Plaasmoorde word prioriteitsmisdaad

Foto: Diversity Reporter

Foto: Diversity Reporter

Plaasmoorde word prioriteitsmisdaad: Wat beteken dit en gaan dit enige verskil maak?

Die aankondiging dat plaasmoorde vanaf 2016 ’n prioriteitsmisdaad sal wees, is waarskynlik die beste nuus van die jaar. In sy privaat gesprek met AfriForum en tydens die gesamentlike mediakonferensie wat daarop gevolg het, het die waarnemende nasionale polisiekommissaris, lt.genl. Khomotso Phahlane, dit duidelik gemaak dat hulle nie besig is met ’n reklamefoefie nie en dat hulle ten volle daartoe verbind is om die daad by die woord te voeg.

AfriForum beskou dit as ’n reuse-oorwinning. Ons dryf al sedert 2012 aktief ’n veldtog dat plaasmoorde geprioritiseer moet word. Ons het briewe geskryf, konferensies gereël, kransleggings voor die minister se kantoor gehou, betogings gereël en selfs by die Verenigde Nasies (VN) gaan pleit, om net ’n paar van ons inisiatiewe te noem. Ons gee egter geensins voor dat hierdie deurbraak uitsluitlik aan AfriForum te danke is nie. Verskeie organisasies het op hul onderskeie terreine werk gedoen wat van onskatbare waarde is. TLU SA en die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) kan in die besonder hier uitgelig word.

Jy mag maar skepties wees

Die vraag is natuurlik: Wat nou? Mense is skepties oor hierdie aankondiging. “Sien is glo,” sê die een. “As hulle vir so lank niks gedoen het nie, wat laat julle dink dat hulle nou enigiets gaan doen?” vra die ander. Dan is daar ook mense wat vra wat dit nou eintlik beteken. Dit klink so half asof daar net iewers ’n nota op ’n notule gemaak is en nou is plaasmoorde skielik ’n prioriteitsmisdaad.

Hierdie skeptisisme is natuurlik gegrond. Mense leef in die regte wêreld. En in die regte wêreld word hulle op regte plase gekonfronteer met die werklikheid waaroor AfriForum al so lank protesteer: Swak diens aan die publiek, stadige reaksietyd, ondersoeke wat halfhartig gedoen word. Ek sê dit natuurlik met erkenning aan die polisiebeamptes wat steeds uitstekende werk doen en elke dag help om mense se lewens te red. Dit is ook nie asof daar ná die aankondiging ’n honderdduisend polisiebeamptes soos miere uit die polisiekollege gestorm het, gereed om die boere te beveilig nie. Phahlane het self gesê dat die oplossing realisties moet wees en dat dit nie moontlik is om ʼn polisiebeampte op elke plaas te sit nie. Een van die punte wat juis op die betrokke dag deur die kommissaris op die besprekingstafel geplaas is, is die feit dat daar ’n drastiese afname in jong wit mense is wat by die SAPD aansluit. #RenateBarnard #EmploymentEquity.

Nou waarom dan die ekstase oor hierdie deurbraak?

Die aankondiging dat plaasmoorde geprioritiseer word, is ongetwyfeld ’n historiese een. Hoewel ons in geen stadium voorgee dat ’n krisis so ingewikkeld soos plaasmoorde met een mediakonferensie opgelos kan word nie, kan dit wel op medium tot lang termyn verreikende gevolge inhou. Hier is ’n paar redes waarom ek so sê:

  1. Deprioritisering word gebreek

Sedert 2003 is plaasmoorde stelselmatig deur die regering en die polisie gedeprioritiseer. Voor 2003 het die regering self gesê dat plaasmoorde ʼn  prioriteit moet wees. Toe kondig die voormalige president, Thabo Mbeki, in 2003 onverwags aan dat die kommando’s afgeskaf word. Geen redes is hiervoor gegee nie en ons kan aanvaar dat sy redes polities van aard was, want as daar nou ooit ’n sinvolle projek was waaraan staatsgeld bestee is om die publiek se veiligheid te bevorder, was dit die kommando’s. Sedertdien het ons die mees onrusbarende stellings vanuit regeringskringe oor plaasmoorde gehoor, soos dat plaasmoorde nie ’n prioriteit kan wees nie omdat boere moet besef dat hulle nie “goue seuns en dogters is nie”, of dat diegene wat vir die prioritisering van plaasmoorde vra maar net met reklamefoefies besig is en nie ernstig opgeneem moet word nie. Met Phahlane se aankondiging is die traak-my-nieagtige houding op nasionale vlak en die proses van deprioritisering wat vir die afgelope 13 jaar momentum opgebou het, skielik gebreek.

  1. Statistieke word bekendgemaak

In 2007 was daar volgens die polisie se syfers ’n 25%-styging in plaasaanvalle. In reaksie hierop is skielik aangekondig dat geen verdere statistieke vrygestel sal word nie. Daar is selfs in die media gesê dat hulle nie meer hierdie syfers byhou nie. Die verskonings wat hiervoor gebruik word, is glad nie geldig nie. Hierdie stap was, wat ons betref, die finale aanduiding dat plaasmoorde nie ’n prioriteit is nie. Tydens ons vergadering met die kommissaris is die polisie se statistieke in taamlike detail met AfriForum gedeel. Dit op sigself was ’n reusedeurbraak. Of hierdie statistieke saam met die jaarlikse misdaadsyfers gepubliseer sal word, is nog onduidelik, maar wat ons nou weet, is dat die polisie wel hierdie syfers byhou, dat hulle dit nou wel bestudeer en dat hulle bereid is om hierdie syfers met AfriForum te deel in die soeke na ’n oplossing.

  1. Ontleding van die probleem

Die polisie het onder Phahlane se leiding reeds voor ons vergadering begin om die probleem te bekyk. ’n Deel van hierdie ontleding is ook met ons gedeel. Syfers is ontleed. Provinsies en streke is met mekaar vergelyk. Limpopo, KwaZulu Natal en Noordwes is byvoorbeeld as die kwesbaarste streke vir plaasaanvalle geïdentifiseer. Kritieke gebiede (sogenaamde “hotspots”) is uitgelig. Dit sluit onder meer gebiede in soos Brits, Rustenburg, Muldersdrift, Modimolle (Nylstroom) en Letsitele.

  1. Ontleding van polisie-optrede

’n Ontleding is ook gedoen van die polisie se grondvlakreaksie op plaasaanvalle en hul modus operandi in hierdie stadium. Al die onlangse plaasaanvalle is geëvalueer en ’n vorderingsverslag van al hierdie sake is opgestel. Die breë trekke van hierdie verslag is met ons gedeel.

  1. Die strategie word hersien

Ek kan nie eens tel hoeveel keer die polisie se Landelike Beveiligingstrategie (Rural Safety Strategy, algemeen afgekort as RSS) die afgelope paar jaar geopper is as bewyse dat die polisie wel ernstig oor plaasmoorde is nie. Ons kommentaar oor die RSS was nog altyd tweeledig: In die eerste plek is dit ’n goeie plan wat sal help om ’n verskil te maak, maar dit word nie in werking gestel nie. In die tweede plek is daar baie ruimte vir verbetering van die plan. Dit neem veiligheid op landelike gebiede onder die loep. Die groot krisis in landelike gebiede is plaasmoorde – die plan verwys egter nêrens na plaasmoorde nie. Dit is dus ’n goeie, algemene plan, maar die plan is nie noodwendig gerat om plaasmoorde spesifiek te hanteer nie. Tydens ons gesprek het die polisiekommissaris en sy span die RSS self geopper. En raai wat sê hulle? Eerstens: Die status van die inwerkingstelling van die plan is nagegaan en dit blyk dat dit nie oral ewe goed uitgevoer word nie. Tweedens sal daar weer oor die strategie besin moet word. Daar is alreeds sprake daarvan om plaasmoorde daarby in te sluit – dit behels proaktiewe stappe om te verhoed dat dit gebeur en ook reaktiewe stappe wat geneem moet word nadat dit gebeur het.

  1. Aksieplan vir groter sigbaarheid

’n Aksieplan vir groter sigbaarheid is opgestel. In die mediakonferensie was dit duidelik dat die kommissaris nie die detail van hierdie plan bekend wil maak nie en daarom gaan ek dit ook nie hier doen nie. Die detail wat ons gesien het, sal wel ’n verskil maak indien dit op grondvlak in werking gestel word.

  1. Bewusmakingstrategie

Die polisie werk tans aan ’n kommunikasie-en-bemarkingstrategie om die polisie se plaaslike strukture en die gemeenskap in die eerste plek meer bewus te maak van hierdie probleem. Wat spesifiek by hierdie punt belangrik is, is die feit dat voorkomende maatreëls hierby ingesluit word. Die polisie is van voorneme om navorsing in sy eie bronne te doen en veral inligting aan boere te gee oor wat hulle prakties kan doen om die kanse te beperk dat hulle aangeval word, of tydens ’n aanval vermoor sal word.

  1. Skakeling met rolspelers

ʼn Deel van ons frustrasie tot op hede was dat baie van die deure vir ons geslote was en dat ons net deur middel van die media en oor die VN se raadstafels met die regering oor plaasmoorde kon praat. Die polisie het spesifiek in die plan ook voorsiening gemaak daarvoor dat skakeling met rolspelers op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak moet plaasvind. In die vergadering is reeds besluit dat ’n opvolggesprek gereël moet word, waar die onderskeie landbou-unies ook betrek word. Daar is baie instellings en organisasies in plaaslike gemeenskappe (veral veiligheidsnetwerke) wat ’n onskatbare rol kan speel in die stryd teen plaasmoorde. Waar hulle in die verlede grootliks in die duister gelaat is, is die polisie se plan nou om hierdie mense en organisasies by die stryd teen plaasmoorde te betrek.

  1. Huidige en toekomstige voorkomende maatreëls

’n Lys is ook opgestel van voorkomende maatreëls wat tans deur die polisie in werking gestel word en ook moontlike maatreëls wat in die toekoms bygevoeg kan word. Ook hieroor kan ek nie te veel detail gee nie, aangesien die publikasie daarvan kan meebring dat die impak van sodanige maatreëls vervlak. Ek kan wel aankondig dat die polisie ’n lys met ons gedeel het van ten minste tien verskillende korttermyn-inisiatiewe. Dit sluit ’n nasionale veiligheidsberaad in.

  1. Groter samewerking met gemeenskappe

AfriForum sê nog altyd dat ons ’n dubbele strategie teen plaasmoorde moet volg: Aan die een kant moet ons druk op die regering en die polisie plaas om plaasmoorde te prioritiseer. Aan die ander kant kan ons nie agteroorsit en niks doen terwyl ons vir die regering wag om in te gryp nie – ons moet self betrokke raak! Ons het hierdie strategie ook so aan die nasionale polisiekommissaris en al die provinsiale kommissarisse verduidelik, waarop Phahlane dit onmiddellik beklemtoon het dat hierdie strategie die een deel van die legkaart is – die ander deel van die legkaart is die polisie se optrede. Phahlane het verklaar dat die polisie van voorneme is om dieselfde dubbele strategie te volg, maar vanuit ’n polisieperspektief, naamlik: Die polisie moet meer doen om plaasaanvalle en plaasmoorde te voorkom en te hanteer waar dit wel plaasvind, maar die polisie moet ook erken dat hulle hierdie stryd nie alleen kan wen nie en dat hulle die gemeenskap se hulp nodig het. Daarom moet die polisie ruimte bied vir plaaslike gemeenskappe (spesifiek gemeenskapsveiligheidsnetwerke) om ’n groter rol in hierdie verband te speel. ’n Perfekte passing!

Nou goed – maar wat nou?

As jy nog steeds skepties is, sal jy in hierdie stadium vra watter waarborg ons het dat al hierdie planne in die praktyk uitgevoer sal word. Dis ’n geldige vraag en so graag soos wat ons wil, kan ons nie ’n waarborg bied oor iets waaroor ons nie beheer het nie. Wat ons wel met vrymoedigheid kan sê, is dat Phahlane ons van sy voorneme oortuig het om daadwerklik iets te doen om hierdie krisis te hanteer. Wat Phahlane onderskei van sy voorgangers, is dat hy nie ’n politikus is nie, maar ’n beroepspolisieman wat al sedert 1984 in die polisie dien. Hy is diep bewus van die omvang van die probleem en hy het dit in sy privaat gesprek met ons in baie duidelike terme gestel dat hy van voorneme is om hierdie krisis aan te pak.

Beteken dit dat daar nooit weer ’n plaasaanval sal wees nie? Ongelukkig nie. As daar ’n spreekwoordelike silwer koeël was wat alle plaasaanvalle summier kon stopsit, sou ons dit lankal afgevuur het. Die werklikheid is ingewikkeld en die oplossing nog meer.

Maar as alles wat gesê is, uitgevoer word, sal dit vir seker ’n positiewe uitwerking hê. En die goeie nuus is dat AfriForum nie ʼn toeskouer in hierdie stryd is nie, maar ’n aktiewe rolspeler. Die goeie verhouding wat ons nou met die nasionale leierskap van die polisie het en die opvolggesprekke wat gaan plaasvind, impliseer dat ons die proses kan monitor en terugvoer kan gee oor die mate waarin gedoen word wat beloof word.

Een plaasmoord is een te veel. Maar elke plaasmoord wat ons verhoed, is een plaas wat nie sterf nie, een werkgewer wat aanhou om die ekonomie te versterk, een produsent wat aanhou om kos op ons tafels te plaas, een familie wat nie vernietig word nie en een gemeenskap wat nie in rou is nie.

Kom ons doen wat ons kan!

 

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Maria van Dieweeck ·

Geloof, hoop en liefde ls nou nodiger as ooit! Goeie nuus, dankie Afriforum! Mag God jul werk seen. Aan elke boer in ons land: `Hou moed, God wil help en ons ook.

Oopkop ·

Lagwekkend.Ek gaan hom glo maar n miljoen ander mense gaan nie…..
As dit so is dan sal aanranding van n wit persoon op n swarte seker as “Oorlogsmisdaad” verklaar word.
Ons land is seker die land met die meeste en beste soetsappigste stories in die wereld.Dit laat darem die buitelanders giggel….

Theresa ·

Dit sal ‘n deurbraak wees indien dit realiseer. Dankie aan Afriforum wat als probeer om wettig, ordentlik en aanhoudend te probeer red wat te redde is.

John ·

Hierdie aankondiging gaan binnekort getoets word veral as die president die wetsontwerp oor grondonteiening teken. Ons sal sien hoe vinnig reageer die polisie as hulp ontbied word. Moet net nie asem-ophou tot hul arriveer nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.