Parys-klimaat bied lesse oor Afrikaans

isabel-bowdery-parys2

Argieffoto.

Wat het die Islamitiese terreuraanslae in Parys met die verdrywing van Afrikaans uit die universiteite in Stellenbosch, Potchefstroom en Bloemfontein te make?

Nee, daar is geen regstreekse verband nie. Maar uit die klimaat waaruit die Paryse aanslae voortgespruit het, is daar wel ’n les oor die posisie van Afrikaans en Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika te leer.

Laat my begin deur onmiddellik te verklaar dat daar géén regverdiging hoegenaamd is vir die genadelose slagting in Parys en ander terreuraanslae nie. Dat die terroriste hul eie perverse motiewe as edel beskou, kan nie as verskoning dien nie.

Maar ’n mens kan nie hier ophou nie. Daar moet vasgestel word wat die terroriste aanspoor, en die antwoord moet alle nodige nuanses bevat.

Natuurlik was die ekstremistiese propaganda wat onvervalste haat teenoor die “Christen-honde” predik deels verantwoordelik. Dit is die een kant van die munt.

Maar daar is ook ’n ander kant – die klimaat teenoor mense van buitelandse afkoms in Frankryk. Hier moet sekere feite genoem word.

Die belangrikste is dat die Franse besonder trots – dalk sou arrogant ’n beter woord wees – op hul taal en kultuur is. Hulle beskou dit as die toppunt van beskawing, en die res – of dit nou uit Amerika, Brittanje, Afrika of waarvandaan dan ook al kom – is inherent minderwaardig.

Dit het sekere voordele maar ook besliste nadele vir maatskaplike stabiliteit in die land.

Aan die een kant het die Franse op sigself nie probleme om mense uit ander wêrelddele – swartes uit Sentraal-Afrika, Arabiere uit Noord-Afrika, en so meer – te integreer nie. In dié sin is hul benadering inklusief.

Maar terselfdertyd moet daardie mense hul hele menswees waarmee hulle grootgeword het, hul taal, kultuur, alles, afsweer en volledig Frans word. Doen jy dit, het jy geen probleem nie. Wil jy jou eie kulturele identiteit behou, word daar uit die hoogte op jou neergekyk.

In die proses het die Franse onder die illusie verkeer dat hulle die “immigranteprobleem” opgelos het. Hulle verwelkom immers enige mens onder die son, ongeag velkleur of afkoms.

Maar dit was skyn. In die praktyk het twee probleme opgedoem wat die Franse elite nie wou raaksien nie.

Die eerste is dat die onderlaag van die immigrante in die sogenaamde banlieues in die buitewyke van die groot stede – soortgelyk aan die Suid-Afrikaanse townships – saamdrom. Dit is ekonomies agtergestelde gebiede waar armoede en werkloosheid hoog is, waar bendegeweld, misdaad en dwelmmisbruik hoogty vier.

In dié klimaat van uitsigloosheid het die Moslem-ekstremiste ’n braak veld gesien. Met hul simplistiese boodskap kon hulle jong mense werf wat sin in hul lewe soek – sin wat hulle by ’n perverse vertolking van die Islam vind.

Maar as jy die identiteit van die terroriste agter die laaste aanslag in Parys en dié van laas Februarie op die satiriese tydskrif Charlie Hebdo bekyk, sien jy dat sommige glad nie uit die banlieues kom nie. Sommige kom uit relatief welvarende agtergronde, van ouers wat goed in die Franse kultuur geïntegreer is.

Dis jong mense wat, reg of verkeerd, agterkom dat baie Franse in hul hart steeds op hulle neerkyk. Baie soos sommige Engelse wat ook steeds diep in hul hart op die verengelste Afrikaners en swartes neerkyk.

Dan gaan hulle oor tot die ander uiterste, verwerp die Franse identiteit en kultuur op ’n ekstreme wyse en omhels die aggressiewe, onverdraagsame vertolking van die Islam. Dís hoekom sommige van hulle terroriste word.

Ironies genoeg, het Frantz Fanon, die Franstalige swart sielkundige uit die Karibiese gebied wat tans as ’n soort ghoeroe onder swart Suid-Afrikaanse studente geld, dié haat-liefde-verhouding van die gekoloniseerde teenoor die koloniseerder goed beskryf.

Hy het daarop gewys dat die gekoloniseerde ’n minderwaardigheidsgevoel teenoor die taal, kultuur en identiteit van die koloniseerder het en dit dus êrens instinktief as meerderwaardig beskou. Terselfdertyd haat hy dit, want dit druk sy neus op sy eie subjektiewe gevoel van minderwaardigheid.

In sulke omstandighede het Fanon geweld as deel van die bevryding verheerlik. En dis presies wat in Frankryk gebeur.

Wel, in Suid-Afrika moet ons Afrikaners dit baie goed verstaan. In ligter mate ly ons self daaraan – ons beskou Engels êrens diep binne-in ons as meerderwaardig. Lees maar die geskrifte van mense soos prof. Anton van Niekerk en Max du Preez, dan weet jy waarvan ek praat.

Dis ook deels teen dié agtergrond dat die ANC en EFF se aanbidding van Engels – ironies genoeg, die imperialistiese verdrukkerstaal by uitstek – verklaar moet word. (Die ander aspek is pure, onvervalste Boerehaat, maar dis ’n verhaal vir ’n ander keer.)

Ewenwel, wat kan ons van die Franse foute leer?

Die Franse se fout is om ’n beduidende minderheid se kulturele erfgoed met minagting te verwerp. Dit lei tot ’n gevoel van vervreemding by die minderheid, tot ’n gevolgtrekking dat as die hoofstroom húlle verwerp, hulle ook die hoofstroom verwerp.

Nou moet ’n mens natuurlik nie die twee situasies – in Frankryk en Suid-Afrika – te veel gelykstel nie. Daar is beduidende verskille.

In die apartheidstyd het die swartes en bruines byvoorbeeld ervaar dat hul menswees geminag is. Wat uit die Stellenbosse video Luister spreek, is juis die gevoel dat die Afrikaners steeds die menswees van diegene in die video negeer en ontken. Natuurlik is die gevoel op die keper beskou oordrewe, maar dis nie die punt nie.

Net so begin die Afrikaners – en ’n beduidende deel van die bruin Afrikaanssprekendes – in Suid-Afrika self vervreem voel. Toenemend ervaar hulle dat die ANC en die swart elite hul taal, kultuur en identiteit, hul menswees, met minagting verwerp en dit wil plattrap.

Die ANC probeer dieselfde kulturele keurslyf aan Afrikaanssprekendes opdring as die Franse aan die immigrante. Vandaar die duidelik georkestreerde offensief wat tans tegelykertyd op die kampusse van Stellenbosch, Potchefstroom en Bloemfontein teen Afrikaans as onderrig- en kommunikasietaal gedryf word.

Die antwoord is, altans in teorie, eenvoudig. Gee Afrikaans en Afrikaanssprekendes eenvoudig die reg om hulself te wees.

Laat my dit duidelik stel: Die reg om jouself te wees, sluit nie ’n reg in om teen ander te diskrimineer of hulle uit te sluit nie. Dis ’n positiewe reg, geen negatiewe reg nie.

Dis trouens ’n reg wat die Grondwet aan jou verleen. Dieselfde Grondwet waarvan die ANC in die jare 90 eienaarskap geneem het.

Nee. Ons moet kalm, beredeneerd en geweldloos, maar ferm en onomwonde teen die aanslag veg. En moenie dat Slim Wim jou iets anders wysmaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Charles Venter ·

Baie oulike artikel.

Aan die persone wat Afrikaans liefhet; bly kalm en moenie bekommer nie.

Die Grondwet van die Republiek van Suid Afrika, 1996, beskerm Afrikaans as JOU taal en sal altyd so doen.

Wees trots op jou Afrikaanswees, en beskerm, koester en lewe dit uit. Dit is jou grondwetlike reg.

Al die gebeurtenisse rondom Afrikaans is SINLOOS en het geen werklike konkrete effek nie, en is ‘n blote vergestalting van pure rassehaat omrede die regte wat Afrikaans en sy sprekers geniet NIE weggeneem kan word nie.

Ek hoop my boodskap sus gemoedere.

Charles Venter.

Reinhardt ·

Ek glo ons grondwet sal Afrikaans beskerm, maar ek is bekommerd dat Afrikaanssprekendes dit nie gaan doen nie.

Henry ·

Charles en Reinhardt

Ten spyte van die feit dat my familie en pelle ons Afrikanerskap koester, sus julle ‘boodskap’ ongelukkig nie ons gemoedere nie.

Waarom?

Dat die Grondwet nie onbuigbaar is nie, is ongelukkig ‘n feit.

Dat die huidige regime en eendersdenkendes digby 50 miljoen siele is, teenoor ongeveer 6 miljoen Afrikaanssprekendes wat hoogstens 2 miljoen Afrikaners insluit, is ongelukkig ook ‘n feit.

Dat die vyande van Afrikaans iewers in die (nabye?) toekoms ‘n 2/3 meerderheid mbv politieke alliansies gaan bewerkstellig om die Grondwet na willekeur te wysig, is eweneens ‘n ongelukkige feit.

Dat getalle uiteindelik die laaste sê het en dat wigte en teenwigte soortgelyk aan perde kuttels is wat hulself as vye aanbied, is ongelukkig ook ‘n feit.

Chris Lombard ·

Sekerlik die beste ontleding wat ek nog gelees het oor die huidige verwikkelinge, dankie Leopold.

Gideon Jones ·

Uitstekende artikel deur ‘n gerespekteerde skrywer. Kommentaar oor die grondwet waarborg – dit laat my dink aan McMillan met die stuk papier in sy hand, Hitler se waarborg vir vrede, kort daarna val hy Pole binne.

Leendert van Oostrum ·

Interessante insig: MacMillan se “Peace in our time” in die dertigerjare vergeleke by die optimisme van Naspes se juigendes in die negentigs (en nog steeds).

BAIE goeie vergelyking

Francois P Theron ·

As die ANC en Vennote regtig wil kan hulle die Grondwet eensydig verander en dalk is dit nie in die vêrre toekoms nie.

Het blankes en meer spesifiek die Afrikaner nog ‘n bestaansreg in Suid Afrika vandag, dit voel tans nie so nie?

Die tragiese is dat daar geen ware leier vir al Suid Afrika se mense in ons geliefde maar geknelde land is nie. Die euforie van ‘n Reënboog Nasie is begrawe saam met die afsterwe van Madiba.

Apartheid se nalatenskap en erfenis is nog rou en die blatante haat wat daar onder die (nuwe)swartbewussynsbwegings (EFF en andere) begin opbou, belowe niks goeds vir hierdie land nie…………………

SA’s POPULATION: CENSUS 2011
Population group Number % of total
African 41 000 938 79.2%
White 4 586 838 8.9%
Coloured 4 615 401 8.9%
Indian/Asian 1 286 930 2.5%
Other 280 454 0.5%
TOTAL 51 770 560 100%

Source: Statistics South Africa
There have been three official censuses since South Africa’s first democratic election in 1994, the first in 1996, the second in 2001, and the third conducted in October 2011. The population in 1996 was 40.6-million, increasing by 10.4% to 44.8-million in 2001. The population grew by 15.5%, or almost 7-million people, in the space of 10 years to reach a total of 51.7-million in 2011.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.