Plaasmoorde benadeel almal

Argieffoto: Lorraine Claasen

Deur Christoff van Wyk

Die gruwelikheid van plaasmoorde in Suid-Afrika kry toenemend internasionale dekking en dis tot ’n groot mate te danke aan die volgehoue bewusmakingsveldtogte van organisasies soos AfriForum.

Kallie Kriel en Ernst Roets se besoek aan Amerika het wye reaksie oorsee, maar veral ook op plaaslike vlak, ontlok. Die uitkoms hiervan is egter dikwels dat die krisis rondom plaasmoorde in die agtergrond verdwyn wanneer die kwessie verpolitiseer en gekaap word deur debatte in die liberale media wat dan eerder handel oor ras, ideologie en politiek.

Dr. Heinrich Matthee het in sy jongste nuusbrief van die gesaghebbende publikasie South African Monitor, ses redes verskaf waarom plaasmoorde so ʼn geweldige negatiewe impak op Suid-Afrika as geheel het en wat rolspelers sal baat om sy nugtere redenasies ernstig op te neem.

  1. Plaasmoorde vernietig enige kompeterende landbou voordeel wat Suid-Afrika binne die groter Afrika-konteks mag hê

Internasionale beleidmakers en analiste beskou die stand van lande in Afrika se landbousektor as ’n aanduiding van daardie land se potensiaal om verder op sosio-ekonomiese vlak te ontwikkel. Suid-Afrikaanse boere het in dié opsig – in ag genome die ongunstige klimaat van ’n groot gedeelte van die land – uitsonderlik gevaar. Daardie voordeel wat oor etlike dekades opgebou is, word egter met elke plaasmoord al hoe verder verswak.

  1. Plaasmoorde verswak die landbousektor se bydrae tot die nasionale sowel as plaaslike ekonomie

Die landbou sektor met al sy verwante dienssektore dra 2,5% tot die nasionale bruto binnelandse produk by. Volgens Statistiek Suid-Afrika het die nasionale bruto binnelandse produk in die laaste kwartaal van 2017 met 3,1% gegroei. Die landbousektor se aandeel hieraan was 0,8% wat dit die grootste bydraer maak.

  1. Plaasmoorde lei tot ernstige werksverliese

Die landbousektor verskaf werk aan ongeveer 700 000 mense wat 4,6% van die totale werksmag verteenwoordig en dus die tweede grootste werkverskaffer in die land is naas die vervaardigingsektor. In ag genome die hoë werkloosheidsyfer in die land beteken dit dat die landbousektor ten opsigte van werksverskaffing ’n onmisbare rol speel wat stabiliteit te weeg bring.

  1. Plaasmoorde het ’n beduidende negatiewe impak op provinsiale ekonomieë asook landelike sosiale orde

Meer as 18% van werkgeleenthede in die Wes-Kaap word deur die landbousektor en ander besigheid wat direk hiermee verbind word, verskaf. Die vervaardigingsektor in die Wes-Kaap ontvang meer as 70% van hul besigheid van die landbousektor en Agri-besigheid. Dit is dus te verstane dat enige impak op die landbousektor, veral in provinsies soos die Wes-Kaap, ook wye gevolge vir ander sektore het. Landelike gemeenskappe is gewoonlik ook kleiner gemeenskappe wat sterk op mekaar aangewese is vir maatskaplike- en ekonomiese voortbestaan en wanneer ’n plaasmoord ’n gesin of familie tref, tref dit inderwaarheid almal in die gemeenskap.

  1. Plaasmoorde verswak die vermenigvuldigingsimpak wat groter landbou-uitsette op die sukkelende ekonomie kan hê

Die skakel tussen die landbousektor en die indirekte invloed wat dié sektor op die res van die ekonomie het, is beduidend. Indien die aanvraag na landbou-uitsette met R1 miljoen styg, verhoog dit die gekombineerde aanvraag na uitsette in ander sektore met R2,14 miljoen. Terselfdertyd sal daar vir elke R1 miljoen se waarde wat toegevoeg word in die ekonomie deur landboubedrywighede, ’n verdere R1,81 miljoen se waarde in ander sektore tot die ekonomie bygevoeg word. Dit is verder beduidend dat die landbousektor in die eerste drie kwartale van 2017 die toppresterende sektor was wat groei betref.

  1. Plaasmoorde plaas voedselsekerheid in gedrang

Voedselsekerheid word gedefinieer as die volhoubare toegang tot genoegsame hoeveelhede bekostigbare en voedsame kos. Statistiek Suid-Afrika het bereken dat die tipiese Suid-Afrikaanse huishouding meer as 70% van hul kosbegroting op vier voedselgroepe spandeer, naamlik:

  • Vleis;
  • Brood en verwante graanprodukte;
  • Melk, kaas en eiers; en laastens
  • Groente.

As die netto uitvoer teenoor die netto invoer van hierdie vier groepe bereken word, gee dit ’n goeie aanduiding van hoe selfonderhoudend Suid-Afrika werklik is. Indien hierdie berekening gedoen word, toon dit ’n afwaartse trajek reeds vir die afgelope 20 jaar. Dit beteken dat Suid-Afrika tans nie ’n selfonderhoudende produseerder van die bogenoemde vier voedselgroepe is nie.

Hierteenoor het die Suid-Afrikaanse bevolking sedert 1994 met meer as 20% gegroei tot ’n geraamde 57 miljoen mense en die verwagting is dat hierdie groei in die jare vorentoe nog sal toeneem. Kortliks beteken dit dat voedselsekerheid en die landbousektor se vermoë om bekostigbare voedsel te produseer, reeds op risiko is. Die feit dat die ANC-regering versuim om werk te maak van landelike veiligheid en geen behoorlike bystand aan die boerderygemeenskap verleen nie, is die grootste faktor wat bydra tot hierdie groterwordende krisis.

In sy boek Economics in One Lesson skryf Henry Hazlitt soos volg: “The art of economics consists in looking not merely at the immediate but at the longer effects of any act or policy; it consists in tracing the consequences of that policy not merely for one group but for all groups.

Dit klink dalk voor die hand liggend, maar wanneer daar gekyk word na die kwessie van plaasmoorde en die negatiewe impak wat dit op Suid-Afrika as geheel het, is dit duidelik dat ons politici en beleidmakers die groter prentjie totaal miskyk. En hierdie miskenning strek almal in Suid-Afrika tot nadeel.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mien ·

Dit is baie waar dat plaasmoorde ‘n rimpeleffek het. Soms wonder ek wat is erger, die ekonomie wat geraak word of die emosionele trauma wat die slagoffers en hulle mense moet verwerk. Vra my, ek weet.

Theresa ·

Dankie vir ‘n goeie artikel. Maar, nr 7 ontbreek.
Plaasmoorde ontneem mense van hul geliefdes en is ‘n misdaad wat verfoei word.

Jerry ·

Plaasmoorde benadeel almal, maar dan tog so ook julle buitelandse veldtogte wat buitelandse beleggings in Suid Afrika openlik ontmoedig. Julle groter prentjie inisiatiewe raak n gevaarlike balanseertoertjie wat, as dit verkeerdloop, net nog meer ekonomiese agteruitgang, werkloosheid, plaasmoorde en verdriet kan teweegbring.

Paul ·

Dit gaan dan nou al so verdrietig hier, ons is op ‘n glybaan van 45 grade, ten gronde, erger kan dit sekerlik nie gaan nie. Nou vra ek, as Afriforum se inisiatiewe nie die ANC regering se kortsigtige regeer tot ander sienswyse oorhaal nie, wat tot die behoud en voordeel van almal in die land is, wie gaan daarvoor pa staan?

Etienne Prinsloo ·

Jerry, jy val net vir Afriforum aan. Wat jy sê het nie eers iets met die artikel te doen nie. Die ses punte geld, al bestaan Afriforum nie. Dit is ses punte wat die buiteland optel al weet hulle nie van plaasmoorde nie. En asof jou onvanpaslike reaksie nie erg genoeg is nie, sê jy eintlik ook dat ons moet stilbly oor die moorde sodat die buiteland nie agterkom hier is iets verkeerd in ons land nie. Ag nee man. Jy is eintlik besig om te sê, en hoekom weet ek nie, dat daar nie iets verkeerd is met die moorde nie want jy kon stil gebly het in die geval want die ses punte is die heilige waarheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.