Plan met matriekuitslae is ANC-foefie

 

Argieffoto

Argieffoto

Die departement van basiese onderwys se plan om die 2014-matriekuitslae net met die eksamen- en identiteitsnommers van kandidate bekend te maak, is ondeursigtig en niks anders as ’n regeringspoging om middelmatigheid te bevorder en die swak prestasie van gr. 12’s in oorwegend wanfunksionele skole te verbloem nie.

Suid-Afrikaners is al vir dekades daaraan gewoond dat die name van topmatrikulante wat uitsonderlike prestasies in die eindeksamen behaal het, landwyd in koerante gepubliseer is waar hulle erkenning vir jare se harde werk en toewyding gekry het. Op dié manier is ook erkenning gegee aan skole wat deurlopend gehalte-onderrig aan leerlinge gee.

Sedert 1994 het die profiel van toppresteerders tot groot verleentheid van die onderwysdepartement egter nie sodanig verander om ’n uitnemende onderwysstelsel te weerspieël nie.

Die land se topleerlinge wat elke jaar die meeste onderskeidings inpalm en universiteitstoelating kry, kom steeds oorwegend uit voormalige model C-skole.

Die gedagte om matriekuitslae net met kandidate se eksamen- en identiteitsnommers vry te stel, laat ernstige vrae ontstaan oor wat die departement se motiewe daarmee is en of dit nie ’n doelbewuste poging is om hierdie tragiese realiteit te verbloem nie.

Die departement is die afgelope paar jaar deur die ANC-gesinde Sasco en Jong Kommuniste Liga geboelie om nie die name van matrikulante in koerante bekend te maak nie, omdat dit kwansuis tot selfmoord lei as kandidate nie hul name daarin sien nie. Maar gaan dit enigsins iets aan hierdie scenario verander as kandidate vanjaar nie hul eksamen- of identiteitsnommer in koerante sien nie?

Die departement se plan is eenvoudig nie deursigtig nie. Dit is ’n doelbewuste poging om die ware identiteit van toppresteerders én die skole waaruit hulle kom eerder te verswyg.

Die algemene publiek kan maklik mislei word deur die redes wat die departement vir die jongste voorstel aanvoer. In werklikheid is die departement en ANC-regering egter besig om middelmatigheid te bevorder en te poog om alle matrikulante tot dieselfde vlak af te trek.

Die onderliggende boodskap aan die meer as 550 000 kandidate wat die eksamen afgelê het, is dus eintlik dieselfde: Dit maak nie saak of jy ’n gemiddeld van 40% of 90% behaal het nie. Vir ons is jy en jou skool net ’n nommer in die groot see van middelmatigheid….

En nee, dit is nie vir die departement gesond om verdienstelikheid te erken of te bevorder nie, want net enkeles voldoen hieraan…

’n Identiteitsnommer is presies dít wat dit is – ’n reeks nommers in ’n groen boekie wat jou op presies dieselfde vlak trek as 50 miljoen mense wat in dieselfde land woon.

Vanjaar se matrikulante wat hard gewerk het en dalk nou nie die nodige erkenning gaan kry deur hul name en dié van hul skole in koerante te sien nie, moet egter nie in sak en as gaan sit nie.

Hulle moet onthou: In die skool van die lewe werk dit steeds anders. Jou toekomstige werkgewer gaan nie eerste kyk of jy in Mei of September gebore is nie, maar eerder of jy jou matriek met ’n eersteklas geslaag het.

Matrikulante moet bly glo dat harde werk beloon word en mag nie toelaat dat enigiemand, selfs die onderwysdepartement, hulle tot ’n blote nommer reduseer nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Paul ·

Is daar aangedui dat dit nie meer per skool gedoen sal word nie?

In die persverklaring van die departement staan nie dat die uitslae nie meer per skool gepubliseer sal word nie.

Hannelie ·

Ek stem absoluut saam met Alet Rademeyer! ‘n Vraag wat net by my opkom, toe ek die berig lees! As die motief van die ANC regering duidelik is in hierdie manier van doen, moet dit dan nie eerder “deursigtig” wees as “ondeursigtig” nie?

Henry ·

Daar is seker geen wet of regulasie wat ‘n skool verhoed om al hul top presteerders se besonderhede en foto’s aan die media te verskaf nie, of hoe?

Terselfdertyd kan daar inligting verskaf word oor die aantal matrieks wat geslaag het, persentasie geslaagdes ens ens…

Voorstelletjie ·

Ek voel steeds om puik Afrikaanse matrikulante se vreugdes saam met hulle te deel. Hoekom nader Maroelamedia nie die Afrikaanse skole se hoofde en ouers van potensiële presteerders om hierdie tradisie in ons eie gemeenskappe voort te sit nie? Ek het ‘n vuil gevoel Beeld sal dit in elk geval nie wil doen nie;-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.