Polisiekommissaris behoort op haar eie swaard te val

Riah Phiyega

Die grusame beelde van polisie wat ‘n man na sy dood agter hulle vangwa sleep was diep ontstellend. Miskien meer ontstellend was die opmerkings van Riah Phiyega, nasionale kommissaris van die SAPD, toe sy deur ‘n verslaggewer gevra is hoe sy beplan om die SAPD se beeld te red. Haar antwoord (ek parafraseer) was dat die probleem is dat die media net fokus op die slegte dinge wat die SAPD doen en nooit op die goeie dinge nie.

Toe ek dit hoor het ek amper van my stoel afgeval. In effek sê sy: Ja, polisiemanne vermoor hier en daar ‘n paar mense, maar daar is ook goeie polisiemanne wat goeie dinge doen, maar dit wys julle nooit nie. En dit is met ‘n sekere selfvoldaanheid gesê, asof sy nogals tevrede was dat sy die verslaggewer nou mooi op sy plek gesit het! Die implikasies hiervan is kommerwekkend.

Ongelukkig het die verslaggewer nie in daardie oomblik die teenwoordigheid van gees gehad om haar op haar stelling te konfronteer nie. Hy kon gevra het: Sê jy dat solank die polisie ook “goeie” dinge doen dit heeltemaal aanvaarbaar is dat hulle hier en daar ‘n paar mense vermoor? En aangesien die kommissaris duidelik nie die implikasies van haar eie stelling besef het nie, kon die verslaggewer dit vir haar mooi duidelik gestel het dat, indien dit jou spesifieke taak is om die burgers van ons land te beskerm, en nie te vermoor nie, dit vanselfsprekend ‘n nuuswaardige insident is wanneer die polisie iemand vermoor.

Hy kon vir haar gesê het: Met alle respek, Kommissaris, dit is die media se werk om die mense wie se salarisse die burgers van hierdie land uit eie sak betaal, dop te hou, juis om seker te maak dat hulle nie met die vertroue wat die burgers in hulle geplaas het, troubreek nie en om enige dade van troubreek so gou as moontlik publiek te maak.

Hy kon haar herinner het aan die beroemde woorde van die Engelse juris William Blackstone, wat reeds in 18de eeu, in sy Commentaries on the laws of England, geskryf het: “Dit is beter dat tien skuldige mense ontsnap, as wat een onskuldige ly.” En daarom is iemand onskuldig totdat hulle deur verskuldigde regsvorme skuldig bewys word.

Hy kon haar op haar valse redenering attent gemaak het, spesifiek dat die skuif van die fokus van die gesprek na die “goeie dinge” wat die polisie doen ‘n red herring is. Hy kon gesê het: Ek is seker daar’s baie goeie dinge wat lede van die SAPD doen, en oor die feit dat die media selde daaroor rapporteer kan ons later gesels, maar dis nie nou waaroor ons praat nie.

En hy kon vir haar gesê het dat, al is jy verantwoordelik vir ‘n duisend goeie dade, sal jy steeds vir een enkele slegte daad rekenskap moet gee. Daar is nie ‘n soort weegskaal met goeie dade in die een pan en slegte dade in die ander, met die aanname dat solank die goeie dade swaarder as die slegte dade weeg alles “oukei” is nie.

As nasionale kommissaris van die SAPD hoort mev. Phiyega verantwoordelikheid te aanvaar vir die kultuur van geweld en minagting vir menseregte in die staatsdepartement wat sy lei. En as sy enigsins verstaan het dat haar amp een is waarop sy nie geregtig is nie, maar een wat deur die burgers van Suid-Afrika aan haar toevertrou is, sou sy ook verstaan dat sy tot haar eie skande haar in daardie plig versuim het, en dat as sy enige selfrespek gehad het, sy haar swaard sou trek en op hom val.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Deon Opperman

Deon Opperman is dramaturg met onder meer Ons Vir Jou en Tree Aan! op sy kerfstok.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

pikkewyn ·

Wat het mens anders verwag? Swart diktator demokrasie, met 27000 wat nie kan skiet nie en XX vuurwapens gesteel. Die minister moet uitgedaag word om misdaad te verminder, nie met teenstellings te gooi nie. Bewys my stellings verkeerd. Een keer n terroriste organisasie, altyd een. Dis omdat hulle agter die deur staan en ander daar soek, maar al wat hulle kry is hul eie geraamtes. Die anc kweek die misdaad en kloon dit met hul Afrika stamme. Menseregteskendings bestaan nie in hul woordeskat nie en wat doen ons VN verteenwoordiger daaromtrent? Die anc word deur vele lande finansieel ondersteun. Dit gaan vir hulle oor ons blanke apartheid maar delf dieper in elke land in Afrika, vind jy nog erger en meer bizarre apartheid en rassisme as met ons blankes die geval was. As hulle dit doen is dit nie apartheid nie. Elke “clan” word apart regeer met hul eie koninkrykies, prinse, opperhoofde, induna’s en dit sluit SA in. Ons self het 7-8 koninklikes wat Miljoene rande vd belasting mahala kry. Hierdie stamme het elkeen hul eie kulture en tradisies. Nog voor Shaka se tyd was dit so. Gaan lees waar sy vrou vandaan kom, uit midde Afrika. Dis wat die anc nog altyd sal wees in baie mense se oe en die bewyse is dat dit daar is om te bly. Die hele Afrika waar die anc hul voetspore nagelaat het, is presies wat ons in SA ervaar. Bring my EEN land in Afrika waar misdaad nie regeer nie. Dis waar anc hul voetpaaie geplavei het. Dis vandat ek kan onthou n terroristiese organisasie en hulle koester misdaad, moord, korrupsie, verkrag asof dit take en werke is om uit te rig. Dis nie vir hulle verkeerd as hulle dit doen nie. Hulle word betaal om dit te doen. Hoekom sal SA anders wees. Z het dan gese die African way…… Maak nie saak hoe hard ons daarteen baklei nie. Rewolusie is lankal met ons en dis nie die grensbosoorlog nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.