Plaasterreur raak ons harte

Plaasaanvalle2017-map

Grafika: Verskaf.

Moordenaars het my grootworddorpe se name met bloed besmeer. Boerebloed. Sannieshof, Ottosdal, Leeudoringstad, Wolmaransstad.

Hierdie name klink soos klippe op die sinkdak van my kindertyd se plaashuis as ek die moordnuus hoor. Rampokkers verbrand my herinneringe aan geboue in Lichtenburg, Coligny en Schweizer-Reneke. Delareyville en Bloemhof verval van verwaarlosing.

Hierdie dorpe is my grootwordplekke: gebore op Delareyville, laerskool in Sannieshof, “dorp toe” gegaan in Lichtenburg. Die hartseer nuus maak seer. Die ergste is die wreedaardige moorde, veral op weerlose plaasvroue en oumense. Dít laat mens rooi sien.

Maar die bloedspore word egter landswyd getrap. Tot 6 Junie hierdie jaar, was daar 148 aanvalle op plase. Soveel is vermoor, vermink en verkrag. Ek glo nie meer die stories dat dit “gewone” misdaad is nie. 148 aanvalle in minder as ses maande is nie gewone misdaad nie, dit is terreur. ’n Soort onverklaarde (misdaad)oorlog. Om dit as gewone misdaad af te skryf is om aandadig aan die bloedvergieting te wees. Dit is siek dat ’n wit rassistiese twiet meer opspraak maak as al hierdie boeremoorde saam. Daar is seker nie ’n sentrale plan wat die veldtog dryf nie, maar daar is duidelik ’n sentrale idee wat dit in politieke kodetaal aanmoedig of stilswyend toelaat. Waarom anders sal die nuus dan oor die twiets skreeu en oor hierdie terreur fluister?

Die bestaanskrisis van boere is die dun verspreide, onverdedigbare plase in die uitgestrekte platteland. Ons bly in ’n kontinent waar hongersnood gereeld voorkom, maar hier word boere verguis en verskree en vervreem. Én vermoor. Voedselsekerheid behoort ’n nasionale prioriteit en nie net lippediens te wees nie. Maar dit gaan oor veel meer as net die voedselketting. Boereplase tower vir my beelde op van gasvryheid, boekevat, kampvuurkuiers, familiebyeenkomste en ’n Afrikaanse lewe. Die grond en die gras en die geskiedenis is in plaasname ingeskryf. Boerdery is ’n leefwyse, nie net ’n besigheid nie. Boere se swaarkry is ons almal se swaarkry.

Kettingreaksie

Elke boer wat sterf sit ’n kettingreaksie aan die gang. Die eerste skakel in die voedselketting breek morsaf. ’n Duisend borde word leeg. Tientalle werkers gaan in sinkhuise rondom dorpe sit. ’n Kleinkind word sonder Ouma en Oupa groot. ’n Afrikaanse woord raak stil. ’n Leegstaanplaashuis sonder lag, kuier en gasvryheid. Nog ’n leë stoel by die boerevereniging, ’n oop sitplek in die kerk, een stem minder wat Psalm 23 saamsing, ’n Bybel wat ongeopend bly lê, kleinkinders wat nou oorsee Engels praat, ’n leefwyse wat uitsterf, en ’n traan wat eensaam in die ouetehuis val.

Ek lees dat twee van die drie seuns van ’n boer wat vermoor is reeds in Kanada woon. Hulle was op skool in Lichtenburg. Hulle is nie emigrante nie, hulle is bannelinge. Emigrante trek agter ’n wortel aan, bannelinge vlieg oor ’n stok. Een woord in die Volksdigter Jan F Cilliers se gedig “Dis al” verander voor my oë:

Dis die blond,

dis die blou:

dis die veld,

dis die lug;

en ’n voël draai bowe in eensame vlug –

dis al

Dis ’n banneling gegaan

oor die oseaan,

dis ’n graf in die gras,

dis ’n vallende traan –

dis al.

Vergiftig

Die Suid-Afrikaanse post-1994 omwenteling het soos ’n tsoenami alles in sy pad omskep. Die bestanddele van ’n krisis het stelselmatig soos blokkies van ’n bose legkaart in plek geval. ’n Regerende party wat nie met hul struggle ideologie kan regeer nie. ’n Mooi land wat verander in Zuptastan. ’n Welsynsgedrewe bevolkingsontploffing onder arm mense. Swak skole waar kinders nie leer nie. Verbrokkelde gesinstrukture wat nie waardes oordra nie. Vinnige verstedeliking wat gemeenskappe opbreek. ’n Pap ekonomie. Dorpe sonder dienste, ’n verterende korrupsiekanker, en staatsdienste wat inplof. Politieke beloftes waaraan die ekonomie nie kan voldoen nie. ’n Politieke burgeroorlog wat van die Uniegebou tot in elke stadraadsaal woed. Wedywering met ’n rooier opposisie. Massas onopgeleide onindiensneembare jongmense. Dit alles het ’n geslag sonder hoop, maar met televisiehoë verwagtings geskep. Rustelose ontevredenheid het politieke vulkane soos molshope op ’n grasperk oral oor die land laat oprys. Twee gemeenskappe bly langs, tussen en naby mekaar. Die een het ’n getalleoorwig en oorweldigende politieke mag. Die ander het relatiewe voorspoed. Die een voel ekonomies ongelyk, die ander polities ongelyk. Die een gemeenskap meen dinge bly maar dieselfde as voor 1994. Die ander voel dat hul veiligheid, vryheid en voorspoed vanweë hul velkleur geteiken word. Die meerderheid in die een gemeenskap word oortuig dat die oplossing in die politiek lê. Stem vir ’n beter lewe. Die ander een moet speel volgens die harde spelreëls van ongenaakbare globale mededinging, produktiwiteit en ’n regering wat teen hulle regeer. Werk vir ’n beter lewe.

Politici grawe ou griewe teen wit mense uit om hul ondersteuners in gelid, en hulself in die kussings te hou. Dit alles laat die politiek verskuif na die linkse herverdeling van ander se eiendom en produksie, gemeng met rassenasionalisme en sondebokpolitiek. Die mislukking van hierdie politieke resep vergroot die gaping tussen die beloofde verwagting en die troostelose werklikheid. Dit verskerp verdelinglyne volgens ras en klas. So ontstaan ’n klimaat om ’n verspreide, oorpresterende minderheid te laat lyk soos ’n geregverdigde teiken om te plunder, te verneder en selfs te vermoor. Nie ’n bewysbare, openlike sentrale plan nie, maar ’n stilswyende sameswering waarin “ons” “hulle” mag teiken.

Kultuurkapitaal

Wat hou die toekoms in? Dis noodsaaklik dat boere besef dat daar nie vrede heers nie, maar dat hulle die teiken van terreur is. Hulle sal dringend hul plase, huise en leefwyse daarby moet aanpas. Wie homself nie kan verdedig nie, word aangeval. Boere sal veiligheid moet léwe. Hulle is dit aan hul vroue en kinders én hulself verskuldig.

Maar dis nie genoeg nie. Die probleem is veel groter as net ’n misdaadprobleem, dus sal die oplossing ook groter moet wees as bloot beter veiligheid. Grond(hervormings)wette kan boere se plase afvat, maar dit kan nie hul kulturele kapitaal steel nie. Afrikaners se bestaanskrisis is nie ons klein getalle nie, maar ons dun verspreiding. Soos ander bedreigde groepe in die geskiedenis lê ons oplossing in groter konsentrasie in streeksdorpe, stede en selfs nuwe dorpe en stede. Dit gaan makliker wees om die boere van die plase te red, as die plase van die boere. Die boere is ’n mikrokosmos van die Afrikaner, en wat met hulle gebeur is tekenend van die groter gebeure.

Afrikaners is deur eeue gebrei deur die uitdagings van Afrika. Ons het verwoestende oorloë, uitmergelende droogtes, politieke krisisse, kulturele armoede en ekonomiese rampe oorkom. In hierdie bestaanstryd het ons die kulturele kapitaal opgebou om nie net te oorleef nie, maar om voluit te leef. Ons het al met wêreldklas prestasies uit die diepste krisisse gekom. Ons is deeglik gestaal en toegerus om in enige omstandighede ’n sukses te maak. Soos ons groot denker Van Wyk Louw gesê het, “ons moet die kosbare skat [van ons taal, kultuur en leefwyse] veilig deur die skare dra”. Ons hét dit al gedoen, en ons kan dit weer doen.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

54 Kommentare

jongste oudste gewildste
A

Ons kan, Flip Buys, maar nie alleen nie.

Chris

Dr Buys, dit is werklik n stukkie kommentaar wat baie goed deurdink en gestel is. Dit is die werklikheid. Ons – swart, wit, bruin – het almal gehoop of eerder geglo Suid- Afrika gaan n land van geloof, voorspel, vrede, geluk maar ook realisme wees na 1994. Wit en bruin word nou egter uitgeskuif en gemarginaliseer. Maar ons sal oorkom en oorleef…

Leendert

Ek sien James Myburgh, redakteur van Politicsweb, sê vandag in ‘n artikel genaamd “‘n Gemeenskap wat rassisties mal geraak het”, ons het grotendeels ‘n ras gesentreerde land met ‘n bende-psigose geraak.

PvZ

Kan ons nie net die onverklaarde oorlog, op ‘n manier maar net verklaar kry nie? Waar is die slim mense, hoe kry mens dit reg? As die oorlog verklaar is, dan kry mens buitelandse simpatie. As die oorlog verklaar word, kan ons terug skiet. As die oorlog verklaar word, kan ‘n mens offensief aksie neem in plaas van defensief. As die oorlog verklaar word, kan ons belasting weerhou. Nou befonds ons die weermag wat teen ons veg deur belasting te betaal. Laat ons asb. net die speelveld gelyk maak.

maria van dyk

Daaar is nie n president om te se stop die moorde nie , en om die weermag uit te stuur vir die aan valle op die plase nie, wie en watse president gaan ons help