‘Plaas SA onder sakeredding’

Foto: Pexels.com

Deur Anton Meijer

Daar is bykans geen staatsdepartement, staatsmaatskappy of regeringsinstelling wat nie in omstredenheid gedompel is nie. Wanbestuur, korrupsie en bedrog vier hoogty, en die oplossings wat voorgestel word verander nie veel aan die benarde situasie nie.

Suid-Afrikaners het weer gehoor dat hy gaan pa staan vir die finansiële reddingsboeie wat oor die volgende paar maande aan sukkelende staatsmaatskappye uitgegooi gaan word.

Eskom ontvang meer as R50 miljard; die SAUK R3,2 miljard. Dan word daar ook nog uitbetalings voorsien aan Denel en SAL.

Tito Mboweni, minister van finansies, erken onbeskaamd dat die belastingbetaler aan die korste ent gaan trek en dat die regering volgende jaar meer geld gaan moet leen om sy uitgawes te dek.

Te midde van die finansiële verknorsing baklei die ANC met die ANC, soos kat en hond.

Die EFF, Jacob Zuma en Busisiwe Mkhwebane skree ook nog van die kantlyn af om die faksiegevegte in die ANC verder aan te vuur.

ʼn Mens sou verwag dat senior regeringslui en politici, soos pres. Cyril Ramaphosa, minister Pravin Gordhan en die ANC se sekretaris generaal, Ace Magashule, die leiding sou neem om berigte oor ANC-faksiegevegte in die kiem te smoor, maar daardie boot het reeds gevaar.

So ʼn paar maande gelede was daar nog ʼn poging om ʼn verenigde ANC voor te hou. Deesdae word daar nie eens meer ʼn poging aangewend nie.

Te midde van die ANC se binnegevegte sou dit voordelig wees vir Suid-Afrika indien die regering se werk uitgekontrakteer kon word, of die land onder sakeredding geplaas kon word.

Skrander sakelui wat omsigtig te werk gaan sal besluite moet neem oor begrotings en projekte, en hulle sal vorendag kom met regrukstrategieë wat nie gegrond is in ideologie nie, maar eerder op praktiese, werkbare sakebeginsels.

Dit sal die ANC tyd gee om eers sy binnegevegte uit te klaar, sonder dat die land daaronder hoef te ly.

Dit is egter wensdenkery. Geen politieke party sal vrywillig sy mag oorhandig aan ʼn ander party nie. Die ANC het steeds geen reg om die land saam af te trek terwyl hy sy eie inploffing bewerkstellig nie.

So wat staan jou nou te doen?

Die demokratiese stelsel maak voorsiening vir verkiesings, waartydens stemgeregtigdes ʼn ander party kan kies om die land te regeer. Die stelsel het ons oor die afgelope 25 jaar in die steek gelaat, en dalk net meer bygedra tot die situasie waarin ons onsself nou bevind.

Verkiesings gaan dus nie help nie. Daar moet eerder gekyk word na “selfaangestelde sakeredders”.

Stel jou eie maatreëls in om jou minder afhanklik te maak van die regering. Maak jouself bestand teen die Nuwe Daeraad. Steun organisasies wat poog om mag van die eenheidstaat af te rokkel. Hou jou oor op die grond, lees tussen die lyne, en wees versigtig met jou geld en beleggings wanneer daar beloftes van hernuwing aan jou gemaak word.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elaine Hoffman ·

Geen politieke party sal vrywilliglik mag oorgee? Die NP onder leiding van die Broederbond het presies dit gedoen en ons in hierdie gemors gedompel sonder om te bloos. Wonder wanneer hulle aan ons gaan jammer se en ‘n paar wit indier kleurling voete gaan was?

John ·

Daar is gelukkig darem altyd iemand voor op die wa om die witvlag te laat wapper en die ANC te laat glimlag. Wanneer is dit weer medalje-tyd… en onthou die voetewas… foei… goed gebreinspoel. En hierdie dinges-oor-kopslaners sal saam ondergaan…
Heelwat grafte van ANC-ondersteuners lè glo bo in Afrika waar die glo uitgewenes met die miljarde vanuit Europa heerlik gerus het tussen die militère sirkusse deur; hoe om bomme te maak ens. Geen groot okasies soos deesdae op tv vir die uitskieters nie want daar is gedurig beweer dat die of daai met die rassiste saamgesweer het en wie kon stry as mens sien wie die sweep geklap het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.