Parys-aanvalle 2015 daag Europa uit

Een van die tonele tydens die aanvalle op Parys. Foto: AP/Thibault Camus

Een van die tonele tydens die aanvalle op Parys. Foto: AP/Thibault Camus

Albert Camus, die skrywer uit sondeurdrenkte Frans-Algerië, skryf oor die pes wat sluimer onder alle mense. Tot dit een dag weer sy rotte wakker maak en uitstuur om in die gelukkige stad te sterf.

Op 13 November 2015 was die aanval in Parys op gewone Westerlinge. So noem ’n Franse vrou in ’n buurt met oorwegend Moslems en Afrikane dit, tussen koffie en sigaret deur, aan Le Figaro. Mense wat hul klein woonstelle of huise op ’n Vrydagaand verlaat om iewers in die stad se oop ruimtes te ontspan, is koelbloedig doodgeskiet.

Hierdie keer hoor die Franse nie net van dooie joernaliste nie, maar van jong mans wat hul meisies se lyke vashou en huil. Hulle lees van jong vroue wat kruip in vreemdelinge se bloed terwyl hulle hul geliefdes begin groet.

Op videofilmpies hoor hulle die paniekkrete van mense wat probeer vlug voor die laksmanne, medeburgers met AK47’s in beige en swart. Of hulle sien hoe mense in Europa se romantiek- hoofstad hul geliefdes as gewondes wegsleep. Of hul gesigte toedek onder ’n vuil kombers.

Die aanval op Charlie Hebdo in Parys op 11 Januarie 2015 is ervaar as ’n aanslag op vrye meningsuiting. Simbolies het die Franse stilgestaan by die stowwerige graf van Voltaire onder in die Pantheon.

Emosioneel staan elke Franse burger egter nou by sy eie graf. Hetsy in ou stede, hetsy in die dorpies in landskappe wat baie lyk soos in die Wes-Kaap of Oos-Vrystaat.

Afskeid van illusies

Franse leiers en burgers moet eintlik kan treur, kan ly en medelye betoon. Hulle word nou gedwing om ook sake te ontleed en ’n gepaste antwoord op hierdie wandaad te gee. Die politici is onder meer druk as ooit van die bevolking. Vrees en oorlewing skryf sy eie wette.

Die veiligheidsmagte self is goed en gehard, al was hulle tot onlangs nog te min gefinansier. Hulle gaan nou ’n nog vuiler en langer oorlogstydperk in. ’n Mens hoop hulle kan martelingspraktyke, askari-jihadi’s en Eugene de Kocks vermy.

Die Franse sosioloog Jean-Pierre le Goff se reaksie is: “Wat ons sedert die aanvalle van New York beleef, bevestig die einde van ’n historiese siklus deurdring met illusies. Noudat ons op ons eie grond en gebied vernietigende oorloë moet beleef, begin vir die demokratiese samelewings ’n nuwe era in hul geskiedenis, voorheen deurdring van verbruik en vrye tyd. Ons moet afskeid neem van ons illusies, wat ons ontwapen het.”

Sukkelende groepspolitiek

Die hoofkwessie is egter nie net deur wapenmag te hanteer nie. Die geopolitiek sal ’n veilige orde vir Soenni-Arabiere in Irak en Sirië moet skep. En die sukkelende groepspolitiek in Europa verg dalk nuwe politieke ordes.

Die meerderheid Moslems is duidelik nie gewelddadig nie. Dit bly wel ’n vraag wie se simboliese gesag hulle uiteindelik sal aanvaar. Hoe kan hulle tuis en beskermd voel in Frankryk? In media-onderhoude met Moslems in Parys noem baie dat hulle nie simpatie het met die aanvallers nie, maar hul gedrag verstaan.

Pynlike leerkurwes

Of en hoe dit moontlik is om vreedsame naasbestaan te skep, bly ’n ope vraag. Suid-Afrikaners wat al 300 jaar met baie diverse groepe in een politieke orde probeer saamleef, ken die verskillende antwoorde hierop. Min Europese burgers of politici besef op watter moeilike pad en pynlike leerkurwe hulle nou is.

Natuurlik is die Franse in hul eie gebied tans ’n demografiese meerderheid en sterk ingegrawe. Weens die politici se beleidsrekord tot dusver, sal die honderdduisende nuwe vreemde migrante egter baie burgers bekommerd hou.

Die Nederlandse politikoloog Paul Aarts wonder: Sal die Islamitiese Staat eendag ook erken word en sy ambassades in Europa oprig? “Die groot verplasing”, die impak van die inheemse Franse se krimpende getalle, hou intussen Franse denkers besig. Gaan die inheemse Franse ook eendag ’n ambassade in Parys benodig?

Die wyd gerespekteerde Duitse oudbondskanselier Helmut Schmidt, wat drie dae voor die aanslae oorlede is, se opmerkings sirkuleer weer vandeesweek in Duitse media: “Vir ’n multikulturele samelewing om te kan werk, neem outokrasie byna altyd toe.” En: “Wie visioene het, moet ’n dokter gaan spreek.”

Le Goff en ander Franse bevestig: Die 1968-rewolusie se idees lê vermink in die noodafdeling in Parys. Europa betree ’n nuwe kronkelpad.

Wat moet ’n mens doen?

Daar sal baie politieke en veral veiligheidsaksies volg ná hierdie aanslag. Maar baie mense weet nie wat om te doen nie. Die skrywer en vlieënier Antoine de Saint-Exupéry noem in Citadelle: “Ons soldate het week geword omdat binne hulle die ryk doodgegaan het waaruit hulle voorheen gevoed is.”

Dit is vroeg in die 21ste eeu weer die belangrikste vraag aan die Franse mans en vroue van die veiligheidsmagte. Maar ook aan elke Westerling wat omgee oor die toekoms.

Hierdie vraag word ook gestel aan Afrikaners, wie se verre verwante met Hugenote-vanne nog in Frankryk leef. Afrikaners, wat nou ook gekonfronteer word met kulturele laksmanne uit eie kring, van Noordwes tot Stellenbosch: Wat is daardie ryk van Saint-Exupéry, wat is die geestelike bronne, die klein en groot liefdes, die kulturele orde waaruit ons lewe?

Wie dit aanvoel of verstaan, sal aanhou werk en skep en veg en lewe.

  • Dr. Heinrich Matthee is ’n politieke ontleder en akademikus.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Heinrich Matthee

Meer oor die skrywer: Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee is ʼn politieke en veiligheidsontleder wat spesialiseer in Midde-Oosterse en Moslem-politiek wêreldwyd. Dr. Matthee het meer as 14 jaar se ervaring in adviesdienste aan regerings, multinasionale maatskappye en nie-regeringsorganisasies. Hy skryf uit Nederland.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Wicus ·

Sjoe, dankie vir die artikel en die nugtere denke, dit sit mens aan die dink!

Ek dink nie ons besef mooi wat besig is om te gebeur nie, oor paar jaar gaan ons verstom terugkyk. Jare terug het ons gewonder hoe om die ‘Muur’ te laat val, en toe gebeur dit sommer so vinnig, wie weet wat nog kan val……

Leendert van Oostrum ·

Ek wens ons het meer kommentators van hierdie kaliber gehad.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.