Paul Kruger as leier – wat ons vandag nog by Kruger kan leer

Staatspresident Paul Kruger

Paul Kruger. Argieffoto.

Deur dr. Morné Diedericks

Paul Kruger en Rhodes was albei leiersfigure van hul tyd. Hoewel daar talle boeke geskryf is oor die twee leiers se lewe, kan die verskil tussen die twee leiers opgesom word met die woord “integriteit”. In ’n gesprek tussen Kruger en Rhodes oor die vestiging van ’n hawe by Delagoabaai, en Rhodes se beroep om samewerking tussen hom en die Transvaalse Republiek, vra Kruger vir Rhodes, “Hoe kan ons saamwerk? Die hawe behoort aan die Portugese en hulle sal dit nooit afstaan nie.” Rhodes se antwoord hierop was heel tipies: “Ons moet dit eenvoudig vat.” Kruger het Rhodes vermaan deur hom daarop te wys dat mens “nie eenvoudig iets vat nie”. Indien ’n persoon of ’n land belangstel om iets te verkoop, dan kan jy dit koop, maar ’n vloek rus op goed wat bloot gevat is. Dit het die gesprek tot ’n einde gebring en ook die verskil tussen Rhodes en Kruger se leierskap beklemtoon. Kruger het korruptheid, wetteloosheid en onordelikheid nie geduld nie. Die nadruk op die handhawing van wet en orde en die fundering daarvan in sy godsdiens het die groot refrein geword wat dwarsdeur Kruger se lewe sou weerklink.

Paul Kruger is gebore op 10 Oktober 1820 en sterf op 14 Julie 1904. Kruger se standvastigheid in sy geloof is baie bekend. By sy vierde en laaste inswering as president in 1898 het hy die volk toegespreek en gesê: “Geregtigheid verhoog ’n volk: bid dag en nag en soek die wil van God.” In al sy toesprake het Kruger sy eie swakheid en sonde altyd eerste erken en daarmee saam sy afhanklikheid van die Here bely. Hoewel Kruger van ’n streng Calvinistiese agtergrond was, het hy ook sy ruimhartigheid teenoor ander godsdienste openbaar. Gedurende sy ballingskap in die oorlog was hy in Nederland, en het hy ’n huisdokter genaamd dr. Heymans gehad. Kruger het Heymans gevra om vir hom te bid, maar Heymans het gesê hy kan nie, want hy is immers Rooms, en dat Kruger nie glo Katolieke se gebede sal baat nie. Kruger het hom geantwoord: “Wie het vir jou dit gesê? Nie ek nie. Heymans, jy moet bid vir my en ook vir jouself, want die duiwel gaan rond soos ’n briesende leeu, soekende wie hy kan verslind. En vir my wil hy hê, maar vir jou het hy reeds.”

Kruger het ’n goeie sin vir humor gehad en dit geniet om mense te vermaak met al sy jagverhale wat hy soms so ’n bietjie aangedik het. Deur humor het Kruger talle gespanne gesprekke se stywe atmosfeer gebreek en onderhandelinge op dié wyse vergemaklik. Ons weet ook dat Kruger nie altyd die maklikste persoon was om mee saam te werk nie. Daar is talle voorbeelde in sy lewe waar ons duidelik sy vurige temperament kan sien. Hoewel Kruger ’n vurige temperament gehad het, was hy egter mans genoeg om altyd jammer te sê as hy ’n fout gemaak het. Een geval het Kruger in ’n hewige woordewisseling betrokke geraak met die 26-jarige staatsprokureur, WJ Leyds. Daardie nag kon Kruger nie aan die slaap raak nie. Vroeg daardie oggend, voor sonop, het Kruger op sy perd gespring en na Leyds se woning gery. Nederig en half skaam het Kruger die jongman om verskoning gevra. “Jy was reg en ek was verkeerd, maar jy weet mos my bloed is warm,” het Kruger gesê. Daarom het Leyds later jare nog steeds groot waardering vir Kruger gehad.

’n Tydgenoot van Paul Kruger, Carl Jeppe, wat altyd hewige kritiek teen Kruger gehad het en ook vir Kruger goed geken het, het Kruger geprys vir sy merkwaardige intellek, sy onversadigde wilskrag, sy doelbewustheid, sy diplomatieke begaafdheid en sy effektiewe welsprekendheid. Jeppe was verder oortuig dat Kruger homself in enige beroep sou onderskei het. Paul Kruger se persoonlikheid was nou verweef met dié van die volk. Hy het gepraat van my “burgers”, “my land” en “my amptenare”. Kruger was ’n gebore wetgewer en regeerder, sonder opleiding, hoewel talle boeke en studies oor sy leierskap saamgestel is. Kruger het gehou daarvan om as leier om op te tree en ook verstaan dat hy deur die Here daarvoor geroep was. Veral in tye van krisis kom ware eienskappe van ’n leier na vore, en in krisistye het Kruger die grootste wilskrag geopenbaar.

Kruger was goed bewus van sy eie swakpunte en het dit aangevul met goeie, bekwame mense wat geskik was om die werk te doen. Landsadministrasie was byvoorbeeld nie Kruger se sterkpunt nie, maar die bekwame amptenare soos Leyds het dinge vlot laat verloop. Kruger het ook altyd met groot besluite bekwame persone betrek om hul advies in te win. In die volksverkiesing van 1872 het Kruger baie hard probeer om te voorkom dat Francois Burgers tot president verkies word. Burgers is egter verkies en by sy inswering moes Paul Kruger ook die woord voer. Kruger het gemeld dat hy die verkiesing van Burgers teengewerk het, omdat hy verskil van Burgers se geloofsoortuiging, maar noudat die volk besluit het, berus hy by die uitspraak van die volk en ondersteun hy die president. Om te luister na die stem van die volk was vir Kruger van groot belang en sy leierskap was gerig op die belang van die volk. Kruger het nie onenigheid geduld nie en het al op ’n jong ouderdom ’n brief aan die volksraad gerig waarin hy hulle aanmoedig om teen die euwels van verdeeldheid en wanorde te waak.

Tydens sy ballingskap gedurende die oorlog het ’n bekende Franse joernalis, Henry de Houx, vroeg in April 1901 ’n lang onderhoud met Kruger gevoer. Hy het Kruger soos volg beskryf: “Hierdie Bybel onder die verminkte hand, hierdie vurige geloof wat hom soos ’n vlam versprei, verklaar die heldhaftigheid van die Boere. Kruger is nie verfynd nie, hy is ’n gewyde figuur, ’n godsdienstige en ’n politieke leier, maar ook ’n staatsman wat beveel en wat gehoorsaam word. Ek was nog nooit so ontroer nie as juis in hierdie eenvoudige hotelkamer, vlak voor hierdie bannelinge nie. Die pen kan die oortuiging van Kruger, die krag, bondigheid en kleurrykheid van sy segswyse nie uitdruk nie. In Paul Kruger, meen ons, erken ons ’n oorblyfsel van daardie ou helde wat tegelyk misties en prakties was, voorbestem tot wonderwerke van wilskrag en geduld.”

  • Diedericks is die akademiese operasionele bestuurder by Aros.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Koos1 ·

Wat sou ek vir so ‘n president vandag wou gee? Gee nie om of die persoon wit of swart of groen of geel is nie. Maar die waardes moet daar wees.
Dankie vir ‘n baie interesante artikel, so op Oom Paul se verjaarsdag saam!

John ·

‘n Ware president… ja… ‘n regte egte een… waarvoor ons, ons nie hoef te skaam nie!

JC ·

Dankie! ‘n Waardige lofbetuiging aan Oom Paul op sy verjaardag.

Lina Gerber ·

Paul Kruger was ‘n ware leier in alle opsigte – en word tot vandag toe dwars deur die wereld erken. Net jammer dat RSG geen erkenning gee nie!

alwyn burger ·

Oom Paul het ons ook in die ABO ingesleep. Sonder die oorlog sou ons vandag 45 miljoen Afrikaners gewees het?

Nouja ·

Al wyn, jy het ‘n punt beet oor wie vir wie in die ABO ingesleep het, maar jou projeksie oor Afrikaner getalle is dalk ‘n bietjie oor ambisieus. Al het die ABO nie vanaf 1899-1902 plaasgevind nie, sou ons beslis nie die Eerste Wêreld Oorlog vrygespring het nie. Wie weet, dalk wa so ‘n oorlog gouer verby as die ABO en het ons dalk meer of minder ongevalle gehad. Ons sal nooit weet nie.

Charl ·

Die ZAR was ook verskriklik korrup gewees terwyl Paul Kruger daar was vir die wat nie daarvan weet nie.

Fanie ·

Alwyn en andere, stellings dat Kruger ons ‘in die oorlog gesleep’ het, is net soos ander s’n dat hy landuit gevlug het- heeltemal oningelig. Lees geloofwaardige bronne voordat jul ‘n groot man afbreek.

rassie ·

Een van hierdie groot man uit ons verlede se opmerkings wat moontlik die meeste aangehaal word en wat vandag moontlik baie belangrik en navolgingswaardig vir ons is, is dat ons uit die verlede moet haal wat goed is en ons toekoms daarop moet bou.

Miskien moet ons weer daarna gaan kyk. Tans hoor ons baie oor die slegte uit ons verlede. Sal dalk goed wees as ons self ook ‘n lys maak van die goeie uit ons verlede en sy raad dienooreenkomstig in die praktyk volg.

Nic Grobler ·

Ek dink nie mens moet Alwyn burger se opmerking ignoreer nie. As gevolg van een persoon- Paul Kruger- se besluit is meer as n honderd duisend mense dood in konsentrasie Kampe en oorlog self en niks is daar deur bereik nie, SA is in elk by Britanje ingelyf. Toe die oorlog verby is tree hy in Switserland af en aanskou hy vandaar wat hy met SA aangevang het. As dit nie vir hierdie oorlog was nie sou SA nou baie anders gewees het.-beslis n baie better SA.Is daar regtig n verskil tussen hom en die huidige leier van Noord Korea. Hy het ook andersdenkende mense-hensoppers- laat doodskiet. Kan iemand verduidelik wat so fantasties en christelik aan so leier was.

Eish ·

Ja, so het elk n geraamte in die kas.
Dit was nog nooit n goeie ding om mense te vereer nie.

Nic Grobler ·

Stem saam met Alwyn, SA sou baie beter af gewees het as dit nie vir Paul Kruger se besluit was nie.

Pieter du Preez ·

Neem die beste uit die verlede en bou die toekoms daarop

Theo Diedericks ·

Alwyn Burger en Nic Grobler gelukkig het Paul Kruger die besluit geneem anders het die Afrikaner bestaan uit 45 miljoen papbroeke. Nou bestaan hy uit plus minus 5 miljoen minus twee met durf. Wie sou trots daarop wees om deel te wees van n papbroek nasie. Om die absurde stelling te maak dat Paul Kruger in Switserland gaan aftree het wys net jou gebrek aan kennis van die geskiedenis. Fantasties was Paul Kruger maar nie omdat hy homself daartoe verhef het nie maar omdat God hom as instrument gebruik het in die geskiedenis van die Afrikaner. Paul Kruger sou self gese het “Aan God alleen die eer” Sy hele lewe getuig daarvan. Ek is amper oortuig daarvan as jy vandag Paul Kruger se lyk opgrawe sal jy nog eelte op sy kniee vind soos hy gebid het vir die volk.
Julle siening kom nie uit die geskiedenis-boeke nie. Ek dink dis langs die braaivleis-vure uitgedink deur iemand wat dink hy weet. My raad aan julle is gaan lees die geskiedenis van Paul Kruger wat geskryf is deur iemand wat n deeglike studie daarvan gemaak het. Iemand wat die feite in die argiewe gaan navors het.

Nouja ·

Nee meneer, ek dink nie jy kan diegene wat inteendeel die durf het om ‘n alternatiewe mening te vorm en te artikuleer as ‘n pap broek af te maak nie. Sulke minderheid menings moet reeds gerespekteer word. Is dit nie juis omdat ons voorouers so maklik staat en kerk geglo het en te pap broek was om die “waarheid” te bevraagteken dat ons vandag sit waar ons sit nie?

Anna Dos Santos ·

Dankie vir jou skrywe Morne. Daaruit leer ek dat iemand met karakter wel menslik is en foute maak, maar dat die Here steeds sy naam vir sy nageslagte bewaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.