Pasop vir die politiek korrekte woordeskat van ʼn nuwe geslag 

polities korrek

Argieffoto.

In die artikel “Universities on the brink” van RW Johnson wat op 27 September 2016 op Politicsweb verskyn het, kritiseer die skrywer die rektore van universiteite en sê dat daar reeds in 2015 vasgeskop moes word teen die inmenging by universiteite en dat universiteite in die proses hulle outonomiteit begin prysgee het. Om dit nou vanuit ʼn verswakte posisie te probeer inneem gaan baie meer verg. Die artikel kan gelees word op Politicsweb.

ʼn Paragraaf in die artikel wat egter vasgesteek het, is die oorsig oor die politieke omgewing wat sedert die 1980’s na links geskuif het. Johnson sê dan (vertaal uit Engels) “die gevolg was ʼn omgewing waar posisionele politiek byna alles geword het. Ten einde aan die ‘regte kant’ te bly binne ʼn snelveranderende universiteitsomgewing was die enigste veilige uitweg om bande met die linkse vleuels oop te hou, ongeag die balanseertoertjies wat nodig was.” Hy sê dat dit verder nodig geraak het om te probeer om die rol te speel van gespreksgenoot en tussenganger ten einde verandering te onderhandel, sonder beginselstandpunte. Om so ʼn rol te speel het ʼn politiek korrekte taal noodsaaklik geword – met woorde soos:

  • regstelling, (redress)
  • transformasie, (transformation)
  • inklusief, (inclusive)
  • nie-rassig, (non-racist)
  • dekolonialisasie, (decolonization,)
  • voorheen benadeeld, (previously disadvantaged)
  • witheid, (Whiteness)
  • vervreemding, (alienation)
  • uitsluiting, (exclusion)
  • navorsingsuitnemendheid, (research excellence)
  • ʼn leerkultuur, (a culture of learning)
  • die nalatenskap van apartheid, (the legacy of apartheid)
  • demografiese verteenwoordiging, (demographic representation)
  • diversiteit, (diversity)
  • innovasie in onderrig en leer, (innovation in teaching and learning)
  • bevraagtekening van historiese waardes en aannames, (interrogating historical values and assumptions)
  • strydveld, (terrain of struggle)
  • bevestiging van waardigheid, (affirmation of dignity)
  • bemagtigende omgewing, (enabling environment)
  • kapasiteitsbou, (capacity building)
  • versnelde transformasie, (accelerated transformation)
  • diensbillikheid, (employment equity)
  • opkomende geleerdes, (emerging scholars)
  • dringende transformasiedoelwitte, (transformation imperatives)
  • die globale suide, (the global south)
  • die ‘hoofstroom’ as werkwoord
  • mentorskap, (mentoring)
  • kritiese pedagogie, (critical pedagogy)
  • betrokkenheid van belanghebbendes, (stakeholder involvement)
  • marginalisering deur die dominante kultuur, (marginalization by the dominant culture)
  • om die ‘ander te wees’ (to be ‘othered’)
  • Eurosentries (Eurosentries)
  • Afrosentries, (Afrosentries)

en vele meer: ʼn hele nuwe taal van gonswoorde en woordomskrywings.”

Dit is nie net in die universiteitsomgewing waar die gonswoorde gebruik word nie. Dit is ongetwyfeld ook in die woordeskat van politici en menige politieke kommentators. Daar is nog heelwat woorde wat in die laaste ruk gehoor is wat hierby gevoeg kan word. Let op dat in bogenoemde sowel as ondergenoemde lys die Engelse woorde baie meer is in die woordeskat terwyl die Afrikaanse vertaling, soms vreemd, maar soms ook meer billik mag voorkom.

  • wit monopolie kapitaal (white monopoly capital)
  • kolonialisering (colonialisation)
  • Afrikaniseer (Africanise)
  • klassestryd (Class struggle)
  • eise (demands)
  • Britse imperialisme (British Imperialism)
  • narratief (Narrative)
  • bemagtiging (Empowerment)
  • regstellende aksie (Affirmative Action)
  • geïnstitusionaliseerde rassisme (Institutionalised racism)
  • nie-seksisties (non-sexist)

Die outeur se waarneming is dat “een van die eienaardighede is hoeveel van hierdie terme óf net in Suid-Afrika gehoor word of ʼn heel ander betekenis in Suid-Afrika het”.

Die groter eienaardigheid is hoe maklik die politiek korrekte terme deel geword het van die woordeskat van alledaagse Suid-Afrikaners. Baie van hierdie begrippe is politiek gelaaide woorde en die alledaagse gebruik daarvan verleen legitimiteit aan sommige woorde.

Die groter slagyster van sommige woorde is dat die woorde alledaags gebruik word, legitimiteit verkry het, en enige argument daarteen onmiddellik verreken of afgemaak word as “rassisties” teen transformatief” “teen-revolusionêr” of teen-progressief”. Daar is nog woorde wat by bogenoemde lyste gevoeg kan word.

Dit is amper asof mense se politieke vernuf getoets word aan hoeveel van die woorde in logiese orde in een sin of paragraaf gebruik kan word. Luister maar na die woordvoerders van die protesterende studente en evalueer hulle uitsprake aan die hand van die bogenoemde terme.

Die politiek korrekte terminologie gee dan ook legitimiteit aan die swartbewussyn wat internasionaal bevorder word en in Suid-Afrika feitelik die plek van apartheid ingeneem het. Daar is ʼn nuwe swart kleurbeheptheid en kleurbewustheid en ons samelewing word daarvolgens saamgestel. Nie-blank word nou vervang met nie-swart en die terminologie soos bo word lustig ingespan om die swart posisie te bevorder of te verskans.

Daarom is daar in ʼn diep verdeelde samelewing soos Suid-Afrika met reg vrae oor instansies soos die Black Management Forum, Black Editors Forum, Black Lawyers Association, The Association for the Advancement of Black Accountants of Southern Africa, Black Association of the Wine and Spirit Industry, Association of Black Securities and Investment Professionals, Black Conveyancers Association, Black Business Women Association en andere. Sulke suiwer rasgebaseerde instansies is totaal onvanpas en verdeel die Suid-Afrikaanse samelewing net nog meer. Apartheid het ʼn stelsel probeer vestig wat mense langs rasseverdelings en met kunsmatige grense uitmekaar gehou het. Die fokus op swart bevordering en swart bemagtiging in die praktiese toepassing van beleid verskil nie veel van dié stelsel nie. Dink net watter bohaai gaan daar nie wees as wit sakemanne of prokureurs hulself so noem en hulself daarvolgens bevorder nie. Die gebruik van die nuwe politieke korrekte het egter legitimiteit verleen aan swart nasionalisme en swartbewussyn.

Nou wat dan van taal en kultuurorganisasies soos die Afrikanerbond? Artikel 31 van die Grondwet waarborg die reg van lede van ʼn kultuur-, godsdienstige en taalgemeenskap om hul kultuur, godsdiens en taal te geniet en om vir dié doeleindes, kulturele, godsdienstige assosiasies en ander liggame van die burgerlike gemeenskap te stig, daarby aan te sluit en in stand te hou. Hierdie reg van kulturele, godsdienstige en taalorganisasies mag egter nie teenstrydig met die verklaring van menseregte wees nie. In hierdie verband moet aangemerk word dat die konstitusionele hof beslis het dat sulke kulturele, godsdienstige en taalorganisasies wel uitsluitende lidmaatskapsvereistes mag stel solank hierdie vereistes hul kulturele, godsdienstige en taalintegriteit beskerm maar nie op rasse-diskriminasie neerkom nie.

Die meerderheid Suid-Afrikaners, wit en swart, het die nuwe Suid-Afrika en die waardes soos vervat in die Suid-Afrikaanse Grondwet volledig omarm. Hierdie waardes soos gestipuleer in die Grondwet word egter stelselmatig geërodeer deur die betekenis en aanvaarding van heelwat van die politiek korrekte begrippe. Daar sal met groot omsigtigheid omgegaan moet word met sommige van die terme, reeds omdat dit politiek gelade is, en tweedens omdat sommige van die begrippe deur hulle eie en unieke betekenis reeds strydig kan wees met die internasionale betekenis of deur die praktiese uitvoering daarvan kontra die Grondwet mag wees.

Die beskerming en bevordering van ons Grondwet berus by dié miljoene gematigde Suid-Afrikaners wat die meerderheid van ons bevolking uitmaak, wat droom oor ʼn Suid-Afrika wat suksesvol funksioneer en waar elkeen se potensiaal en vermoë ten volle ontwikkel kan word, vry van rasgedrewe ideologie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Theuns ·

Weldeurdagte kommentaar Jan. Wanneer vat ons die Ras Gebaseerde Instansies na die Konstitionele Hof toe en dwing hulle om die “Black” te verwyder? As die organisasies wen dan kan ons ook mos ook so maak en die woord Black met “White” vervang en soortgelyke organisasies stig! Wen ons ons saak kan ons mos feesvier omdat ons die swart rassisme gestuit het! Die is ‘n saak van dit maak nie saak hoe die muntstuk val nie, ons wen in albei gevalle!

Veritas ·

Jan, jy kan jou werklas baie verlig deur bloot in ‘n taal te skryf wat verstaanbaar is vir jou teikenmark. Ek stem heelhartig saam met dit wat jy probeer deurgee maar moet erken dat dit bloedsweet gekos het om daardeur te worstel. Sterkte.

JC ·

Ek weet nou nie eintlik mooi wat probeer Veritas se nie? Oulike en maklike leesstof, geen geworstel hier nie. Miskien moet sommige van ons bietjie meer Afrikaans lees. Wat van ‘n bietjie Brink, le Roux of Breytenbach of een van die vele pragstukke in Afrikaans wat nou uit is? (soek maar op, daar is baie.)
JAN: MY VRAAG AAN JOU IS: EK SIEN NIE DIE SWART NASIONALISME NIE, MISKIEN IS DIT OMDAT EK NOG NOOIT OP ENIGE VAN WITS SE KAMPUSSE WAS NIE? DIT IS BESLIS NIE BY KOVSIES OF TUKS NIE? VERDER DINK EK DIT IS BEPERK TOT ‘N KLEIN MIINDERHEID, EK MAG DALK VERKEERD WEES.

TWEEDENS, WAT VAN AFRIKANER NASIONALISME, EK SIEN DIT BY DIE DAG MEER EN MEER OPVLAM, EN DIT IS BEVONK!! EN “LONG OVERDUE”
DINK JY NIE DIE ENGELSSPREKENDE BLANKES GAAN DAN OP DIE OU EINDE VASGEVANG WORD TUSSEN 2 LYNREG TEENOORGESTELDES NIE, TE WETE AFRIKANER NASIONALISME EN DIE SOGENAAMDE SWART NASIONALISME, OMDAT HUL IN WESE NIE EINTLIK NASIONALISTIES KAN OPTREE SOOS ONS AFRIKANERS NIE?

EK SAL DIT WAARDEER OM JOU INSETTE HIEROOR TE ONTVANG ASSEBLIEF

Hanno Visagie ·

Die rasterme moet wees non-racial/nie-rassig en non-racist/nie-rassisties. Let asb op die verskil.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.