Plunderstaat!

Die regering het die ramp geword wat ons in dié toestand geplaas het.

ʼn Pandemie tref Suid-Afrika. Covid-19 en regulasies ontwrig ons lewens op elke vlak. Mense kry swaar. Baie het nie kos om te eet nie en duisende kospakkies word uitgedeel. Vryhede word beperk. Kinders kan nie skool toe gaan nie. Hulle raak agter en angstig. Maskers bedek ons gesigsuitdrukkings. Emosies word liewer weggesteek. Besighede – veral in toerisme, die gasvryheidsbedryf en die kunste – is op hul knieë. Mense word baie siek en talle sterf. Facebook kondig die gereelde doodsberigte aan. Eers hospitaal, dan ventilator, dan die dood. Familielede kan nie siekes besoek of langs ʼn sterfbed staan nie. Daar is ongekende hartseer en dit is ʼn traumatiese tyd vir ʼn samelewing.

“Help!” roep die burgers. Fondse word beskikbaar gestel. Dit is mos wat ʼn staat in ʼn ramptoestand moet doen. ʼn Miljard hier en ʼn miljard daar. Waar kom al die geld dan nou vandaan?

Dit is egter nie hulpfondse nie, maar plunderfondse. Waar gaan al die geld heen?

Die spesiale ondersoekeenheid ondersoek Covid-19-kontrakte. Tweederdes daarvan is onreëlmatig. Daar word 5 467 kontrakte ondersoek wat aan 3 066 diensverskaffers toegeken is. Van die 4 549 kontrakte wat reeds ondersoek is, is 2 803 onreëlmatig. Nog ondersoeke word gedoen. Bedrog beloop waarskynlik miljarde.

Mense gaan deur ʼn reusekrisis en die hulp word gesteel. Nóg en nóg word deur die plunderaars vergaar. Regeringsamptenare deel die buit met hulself, vriende, familie – ʼn regering het ʼn rowerspelonk geword.

Die grootste krisis tref ons, en ons regering se mense steel en hul kamerade kry hul deel. “Die demokrasie het ons vrygemaak!” jubel die plunderaars. “Dis nóú ons tyd om te eet.”

“My brother is hungry,” sê die plunderaar aan hom wat moet tender.

Hulle eet waansinnig voort. Die gulsigheid verslind hulle. Hulle walg ons wat aanskou, maar dit pla hulle skynbaar nie.

Dit is geld wat mense se lewens moes red. Anders gestel, die boewe se diefstal het mense doodgemaak.

Dit is die laagste stuk moraliteit wat regeringsamptenare, selfs tot op ministeriële vlak, kon toon. ʼn Regering met ʼn greintjie selfrespek en ʼn klein bietjie sin vir moraliteit sou bedank het. Ons regering regeer nog fluks. President Cyril Ramaphosa is ferm: “Sies vir julle, dis al weer nie mooi nie …”

Hierdie stelselmatige korrupsie wat selfs goedere van mense in hospitaalbeddens steel, is ʼn ramptoestand.

Vir hierdie ramptoestand het ons spesiale regulasies nodig wat die plunderaars verantwoordbaar hou, aankla, vervolg en lank tronk toe stuur.

Spesiale howe, openbare sittings, swaarder strawwe, makliker private vervolging, ondersoekers en aanklaers uit die privaat sektor. Maak van die spul ʼn voorbeeld.

Ons regering kan egter nie. Hulle het die spelonk geword waaruit plundertogte kan plaasvind.

Plunderstaat!

Dit is dié ramp wat ons in hierdie toestand geplaas het.

Dis hoekom ons meer moet sélf … Vinniger en groter.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

MT ·

Natuurlik sal enige regdenkende persoon saam stem met Dirk se besware.

Maar ek moet tog my misnoee uitspreek teenoor Dirk dat hy steeds voortgaan om na hierdie gewetenlose plunderbende as ‘n sg. regering te verwys.

Soortgelyk aan Somalie, het Suid-Afrika nie werklik ‘n regering nie, maar eerder ‘n amptenary wat vanuit Luthuli huis ontplooi en bestuur word. Verkiesings is duur sensusopnames, howe is volledig getransformeer, misdaad is formele beroepskeuse, en die Westerse komponent en inslag van Suid-Afrika le in skerwe langs ‘n rivier van rou riool en stink, lee beloftes.

Al wat nog oorbly, is om die hamer-en-sekel voor die afgebrande parlementsgeboue te hys. Onderstebo, natuurlik.

Lourens CFG ·

Ek sal eerder die “pirate” vlag hys.
Jy weet, “pirates of south africa”.

groenboer ·

Laat my bietjie dink aan dardie kortverhaal van Jan Rabie, “Drie Kaalkoppe Eet Tesame.”…

annie ·

Dirk se laaste sin klink soos Marais se Winternag se laaste reël… Ons het nou ‘n volkie geword wat dag na dag met ons ‘plakkate’ in die strate stap… Dieselfde rampe en ellende en vrae met g’n einde of oplossings nie. Is dit die einde van ons as Afrikaners… na drie eeue… soos die Romeine.

casper ·

Terroriste aan bewind sedert 1994 – Wat anders verwag ons???

Charl ·

Ek iees elke dag mense se kommenteaar en alles is net negatief…met goeie reg maar instede daarvan om net te murmereer kom ons doen dan iets daadwerkliks aan hierdie gemors, laat ons as blanke boerevolk vir eens weer saamstaan en opstaan en tande wys vir die kriminele wat ons land regeer !! Organiseer optogte, veldtogte en boikotaksies en laat ons ons stem weer laat hoor soos van ouds ”En hoor jy die magtige dreuning…die lied van ‘n volk se ontwaking”,,,of het ons te slapgat geraak in ons gemaksones ?

Annatjie ·

Reel optogte………… En wie daag op? jammer maar ons mense het lou geword.

Hendrik ·

Ons is al lankal besig met ‘n eie gemeenskap te bou en dit gaan baie goed. jy kan maar optogte, veldtogte en bpikotaksies reel terwyl ons elke dag vorder met ons selfregeer gemeenskap. Net buite Pretoria en as jy nie ‘n Boere-Afrikaner is nie moet nie kom nie,

kaplyn ·

Soos Dirk Herman die berig afsluit: “Dis hoekom ons meer moet self…. Vinniger en groter” Ek wil daarby aansluit uit 2 SAM 10:12 (53 vertaling) “Wees sterk en laat ons, ons self sterk hou terwille van ons volk en van die stede van ons God. Laat God dan doen wat Hy goed vind in sy oë.”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.