Paradigmaskuif: kritiek vir Afrikaners se voortbestaan

hande 2

Argieffoto.

Deur Christoff van Wyk

Die HAT definieer ʼn paradigmaskuif as “ʼn groot verandering, veral in ʼn mens se denkwyse”. Heel gepas gebruik hulle dan ook die woord, ter verduideliking, in die volgende sin: “Vir hom was dit nogal ʼn paradigmaskuif om suksesvol binne die nuwe politieke bestel te funksioneer.”

Om hierdie punt nog verder te illustreer, vertel Stephen R. Covey in sy topverkoper, The 7 Habits of Highly Effective People, van ʼn klein paradigmaskuif wat hy ervaar het op ʼn trein in New York. Dit was ʼn Sondagoggend met net ʼn paar mense op die trein en die atmosfeer was rustig. Party mense het sit en boek lees, ander koerant, terwyl sommiges slegs met hul oë toe gesit het. Skielik het hierdie hele atmosfeer verander toe ʼn pa en sy twee kinders by die volgende stasie opgeklim het. Die pa het langs Covey kom sit en was totaal afgesluit van die hele situasie om hom, amper in ʼn waas, terwyl die kinders rondhardloop, skree en selfs goed uit mense se hande uit gryp. Covey het die situasie tot op ʼn punt verdra, maar toe op ʼn stadium oorgeleun en vir die man gevra of hy nie dalk sy kinders beter kon beheer nie, want hulle was besig om ʼn klomp mense te ontstig.  Die man, wat gelyk het asof hy skielik ‘wakker’ word, het geantwoord: “Ja, jy is seker reg. Ek moet seker iets doen. Ons kom nou net van die hospitaal af en hul ma is ʼn uur terug oorlede en ek weet werklik nie wat om te dink nie. Hulle weet seker ook nie hoe om dit te hanteer nie.” Oombliklik, skryf Covey, het hy ʼn totale paradigmaskuif beleef en onmiddellik aangebied om die man te help op enige manier wat hy kon.

Afrikaners wat dalk nog nie ʼn paradigmaskuif gemaak het oor Suid-Afrika nie, sal vinnig moet opvang. Die uitvoerende direkteur van die Sentrum vir Politiek en Navorsing (CPR),  Prince Mashele, skryf onlangs in sy artikel, SA finally African, all thanks to Zuma, dat Jacob Zuma ons oë oopgemaak het vir die feit dat ons nie ʼn ‘spesiale’ land hier onder aan die suidpunt van Afrika is nie maar, inderwaarheid, net nog ʼn Afrika-land.

Mashele verwoord dit as volg: “During the presidency of Nelson Mandela and Thabo Mbeki, some among us used to believe that the black people of SA are better than those of other African countries. We must all thank Zuma for revealing our true African character; that the idea of rule of law is not part of who we are and that constitutionalism is a concept far ahead of us as a people. How else are we to explain the thousands of people who flock to stadiums to clap hands for a president who has violated their country’s constitution? Such people have no idea of constitutionalism.”

Ons bly in Afrika. En Suid-Afrika is net nog ʼn Afrika-land. Hierdie paradigmaskuif is tans broodnodig, veral vir Afrikaners. Dit is nodig, want sonder hierdie skuif, kan voldoende beplanning nie gedoen word vir die toekoms nie. Mashele skryf verder: “The people who think we have come to the end of SA don’t realise that we have actually come to the beginning of a real African country, away from the Western illusions of exceptionalism. Those who are unsettled by this true African character need help. The best we can do for them is to ask them to look north of the Limpopo River, to learn more about governance in Africa.”

Inderdaad gebruik Mashele dan ook as voorbeeld lande soos Nigerië, Kenia en Zimbabwe om te illustreer wat ons kan verwag in die jare wat kom. Dis gewoonlik in hierdie stadium dat ʼn groot groep Afrikaners en liberales in ʼn koor al die redes sal begin opnoem oor waarom Suid-Afrika nooit soos daardie lande sal word nie. Dit sluit in die Grondwet, die howe, eiendomsreg, vryheid van spraak en regverdige verkiesings.

In die laaste paar jare was daar egter verskerpte aanvalle op al hierdie instellings. Die nuwe Regspraktykwet 28 van 2014 vervang die regsberoep se uiters suksesvolle stelsel van selfregulering nou met semi-staatsregulering.

Verder is die nuwe Onteieningswet besig om oor sy laaste hekkie te spring voordat dit in werking gestel sal word.

Die voorstelle om haatspraak en rassisme te kriminaliseer, sal in ʼn konsepdokument vervat word, wat so vroeg as Augustus 2016 ter tafel gelê sal word. Die lyn tussen vryheid van spraak en haatspraak gaan heel waarskynlik opnuut gedefinieer en geïnterpreteer word en indien in ag geneem word dat die algemene persepsie onder swart mense bestaan net wit mense kan rassiste wees, voorspel dit niks goed nie. Daar is ook die gedurige gerugte van stembusknoeiery en korrupte verkiesingsbeamptes, wat ook nie juis baie vertroue inboesem nie. Die vraag bly staan of die ANC geredelik mag sal oorgee indien dit wel eendag gebeur dat hulle by die stembus onttroon word.

Dit behoort dus vir enigiemand wat realisties na die situasie in Suid-Afrika kyk, duidelik te wees ʼn grootse projek van Afrikanisering is besig om plaas te vind. Vir die moderne Afrikaner is die idee om te verval onder ʼn regime van hoofmanne en stamleiers ondenkbaar. Net so ondenkbaar soos om regeer te word deur diktators wat die skyn van demokrasie voorhou, maar dan in werklikheid totalitêre mag op dieselfde manier uitoefen. Die beroemde Amerikaanse politieke wetenskaplike, prof. Samuel Huntington, het die volgende raad vir Afrikaners gehad oor hul toekoms in Suid-Afrika: “Julle sal moet afskeid neem van die staat en op jul eie bene staan. Afrikaners sal moet loskom van staatsafhanklikheid en selfstandig begin raak. Die ANC gaan, soos elders in die wêreld, die staat oorvat en aanwend om hul beleid (Afrikanisering) uit te voer, om hul beloftes aan kiesers na te kom, om hul ondersteuners werk te gee (kaderontplooing) en om hul politieke doelwitte (transformasie) met die staat se belastinginkomste te befonds.”

Afrikaners staan dus voor ʼn baie groot besluit. Laat vaar die droom en besef ons bly in ʼn Afrika-land, net soos enige ander Afrika-land. Of hou aan droom en word telkens onkant betrap en de josie in gemaak vir elke nuwe skandaal. Indien jy vrede maak met die eerste opsie, begin dan diensooreenkomstig praktiese planne en skuiwe te maak om jou en jou kinders se voortbestaan hier te verseker, want daar is nog ʼn toekoms vir die Afrikaner in Suid-Afrika, mits Afrikaners hulself van die realiteite vergewis.

Afrikaners sal moet begin inskakel by gemeenskapsorganisasies waar hulle in groot getalle op beskerming van hul burgerlike regte, asook hul fisiese beskerming kan aanspraak maak. As individue staan ons nie ʼn kans nie en sal ons die stryd teen oorheersing stadig maar seker verloor.

Verder sal Afrikaners hul kulturele identiteit weer met trots moet opneem en besef hul herkoms en kultuur bestaan nie slegs uit apartheid nie, maar uit soveel meer as dit. Eers dan sal Afrikaners voel hulle het ook wel ʼn sê oor wat in die land gebeur en dat hulle ook ʼn plek hier het.

Dit wil voorkom asof baie Afrikaners en die meeste witmense totaal verlam is elke keer as apartheid opgeroep word as beskuldiging teen hulle. Die ‘misdaad’ van die verlede word dan elke keer gebruik as regverdiging vir apartheid-styl wetgewing soos transformasie, regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging, wat met die uitsluitlike doel geformuleer is om teen Afrikaners en ander minderhede te diskrimineer en hulle ekonomies te ruïneer. Hierdie ekonomiese, etniese suiwering is onaanvaarbaar en moet stop. Genoeg is genoeg. Hoe meer stemme bymekaar gevoeg word om hierdie onregverdige praktyke te beveg, hoe moeiliker sal dit wees om dit te ignoreer.

Paradigmaskuiwe is nie maklik nie. Maar, dikwels wanneer jou voortbestaan daarvan afhang, is dit moontlik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Hendrik ·

Jou aanhaling “Hoe meer stemme bymekaar gevoeg word om hierdie onregvertige praktyke te beveg, hoe moeiliker sal dit wees om dit te ignoreer.”
Kom ons as Afrikaners maak die paradigmaskuif en dring daarop aan dat indien die regering nie die onregverdige praktyke stop en die diskrimminerende wetgewing verwyder nie sal ons nie meer aan die demokratiese stelsel(verkiesings) deelneem nie. Dit is die sterk boodskap stuur en die wereld laat regop sit en kennis neem van wat aangaan in S.A.

Hendrik ·

Loeis ek dink regtig dit is wat ons moet doen. Ons gee ‘n regmerkie agter die Suid-Afrikaanse demokrasie as ons gaan stem al is dit ook hoe onregverdig teenoor die minderhede. Die wereld se aandag gaan dan op ons wees en dan moet ons feite agtermekaar wees om die situasie reg te stel. Ons is regtig net soos skapies wat van een verkiesing gaan na die volgende verkiesing. Na elke so verkiesing het sake net meer agteruit gegaan. Feite: Poskantoor, telkom, polisie, gevangenis, gesondheid, verdediging, inderwys, lugwee, transnet…..Die wetgewing word net meer diskrimineerend a.g.v die onvermoe van die regeerder om die ekonomie te stimuleer en die belangrikste van als om werk te skep.

Wicus ·

Paradigma skuif, lyk my meer na ‘n graf vir jouself. Stem met op eie staan en deelname tot die uiteindelike doel van vryheid behaal is.

Die wêreld, nee wat, ek twyfel of hulle enigsins omgee, hulle sal bloot met ‘n skouer ophaal hulle geld skuif, sien hulle optrede met Zim.

Leendert van Oostrum ·

Huntington lieg as hy skryf:

“Die ANC gaan …(die staat oorvat)…om hul beloftes aan kiesers na te kom”.

Wat jy waar sien?

Hendrik ·

Die ANC het al klaar die staat oorgevat en almal dans op hulle wysie. Selfs die groot maatskappye dans op hulle wysie.

Ebert Terblanche ·

Die feit dat die ANC besig is om die staat so effektief te verongeluk is die sterkste aanduiding dat hulle wel die beheerpanele oorgeneem het.

John ·

Luister boet, jy praat uit twee monde. Aanvanklik se jy ons moet ‘n paradigmaskuif maak, maw as jy in Rome is, maak soos die Romeine, (dus: begin plak, steel, koop om en brand af as iets jou pla). Dan kom jy met: Boere ons moet laertrek en plan maak en ‘komando’s’ byeen roep… Daar is groot…. aan die kom. Ek gaan nou eers koffie maak. Jy het my!

Gemsbok ·

John, dit is een ding om omstandighede te herken vir wat hulle is. Dit is iets anders om dit gedwee te aanvaar, daarby in te val en deel van die probleem te word.

Die skrywer stel nie voor dat ons deel van die probleem word nie. Hy stel voor dat ons die probleem herken sodat ons effektief ‘n oplossing daarvoor kan kry.

Die oplossing sal noodwending nie alle Suid-Afrikaners kan insluit nie, want dit is duidelik dat die meerderheid Suid-Afrikaners tevrede is met die probleem. Tewens, volgens hul stemgedrag is dit duidelik dat hulle die probleem verkies.

Richard ·

Die grootste werklikheid is dat ons in Afrika bly, en dit is wat baie Afrikaners nog moet laat wakker skrik. Die “glorie dae” van Apartheid is vir altyd verby, en sal nooit ooit terug kom nie. Die hunkering van die ou geslag Afrikaners is nog sterk met ons.

Theuns ·

Richard ek moet se dit klink of jy baie goeie tye gemis het? Die paradigma skuif van FW het vir ons die wonderlike land gegee . Jy moet maar lekker woon saam met jou Hoofman. Ek wonder wie ly aan paradigma verlaming? Sal jy tevrede wees as ons heeltemal uitgewis word deur, soos die Jode, na die Gas Kamers(Slagpale) sic.gelei word soos in die tweede wereld oorlog? Geen wonder die Jode veg dapper teen n oormag Arabiere vandag nie! Net soos die Jode word die Afrikaner nie ‘n bestaansreg gegun nie!

Johann Marx ·

Daar was dus ‘n rede vir “apartheid”?? Dis nou vervang met “Afrika demokrasie”…..’n proses waar die minderheid kan deelneem aan hulle totale ondergang!!

Sputnik ·

Ek weet sowaar nie wat enigiemand kan bereik deur nie te gaan stem nie. Die res van die wêreld sal dit nie eers oplet nie, wat nog van iets daaraan doen! Wow! Dit slaan my dronk. Soos my skooldogter eenkeer vir iemand gesê het: “As jy nie gaan stem nie moet jy nie vorentoe kla nie”. Ek weet ons is ver in die minderheid, maar om jou stem te weerhou is ‘n stem vir die opposisie.

John ·

Sputnik, jy’t die regte naam gekies: As jy weer verby kom lyk alles steeds dieselfde, of jy stem of nie. Dit kan seker lekker wees om die mense in die lang tou te beskou en ou vriende raak te sien, maar dit is dit. Daar is min redes waarom ek sou stem en baie waarom ek nie vir die beskikbare partye sal kan stem nie.

Chris ·

John, dit hang ook af waar jy bly. Ek dink tog jy sal saamstem dat dit die moeite werd is om die ANC uit te hou uit die (plaaslike) regering in die Wes-Kaap?

Sputnik ·

John lees my laaste sin en dink…………Dink baie diep! Dalk kom daar ‘n liggie aan.

Gemsbok ·

Suid-Afrika is inderdaad besig om na die beeld van die tuislande en ander Sub-Sahara rampokkerstate omvorm te word.

Dit is ook goeie raad vir Afrikaners om te mobiliseer en mekaar by te staan in so ‘n rampokkerstaat want daar lê krag in getalle. Burgerlike instellings is uitstekende skanse, maar op hul eie bly hul kwesbaar teenoor die Rampokkerstaat se wetgewende gesag. Nadat elke appél aangeteken is en die Grondwethof bevind steeds teen Renata Barnard, dan weet jy dat die magte van Burgerlike instellings in ‘n rampokkerstaat beperk is.

Die antwoord is in selfstandigheid op ‘n gebiedsgrondslag. Tim du Plessis skryf vandag dat Afrikaners nie ‘n volk is nie wat volke beheer hul grond. Hy is reg. Maar die Afrikaner se probleem hoef net tydelik te wees. Niks keer ons om Orania uit te bou tot ‘n Afrikanerstad wat outonoom oor sy eie sake besleg nie. Waneer ons op ons eie grond ons eie wette maak, is ons vry van die Suid-Afrikaanse parlement.

Marius ·

Dit irriteer my grensloos dat mense FW vir die Afrikaner se probleme blameer. Dis ons voorouers wat die binneland ingetrek het en swart mense saamgevat het om as touleiers en werkers saam te gaan. Hulle het duisende swart arbeiders op plase aangehou. Die 20 000 swart mense wat in konsentrasiekampe dood is het vir Afrikanerboere gewerk. Toe gaan hulle verder en gebruik duisende in myne in Transvaal. Dit was goedkoop arbeid. Hulle het swart mense oor die algemeen goed behandel, maar nooit aan hulle gedink as mense wat self sal wil stemreg hê nie. Verregse boere gebruik nog steeds swart arbeiders. Blankes wou die baas wees op hul eie terme. Ek glo nie daar was een Boer wat 140-150 jaar terug gesê het dat die boererepublieke uitsluitlik vir boere moes wees nie. Swart mense moes help met die arbeid. Miskien sou dit anders gewees het as hulle gesê het hulle sal self regkom sonder goedkoop arbeiders wat eintlik soos besittings hanteer is, en regtig soos volwaardige soewereine state opgetree het, waar geen mens wat nie burgers van die land was onwettig toegelaat sou word nie. Wat anders kon FW doen as om ‘n wêreldklas grondwet te beding en te hoop vir die beste?

Marius ·

“We hold these truths to be self-evident, that all men are created equal, that they are endowed by their Creator with certain unalienable Rights, that among these are Life, Liberty and the pursuit of Happiness.” Hierdie aanhaling kom uit die Declaration of Independance wat in 1776 deur die stigters van die VSA o.a. George Washington opgestel is. Byna ‘n 100 jaar later in 1865 word slawerny eers daar afgeskaf. Hulle was baie gelowige mense net soos Afrikaners, maar hulle het niks met slawerny verkeerd gesien nie, en hulle het vir byna 90 jaar na die opstel van hul kosbaarste dokument steeds met slawerny voortgegaan. In ‘n sekere mate het Afrikaners dieselfde gedoen. Net soos wat Nieu Zeeland en Australië deur blanke setlaars weggeneem is deur Maories en Aboriginies kon die Afrikaner seer sekerlik dieselfde gedoen het. Hy het egter nie suiwer boererepublieke gehad nie, want daar was duisende mense van ander bevolkingsgroepe wat juis toegelaat is om te bly vir arbeid, want hy het net soos die Amerikaners nie gesien dat swart mense wat in hul duisende vir hul gewerk het nie ook sou vra vir dieselfde regte as hulle nie. Afrikaners se fout was dat swart mense instrumente van gerief was. Die wêreld sou nie vandag gekla het as die boererepublieke reeds 140 jaar terug 100% net boererepublieke geword het nie. Niemand sê vir Australië en Nieu Zeeland om die grond aan die eerste inwoners terug te gee nie. Afrikaners was hul eie grootste vyand.

John ·

Marius, jy het nou die nuwe geskiedenis-handboek beet. Die duisende swartes wat so saam met die trekkers noord getrek het, het hulle uit die Kaapkolonie saam getrek? Is die gebeure in Natal sommer ‘n spul leuens? Waar was die duisende swartes op plase gehuisves en waar? Duisende het in konsentrasie-kampe gesterf, waar? Die Engelse het die komsentrasie-kampe beheer. Hoekom sou die Britte die duisende arme swartes in kampe sit, want volgens hulle behoort die land aan die swartman? Daar was, kyk na statistiek van die verlede, aanvanklik vir jare, minder swartes as wittes saamgetrek rondom die klein dorpies wat gestig is deur die trekkerboere. Hulle het kos gesoek en werk in ruii gedoen. Het die Boere die heeltyd net gejok oor die aanvalle en moorde op die Trekkers? Die swartmense was hulle dus so goedgesind dat hulle Jan van Riebeeck ea toegelaat het om die skepies in die Kaapse hawe te anker en hulle in Mount Nelson ontvang en in die elite kamers laat tuisgaan, verniet. Ja, Kaapstad se naam was eers Harry’s City maar uit vriendelikheid, om die Europeers meer tuis te laat voel, het die duisende swartmense die pragtige stad tot op die grond afgebrand en die Westerlinge toegelaat om hul gang te gaan, ook soos nou. Die Engelse woord vir geskiedenis, is so mooi Marius, dis his-story.

Leon ·

“Ek hoor ‘n magtige dreuning” ……….. eendrag maak mag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.