Pepuda – waarom jy standpunt daarteen moet inneem

Alana Bailey.

Daar is tans heelwat omstrede wetsontwerpe wat hewige debat ontlok, byvoorbeeld oor onteiening sonder vergoeding, wapenbesit en Pepuda, oftewel die wysigingswetsontwerp rakende die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie. Die akroniem “Pepuda” kom van die Engelse benaming “Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Amendment Bill 2021”.

Verskeie instansies, organisasies en politieke partye het reeds daarteen gewaarsku, maar daar is ook diegene wat waarskuwings daarteen as bangpratery afmaak. So lees ek byvoorbeeld in ’n meningsartikel op Netwerk24 dat die skrywer meen “Dit wil mense veilig laat voel, en hulle bemagtig.”

Dit klink pragtig, en juis dáárom moet ons vra waarom mense dan nié veilig en bemagtig voel wanneer hulle die wetsontwerp bestudeer nie?

AfriForum het ’n regsmening hieroor van ’n senior advokaat ingeroep. Om kortliks op te som, is die probleme wat hy met die konsepwet identifiseer as volg:

  • Dit herdefinieer die terme “gelykheid” en “diskriminasie”.
  • Die bedoeling van die aangeklaagde is hiervolgens van geen belang nie; dit is dus die ervaring van die klaer wat tel.
  • Organisasies en maatskappye kan ook nou vir hulle personeel se aksies aanspreeklik gehou word.
  • Die staatkodes mag bepaal waarvolgens onder andere nie-regeringsorganisasies mag optree.
  • Die staat mag die klaers se sake befonds, maar hoef nie finansiële hulp aan diegene wat hulle teen die klagtes moet verdedig, voorsien nie.
  • Die staat moet alle wetgewing wat deur die konsep geraak word, hersien.

Politieke ontleders beskryf Suid-Afrika lankal as ’n hibriede regime ‒ ’n staat wat ’n mengsel van outoritêre en demokratiese kenmerke vertoon. Aan die een kant is daar byvoorbeeld demokratiese verkiesings wat gereeld plaasvind, maar aan die ander kant oorheers die staat alle sektore en onderdruk demokrasie.

Hierdie wysigingswet is ’n sprekende voorbeeld van hoe sulke onderdrukking gewettig kan word. Die staat besluit wat diskriminasie is; die staat besluit wanneer iemand diskrimineer; die staat hou werkgewers vir werknemers aanspreeklik; die staat bepaal hoe gemeenskapsinstellings mag optree; die staat betaal net een kant van die regsaksie, ongeag of die ander party onskuldig is; en les bes, die staat pas alle bestaande wetgewing aan om dié benadering af te dwing. Laat dit enige ruimte vir die burgerlike samelewing om self oor hulle optrede te besluit? Ja, mits die staat dit natuurlik toelaat …

Volgens die Netwerk 24-meningstuk sal dié benadering “ons demokrasie versterk” en “van ons verantwoordelike burgers maak, met begrip vir en respek teenoor ander”. Ongelukkig kan jy nie demokrasie versterk deur dit weg te neem nie, net so min as wat respek met wetgewing afgedwing kan word.

Die logiese gevolg van elke keuse wat ons maak, is diskriminasie. As AfriForum ’n Afrikaanse ontvangsdame aanstel omdat ons ’n Afrikaanse organisasie is, diskrimineer ons teen die sprekers van al 7 096 ander tale in die wêreld. As ’n Christelike privaatskool ’n onderwyseres aanstel wat ’n Christen is, diskrimineer dit teen alle kandidate wat ander geloofsoortuigings huldig.

In die verlede was daar heelwat regsuitsprake wat hierdie tipe besluite verdedig het, omdat dit diskriminasie was wat regverdig kon word, gesien in die lig van die belange van ’n bepaalde gemeenskap. Al bogenoemde besluite is geneem sonder dat daar enige bedoeling was om teen iemand te diskrimineer of enigeen te benadeel. In sy huidige vorm maak Pepuda egter nie voorsiening vir dié soort optrede nie. As ek slegs Spaans praat en voel AfriForum tas my waardigheid aan deur my nie vir die pos as ontvangsdame te oorweeg nie, kan ek ’n klag lê. As die staat besluit om die saak verder te voer, kan ek selfs finansiële hulp daarvoor kry.

Dalk klink hierdie voorbeelde vergesog, maar in die onlangse verlede was daar al vele hofsake presies oor kwessies van hierdie aard, byvoorbeeld waar mense gemeen het dat die regulasies van die instelling waaraan hulle studeer of waar hulle werk teen hulle kultuur diskrimineer. In dié gevalle kon die arbiters of howe beslis deur te kyk of daar doelbewuste benadeling of sinvolle redes vir die regulasies was, maar met Pepuda sal die klaer slegs sy ervaring hoef te motiveer. Al is daar dan geen bedoeling om iemand te na te kom nie, sal die individu én sy werkgewer, of die betrokke instansie, dus aanspreeklik wees en gevolglik gestraf moet word.

Die gevolge hiervan kan verlammend vir die regstelsel wees, want met Pepuda is daar geen wyse waarop iemand vooraf kan bepaal of hy die wet gaan oortree of nie – jy kan nooit seker wees hoe iemand jou keuses vir of teen hulle gaan “ervaar” nie.

Afgesien van die totale gebrek aan logika, is dit ongelukkig so dat ons regering al herhaaldelik bewys het dat hulle in wanbestuur en die ongelyke behandeling van landsburgers uitblink. Dink maar aan die gesukkel met die beskikbaarstelling van entstowwe op die oomblik, en die toerismefonds wat op grond van ras teen benadeeldes in dié sektor diskrimineer. Kan ons dus vertrou dat hierdie wetgewing beter ingespan sal word, sou dit aanvaar word?

Wanneer dit by die bedreiging van burgerregte kom, is die benadering baie soos wanneer jy met dinamiet te make het. Ek stoor nie dinamiet in my linnekas nie, selfs al is die kas gesluit en kom niemand ooit met ’n vuurhoutjie daar naby nie. Waarom sou ek die risiko wil neem? Net só kan ons nie wetgewing wat die potensiaal het om ons burgerregte te bedreig, goedkeur nie, al is die bedoelings daarmee ook hóé edel.

Opsommend: Nee, dit is nie alarmisties om standpunt teen die wetsontwerp in te neem nie. Dit is wys, want dit voorkom onnodige risiko’s en beskerm demokrasie deur die burgerlike gemeenskap se onafhanklikheid te verdedig.

Neem saam met AfriForum teen hierdie onsinnige wetsontwerp standpunt in!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter9

Ons kan Pepuda hoegenaamnd nie ondersteun nie – sou dit wel aanvaar word is ons totaal oorgegee aan die ‘woke’ kultuur absurditeit – nie genoeg spasie om die gevolg uiteen te sit nie.

Andrew

Daar kan nie n goeie uitkoms wees rakende die nuutste anti wit kultuur idiologie nie. Dis n kruitvat. Ongelukkig nog tee veel paddas was glo die pot sal mie kook nie.

marius

Al hierdie dinge word aangedryf deur diegene wat totale beheer oor elke mens wil bekom .

annie

Marius is reg. En die baas van die VN is ‘n voorbok met Zoros wat reeds in die dae van Mandela in Johannesburg ‘n soortgelyke society geopen het, as borg. Het die idee hier ontspring soos in Wuhan toe iemand dalk ‘n gevaarte heel toevallg vrygelaat het?