Poetin was reg, maar ook verskriklik verkeerd

Russiese president Wladimir Poetin lewer sy jaarlikse staatsrede op 21 Februarie 2023. (Foto: Dmitry ASTAKHOV / SPUTNIK / AFP)

Met Rusland se militêre inval verlede Februarie in Oekraïne het min internasionale leiers verwag dat die oorlog ʼn jaar later steeds sou voortwoed, met groter veiligheidsrisiko’s vir die hele Europa, steeds uitkringende globale ekonomiese implikasies en geen einde in sig of poging deur enige betrokke party om vrede te bewerkstellig nie.

ʼn Jaar nadat Russiese tenks en meer as ʼn honderd duisend Russiese soldate die grens tussen Rusland en Oekraïne oorgesteek het, is dit nodig om terug te kyk na die oorsake van die oorlog maar ook om die gevolge deeglik in oënskou te neem.

Soveel as 200 000 mense, die meeste soldate, het die afgelope twaalf maande in hierdie bloedige oorlog gesterf. Oekraïne se ekonomie is ʼn derde kleiner as ʼn jaar gelede en die land se infrastruktuur, veral in die ooste en suide, is grootliks verwoes. Tientalle dorpe en stede is ook byna heeltemal vernietig met meer as vyf miljoen mense wat reeds moes vlug. Minstens een miljoen Russe, veral hoogs geskoolde individue, het Rusland oor die afgelope twaalf maande uit teenkanting teen die oorlog, of uit vrees om vir militêre diens opgeroep te word, verlaat. Rusland se ekonomie het verlede jaar met meer as 2% gekrimp en Rusland se begrotingstekort is steeds besig om groter en groter te word.

Wladimir Poetin se oorlog in Oekraïne was onnodig, ongegrond en dwaas. Dit was egter ook meer voorspelbaar as wat die meeste Westerse leiers wou glo. Oekraïne is ʼn groot land, met ʼn grens van byna 2 300 km met Rusland. Oekraïne wat deel van die Weste word, was nog altyd vir Poetin en die Kremlin onaanvaarbaar.

Sedert die verwydering van ʼn pro-Russiese president in Oekraïne in 2014, was dit reeds duidelik dat Poetin nie ʼn verdere verskuiwing van Oekraïne sou duld nie.

Waaroor was Poetin dan reg? Oekraïne was nog altyd, sedert sy onafhanklikheid in die vroeë 1990’s, een van die mees korrupte lande in Europa. Daarmee saam is daar wesenlik teen minderhede soos die Russe in die ooste en Hongare in die weste gediskrimineer. Poetin was ook reg oor die Weste se onbeholpe hantering van magsverhoudinge in Oos-Europa.

Verder was hy reg in sy bestekopname oor die ekonomiese gevolge van die oorlog vir Rusland. Tot dusver is die gevolge minimaal. Dat duisende Russiese soldate sterf, is ʼn feit, maar Poetin het ook geweet dat die Russiese bevolking met beheermaatreëls en propaganda in toom gehou sou kon word.

Poetin was egter oor baie meer dinge verkeerd. Hy het sy eie weermag se vermoë oorskat. Hy het die Weste se steun aan Oekraïne onderskat. Hy het die omvang van nasionalisme in Oekraïne onderskat. Poetin is ʼn imperialis wat Rusland se globale invloed en vermoë om hierdie invloed te handhaaf, totaal oorskat het.

Verlede jaar in Februarie sou ons kon sê iets moet gedoen word om ʼn nuwe skikking tussen Rusland en die Weste te bewerkstellig. Poetin het die kanse vir so ʼn skikking vernietig. Die enigste oplossing is nou ʼn militêre oorwinning op die slagvelde van Oekraïne. Indien Rusland verloor, sal dié land meer gevaarlik en onvoorspelbaar raak. Indien Rusland wen, sal die veiligheidsituasie in die Baltiese state, Moldawië, Georgië en selfs Pole dramaties verswak.

Die wêreld het weens Poetin se oorlog ʼn baie gevaarliker plek geraak.

Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anna-marie ·

Lyk mense se oë is stadig besig om oop te gaan en te sien wat werklik agter hierdie oorlog sit.

Republikein in die Wes Kaap ·

Poetin se interne steun neem sterk toe. Hy het iets reg gedoen.

Treurwilger ·

NAVO het die wêreld veel gevaarliker gemaak.
Die blote bestaan van ‘n militêr georiënteerde liggaam, wat lande uitsluit, dien as dreigement.
John Mearsheimer en Jeffrey Sachs se ingeligte ontledings van die aanloop tot hierdie tragedie vorm my persoonlike siening van Poetin, Rusland en Oekraïne.
Dis die moeite werd om na hul menings óók te luister.
Hierdie oorlog het nie ‘n jaar gelede uit die lug geval nie.

Anna-marie ·

‘n Paar feite:
1. Amerika het die wettige regering in Ukraiene in 2014 help omver werp en ‘n pro-westerse leier geinstalleer
2. Etniese Russe in die Donbas was nie gelukkig met hierdie onwettige regeringsverandering nie.
3. Amerika het van toe af Ukraiense soldate begin oplei en hierdie weermag het die mense begin terroriseer. In die omgewing van 14 000 mense in die Donbas is dood gemaak. (hierdie Russe was onder andere verbied om hul taal Russies te gebruik) Hierdie mense in die Donbas het vir Putin gevra vir hulp.
4. Putin het met die Minsk 1 in Minsk 2 ooreenkoms probeer om ‘n oplossing vir hierdie krisis te onderhandel.
5. Frankryk en Duitsland het saam met Ukraiene hierdie ooreenkoms onderteken.
6 Merkel het onlangs erken dat hulle nie vanplan was om die ooreenkoms na te kom nie.
7. Ursela von der Leyen (EU) het gesê hulle het al in Desember 2021 ekonomiese sanksies teen Rusland in plek gekry. Dit was voor die oorlog se aanvang.

Kwikkie12 ·

Soveel as 200 000 mense die meeste soldate het die afgelope twaalf maande in hierdie bloedige oorlog gesterf… Jong mans wie se lewens kortgeknip is vir wat??!!

Treurwilger ·

Kwikkie, omdat die VSA/NAVO nie tevrede was met ‘n “neutrale” Oekraïne nie.
Kamala Harris was ‘n paar dae voor die inval in daai geweste, nie om die oorlog te verhoed nie, maar om te verkondig dat dit net ‘n kwessie van tyd is voor Oekraïne ‘n lid van NAVO sal word. Die één laaste saak waaroor Poetin jare lank gewaarsku/smeek het moet nié gebeur nie.
Daar is by mense soos Jeffrey Sachs geen twyfel dat die VSA hierdie oorlog kon verhoed het nie. Google hom.
Hy het hulle probeer waarsku.

annie ·

Sjoe, maar Biden en sy trawante se fopnuusprojek was ‘n reuse sukses. Soros lag in sy mou. Sy Nuwe Era word wyd verkondig deur die wêreldpers wat dit nie durf waag om van sy planne af te wyk en ‘n ander denkrigting in te slaan nie. As CNN/BBC so sê weet hul;mos wat reg is en wie is ons om te stry selfs as hul die Bybel wil oorskryf vir die bose se onthalwe. Mense lees mos net wat op internet verkondig word a la 1984… Stuur wapens vir slinkse Zolly: die grootbaas van die aarbol.

CA ·

Jaco, hierdie is nie “Putin se oorlog” nie, maar wel Rusland se toetrede tot die 8-jaar oue Donbas-oorlog wat deur die Weste ondersteun is. Dit was volgens die Russe ook nie “onnodig” nie, maar ‘n berekende laaste uitweg om die groeiende Westerse en Navo inmenging – en gevolglike bedreiging vir Rusland – hok te slaan… na baie jare van Russiese pogings om ‘n ewewigtige sekuriteitsbestel saam met die Weste te bewerkstellig.

Die foefie oor “Putin-die-imperialis” dien bloot as rookskerm vir die Weste wat hierdie oorlog sien as ‘n watertand-geleentheid om Rusland finaal op te breek en haar rykdomme in te palm. Die vroeë poging deur Oekraine en Rusland om om die tafel te sit (Maart 2022) is dus ook vinnig deur Westerse ingrype gekelder. Vandaar ook die huidige intense en soms tragies-komieklike geskarrel om skaars Westerse wapentuig saam te skraap en aan te stuur en die oorlog uit te rek in ‘n desperate poging om Rusland te verswak.

Goldy ·

Wieookal Ursela, merkel en harris wie die oorlog aspris aangeblaas het, se veiande is die gewone mense se vriend.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die ANC se Moeder Rusland het geen reg om te eis dat die soewereine staat Oekraiene nie by die Europese Unie of NATO mag aansluit nie. Kyk net wie is Rusland se diktatoriale vriende: China, Iran, Noord-Korea, Kuba, Sirië en die res van die outoritêre gespuis. Die haat wat voorspruit uit Rusland se aantasting van die Oekraiene se menswaardigheid gaan vir geslag tot geslag Oekraiene oorgedra word. Tyd dat Rusland se snawel en vlerke geknip word. Betreffende Suid-Afrika: die ANC het in die verlede groot gewag gemaak op internationale platvorms maar hulle het vrede met die honderd duisende Oekraienes wat verkrag, verniel en vermoor word. Sies ANC-leierskap: julle het geen selfrespek, gewete en skaamte nie. Verban die ANC-leierskap na Rusland. Tragies: “Died for King and British Empire”. Tragies: “Died for Putin and Russian Imperialist Empire”.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wag totdat Mexiko besluit om by ‘n Chinees-geleide verdedigingsalliansie aan te sluit. Dan kan jy kommentaar lewer op Amerika se reaksie.

Treurwilger ·

Vrydenker
Nee, die oorlogsugtige ‘American Eagle’ se “snawel en vlerke moet geknip” word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.