Plaasmoorde, aanhitsing tot moord en terreur

(Argieffoto)

Verskeie kommentators van regoor die politieke spektrum het die afgelope weke indrukke gelewer oor die sogenaamde struggle-lied: “Kill the Boer, kill the farmer”.

Dit is met verwysing na die EFF se 10de verjaarsdagviering by die FNB-stadion op Saterdag 29 Julie 2023 en die slagspreuke wat telkens by dié geleentheid herhaal en gedreunsang is deur 100 000 volgelinge in die stadion en waarskynlik opgeslurp is deur duisende regoor die land wat dit gehoor het. Insiggewend dat die EFF 10 bestaansjare vier, maar hulself assosieer met die struggle wat teen apartheid gerig was en reeds dertig jaar gelede ʼn einde gekry het in die oorgang na ʼn nuwe bedeling.

As vertrekpunt moet aanvaar word dat Malema as politieke leier geen beheer het oor sy volgelinge se reaksie op sy uitsprake nie – veral nie as misdadige elemente dit verder uitbuit nie. Enkele plaasmoorde het plaasgevind na die gebeurtenis en die verwysing het ook internasionaal opslae gemaak met Elon Musk wat dit op sy X-tydlyn (voorheen Twitter) geplaas het en verwys het na “genocide”.

Om plaasmoorde tans te koppel aan volksmoord is waarskynlik nog nie die geval nie, maar dat plaasmoorde op sy eie ʼn onaanvaarbare tendens is binne breë misdaadstatistiek in Suid-Afrika, is ʼn gegewe.

Malema se verduideliking

Malema het by herhaling bevestig dat die Boere in die liedjie “Kill the Boer, kill the farmer” nie na individue verwys nie, maar na ʼn stelsel van onderdrukking. ʼn Groot klomp joernaliste en polities korrektes het die EFF se verduideliking onvoorwaardelik aanvaar en op die wa gespring om die EFF se reg tot haatspraak te verdedig. Plaasmoorde is dus ʼn illusie volgens diegene.

Die uitspraak word volgens artikel 16 van die handves van regte in die Suid-Afrikaanse Grondwet deur verskillende howe anders geïnterpreteer. Die reg ter sprake handel oor vryheid van uitdrukking waartoe elkeen die reg het. Die reg word egter beperk aangesien dit nie die volgende omvat nie:

16(2)(a) propaganda vir oorlog nie; (b) die aanstigting van dringende geweld nie; of (c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak nie.

Daar word dus gehoop dat die Appèlhof wat op 4 September 2023 die saak aanhoor, wel onomwonde sal beslis dat dit haatspraak is.

Ware bedoeling

Die lied en verduideliking moet egter gelees en verstaan word saam met Malema se uitlatings die laaste paar jaar.

As deel van ʼn toespraak in Newcastle op 7 November 2016 het Malema gesê: “Ons vra nie vir die slagting van witmense nie, ten minste nie nou nie.” (We are not calling for the slaughtering of white people, at least for now.)

In ʼn TRT World TV-onderhoud sê hy op 11 Junie 2018: I’ve never slapped a white person, I’ve never called for their slaughter. I’ve never called for their killing, at least for now. I can’t guarantee the future.”

Op 14 September 2019 plaas Malema ʼn aanhaling van Robert Mugabe op X (voorheen Twitter) wat lui: “The only white man you can trust is a dead white man”.

In die hof tydens die haatspraaksaak op 17 Februarie 2022 herbevestig Malema sy standpunt dat hy moontlik eendag kan eis dat witmense geslag moet word.

Malema se uitsprake ter verduideliking van die onlangse uitsprake in die FNB-stadion flous sommiges, maar is nie so onskuldig nie. Saamgelees met sy herhaling van Mugabe se standpunt voorspel “Kill the Boer, kill the farmer” net onheil. Enige kommentator wat hieroor anders dink, of dit sag wil afmaak, met satire spot en dit as eenvoudige struggle-semantiek en regse propaganda afmaak, is naïef.

Instansies wat kan optree

Dit blyk dat die Menseregtekommissie sedert 2010 vir Malema met fluweelhandskoene hanteer het en hulself uitgewurm het uit die verantwoordelik om onmiddellik en beslissend op te tree. Die kans het die SAMRK uit sy vingers laat glip en sit ons 13 jaar later steeds met die gebakte pere en groter verdeeldheid en raspolarisasie.

Die verdere vraag moet nou ook gevra word of Malema nie ook deur ander instansies tot orde geroep behoort te word nie. As ʼn verkose openbare verteenwoordiger en leier van ʼn politieke party tree Malema strydig met die ampseed as lid van die parlement op en behoort die parlement beslis op te tree.

Die verdere vraag is of die EFF met hierdie optrede van Malema, gegewe die OVK se gedragskode vir politieke partye veral met die bepaling oor die aanhitsing tot geweld, op dié basis aan die 2024-verkiesing kan deelneem? Dit is ʼn kwessie wat gerus deur politieke opposisiepartye verder hanteer behoort te word.

Ramaphosa se stilswye

Die vraag is ook aan president Ramaphosa gevra wat sy standpunt is? Bekommerde Suid-Afrikaanse burgers moet egter nie hulle asem ophou nie.

Op 26 September 2018 het president Cyril Ramaphosa met die finansiële nuusdiens Bloomberg gepraat tydens die Bloomberg Global Business Forum in New York. Tydens die berugte onderhoud het president Ramaphosa ontken dat plaasmoorde plaasvind. Die president was skynbaar nie bewus van ʼn verklaring op 2 Julie 2017 wat onder sy naam as destydse adjunkpresident uitgereik is nie wat sê: “Parliament also successfully debated issues of importance such as, the increase in farm murders and farm attacks in South Africa.” Vir Bloomberg en die buiteland word daar nou vertel daar is geen plaasmoorde nie.

Dit het in 2023 nie verander nie. President Ramaphosa sal nie erken dat daar ʼn groeiende probleem is wat plaasmoorde aanbetref nie, en hy sal ook nie vir Malema repudieer nie. Daar is te veel elemente in sy eie partygeledere wat baat by aanhitsing en geweld en dit is “Kill The Boer, kill the farmer”. Dié struggle-lied is in April 1993 in die ANC-jeugliga gebore deur Peter Mokaba.

Die ANC was sedertdien nog nie bereid om die lied te veroordeel of homself daarvan te distansieer nie. Wat die ANC se agenda met die lied was, het ons vir die afgelope 30 jaar gesien.

Plaasmoorde net nog statistieke

Volgens SAAI word daar sedert die ANC in 1994 aan bewind gekom het, elke tweede dag gemiddeld een plaas aangeval en elke vyfde dag ʼn boer of ʼn lid sy gesin, ʼn gas of ʼn plaaswerker vermoor. TLU-SA se statistieke tot Julie 2023 beraam sedert 1 Januarie 1990 is 2 247 plaasmoorde en 6 278 plaasaanvalle in Suid-Afrika aangemeld. In die eerste ses maande van 2023 was daar 109 plaasaanvalle met 34 moorde. Hiervan was 18 boere, 10 direkte familie en 6 werkers.

Die statistieke moet gesien word teen die uiters gewelddadige land wat Suid-Afrika is en waarin 74 mense elke dag vermoor word met amper 27 000 mense in 2022/23 alleen. Dit plaas Suid-Afrika in uiters ongewenste geselskap. Suid-Afrika is agtste op die lys van gevaarlikste lande in die wêreld as die moordstatistiek per 100 000 van die bevolking in ag geneem word.

In El Salvador die gevaarlikste land is daar 52.02 moorde per 100 000 van die bevolking, gevolg deur Jamaika (43.85), Lesotho (43.56), Honduras (38.93), Belize (37.7), Venezuela (36.69), Saint Vincent en die Grenadine (36.64) en dan Suid-Afrika met 36.5 moorde per 100 000 van die bevolking.

Plaasmoord as terreur?

In ʼn gewelddadige land soos Suid-Afrika kan daar eenvoudig geen ruimte meer wees vir enige politikus wat volgelinge opsweep nie. Dit sluit die president in wat sy ANCYL opsweep tot groter militarisasie en rewolusie.

Het die tyd nie aangebreek dat politieke en plaasmoorde, aanvalle en vorme van infrastruktuurbeskadiging, -vandalisme en -diefstal wat ekonomiese sabotasie is as vorme van terreur uitgewys en as sodanig gestraf moet word nie?

In enige demokrasie is daar bepaalde sleutelkenmerke en -waardes van toepassing. Dit sluit in respek vir basiese menseregte, politieke verdraagsaamheid, ʼn veelparty kiesstelsel, ʼn demokratiese verkiesing, burgerlike deelname en respek vir die reg. Hierdie waardes word weerspieël in internasionale raamwerke en konvensies wat wet en orde wil verseker.

In Suid-Afrika word dit egter deur selfverklaarde “revolusionêre” in die EFF én die ANC misken. Dit op sigself is ʼn bedreiging vir demokrasie. Malema kan nie aanspraak maak op sekere regte, maar dan self ander se regte vertrap en sodoende die demokrasie en sy instellings bedreig nie. Sy herhaalde verwysings na die doodmaak van burgers, is aanhitsing tot moord.

The Convention for the Prevention and Punishment of Terrorism (Geneva, 1937) omskryf dade van terrorisme as “criminal acts directed against a state or intended to create a state of terror in the minds of particular persons, or a group of persons or the general public”.

In die VN-veiligheidsraad se resolusie 1566 van 2004 word terrorisme ook omskryf as: “Any act or threat of violence, whatever its motives or purposes, that occurs in the advancement of an individual or collective criminal agenda and seeking to sow panic among people, causing fear by harming them, or placing their lives, liberty or security in danger.”

In die aanhef tot die Protection of Constitutional Democracy against Terrorist and related terrorist activities Act 33 of 2004, saamgelees met Wysigingswetsontwerp, word Suid-Afrika se verbintenis om hierdie tipe aktiwiteite teen te veg bevestig.

Haatspraak word ideologies geïnterpreteer deur kommentators en in sommige van die regspraak. Aanhitsing tot moord is nie meer haatspraak nie, maar behoort ook na ons mening aandadigheid en aanhitsing tot terreur te wees. Indien die bestaande wetgewing nie so geïnterpreteer word of toegepas kan word nie, behoort die wetsontwerp wat tans oorweeg word dringend uitgebrei te word om wel voorsiening te maak.

Daarom sal ons graag ook opposisiepartye wil versoek om dit te oorweeg om dringende leiding te neem in dié verband. Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, het tydens twee onlangse geleenthede reeds verwys na die Malema-uitsprake en moontlike terreur.

ʼn Reeksoortreder

Malema moet gesien word as ʼn haatspraak-reeksoortreder en dat sy opstokery ʼn direkte verband het met misdaad en veral plaasaanvalle en plaasmoorde. Beide die ANC en die EFF se onverantwoordelike flirtasie met revolusie, dek die tafel vir populisme en geweld deur volgelinge wat op ʼn onverantwoordelike wyse deur die politieke leiers aangehits word.

Ons kan nie anders as om te vra wat nog moet gebeur en hoe wreed en koelbloedig misdaad en plaasaanvalle nog moet wees alvorens die Suid-Afrikaanse regering daadwerklik toetree nie? Suid-Afrikaanse burgers beleef tans niks anders as terreur in die landelike omgewing met plaasaanvalle, en in ʼn groter konteks ekonomiese sabotasie met die diefstal en vandalisme van infrastruktuur, nie en dit verg dringende en nuwe prioriteite en optrede.

Politieke leiers kan nie hiervan gevrywaar word nie.

Keerpunt bereik

Misdaad, wetteloosheid en die gepaardgaande kommer oor die verval van die strafregstelsel in Suid-Afrika het egter nou ʼn keerpunt bereik en sal daar nou nuut en indringend besinning moet kom oor die totale misdaadsituasie in Suid-Afrika. Dit is bewonderingswaardig dat Suid-Afrika voortdurend op die diplomatieke voorpunt is tydens internasionale stryd- en brandpunte, maar dit kan nie geskied ten koste van die lae intensiteit misdaadoorlog en terreur aan huis, waarin 27 000 Suid-Afrikaanse burgers jaarliks afgemaai word nie.

Dit het nou tyd geword vir die regering om saam met bondgenote uit die burgerlike gemeenskap, wat insluit die landelike gemeenskap, georganiseerde landbou, lede van oud-veiligheidsmagte en andere nou ʼn geen-toleransie-beleid te aanvaar en onvermoeid toe te tree tot die bestryding van misdaad. Elke strategie van die regering teen misdaad, het tot dusver skouspelagtig misluk. ʼn Nuwe drastiese benadering, wat optrede teen terreur insluit, met nuwe maar verreikende uitkomste vir ʼn abnormale situasie met betrekking tot misdaad, is nou dringend nodig.

Tot tyd en wyl moet ons ondersteunend optree tot enige regsaksie van enige party of instansie rondom haatspraak. Ons glo egter dat dringender en meer drastiese vervolging in die toekoms moet plaasvind.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Plaasmoorde sal nie as prioriteit hanteer word terwyl daar wit/blanke politieke ontleders/akademici dit nie eers ernstig opneem nie. Wat verwag ons. Die tendens sal aanhou terwyl die gepeupel/ontoerekeningsvatbares tot aksie opgesweep word nie. Ek is bevrees dat elke dag ‘n dag nader is dat iemand iewers gaan besluit tot hier en nie verder nie. Om te swyg is ook ‘n antwoord. Ramaphosa laat my aan Biden dink. Albei se wiele spin maar die hamster is laaaankal weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.