erns van hierdie pandemie onderskat nie. Die virus het ʼn impak op elke persoon in die wêreld en daar is nou reeds talle mense wat eerstehands kan verduidelik hoe ernstig dit is wanneer jy die siekte onder lede het. Dit het ook ʼn ekonomiese krisis veroorsaak; nie noodwendig die virus self nie, maar die wyse hoe die ekonomie oor die afgrond gedruk is en werkloosheid en die gepaardgaande armoede laat eskaleer het.

Geslagsgeweld teen vroue en kinders

Vir volledigheid noem ek ook die president se geslagsgeweld teen vroue en kinders. Uiteraard is dit wat plaasvind totaal onaanvaarbaar, maar ons behoort te vra waar dit vandaan kom. In die wêreld waar ek groot geword het, was sodanige onaanvaarbare gedrag die uitsondering. Die gemeenskap het dit veroordeel en die stelsel het die enkele gevalle ernstig uitsorteer. Daar behoort bepaal te word in watter omgewing hierdie siekte/pandemie gesetel is.

Kultuur van geweld

In Suid-Afrika het die kultuur van geweld ʼn benadering geword oor hoe probleme (wat baie keer self geskep is) opgelos moet word. Dit is ʼn ernstige pandemie. ʼn Lewe is nie meer iets werd nie. Soos ʼn baie senior polisiebeampte in die Oekraïne vir my gesê het toe hy die moordsyfer in Suid-Afrika verneem: “Het julle dan nie ʼn regering nie?” Die politieke wil om hierdie saak na behore op te los, is afwesig. Hierdie kultuur is geskep in die dae van die ANC se ‘struggle’ en hulle kon nog nooit daaruit losbreek nie.

Korrupsie

Selfs tydens Covid-19 ervaar ons hoe die persone wat verantwoordelik is om toe te sien dat hulp op die regte plekke uitkom, hulleself eerder met die fondse verryk. Die kaders na aan die ANC-vuur is diegene wat korrupte en opgeblaasde tenders kry. In alle billikheid kan ons inderdaad vra hoe ons eie president, mnr. Ramaphosa – as ʼn onderdrukte persoon – daarin kon slaag om in so ʼn kort tydjie sy miljarde bymekaar te maak? Die staatskas is reeds leeg gesteel en geplunder, en steeds gaan die ANC voort asof geld maar net daar is. Munisipaliteite ontvang jaar na jaar negatiewe ouditverslae, maar steeds word dit wanbestuur. Woorde wek maar dade strek, mnr. Ramaphosa. Ons hoor gereeld dat korrupsie uitgeroei gaan word, maar tog gaan dit net voort. Daar bestaan waarskynlik nie een vorm van regeringspandering wat sonder korrupsie is nie. Hierdie pandemie het Suid-Afrika reeds onberekenbare skade berokken. Die gevaar is nou dat die samelewing dit as ʼn norm begin beskou, wat ons maar net moet bestuur.

Kaderontplooiing

ʼn Ander ernstige pandemie is die kultuur van kaderontplooiing wat die ANC se praktyk is. Kundigheid is oor tyd op alle vlakke vervang met kaders, ongeag hulle kundigheid. Doeltreffendheid en positiewe uitkomste in administrasie het vervaag en ons beskik nou oor ʼn falende regering waar dienslewering grootliks net waardelose woorde is.

Landelike misdaad

Die president se plaaslike gepaai oor plaasaanvalle en -moorde en sy ontkenning daarvan in die buiteland is ʼn bron van groot kommer. Minister Bheki Cele het na aanleiding van ʼn vraag in die parlement gesê dat plaasaanvalle vir die SAPD ʼn prioriteit is. Maar as mens kyk na hoe hierdie ‘prioriteit’ hanteer word, is dit uiters kommerwekkend. Deur hierdie stelling openbaar minister Cele die totale onvermoë van die staat om die nodige middele daar te stel om na die burgers se veiligheid om te sien.

Raskaart

Die term wat die ANC lewendig hou. Dit word al hoe duideliker dat die ANC hulle onvermoë om te regeer, agter die rookskerm van rassisme wegsteek. Weinig van hulle uitsprake het nie die een of ander rassistiese ondertoon in nie. Die ANC polariseer Suid-Afrika se inwoners met hulle optrede. Die kultuur wat deur die leiers van die ANC uitgedra word, vergestalt in die brutaliteit en intensiteit van die aanvalle op plase.

Die leuen oor ons geskiedenis

Dit is nou al so baie vertel dat hulle dit self begin glo. Die pandemie van die leuen is ʼn groot probleem in die sin dat onrealistiese verwagtinge daardeur geskep word. Die werklikheid is dat die waarheid uiteindelik altyd sal seëvier. Die skade wat intussen veroorsaak word, is onmeetbaar groot. Hierdie leuen marginaliseer wit mense as gelykmatige inwoners van Suid-Afrika. Die indruk is dat wittes net goed genoeg is om belastings te betaal sodat dit iewers wanaangewend kan word.

ANC se ekonomiese benadering

Die ANC se ekonomiese benadering het ons reeds voordat Covid-19 ons land getref het in rommelstatus geboender. Dieselfde denkraamwerk word steeds bespeur. Daar is nie ʼn manier hoe die ANC met hierdie denke die omgewing kan skep wat ons land se ekonomie na groei kan bring nie. Werkloosheid en armoede is, buiten misdaad, byna die enigste goed wat die ANC regkry om te groei.  Vir meer as 12 jaar vra TLU SA al vir die ANC hoekom hulle nie vir die mense in HOP-huise die titelaktes van die huise gee nie. Nou sit almal op dooie kapitaal. Deur net ʼn titelakte te gee, word dit onmiddellik werkskapitaal en kan dit gebruik word as kollateraal om byvoorbeeld ʼn lening te kry. Die ANC hou sy eie mense gevange in armoede. Hierdie pandemie veroorsaak omstandighede wat ʼn tydbom is wat net wag om te ontplof.

Nog pandemies

Die besoedeling van ons waterbronne, ons falende onderwysstelsel en die vernietiging van ons natuur kan nog verder uitgelig word. Die pandemie wat Suid-Afrika egter die ergste tref – trouens reeds vir 26 jaar die land se toekoms vernietig – is die ANC self.

Die meeste van die genoemde pandemies is inderdaad die ANC se maaksel. Die groot gevaar van hierdie laaste pandemie is dat die samelewing dit wat daaruit na vore kom, later as die norm aanvaar. Ons probeer dit daagliks net bestuur of betoog.

Die daaglikse diensleweringsbetogings, staking van vragmotorbestuurders en ongelukkigheid wat op vele maniere tot uiting kom – en gewoonlik in geweld eindig – wys dat daar eintlik groot rooi ligte brand. Wat moet nóg tafel toe kom sodat alle kiesers kan besef die ANC is nie by magte om die land te regeer nie? Hulle het net eenvoudig nie die beleid en samestelling om van die verantwoordelikheid van regering ʼn sukses te kan maak nie.

Ons moet egter positief bly en werk vir die toekoms. Dit is deel van ons kultuuropdrag uit die Woord. Mag ons nooit vergeet dat daar ander en beter waardes is as dit wat die ANC op Suid-Afrika afdwing nie. Dalk het dit tyd geword dat daar positiewe waardes uitgedra word anders as dit waarmee ons gekonfronteer word.

Kom ons veranker ons jeug weer in die volledige geskiedenis van die Afrikaner. Kom ons leer hulle weer om na uitnemendheid te streef en ons skep vir hulle die regte geleenthede in onderwysinrigtings wat geanker is in die Woord van God.

Ons het ʼn keuse – dit is nie nodig om saam te vloei in hierdie ANC-glybaan na ʼn moeras toe nie. Kom ons skep ʼn positiewe ‘pandemie’ wat soos ʼn tsoenami oor die land spoel en waarin ons weer realistiese hoop en ʼn positiewe toekomsverwagting vir ons mense kan skep. Dit gaan verg dat ons weer ons eie waardes en beginsels moet besoek. Met dit vas gefundeer sal ons skeppend moet werk om alternatiewe te skep vir dit wat die ANC op ons afdwing. Ons is dit verskuldig aan ons nageslag.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Bennie Van Zyl

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stefan

Haai, nooit!

Eragrostis

Baie dankie, Bennie, vir so ń waardevolle en akkurate uiteensetting van dié en vele pandemies wat onder die ANC bewind daargestel is, en jou oplossings daarop. Een ding wat ek uit die lewe geleer het is dat jy nie beheer het oor dinge wat ander mense (instansies en regering ingesluit) of die natuur oor ons bring nie, maar jy het totale beheer oor hoe jy hierdie situasies kan hanteer. Die vraag is net hoe. Gaan jy dit positief (met min kla en oplossings bied) of negatief (met baie kla met geen oplossings) hanteer?

SomeOne

ons sit met ‘n probleem, die jeug van vandag is reeds in die glybaan en “wil” nie daaruit nie

Kanjynoumeer

Dit sal wonderlik wees as n ekonoom soos Dawie Roodt, op wie ons as Afrikaners kan staatmaak en vertrou om ons as Afrikaners te help om ons swaar verdiende geld in n rigting te kan kanaliseer waar dit nie in n bodemlose put in verdwyn soos SARS waar ons geen beheer het oor ons belasting geld nie. Afrikaners se belasting geld word verkwis en ons kan net kyk hoe dit gebeur.
Basta met dit!
Dawie, help ons om raad te gee om so min as moontlik belasting geld te hoef te betaal!!

Scalla

Ware en goeie stuk skryfwerk, publiseer dit asb in alle reenboog nasie tale en versprei dit aan die wat hopelik kan lees en dit kan oordra.