Paul Kruger as leier – wat ons vandag nog by Kruger kan leer

Staatspresident Paul Kruger

Paul Kruger. Argieffoto.

Deur dr. Morné Diedericks

Paul Kruger en Rhodes was albei leiersfigure van hul tyd. Hoewel daar talle boeke geskryf is oor die twee leiers se lewe, kan die verskil tussen die twee leiers opgesom word met die woord “integriteit”. In ’n gesprek tussen Kruger en Rhodes oor die vestiging van ’n hawe by Delagoabaai, en Rhodes se beroep om samewerking tussen hom en die Transvaalse Republiek, vra Kruger vir Rhodes, “Hoe kan ons saamwerk? Die hawe behoort aan die Portugese en hulle sal dit nooit afstaan nie.” Rhodes se antwoord hierop was heel tipies: “Ons moet dit eenvoudig vat.” Kruger het Rhodes vermaan deur hom daarop te wys dat mens “nie eenvoudig iets vat nie”. Indien ’n persoon of ’n land belangstel om iets te verkoop, dan kan jy dit koop, maar ’n vloek rus op goed wat bloot gevat is. Dit het die gesprek tot ’n einde gebring en ook die verskil tussen Rhodes en Kruger se leierskap beklemtoon. Kruger het korruptheid, wetteloosheid en onordelikheid nie geduld nie. Die nadruk op die handhawing van wet en orde en die fundering daarvan in sy godsdiens het die groot refrein geword wat dwarsdeur Kruger se lewe sou weerklink.

Paul Kruger is gebore op 10 Oktober 1820 en sterf op 14 Julie 1904. Kruger se standvastigheid in sy geloof is baie bekend. By sy vierde en laaste inswering as president in 1898 het hy die volk toegespreek en gesê: “Geregtigheid verhoog ’n volk: bid dag en nag en soek die wil van God.” In al sy toesprake het Kruger sy eie swakheid en sonde altyd eerste erken en daarmee saam sy afhanklikheid van die Here bely. Hoewel Kruger van ’n streng Calvinistiese agtergrond was, het hy ook sy ruimhartigheid teenoor ander godsdienste openbaar. Gedurende sy ballingskap in die oorlog was hy in Nederland, en het hy ’n huisdokter genaamd dr. Heymans gehad. Kruger het Heymans gevra om vir hom te bid, maar Heymans het gesê hy kan nie, want hy is immers Rooms, en dat Kruger nie glo Katolieke se gebede sal baat nie. Kruger het hom geantwoord: “Wie het vir jou dit gesê? Nie ek nie. Heymans, jy moet bid vir my en ook vir jouself, want die duiwel gaan rond soos ’n briesende leeu, soekende wie hy kan verslind. En vir my wil hy hê, maar vir jou het hy reeds.”

Kruger het ’n goeie sin vir humor gehad en dit geniet om mense te vermaak met al sy jagverhale wat hy soms so ’n bietjie aangedik het. Deur humor het Kruger talle gespanne gesprekke se stywe atmosfeer gebreek en onderhandelinge op dié wyse vergemaklik. Ons weet ook dat Kruger nie altyd die maklikste persoon was om mee saam te werk nie. Daar is talle voorbeelde in sy lewe waar ons duidelik sy vurige temperament kan sien. Hoewel Kruger ’n vurige temperament gehad het, was hy egter mans genoeg om altyd jammer te sê as hy ’n fout gemaak het. Een geval het Kruger in ’n hewige woordewisseling betrokke geraak met die 26-jarige staatsprokureur, WJ Leyds. Daardie nag kon Kruger nie aan die slaap raak nie. Vroeg daardie oggend, voor sonop, het Kruger op sy perd gespring en na Leyds se woning gery. Nederig en half skaam het Kruger die jongman om verskoning gevra. “Jy was reg en ek was verkeerd, maar jy weet mos my bloed is warm,” het Kruger gesê. Daarom het Leyds later jare nog steeds groot waardering vir Kruger gehad.

’n Tydgenoot van Paul Kruger, Carl Jeppe, wat altyd hewige kritiek teen Kruger gehad het en ook vir Kruger goed geken het, het Kruger geprys vir sy merkwaardige intellek, sy onversadigde wilskrag, sy doelbewustheid, sy diplomatieke begaafdheid en sy effektiewe welsprekendheid. Jeppe was verder oortuig dat Kruger homself in enige beroep sou onderskei het. Paul Kruger se persoonlikheid was nou verweef met dié van die volk. Hy het gepraat van my “burgers”, “my land” en “my amptenare”. Kruger was ’n gebore wetgewer en regeerder, sonder opleiding, hoewel talle boeke en studies oor sy leierskap saamgestel is. Kruger het gehou daarvan om as leier om op te tree en ook verstaan dat hy deur die Here daarvoor geroep was. Veral in tye van krisis kom ware eienskappe van ’n leier na vore, en in krisistye het Kruger die grootste wilskrag geopenbaar.

Kruger was goed bewus van sy eie swakpunte en het dit aangevul met goeie, bekwame mense wat geskik was om die werk te doen. Landsadministrasie was byvoorbeeld nie Kruger se sterkpunt nie, maar die bekwame amptenare soos Leyds het dinge vlot laat verloop. Kruger het ook altyd met groot besluite bekwame persone betrek om hul advies in te win. In die volksverkiesing van 1872 het Kruger baie hard probeer om te voorkom dat Francois Burgers tot president verkies word. Burgers is egter verkies en by sy inswering moes Paul Kruger ook die woord voer. Kruger het gemeld dat hy die verkiesing van Burgers teengewerk het, omdat hy verskil van Burgers se geloofsoortuiging, maar noudat die volk besluit het, berus hy by die uitspraak van die volk en ondersteun hy die president. Om te luister na die stem van die volk was vir Kruger van groot belang en sy leierskap was gerig op die belang van die volk. Kruger het nie onenigheid geduld nie en het al op ’n jong ouderdom ’n brief aan die volksraad gerig waarin hy hulle aanmoedig om teen die euwels van verdeeldheid en wanorde te waak.

Tydens sy ballingskap gedurende die oorlog het ’n bekende Franse joernalis, Henry de Houx, vroeg in April 1901 ’n lang onderhoud met Kruger gevoer. Hy het Kruger soos volg beskryf: “Hierdie Bybel onder die verminkte hand, hierdie vurige geloof wat hom soos ’n vlam versprei, verklaar die heldhaftigheid van die Boere. Kruger is nie verfynd nie, hy is ’n gewyde figuur, ’n godsdienstige en ’n politieke leier, maar ook ’n staatsman wat beveel en wat gehoorsaam word. Ek was nog nooit so ontroer nie as juis in hierdie eenvoudige hotelkamer, vlak voor hierdie bannelinge nie. Die pen kan die oortuiging van Kruger, die krag, bondigheid en kleurrykheid van sy segswyse nie uitdruk nie. In Paul Kruger, meen ons, erken ons ’n oorblyfsel van daardie ou helde wat tegelyk misties en prakties was, voorbestem tot wonderwerke van wilskrag en geduld.”

  • Diedericks is die akademiese operasionele bestuurder by Aros.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Koos1

Wat sou ek vir so ‘n president vandag wou gee? Gee nie om of die persoon wit of swart of groen of geel is nie. Maar die waardes moet daar wees.
Dankie vir ‘n baie interesante artikel, so op Oom Paul se verjaarsdag saam!

John

‘n Ware president… ja… ‘n regte egte een… waarvoor ons, ons nie hoef te skaam nie!

JC

Dankie! ‘n Waardige lofbetuiging aan Oom Paul op sy verjaardag.

Hannah

Sal die Paul Kruger van 2017 opstaan asseblief?

Eish

Laat die erwe van ons vaa’dre vir ons kinders erwe bly.