Poging om mediese hervorming te herroep, rampspoedig vir Republikeine

obamacare

Foto: Will O’Neill/Flickr.com

Die Republikeinse Party in Amerika is tans in ʼn sterker posisie as tydens die afgelope agt dekades. Die party beheer die Withuis, Senaat, Huis van Verteenwoordigers en die oorgrote meerderheid van goewerneurskappe en wetgewende liggame in die 50 state. Tog het die party verlede week lelik ʼn pak slae gekry met sy langverwagte poging om President Obama se groot mediese hervormingsprogram te herroep en met ʼn meer konserwatiewe, vryemarkgesinde program te vervang.

Donald Trump het die herroeping van “Obamacare” een van sy belangrikste verkiesingsbeloftes gemaak en het onderneem om dit een van sy eerste prioriteite as president te maak. Dit is dan ook presies wat hy gedoen het, maar die groot onderhandelaar kon nie daarin slaag om genoeg konsensus binne sy eie party vir die aanvaarding van die “American Health Care Act” te bewerkstellig nie.

Donald Trump, die ewige populis, het tydens sy verkiesingsveldtog op die rug van die ongewildheid van Obamacare gery. Hy het belowe om Obamacare te herroep en dan nuwe wetgewing voor te stel wat sou sorg dat meer Amerikaners, teen ʼn laer koste, beter mediese dekking sou kry.

Die American Health Care Act, wat deur Trump en Paul Ryan, die speaker van die Huis van Verteenwoordigers, voorgestel is, het alles behalwe hierdie beloftes nagekom. Mense wat meer as 1 miljoen dollar per jaar verdien, sou soveel as 14% bespaar, terwyl die armes, werkersklas en landelike kiesers, wat almal vir Trump gestem het, die seerste sou kry. Meer as 20 miljoen Amerikaners sou hul mediese dekking verloor indien die wetgewing aanvaar is. Voorts het die wetgewing, in ʼn poging om nie te veel mense te vervreem nie, steeds die regering se groot rol in gesondheidsorg behou, maar net geherdefinieer.

Die eindproduk was ʼn stuk wetgewing wat tientalle Republikeine in die Huis van Verteenwoordigers nie kon ondersteun nie. Vir die harde vryemarkgesindes was die rol van die regering steeds te groot. Vir verteenwoordigers van landelike en industriële distrikte sou die verlies aan dekking vir miljoene mense in die werkersklas net te veel stemme gekos het. Kort voordat die Huis van Verteenwoordigers oor die wetgewing moes stem, het ʼn peiling van Quinnipiac Universiteit getoon dat slegs 17% van Amerikaners die nuwe wetgewing steun.

Nog voordat gestem kon word, het die Republikeine hul nederlaag aanvaar en besluit om die wetgewing te onttrek. Waar laat dit vir Donald Trump? Trump het slegs 46% van die stemme in verlede jaar se verkiesing ontvang. Sy gewildheid neem sedert sy inhuldiging op 20 Januarie konstant af en byna twee derdes van Amerikaners is nie tevrede met sy prestasie nie. Deur sy klein bietjie politieke kapitaal op hierdie gedoemde wetgewing te spandeer, het Trump as die groot verloorder uit die stryd getree.

Sy dreigemente teenoor Republikeine, wat nie met hom wil saamstem nie, veroorsaak nou selfs groter verdeeldheid in sy party. Trump is toenemend op die agtervoet en die kanse dat die Republikeine tydens volgende jaar se middeltermynverkiesing ernstig pak gaan kry, word by die dag groter. Die vraag is: Gaan Trump van benadering verander of gaan hy sy party verder in die wildernis in saamsleep?

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pietman ·

Kry eenvoudig ‘n beter produk. Ryan het nie sy werk gedoen nie.

JC ·

Wat van Verteenwoordiger in die Kongres, Mo Brooks, se een-sin herroeping van “Obamacare”???
Ek is jammer vir President Trump, maar hy sal nou VINNIG moet plan maak en die konserwatiewe “house freedom caucus” hulle sin moet gee. Die kuns is juis om die vryemarkgesindes (met reg so, en waarby die konserwatiewes ingesluit is) hulle sin te gee en terselfdertyd te sorg dat soveel as moontlik persone en families steeds mediese dekking geniet, veral die armes en “blou boordjie” werkers. WAT KAN SO MOEILIK WEES HIERAAN, veral gesien in die lig dat die Republikeine verenig MOET WEES en die meerderheid het??President Trump kan nie net wag soos hy gese het dat Obamacare inplof nie; want die VERANTWOORDELIKHEID le op SY SKOUERS EN NIEMAND ANDERS en hy moet dit weet, anders gaan die Republikeine hul meerderheid in Kongres en die Senaat verloor in 2018 en “dan is daar perde”!!! en sal dit ‘n tragedie wees. Wat keer hulle, aanvaar Senator Brooks se voorstel man!! Hulle het NIE die “demokrate” nodig nie.

Kom Ons Boks ·

Obama moes deur meeste van sy twee termyne baklei om “ObamaCare” deur te druk in ‘n huis wat oorweldigend Republikeins was. Gee Trump en sy span ‘n bietjie tyd. Self hou ek nie veel van die nuwe plan nie want dit ruik meer soos “ObamaCare 2.0” as ‘n ware “TrumpCare” plan. Trump het self genoem, voor die uitgooi van die voorgestelde plan, dat hy verwag baie onderhandeling nog gedoen moet word. Rome is nie in een dag gebou nie maar in die berig klink dit soos die einde van die pad vir President Trump se gesondheids plan.

JC ·

Hey, jy raak baie waarhede kwyt. ‘n Ou is maar net bang vir die gevolge, want in die VSA is gesondheidsorg(vanwee ‘n gebrek aan Staat-gesteunde gesondheidsorg) ‘n groot kwessie. In my opinie moet die armes en blouboordjie werkers se belange EERSTE in ag geneem word want hulle maak ‘n groot deel van President Trump se ondersteuningsbasis uit.

JC ·

“Ryancare” beskryf DIE mislukking goed.
Trump se ondersteuning in die Speaker Paul Ryan se tuisstaat, nou meer as vir homself!

Jan Jooste ·

Ek het nog geen snars kon sien van Trump se gewaande onderhandelingsvermoë. Hy is eintlik maar net ‘n boelie wat beskerm word deur sy rykdom. Die kleiner ou word amper noodwendig ‘n beter vegter as die groter opponent. So sal iemand wat sonder groot rugsteun moet onderhandel, noodwendig meer vaardighede moet aanleer vir oorlewing. Voorspoed.

Hendrik ·

Trump het met sy bombastiese bravade ‘n klomp goedgelowige mense mislei om vir hom te stem. Met sy ontkenning van klimaatsverandering, samewerking met die Russe en die een na die ander beloftes wat hy verbreek, gaan hy homself binnekort spreekwoordelik ophang met die tou wat hy tot nou toe gekry het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.