Podlitiek: Zuma speel vuil, staatsrede laat ons huil

Opgestel deur die Podlitiek-span

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Sandile Ndlovu/Pool)

Wat is die groot verskil tussen ’n president, ’n koning, en ’n tiran? Hierdie vraag staan sentraal tot die grootste en eerste storie wat hierdie week aan die orde is op Podlitiek, die grootste Afrikaanse politieke podsending. Met Daniel Eloff, Ernst van Zyl en Paul Maritz agter die mikrofoon, word die groot vrae gevra, en antwoorde daarop telkens gewaag.

Oudpres. Jacob Zuma het die nasie geskok deur onlangs te weier om voor adjunkhoofregter Raymond Zondo se veelbesproke Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te verskyn. Zondo het daarop aangedring dat Zuma in hegtenis geneem word, maar tot dusver het geen polisieman die bravade gehad om Nkandla binne te ry en die voormalige president tronkwaarts te lei nie. Wat staan regter Zondo en president Cyril Ramaphosa te doen? Doen hulle niks, dan bewys hulle sekerlik dat korrupsie koning gekraai het; doen hulle iets, dan verdeel hulle dalk hul party. Podlitiek dink so bietjie hardop oor hierdie netelige kwessie.

Volgende kom Eskom se voorgestelde 15%-tariefverhoging aan die beurt. Die Podlitiek-span is ontsteld, maar nie geskok nie – om pryse te verhoog na hartelus is immers die eerste kenmerk van ’n monopolis, soos wat Eskom inderdaad is. Wat is wel die toekomsplan ten opsigte van elektrisiteit? ’n Paar alternatiewe word bespreek…

Die derde storie is die mees vervelige storie van die week – die staatsrede. Pres. Ramaphosa was in die verlede vol groot planne en drome met sy staatsrede, maar hierdie jaar het hy en sy span aangevoer dat die doel van die staatsrede eerder is om terug te kyk na die verlede… Nou ja, oor die afgelope jaar, en oor die vooruitsigte van Suid-Afrika kan die Podlitiek-span maar net een ding opmerk: #OnsMoetSelf.

Podlitiek lewer nie die nuus nie, hulle maak dit. Luister Podlitiek.

  • Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B-Man ·

Ek is bly jy’s bly dat ek lewendig ingeskakel het. Ek hoop alle luisteraars is lewendig wanneer hulle inskakel – my poging tot “ontnonsing”. Ek geniet julle “regstreekse” program en is bly julle (en ek ook) is jong, blanke mans wat besluit het om hier te bly en iets te doen aan ons RSA-situasie. Dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.