Pers verf: ‘Kyk liewer nugter na sake’

 

prisma-reënboog

Foto: Kelvinsong/Commons.wikimedia.org

Die histeriese reaksie van die bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) op die twee studente wat hul gesig pers geverf het (hoe op áárde enigiemand met ’n gesonde verstand dit as ’n uiting van rassisme kon beskou, weet nugter alleen), laat my dink aan ’n grappie uit die apartheidstyd.

’n Passasiersvliegtuig nader die destydse Lughawe Jan Smuts ná ’n interkontinentale vlug. Oor die interkom klink die aankondiging: “Dames en here, ons staan op die punt om in Johannesburg te land. Draai asseblief die horlosie 50 jaar terug.”

’n Volle vyf dekades was dalk ’n oordrywing ter wille van effek, maar twee of drie dekades was nader aan die waarheid. Te oordeel na die buitensporige reaksies op die pers gesigte (en ander onlangse voorbeelde) lyk dit of die grappie steeds op die huidige Suid-Afrika van toepassing is.

Europa is ’n goeie gevallestudie, al moet ’n mens uiteraard die groot verskille tussen die situasie daar en in Suid-Afrika verdiskonteer. Dit gaan veral om die hantering van die verskynsel politieke korrektheid.

Toe ek in die jare sewentig ’n doktorale student in Nederland was, was alles wat links en “progressief” was, in die mode. Regs en konserwatief was op die verdediging en kon wesenlik nie veel meer doen as wal gooi en verdedig nie.

Dit was destyds ’n tyd van ekonomiese groei en die maatskaplike emansipasie van die arbeiderstand. Dat die proses naas die onbetwiste voordele ook nadele ingehou het, het die kollektiewe bewussyn ontglip.

Die emansipasie van die arbeiderstand het byvoorbeeld meegebring dat steeds minder mense die “nederige” soort werk – vullisverwydering, die skoonmaak van strate, skottelgoed was in restaurante, die aan die kant maak van hotelkamers, ensovoorts – wou doen. En dus is mense uit veral Turkye en Marokko ingebring.

Die mite was dat hulle “gasarbeiders”, tydelike migrante, sou wees. Hulle sou ná ’n paar jaar teruggaan na hul eie lande.

Bitter min het. Erger nog: Omdat mense maar menslik is, het hulle mekaar se geselskap opgesoek en in dieselfde agterbuurte gaan woon, waar mettertyd parallelle gemeenskappe ontstaan het.

Die mense se nageslag, wat óf in Europa gebore is óf as klein kinders daar aangekom het, het gevind dat die gevestigde Europeërs hulle min of meer duld, maar nie as volwaardige landgenote aanvaar nie. Gevolglik is die werkloosheid onder hulle aansienlik hoër as by die oorspronklike bevolking, hul opleidingspeil is baie laer, ensovoorts.

Dis ’n tikkende tydbom wat dekades lank in salige onkunde ontken is. Mense is mos almal dieselfde, was die linkses se aanname; kulturele verskille is ten beste irrelevant of andersins ’n kunsmatige konstruksie wat net deur regses vir hul skandelike rassistiese denkbeelde aangegryp word.

En waar die immigrante ander waardes aanhang – wel, wie sê die Europese waardes is sodanig beter? Is alles nie maar betreklik nie? Het die Joodse volksmoord nie uit die Europese waardes gespruit nie?

Die eerste “respektabele” denker wat die probleem in Nederland reguit op sy naam genoem het, was die filosoof Paul Scheffer. Scheffer, wat as lid van die gematig-linkse Partij van de Arbeid glad nie regs of rassisties genoem kon word nie, het in 2000 ’n artikel in die gehaltekoerant NRC-Handelsblad geskryf met die titel “Het multiculturele drama”.

Daarin het hy gewys op die gevare wat wag as die Moslem-immigrante hul eie waardes en kultuur, in stryd met dié van Europa, in hul nuwe woonplekke voortsit. Europa sit ’n lat vir sy eie bas in die pekel, was sy boodskap.
Sedertdien het baie water in die see gevloei. Daar was 9/11, die opkoms van die Islamitiese Staat (IS), die Siriese burgeroorlog en die vloedgolf vlugtelinge wat oor Europa spoel, saam met die erge wangedrag van (sommige) inkommers, soos op Oujaarsaand in Keulen en elders kop uitgesteek het.

En natuurlik, politici sal nie politici wees as hulle nie sulke probleme vir eie gewin uitbuit nie. Die regse populiste in verskeie Europese lande gedy daarop.

Dit alles beteken dat die openbare gesprek in Europa tans dramaties anders is as 40 jaar gelede, toe ek by wyse van spreke koes-koes deur die gange van die Universiteit van Leiden moes stap, bevrees dat die een of ander linkse my as ’n rassis sou uitken.

Verlede naweek het die Nederlandse oggendblad De Volkskrant ’n lang onderhoud met ’n jong Duitse politikus, Jens Spahn (parlementslid vir bondskanselier Angela Merkel se Christen-Demokratiese Unie) geplaas. Dié 35-jarige man, wat beskryf word as ’n toekomstige premier of minister, se woorde laat geen misverstand nie: “Wanneer hulle die Duitse grens oorsteek, laat mense nie die waardes waarmee hulle opgegroei het, agter nie: Die verhouding tussen mans en vroue, hoe gaan ek met Jode om en met homoseksuele, hoe kyk ek na familie-eer.”

Hy verwys na “parallelle samelewings” – “mense wat al 20 of 30 jaar in die land is, maar nooit regtig aangekom het nie”. Dus, sê hy, moet van die immigrante verwag word dat hulle hul by die Duitse norme en waardes aanpas.

“Ons moet vanaf die eerste dag duidelik maak welke reëls hier geld. … In die swembad, in die kantien, oral moet die reëls duidelik wees. Sodat niemand kan sê: Ek aanvaar nie kos van ’n vrou nie.

“In dié opsig moet Duitsland vriendelik wees, maar beslis. Dit moet Duitsland léér, meer as ander lande. Want dit het ons in die verlede nie so duidelik gemaak nie, vanweë ons geskiedenis. Daardeur het ’n valse verdraagsaamheid ontstaan. Die gedagte was: Ons sê maar niks. Nee, dit moet ons anders doen.”

Spahn se woorde is tekenend van wat deesdae in Europa leef. By die regse ekstremiste lei dit weliswaar tot belaglikhede, soos Frauke Petry (leier van die Alternativ für Deutschland), wat vra die weermag en polisie moet vlugtelinge doodskiet as hulle oor die grense probeer kom. Maar selfs die gematig-linkse Sosiaal-Demokrate is ten gunste van ’n beperking op die aantal vlugtelinge en ’n verpligting op dié wat wel toegelaat word om hulle aan te pas.

Destyds kon daar wel van reisigers na Suid-Afrika grappenderwys verwag word om die horlosiewysers 20 of 30 jaar terug te draai. Ons het egter steeds nie geleer om nugter na sake te kyk nie. Ons betrag die werklikheid steeds deur die prisma van ’n ideologie wat nie sake verhelder nie, maar verwring.

Helaas maak sowel die ANC as die leiersfigure van die Universiteit Stellenbosch hulle steeds hieraan skuldig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

HEVW ·

Baie waar woorde. In SA was daar al n heel paar momente in die geskiedenis waarin die destydse regering versienend moes wees. As ek reg kan onthou die 1960 sowel as die 1976 opstande met die verreikende gevolge. Die destydse regering moes hier versienend gewees het en reeds vir selfbeskikking en eie grondgebied beding het.

merc ·

Die Mannheimer Morgen koerant het in ‘n interview vir Frauke Petry van die AfD ‘n val gestel. Op die vraag hoe sy die grense teen onbevoegde mense will beskerm wat nie bevele van die grenswag will neem nie wou sy as heel laaste opsie die gebruik van wapens nie uitsluit nie.
Vier weke voor hierdie interview het die burgermeester van Tübingen, Boris Palmer van die groen party (links-progresief) ook in ‘n interview die gebruik van wapens voorgeslaan om die Europese grense teen onbevoegde mense te beskerm.

Dis té maklik om die AfD as regs populisties te beskryf. Die AfD is nie ‘regser’ as bv die republikaners in die VSA of enige ander gematigde regse parteie bv in Kanada of Australië nie.

Therese van Schalkwyk ·

Hierdie kommentaar van iemand onlangs raak gelees:

“Daar is vandag meer Turke, Afrikane en Arabiere in Europa as op enige ander tydstip in die geskiedenis en hulle word elke dag net nog meer. Ons het vandag weer ‘n soort situasie soos voor die val van Rome toe ‘n heersersklas te dekadent en lamlendig was om ‘n voet te versit om hul eie lewens en beskawing te verdedig. Die rede vir die val van Rome was hoofsaaklik ruggraatlose lamsakkigheid. Dit verg geen besondere wysheid, insig of geleerdheid nie om te besef dat Europa vandag in dieselfde bootjie is.”

Hy sê verder dat dit taamlik ironies is dat die Engelse in die laaste wêreldoorlog hardnekkig weerstand gebied het teen die Duitsers wat hulle as barbaarse, onwelkome invallers beskou het (the Hun), maar vandag laat hulle toe dat Pakistani’s en Nigeriërs feitlik hul land beset.

Is dit nie vreemd dat Geert Wilders verguis word as ‘n regse ekstremis, terwyl Europa sienderoë in hierdie ‘penarie’ inloop nie?

merc ·

Dit is vreemd. Dit is asof die wes Europeërs reeds die oorname van hulle lande deur kultuurvreemde aanvaar het en nou probeer om die beste van die saak te maak indien hulle so vriendelik as moontlik teenoor die vyandelike vreemdes is. Iemand het hierdie gedrag met ‘n toneelstuk van Max Frisch ‘Biedermann und die Brandstifter’ vergelyk.
Sien: https://en.wikipedia.org/wiki/The_Fire_Raisers_%28play%29

Die korupte mainstream media in Duitsland wat net so onkrities teenoor die huidige regering is soos die media onkrities was tussen 1933 en 1945 dra ‘n groot skuld.
Polities ongemaklikes in Holland en Frankryk het dit net so moeilik soos dié in Duitsland.

Therese ·

merc

Aan jou naam lei ek af dat jy daar op die autobahns rondry, ai lekker!

Dankie, The Fire Raisers baie geniet. Sien die stuk is al in 1953 geskryf, en dit kan sowaar presies op die hedendaagse gebeure van toepassing gemaak word: in Europa en ook by instellings soos Maties e.a.

merc ·

Hi Therese,
merc staan net vir mercury. Nie baie fantasievol nie :-)
Ja, die toneelstuk het ook op Maties en ander instellings van toepassing. Nou dat jy dit sê.
Tot volgende keer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.