Pas kunstefeeste sensuur toe deur nie vir Steve te nooi nie?

Steve Hofmeyr. Foto: Burger Meyer/Maroela Media

Steve Hofmeyr. Foto: Burger Meyer/Maroela Media

Pas kunstefeeste sensuur toe deur Steve Hofmeyr vanjaar nie te nooi om daar te kom optree nie, of het hulle eintlik nie ʼn keuse nie, vra Retha Green*.

Sensuur in Suid-Afrika is ʼn lelike ding met ’n lelike geskiedenis. Dit bring beelde terug van toe die regering nog besluit het wat jy mag sê en wat jy mag luister. ʼn Mens dink aan dik kepe gekerf in langspeelplate om te keer dat radiostasies dalk per ongeluk ʼn snit speel wat kan aanstoot gee, of toe regeringsamptenare sonder verdoeseling vir koerante voorgeskryf het waaroor hulle mag skryf en waaroor nie.

Baie dinge het verander sedert die dae toe die sensuur-skêr in die owerhede se regterhand was. In die wetboeke het Suid-Afrika nou van die mees liberale wette in die wêreld wanneer dit kom by vryheid van spraak. Die Grondwet waarborg die vryheid van uitdrukking, met spesifieke verwysing na “kunstige kreatiwiteit”.

Maar hierdie reg, bepaal die Grondwet, sluit nie haatspraak in wat gegrond is op ras, etnisiteit, geslag of godsdiens en aanstigting tot geweld nie.

Steve Hofmeyr se groot val van reuse-trekpleister tot banneling by die kunstefeeste het in ʼn groot mate begin toe hy verlede jaar “Die Stem” op die verhoog van die Innibos-kunstefees in Nelspruit gesing het.

Dit sal seker moeilik in ʼn hof betoog kan word dat Hofmeyr hom skuldig gemaak het aan haatspraak deur “Die Stem” te sing, want die lied – ’n toonsetting van CJ Langenhoven se gedig – bevat nie enige elemente wat rassisties is of mense tot geweld kan oorhaal nie.

Dit verskil in daardie opsig van die situasie toe Julius Malema in 2011, toe nog leier van die ANC se Jeugliga, in die hooggeregshof skuldig bevind is aan haatspraak vir uiting van die woorde “skiet die boer”.

Woorde is gevaarlike wapens, het regter Collin Lamont destyds in sy uitspraak in dié saak gesê, omdat woorde tot volksmoord kan lei. Lamont het dit egter nie net tot semantiek beperk nie, maar ook die effek wat die woorde op ʼn groep of gemeenskap kan hê in ag geneem in sy bepaling of Malema skuldig was of nie.

Dit is juis hierdie effek wat in gedagte gehou moet word wanneer dit kom by die besluit om Hofmeyr ʼn mikrofoon te gee of nie.

Toe Hofmeyr verlede jaar “Die Stem” op Innibos-kunstefees gesing het, het die lied vir seker ʼn baie indrukwekkende effek gehad. Die gehoor, sowat 45 000 mense sterk, het uit volle bors saamgesing. Na die tyd was daar ʼn gejuig en gefluit. Hofmeyr het duidelik ʼn aar raakgeboor.

Hofmeyr het toe gesê hy sal “Die Stem” meer en meer sing en mense aangemoedig om dit ook te sing omdat dit wettig was en nie haatspraak bevat nie.

Homeyr het met sy suksesvolle Toeka-albums, waarop hy ou Afrikaanse liedjies weer opgeneem het, lankal besef dat nostalgie in Suid-Afrika ’n goeie verkoper is. En vir seker is “Die Stem” by uitstek ’n voorbeeld van nostalgie. Het baie van ons nie immers nog op aandag in die skoolsaal gestaan het om dit net na die skoollied uit volle bors te sing nie?

Anders as met “Suikerbossie” raak “Die Stem” egter baie meer as net nostalgiese snare aan. Dit is lankal nie meer net Langenhoven se mooi woorde wat in 1921 deur ML de Villiers getoonset is nie, maar was inderdaad die amptelike Volkslied van Suid-Afrika van 1957 tot 1994.

Om dit los te maak van die apartheidsregering is daarom bykans onmoontlik en dit is hiervoor wat Hofmeyr ná Innibos deurgeloop het. Hy is onder meer in die media van naïwiteit beskuldig en die saak het selfs in die parlement gaan draai toe die EFF betoog het dat die oorblywende stukkie van “Die Stem”, soos vervat in die huidige volkslied, geskrap moet word.

’n Mens kan nie Hofmeyr se sing van “Die Stem” in isolasie sien nie. Hy is nie meer net ʼn “Pampoen”-sanger met ʼn liefde vir nostalgie nie, maar het inderdaad in die afgelope paar jaar sy lyf al meer aktivisties begin hou.

Sy uitsprake op sosiale media het al telkemale reaksie uitgelok. ’n Paar maande na die “Die Stem”-petalje het hy op Twitter gesê dat swart mense die argitekte van apartheid is. Die gort was weer gaar.

Vir kunstefeeste is die hele tameletjie ekstra taai. Hofmeyr se optredes was inderdaad nog altyd baie gewild en na die aankondigings deur die KKNK en Innibos dat die sanger in 2015 nie daar sal kom optree nie, het sy aanhangers onder meer op Facebook met drukgroepe begin dat hulle die feeste gaan boikot. Dit lyk of hulle nie die enigstes gaan wees nie – in ʼn ironiese kinkel het die ANC in Mpumalanga ook aangedui dat hulle Innibos vanjaar wil boikot.

Deur Hofmeyr nie te nooi nie, is daar sekerlik nie sprake van sensuur soos die destydse skending van plate nie. Hulle nooi hom net nie. Hulle nooi baie kunstenaars nie.

‘n Mens kan weer Lamont se betoog in die Malema-uitspraak nader trek toe die regter ook verwys het na die plek waar ʼn lied gesing word. Malema se “Shoot the boer” het sy wortels as ʼn krygslied wat tipies deur soldate gesing sou word na ‘n veldslag. Dit het, in hierdie scenario, ʼn ander karakter as wanneer dit by ‘n politieke saamtrek gesing word.

Afrikaans behoort nie net tot ʼn groep mense wat nostalgies oor “Die Stem” is nie. Vir baie Afrikaanssprekendes is “Die Stem” inderdaad ’n simbool van jare se onderdrukking en kan die effek daarvan op hulle heel anders wees.

Wat kunstefeeste glad nie kan bekostig nie, is om gesien te word as ʼn bymekaarkomplek vir mense wat ʼn spesifieke politieke ideologie aanhang. ’n Groot skare wat luidkeels die volkslied van die apartheidsbestel uitbasuin met ʼn onderstroming van verlange na “goeie ou dae” is op sy beste ʼn bemarkingsnagmerrie.

Kunstefeeste is afhanklik van die ondersteuning van die gemeenskap waarbinne hulle gehou word en hierdie ondersteuning sluit meer as net finansiële hulp en infrastruktuur in. Dit vereis goeie verhoudinge, want lank nadat elke feesganger en kunstenaar huis toe is, moet daar ʼn gemoedelikheid met plaaslike en nasionale leiers en bestuurders wees om weer oor die volgende jaar se fees te begin onderhandel.

Dat dit ʼn simbiotiese verhouding is, is ook waar, want die groot kunstefeeste vul jaarliks die geldkoffers van die ganse omgewing waar hulle gehou word.

Op die ou einde moet kunstefeeste ʼn ruimte bied waar verskillende kunsvorme kan gedy. Onderliggend hieraan lê ʼn verdraagsaamheid vir mense wat anders mag dink as jyself. En dit is hierdie gees wat kunstefeeste behoort te koester en bevorder.

* Retha Green, nie haar regte naam nie, is ‘n vryskut-skrywer en samesteller van ʼn musiek-radioprogram.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

thea bothma ·

As Steve nie welkom is by kunstefeeste nie dan is ek ook nie welkom nie, so ook nie my geld nie

Joan ·

Wat het aanleiding gegee tot die totstandkoming van die feeste? Was dit nie hoofsaaklik bedoel en ondersteun deur die Afrikaanssprekende van hierdie land wat nie meer voldoende platforms gehad het om hul kuns te be-oefen nie. En toe skielik wil ALMAL hierdie platform gebruik en dring daarop aan om deel te wees hiervan want sien, die ondersteuning van feeste is groot vir die kultuur honger Afrikaanssprekende hoofsaaklik. Ek wonder maar net….

riana ·

Ek stem saam as Steve nie welkom is op die kunste feeste nie , sal ek ook nie gaan nie , dan is my geld mos nie welkom nie.

Steve ek is trots op jou

Bruno Stef ·

Hoe n mens ookal die hele aangeleentheid probeer bewoord die kunste feeste gaan dit aan hulle sakke voel.Steve is n groot trekpleister by enige fees en boonop die mees talent volle kunstenaar in dekades.Sal dit maar nie beter wees as die aanbieders met Steve n ooreenkoms aangaan van die moets en moenies op so n geleentheid uitspel. Die groot probleem is die voorbarige en dreigende houding van die ANC kader wat die fees wil laat boikot hy moet net weet dat n Afrikaner wat sy sout werd is hom nie laat dreig nie daarom sal ons bly vasskop en hom en sy party die middelvinger wys. Hulle en hul leier het die land al genoeg skade aangedoen ons weier om ons eie mense in die rug te steek.

Ben ·

Vir baie mense is die nuwe landsvlag en Nkosi huidiglik simbole van rassistiese BEE wetgewing, korrupsie, onderdrukkig en misdaad.
Daar kan dan sekerlik ook verwag word dat hierdie simbole as on van pas by sekere volksfeeste beskou word

Riaan Slabbert ·

Absoluut Ben, maar geen “Retha Green” het iets DAARoor te se nie…

Asjas ·

Dit is ‘n goeie artikel, wel deurdag, nagevors en goed geskryf. Albei kante is ook goed vertverteenwoordig, hoekom onder ‘n skuilnaam skryf? Is dit dalk omdat maak nie saak wat ‘n wit persoon se nie nie, die oomblik as wit mense hul mond oopmaak vind iemand iets rasisties in dit?
Ek het mooi na die woorde van Die Stem gaan luister en kon NIKS rasisties in dit vind nie.

Jan ·

Hoekom skryf sy onder ‘n skuilnaam? Wat sy eintlik bedoel met die skrywe is dat Die Stem die verdrukkers/apartheid/rassiste se lied is, en dat ons maar moet gatkruip en onderdanig wees, want vryheid van spraak is ons nie beskore nie! Gee ons jou naam of is jy bang jy gaan luisteraars verloor !

Chris ·

Die Stem”, soos vervat in die huidige volkslied, geskrap moet word.”
Die probleem is dat ‘n volkslied die lied van ‘n volk is, nkosi sikelel’ iafrika is nie, vir verskye redes.Daar bestaan nie so ‘n ding soos ‘n Suid-afrikavolk nie en verder is dit ook die landslied van Tanzanie ,is hulle ook nou deel van die sogenaamde volk?

“Deur Hofmeyr nie te nooi nie, is daar sekerlik nie sprake van sensuur soos die destydse skending van plate nie. Hulle nooi hom net nie. Hulle nooi baie kunstenaars nie.”
Nee wat dit is darem bietjie dik vir ‘n daalder.Dink jy werklik dat ons nie kan insien waarom die ander kunstenaars nie genooi word(dalk nie goed genoeg nie) nie en Steve (sensuur).As dit nie gaan oor die stem en van sy uitsprake nie, waarom nou skielik hom wegwys na die voorvalle?

“Op die ou einde moet kunstefeeste ʼn ruimte bied waar verskillende kunsvorme kan gedy. Onderliggend hieraan lê ʼn verdraagsaamheid vir mense wat anders mag dink as jyself.”
All die mense wat saamgesing het,het dalk ‘n gemene deler .Is hierdie mense ook nie welkom nie aangesien hulle nie “verdraagsaam”was nie,al 45000 van hulle?Die fees probeer nou die mense teruglok deur suiker om hulle mond te smee met allerhande politiek- korekte uitlatings.

“Anders as met “Suikerbossie” raak “Die Stem” egter baie meer as net nostalgiese snare aan. Dit is lankal nie meer net Langenhoven se mooi woorde wat in 1921 deur ML de Villiers getoonset is nie, maar was inderdaad die amptelike Volkslied van Suid-Afrika van 1957 tot 1994.”
Moet ons nou volgens die redenasie dan nie alles van die ou RSA voor 1994 verander of tot niet maak nie? Pretoria,Bloemfontein, Afrikaans ,Engels(amtelike tale inderdaad) eintlik al die pilare waarop die NSA gebou is.

Sonna ·

Steve, Malema, Eskom, Zuma en die 246 thousand million rand, het oud en afgesaag geword! Jy gooi vir Steve uit die konserte uit omdat hy een ou liedjie sing wat ons nie meer MAG sing nie, ek het met daardie lied grootgeword, dis my wortels! Mag ek nie my heritage herdenk en saam sing nie? Malema het groot geword met sy skiet die boer, dis sy heritage!Hulle kom in massas en massas bymekaar op rugby velde en doen hul Zoeloe danse en slag beeste om hul voorvaders te herdenk, en ons arme wit Afrikaners word deur ons eie wit Afrikaners uitgegooi as rassiste! Weet jou kind wie Paul Kruger was? Ken hulle die ontstaan van die Transvaal en die myners en waar Pelgrimsrus vandaan kom? Waarvoor staan die Kasteel in die Stad? Ek is nie rassisties omdat ek die Stem sing nie, dis my geboorte reg! Ek woon in my Land en ek respekteer alles wat nuut is, maar hoekom is alles wat ek geken het net weggeneem en afgebreek? Dis ‘n kunste fees waar mense hul wil geniet en uitleef, nooi vir Steve en los die politiek!

JCS ·

Of die mense dit wil hoor of nie, maar in hierdie land, Suid-Afrika, kan ons nie vorentoe beweeg voor alle rasistiese wetgewing, AA en BEE ens. nie van die wetboeke verwyder is nie. ALMAL en ek bedoel almal sal moet ophou om die ras kaart te speel. Almal KIES self om te wees wat hy/sy wil wees of doen. As ons mekaar respekteer soos ons gerespekteer wil wees sal ons iewers kom. Op ‘n besigheidspunt: Enige fees wat nie vir Steve uitnooi nie, word bestuur deur ‘n klomp idiote. Dis om te sê: Ek verkoop selfone , maar nie i-phones nie. WTF!

Paplepel ·

Tyd vir Steve om sy eie fees te hou. Saam met ander reg-denkende sangers en kunstenaars kan dit ‘n fees met groot potensiaal wees. Hy moet net seker maak hy nooi NIE die klomp bruinneuse nie. Daar sal 45000 mense by daardie fees wees wat die Stem sal saamsing.

Christiaan Potgieter ·

“Retha Green” se hele argument sneuwel wanneer sy verdraagsaamheid (of openheid) net na een kant toe interpreteer. Uiteindelik is die probleem dat nie net Die Stem nie, maar ook my taal en kultuur, ja selfs my velkleur vir baie aanstoot gee.

Ben ·

Dit wil inderdaad lyk of dit wel ons velkleur is wat meeste aanstoot gee. (Van Riebeeck uitlatings). Moet ons nou ook maar verdwyn sodat ons nie mense aan aan die vreeslike apartheid moet herhinder nie..

HEVW ·

Retha Green, jammer dat jy nie die moed het om jouself te identifiseer nie. Jou skrywe bevestig dat jy genoegsame verstand met beperkte insig het, en dat jy met n bepaalde liberalistiese voorveronderstelling skryf. Daarom is dit te lig bevind. Jou skrywe verswyg gerieflikheidshalwe die anderkant van die Werklikheid. Watter % Afrikaner sing met hart en siel die huidige saamgeflansde “volkslied”? Die Blanke Afrikaner beleef dat hul hul eiendomlike, wat tot die hart van die volk hoort, ontneem is, en n vreemde is op hom afgedwing onder die voorwensel dat ons nou n reenboognasie is. Waaroor ons bitter skaam is om dit in die teenwoordigheid van die internasionale wereld te sing, want die wereld is tog bewus daarvan dat ons n gevalle nasie is. Ons verkeer in verleendheid want ons het n voorwerp van plundering deur die internasionale wereld geword, en ons word geassosieer met n regering van parlimentere barbarisme wat ons dag na dag in die skande dompel. Hoe kan ons hierdie sg. “volkslied” sing.

Hester Ginsberg ·

Feeste is een van die beste maniere waar vriende, familie tyd saam kan geniet. Daar leer mens weer nuwe vriende ken. Om vir enige sanger al was dit nie Steve nie voor te skryf omdat hy “Die Stem” sing is belaglik.

So as ons nuwe “Nkosi” landslied oor so 20 jaar gesing gaan word deur een of ander sanger, wonder ek of hy/sy dieselfde behandeling sal kry. Niks bly dieselfde nie, alles verander maar dit beteken nie ons moet ons nostalgie daarmee saam verloor nie.

Of ons nou daarvan hou of nie, “Die Stem” en Nkosi” gaan deel wees van ons kinders se erfenis.

Ek sal “Die Stem” met trots sing en speel in my kar so hard soos ek wil, maak dit my n rassis en hoekom word ek dan nie geboikot nie.

Steve het nie die feeste nodig nie, ons sal hom ondersteun. Geen fees sal my weer sien as hy nie daar mag optree as gevolg van nostalgie nie.

Sons ·

Ek mis die stem soos uit volle bors gesing op skool. En by sport waar jy uitslaan in hoendervleis!! Ook so toe steve liefling sing saam duisende by die rugby. Ek mis afrikaaner GEES…dis weg….Maar steve laat daardie gees weer vlamvat. Kanseleer maar innibos en kknk!!! Klem op K

Gideon ·

Ek het nou die dag vir my vrou gesê of sy besef ons SA trotse gevoel en dit wat saak maak is gesteel. Die nuwe vlag en Nkosi word deur bittermin mense geken, en ek bedoel alle mense woonagtig in SA. Ek voel niks as die vlag gehys word of Nkosi gesing word, weg is hoendervleis wat ek altyd gekry het.
Dit was nogal vreemd toe ek nou laasweek my Absa rekening sluit. As jong kind het my ma al vir my rekening oopgemaak by Volkskas. Pasop Absa gaan kyk wat het gebeur by African bank!

JoeV ·

Dis jammer dat die kunste nou mense se gevoel van hoort probeer knou. Die vrugte daarvan sal hulle nog self pluk. (Naspers en kie) Die feit dat daardie mense daardie dag so opgetree het toe Steve Die Stem gesing het, bewys dat die mense iets kort wat aan hulle behoort, wat hoop gee, wat doel gee aan die lewe.
Afrikaanse mense het nie nou iets of iemand om aan te behoort nie, alles wat Afrikaans is is taboe, rasisties, gesteel of deur Jan van Riebeech hier aangebring. Ou Steve moet in sy spore trap, hy word dalk een van die dae deur die mense verkies as iets!!!

Willem ·

Retha, antwoord die volgende:

Waarom 4 strofes van Nkosi, vier strofes van die stem in Afrikaans en vier strofes van die stem in Engels vir die nuwe “volkslied”?

Gaan dit oor die praktiese of gaan dit oor meer as dit, baie, baie meer?

Dalk omdat daar nie meer strofes vir Nkosi is nie?

Nkosi het net vier strofes en herhaal hom maar aanmekaar. (Kyk ook na die vertaling en betekenis.)

http://wikisource.org/wiki/Nkosi_sikelel%27_iAfrica

Die betekenis van die woorde spreek ook vanself.

Terwyl die stem vier verse met twaalf strofes elk het?

As jy dit nie raakgelees het nie, lees dit weer.

En dan sing jy saam in my taal.

http://en.wikipedia.org/wiki/Die_Stem_van_Suid-Afrika

Piet Snot ·

24 April: Crowne Plaza Hotel, Dubai.
Steve sing sy hart uit. Sien julle daar.

Thys ·

Is dit nie dalk Max wat onder skuilnaam skryf nie????. Hy mag hom mos nie verwoord onder sy eie naam nie.

Uys ·

Steve, ek het ni FB ni. Beging jou eie fees op n plaas buite n stad. Hoekom die Stem skrap deur die ANC se oë. Heel laaste vers “Want God regeer” Dis nie die beleid van die ANC nie, hy die ANC en SAKP sal regeer en die land vernietig.

Ampie ·

Maroelamedia stel my teleur. Julle is veronderstel om ‘n alternatiewe stem te wees tot die hoofstroom media. Hierdie artikel kon net sowel deur Mad Max du Preez en sy gabbas geskryf gewees het. Julle beledig die 45, 000 Afrikaners wat Die Stem in Nelspruit gesing het. Verklein hulle tot sg rassiste. Die kommentaar hierby wys dat julle ook die pot mis sit. Daars absoluut geen probleem om ons volkslied te sing nie. Oom Kosi sukkel in Afrika is die ANC se lied en verteenwoordig terrorisme, korrupsie en Boerehaat. Ontbind liewer Maroelamedia as julle die klakkelose snert van Sunday Times en Beeld wil herhaal.

Dina van Niekerk ·

Die Stem beklee die 7de plek in Leserskring se digbundel “Die gewildste Afrikaanse Gedigte”! Andrè P. Brink stel dit in sy voorwoord : “Dat ons nog soveel moois, soveel wat onvergeetlik is, met ons kan saamneem as troos en padkos …” Hy stel dit dat Duits vir Goethe het, die Franse hul Villon, die Spanjaarde vir Lorca en óns vir N.P. vW Louw en Eybers (èn verder in diè bundel talle ander Afrikaanse digters soos Krog, Jonker, Cussons …) Jou KINDERS moèt diè bundel in jou rak SIEN! Lees met vir hulle daaruit voor. Ook Die Stem …

Johannes ·

Retha,
Jy gaan so te kere as Afrikaanse mense Die Stem sing, wat geen haatspraak of aanhitsing tot geweld bevat nie. As jy integriteit het behoort jy ook te kere te gaan as Zuma in Zoeloe sing: “Bring my masjiengeweer ens.” Want dit irriteer en ontstel ons as Afrikaners/witmense ook baie. Of is jy bang om enige iets te se wat nie polities korrek is nie? Sies vir jou!

Marius Viviers ·

Soveel mors van tyd om Steve en die Stem aan te vat? Kon amper maar ‘n artikel geskryf het dat misdadigers eers 3 kanse moet kry voor hulle gestraf kan word. Ja en dit maak net so min sin, Steve en Die Stem bo!

Rex ·

Ek sien in ‘n kommentaar hierbo Hofmeyr se naam steve (sic), word met ‘n kleinletter geskryf. Wys seker hoe klein hy werklik in die musiekbedryf is en NEE, die feeste sal nie daaronder ly indien van sy “fans” dit boikot nie. Daar is genoeg musiek kunstenaars wat sonder ‘n vrot pampoen en ‘n verroeste DKW, vermaak van gehalte kan verskaf.

AP van Schalkwyk ·

Sit lyk my die meeste ouens sit die pot hier mis . Sal die eienaars ( organiseerders van die Innibos ) ons net in kennis.stel hoeveel geld hulle elke jaar met die fees maak . Word dit gebruik vir die bevordering van Afrikaans ? Of word hulle alreeds dik bankrekeninge net vetter?
Vertel ons ook asb of julle as organiseerders aan ELKE kunstenaar voorskryf hoe en wat hy gedurende sy optrede moet doen?

bert ·

Ampie. Maroela Media is vir my ‘n alternatiewe stem tot die hoofstroom media. Maar dit beteken tog nie dat ons mekaar moet warm broei soos die linkses by Media 24 nie.

Lina ·

Hoe tragies dat Retha verdraagsaam is teenoor kunswerke wat imoreel is, sangers wat al godslasterlike uitsprake gemaak het ens, maar dan aanstoot neem wanneer die stem gesing word.
Sy gooi darem wye draaie om dit aan apartheid te koppel. Terloops, die bestaan van verskillende volke met hul eie kultuur en taal is ‘n godgegewe werklikheid wat nie ontdaan gemaak kan word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.