Poetin: Held of skurk?

 

Wladimir-Poetin-president-van-Rusland-Foto-Rusland-regeringskantoor-

Pres. Wladimir Poetin van Rusland.

Daar was heelwat reaksie op die artikel wat ek verlede week op Maroela Media se webwerf oor pres. Wladimir Poetin geskryf het. Sommige van dié wat met my verskil, het dit waardig gedoen; ander nie.

’n Gemeenskaplike kenmerk van die kritici se reaksies is dat dit dikwels op misverstande en wanspersepsies berus. In dié artikel wil ek vandag enkele daarvan opklaar.

Is Poetin ’n “onskuldige” Russiese nasionalis?

’n Russiese nasionalis is hy beslis, en daarmee is daar in beginsel niks verkeerd nie. Hy wil Rusland se status as groot moondheid, wat hy met die uiteenval van die ou Sowjetunie in 1991 verloor het, herstel, en respek in die res van die wêreld afdwing.

Die probleem is die manier waarop hy dit wil regkry.

Het Poetin die Krim twee jaar gelede onregmatig beset?

Die antwoord hierop moet genuanseerd wees.

Die Krim is pas in die agtiende eeu deur tsarina Catharina die Grote beset, wat die oorspronklike bewoners, die Krim-Tartare, deur grootskaalse Russiese immigrasie onderploeg het. Dit het vir alle praktiese doeleindes ’n Russiese gebied geword.

In 1954 het die destydse Sowjet-leier, Nikita Chroesjtsjof (’n gebore Oekraïner), die Krim van Rusland afgesny en aan die Oekraïne – formeel ’n deelrepubliek van die USSR – present gegee. Destyds het dit nie eintlik saak gemaak nie, want niemand het gedroom dat dié supermoondheid uiteen sou val nie. Maar toe dit wel gebeur, het die Russiese meerderheid in die Krim op ’n dag wakker geword in ’n ander land – die Oekraïne.

’n Mens sou dus kon sê dat Rusland die morele reg op die Krim het, maar kragtens die volkereg was dit Oekraïense gebied. Streng volgens dié volkereg was die Russiese besetting onregmatig.

Het Poetin die Krim binnegeval?

Op ’n dag het swaar bewapende “groen mannetjies”, soos hulle ietwat grappenderwys genoem is, skielik opgeduik en belangrike sleutelpunte in die hoofstad, Sewastopol, en ander plekke beset. Hulle het uniforms sonder kentekens gedra, maar later het geblyk dat hulle Russiese troepe was.

Kragtens ’n verdrag tussen die twee lande het Rusland die reg gehad om soldate binne die grense van sy vlootbasis by Sewastopol en nog een of twee ander basisse aan te hou, maar nie daarbuite nie. Bowendien het ooggetuies gesien hoe Russiese troepe oor die Swart See na die skiereiland aangevoer word.

Daar kan dus geen twyfel wees nie. Rusland het die Krim binnegeval – aanvanklik klandestien. Dit het almal onkant betrap, en toe die onsekerheid verdwyn, was dit te laat.

Poetin het ’n paar maande later self in ’n onderhoud erken dat hy sy weermag vir die taak gebruik het.

Het die Krim-inwoners dit goedgekeur?

’n Referendum is inderdaad georganiseer. Volgens die amptelike uitslag het 97% van die kiesers die Russiese anneksering goedgekeur.

Maar daar is enkele probleme hiermee. Kort ná die uitslag het die Russiese amptelike Menseregteraad – blykbaar per ongeluk – ’n berig op sy webwerf geplaas waarin gesê is die opkoms was slegs 30%. Dis binne minute weer verwyder.

Ten tweede het ’n onafhanklike peiling voor die anneksering gewys dat 41% van die ondervraagdes by Rusland wou aansluit (The Guardian, 17.3.2014). Maar goed, dis net ’n peiling.

Belangriker is die etniese samestelling van die Krim-bevolking. Volgens ’n berig op die BBC se webwerf (geplaas op 11.3.2014) is 58% van die bevolking etniese Russe, 24% is Oekraïners en 12% is van die oorspronklike Krim-Tartare.

Dis logies om te aanvaar dat die etniese Russe in oorweldigende meerderheid vír die anneksering sou stem en die Oekraïners daarteen. Aangesien die Russe die Tartare deur die eeue wreed verdruk het, is dit logies dat ook húlle nee sou gestem het.

By ’n stempersentasie van 100 sou ’n klein meerderheid dus Ja gestem het. As die Oekraïners en Tartare, soos beweer word, die referendum geboikot het, is die amptelike uitslag denkbaar.

’n Derde probleem is dat die referendum onder die wakende oë van die Russiese weermag gehou is. Neutrale internasionale waarnemers is nie toegelaat nie. Daar is geen manier waarop die stemmery vry en regverdig genoem kan word nie.

Het Navo beloof om nie ooswaarts uit te brei nie?

Dis ’n belangrike vraag, want Poetin-ondersteuners beweer dit dikwels wanneer hulle sê sy inmenging in die Oekraïne is verdedigend van aard en in reaksie op verbreekte beloftes van die Weste. Ook hier is die waarheid genuanseerd.

Die Amerikaanse historikus prof. Mary Elise Sarotte (Harvard) het al die argiefdokumente in Washington, Berlyn en Moskou oor die saak geraadpleeg. In ’n artikel in die gesaghebbende akademiese tydskrif Foreign Affairs (September/Oktober 2014) kom sy tot die gevolgtrekking dat die Amerikaanse minister van buitelandse sake, James Baker, asook die Wes-Duitse bondskanselier, Helmut Kohl, inderdaad mondeling aan pres. Michail Gorbatsjof gevra het of hy ’n ooswaartse uitbreiding van Navo na die voormalige Oos-Duitsland sou goedkeur. Gorbatsjof het negatief geantwoord, en Baker en Kohl het hom nie teengegaan nie.

Daarna het pres. George Bush senior en dié se raadgewers in Washington anders geoordeel. Hoe kan jy net die helfte van ’n land deel van Navo laat word, wou hulle weet. En bowendien, het hulle geredeneer, óns het die Koue Oorlog gewen; ons kan mos nou nie dat die ander kant te veel voordeel trek nie!

Daarby het dit gebly. Gorbatsjof het geen formele belofte gekry dat Navo nié ooswaarts sou uitbrei nie. Navo-lidmaatskap van Pole, Hongarye, Tsjeggië en die Baltiese state het nooit eens ter sprake gekom nie.

Is Poetin ’n demokraat?

Die antwoord is maklik: Nee. Hy is stelselmatig besig om sy teenstanders almal op die een of ander manier uit die weg te ruim, pers- en spraakvryheid te beperk en die regbank onder sy gesag te bring.

Trouens, hy verhef die diktator Josef Stalin – saam met Adolf Hitler en Mao Zedong die grootste misdadiger van die 20ste eeu – tot held nadat dié selfs in die Sowjet-tyd in ongenade verval het.

Dit is gevolglik diep ironies dat Poetin se Afrikaner-ondersteuners in dieselfde loopgraaf as min. Blade Nzimande en sy kommuniste lê.

Dus: Soos met alle dinge, is die waarheid oor Poetin ingewikkeld. Hy is geen held nie. Maar ook nie die wêreld se grootste skurk nie.

En nee, dit alles beteken nie dat Westerse politici sonder sonde is nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

johny ·

Ruslland is deel van Brics.En Suid Afrika volg rusland en ander brics lande se voorbeeld omdat hy ook deel van brics is.Kommunisme . is hoog op die agenda in die brics lande..En gaan kyk wat behels die kommunisme se houding teen oor die westerse lande..Ek kan baie baie dinge se oor kommunisme.Godsdiens .Vryheid van spraak.onderdrukking van die minderheids groepe te veel om te noem Breek hulle geskiedenis af . Val hulle taal aan.Peuter met uitslae van verkiesings.ens BRICS is Brasilie .Rusland Indie. China. .Suid Afrika

TTh ·

Jou aannames en afleidings is nie akkuraat nie, enige westerse bron van inligting is vandag verdag en deesdae meestal sonder feite. Poetin is ‘n baie skerp leier en nader aan ‘n demokraat as Obama. Miskien moet jy dink om nie dieselfde denkpatroon te volg ten opsigte van die verlede en vandag se situasie daarin te probeer regverdig nie. Dit is tans SA se grootste probleem. Die tartare het derduisende russe vermoor in die verlede vir oenskynlik geen regverdige rede nie, dit is net logies dat die russe uiteindelik die tartare sou vernietig. NAVO het teen sy ooreenkoms opgetree en die bevolking van die Krim gebied wou terug aansluit by Rusland. Die Oekraine is omvergewerp deur die VSA en sy bondgenote, groot hoeveelhede goud is daarna gesteel en dit volg die program wat die VSA oral in die wereld volg om ‘n land te destabiliseer en dan te plunder, hetsy van goud reserwes of olie (soos met SA). Nee wat ek het absoluut respek vir Poetin en geen respek vir Merkel, Holland, Cameron, Zuma en Obama nie. Poetin is die wereld se enigste held op die oomblik deurdat Rusland ISIS stelsematig effektief uitwis, en deurdat hy die VSA se gemene spelpatroon reeds hokgeslaan het en terselfdertyd sy land se ekonomie opstel vir sukses te midde van die weste se pogings om dit ook te vernietig … ek haal my hoed af vir Poetin !!!

Rudolf ·

Jy meen Poetin stel Rusland se ekonomie op vir sukses? Ek doen besigheid daar en die Roebel is die swakste ooit, hulle is markte is afgegradeer en met die swak olieprys lyk die toekoms onseker. Jammer my vriend maar ek dink jy is kop in die wolke oor die diktator wat homself verryk, sy opposisie uitwis en sy mense aan die pen laat ry.

John ·

Stem. Die VSA speel al die afgelope 100 jaar diktator en maak wat hulle wil.

charmaine ·

Dit sou so gaaf gewees het om hom vir jaar as SA president te kon gebruik. Net om die vloer met die hudige groot koppe te vee.

Trolle ·

As jou USA nie hulle neus in Ukrainia se sake ingedruk het nie sou Crimia nog steeds deel gewees het van Ukrainia.Wat moes Mnr.Putin doen maar net los dat die Russe wat daar woon almal vermoor word?So jy stem dan saam dat die ANC ons maar almal vermoor hier want ons hoort ook mos kamtig nie hier nie,dink bietjie verder ou maat en hou op om iemand te probeer afbreek wat niks aan jou gedoen het nie.Rusland kan nog n ware vriend raak vir ons Afrikaners in Suid Afrika want hy het goeie waardes en is nie n tweegesig soos die USA wat net mense gebruik vir eie gewin en hulle dan wegooi vir die krokkedile nie.

Johan 2 ·

Dankie Trolle. Goed gestel…en regtig Hitler…wat het hy met enigeiets uit te maak, maar net nog n simbool wat die weste uit verband geruk het(terwyl hy homself nie kon verdedog nie), volgende gaan hy vir ons vertel wat se held Nelson was.

Henry ·

In aansluiting by TTH en Trolle hierbo.
‘n Warmwater hawe vir Rusland is/was nog altyd die hoogste prioriteit vir alle Russiese regimes deur die eeue heen.
Hoe op dees aarde kan ‘n groot moondheid met al daardie hulpbronne vasgekeer sit, omdat hulle van koue Noordsee hawens soos Vladiswostok en andere afhanklik is om hul self te beskerm, of handel te dryf? Absurd om die feit te ignoreer..
Vanuit ‘n Russiese oogpunt – ene wat eeue der eeue bekend is – kan die warmwater hawens van die Swart See mos nooit in die hande van die teenstanders val nie. Dit sal die einde van Rusland beteken. Dit is tog heel logies, of hoe?
Poetin en die deeglike opleiding wat hy oor ‘n baie lang tyd as ‘n senior lid (kolonel) van die voormalige KGB ontvang het, is soos te verwagte ‘n paar ligjare voor die poppe wat as staatshoofde in die Weste rond trippel en strompel. Sy optredes word ondersteun deur goeie inligting oor die teenstander en fyn berekende optredes wat maksimum voordeel vir Rusland verseker.
‘n Ou skaakspeler in die beste Russiese tradisie.
Is maar hoe dit is.

John ·

Rusland het afgesien van kommunisme maar van sy inwoners en ‘n hele paar ander lande, selfs Duitsland onder Hitler, het sosialisme geinkorporeer omdat dit ‘n magtige wapen is om ‘n land se inwoners daarvan te oortuig dat verdeling van rykdom die antwoord vir armoede is.; dat die oorsaak van ‘n land se probleme altyd aan iemand anders se aksies te wyte is. Die VSA se ekonomie is grootliks geskoei op wapenvervaardiging en millitere eskapades. NAVO, eintlik maar die handperd van die VSA, doen absoluut niks, buite om rond te trek met groot vertoon om sodoende almal te laaf glo hy is die magtige beskermer van alle goeie wereldryke is. Natuurlik moet daar ‘n vyand wees want waarom anders sou soveel geld aan sulke massiewe wapentoerusting en soldate gespandeer word. Die VSA soek gedurig skoor en beskuldig lande links en regs van erge oortredinge. Net sy fouteer nooit. As Hillary Clinton president word, gaan dinge wild raak. President Obama was slim genoeg om by rooilgte te stop. Sy gaan nie.

chrisp ·

John.
Ek dink sy gaan president word.

TTh,Trolle, Henry en John. Mooi gestel.

chrisp ·

Leopold

Is Putin ‘n “onskuldige” Russiese nasionalis?
Nasionalis is hy verseker, “onskuldig” hang uitsluitlik af watse bril jy deur kyk en wat jy onder onskuldig verstaan.

Het Putin die Krim onmatig beset?
Morele reg volkereg kies een maar as jy demokrasie predik van elke verhoog af soos die VSA doen bly dan daarby.Nie net wanneer dit jou pas nie dit is mos ‘n beginsel saak by die weste, of verstaan ek verkeerd?
As jy demokrasie gebruik as basis, is die antwoord dus nee(soos die uitslag bepaal het).

Het Putin die Krim binnegeval?
In my opinie ja (nieteenstaande baie bronne wat dit anders het,ek praat van die land en nie die vlootbassise nie). Ek wil graag byvoeg ,ek verstaan sy optrede.

Het die Krim inwoners dit goedgekeur?
Demokrasie is weer ter sprake dws Ja.Ek sou graag wou weet wie hierdie “neutrale internasionale waarnemers” sou wees. Met ons eie referendum voor 1994 is daar ook sprake van ongeruimdhede.Die verskil is egter dat dit tog duidelik is dat die pro Russiese stem sou wen in die geval.

Het Navo beloof om nie ooswaarts uit te brei nie?
Ja hulle het.
Jy stel dit ook so.As die Russe nie eens Navo uitbreiding wou goedkeur na die gewese Oos-Duitsland nie is dit mos logies dat dit soveel te meer sal geld vir lande soos Pole,Hongarye en die res .
Indien George Bush senior na sy raadgewers geluister het het dit mos niks uit te waai of dit aan Rusland belowe is al dan nie.Ek sou dink dat jou woord goed genoeg is.
Die vraag moet ook wees hoekom wil hulle ooswaards uitbrei? Dit terwyl hulle weet Rusland is sensitief vir NAVO wat eintlik geen vyand het nie behalwe hul magsbehepte houding(Warsaw is mos nie meer nie).

Is Putin ‘n demokraat.
Stem saam nee.Is die VSA se groot bondgenoot in die midde ooste(Saudi Arabie) demokrate? So ook baie van sy “venote”Verseker minder as Putin.Dit gaan dus nie oor demokrasie nie.
Het die VSA nog spraakvryheid? Dit word reeds ingekort onthou menseregte moet ook onderhou word.Die lyne is al so dof dat gin mens meer weet wat jy mag en nie mag se nie wat nog van skryf.
Larry King,Jesse Ventura het ook gese dat hul by RT nog nooit voorgeskryf was nie.
Wat die Adolf Hitler aanbetref .Hoekom het hulle(weste) van juis natzi groepe gebruik gemaak in die omverwerping van die Ukraiene?Daar is bewyse waar mense in ‘n gebou deur hulle verbrand is.
Die vraag kan dan met reg gevra word is die meeste westerse leiers demokrate?

Hierdie is vir my logiese vrae wat niemand beantwoord nie.
Hoekom wil NAVO uitbrei en wie bedreig hulle?
Hoekom is NAVO en die VSA verantwoordelik vir bykans al die oorloe tans?
Hoekom is demokrasie net belangrik waar geld gemaak kan word?
Hoekom word die weste maar veral Britanje en Amerika geglo nadat hulle so veel keer gelieg het(wapens van massa vernieteging)?
Waar het Rusland hom gewys as die muishond van die wereld, wat die weste hom so graag wil voorgee om te wees?
Hoekom bewys hulle nie Putin se bewyse waar Turkye Isis olie koop en verkoop as leuns nie?
Hoekom sukkel die VSA al bykans ‘n jaar lank om isis te vernietig(met die beste weermag,meeste geld),terwyl Rusland dit ‘n paar maande vat?Die weste het nie eens een mm grond gebied oorgeneem nie,dit is glad nie logies nie.
Is dit moontlik dat die VSA die olie goedkoop aankoop?
Hoekom hou die VSA aan met die “gematige rebelle” in Sirie? Dit nadat hulle die 500 miljoen USD program wat minder as 80 rebelle opgelei het, gestop het(waarvan die meeste nog weggehardloop of van opinie verander het) ?Waar is hulle ,wie is hulle en bestaan hulle wreklik? Laaste wat ek van gelees het was daar 5 van hulle.

My opinie is dat hierdie gaan oorvloei in ‘n geweldige oorlog waarvan Navo en die VSA spesifiek die argitekte van is.Rusland het nie die gemors begin nie Navo en die VSA het.
Putin reageer en maak planne omdat hy geen keuse het nie.Hy gaan verseker nie sy land oorgee aan die liberale,onsedelike,waardeloose gemors wat die weste geword het nie.Dit het hy tog duidelik vanaf verskeie podiums verkondig deur te se, hy wil nie die res van die wereld russe maak nie maar niemand gaan russe voorskryf wat om te wees nie.

Henry Kissinger het nie verniet gese dit is onafwendbaar nie en net een groot supermoontheid sal hieruit vloei.

So die “newe”RSA is dalk net ‘n seen want wie sou ons ou weermaggie wil betrek by so ‘n konflik? Terwyl ons op die stadium wat ons die vierde beste in die wereld was verseker betrokke sou raak

Frans ·

Lande sluit vrywillig by NATO aan.Niemand word gedwing nie.Die rede is dat Rusland
naas die VSA oor die gedugste weermag beskik en lag lag enige republiek wat voorheen
deel was van die USSR onder stof sal loop en geen westerse land ‘n poging sal aanwend om
dit te keer nie.

Omdat Nato ‘n beleid het van een vir almal en almal vir een is dit dus ‘n magsewewigorganisasie. Die Arab Spring het nie in die VSA begin nie en was daar vir
duisende jare konflik in die Midde Ooste. Dink maar aan die Iran-Irak oorlog wat van 1980 tot 1988 geduur het.Die gesamentlike dodetal was ver oor die 300 000 met 400 000 gewondes en een van die langste oorloe tussen twee ontwikkelende lande.

chrisp ·

Frans,
Ek het my kommentaar nou vir die derde keer gestuur.
Gister twee keer.
Ongelooflik.

chrisp ·

Frans.
Ek haal nou gedeeltes uit my skrywe indien ek erens woorde gebruik wat taboe is. Maroela plaas dit nie en ek weet nie hoekom nie.

Die verkose regering van die Ukraine wou nie by NAVO aansluit nie .Die VSA help deur oa Nazi groepe om die regering omvertewerp en jou werklik waar die nuwe regering vra om deel van Navo te wees? En jy se niemand word gedwing nie?

Ek gaan jou nou ‘n naam gee en dan gaan kyk jy wat die Generaal te se het asb.Onthou tot vandag toe het niemand bewys dat hy hier lieg nie.Ek weet ook van geen persoon wat hom oor die uitlatings aanvat nie.Gaan kyk gerus verder na sy getuigskrif en agtergrond .
Tik die in by die YouTube soekvenster Plans for Middle East – U.S. Army Gen. Wesley Clark

Generaal Wesley Clark as ek reg is, was hy hoof van die VSA se weermag en later die hoof van die NAVO magte in Europa.Hy weet dus redelik wat gebeur het en wat aangaan.Hy is verseker nie ‘n liggewig nie en het ook gestaan as presidentskandidaat.

ET ·

Putin jou yster!!
Dis die enigste supermoontheid leier wat nog morele waarde en standarde het. Hy baklei vir elke Rus. Tyd dat ons Afrikaners ook so leier kry!!??

Simon ·

“diep ironies dat Poetin se Afrikaner ondersteuners in dieselfde loopgraaf as min. Blade Nzimande en sy kommuniste lê”

B.g. verwysing na loopgraaf het my laat dink, tydens die Boere oorlog, toe Brittanje (en gevolglik Amerika ens.) die Afrikaner, se vyand was, was die Russe ons vriende en het inderdaad ook langs die Afrikaner in die loopgraaf gelê tydens die Boere oorlog.

Daarna, toe die Afrikaner, Britanje en veral Amerika se skoothond geword het tydens die koue oorlog, en die Afrikaner “proxy” oorloë namens “die Weste” teen Rusland se skoothonde in Afrika baklei het, was die Afrikaner wel Rusland, of dalk eerder kommunisme se vyand (moontlik het Rusiese burgers wel anders en steeds positief gedink oor die Afrikaner). Ironies het Amerika, seker maar tipies, die Afrikaner in die rug geskop toe sy dienste nie meer nodig was nie.

So was die Russe teen die Afrikaner spesifiek gekant of eerder die Afrikaner se verhouding met die lande wat vyandig teenoor Rusland is?

Trolle ·

Putin is die enigste leier nou in die wereld wat baklei vir die voortbestaan van die wit ras,die weste baklei vir moslem regte,sal nie verbaas wees as Europe eendag n moslem land gaan wees nie.Dit lyk of Europe veruil is vir die olie in hulle lande.Kan iemand my asb verkeerd bewys,want ek sal beter voel as daar nog een is.

Johan 2 ·

Trolle, ek sal ook beter voel maar dan sal ek my ook aan die neus moet laat ronlei deur die westerse massa media soos sommige van die “skrywers” hier. Klink my Putin se grootste sonde is omdat hy vir die Russe in Rusland optree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.