Politici ‘plant bomme’ onder ‘brûe’

Foto: Tom Butler/Unsplash

Om ʼn beter toekoms vir ons volgende geslag te skep, is een van die weë die bevordering van sosiale kohesie deur middel van brugbou-aksies oor rasgrense heen. Dit is belyn met die Bybelse beginsel van naasteliefde en dat almal as gelykes geskape is, en so is daar nog vele ander teksverse wat as bevestiging kan dien waarom ons goeie rasseverhoudinge moet nastreef.

In die praktyk is dit effe moeiliker as gevolg van die groep mense wat politici genoem word.

Drie punte oor brugbou ter agtergrond voordat ek by die politici uitkom.

My eerste punt het betrekking op Solidariteit as vakbond wat binne die raamwerk van die Grondwet funksioneer en terwyl medevakbonde soos die Nasionale Metaalwerkersunie (Numsa), die Nasionale Mynwerkersunie (NMU), die Nasionale Onderwys-, Gesondheid- en Verwante Werkersvakbond (Nehawu), Ceppawu en die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), net op die belange van swart werknemers fokus, bestaan Solidariteit se ledebasis aan die ander kant hoofsaaklik uit wit werknemers. Saam met al die ander vakbonde verteenwoordig ons die totale spektrum van werknemers in Suid-Afrika.

In vakbondkringe praat ons egter nie van ʼn wit vakbond of ʼn swart vakbond nie, want ons verteenwoordig werknemers, en hierdie werknemers wat aan verskillende vakbonde behoort, sit as kollegas saam om die onderhandelingstafel. So het Numsa se ekonoom eendag tydens ʼn onderhandeling ʼn koerant voor my neergesit en met afkeur na ʼn artikel verwys waar daar na Solidariteit as “the predominantly white trade union” verwys is, want waarom word daar dan nie na Numsa as “the totally black trade union” verwys nie, het sy gevra.

Hoewel Solidariteit nooit iemand sal wegwys wat wil aansluit nie, het ʼn vakbond ook ʼn kultuur-onderbou, en is taal vir lede belangrik sodat hulle hul griewe en standpunte teenoor hul vakbondverteenwoordigers kan verwoord in die taal waarin hul hulself die beste kan uitdruk. Daarom wil Numsa nie sy vergaderings in die Oos-Kaap in Engels hou as die meeste van hul lede Xhosa-sprekend is nie, en daarom is vakbonde heel gemaklik onder mekaar oor ons lede se voorkeure oor waar hulle tuis voel; ons is lankal verby die punt van ras-sensitiwiteit. So is politieke korrektheid met eenvoudige logika en realistiese denke vervang.

Ongelukkig verstaan heelwat politici en joernaliste nie hierdie dinamika en verstandhouding tussen vakbonde nie. Hulle wil ook nie insien dat werknemers by ʼn vakbond wil aansluit wat sy of haar behoeftes as Suid-Afrikaanse burger die beste verstaan nie.

My tweede punt ter illustrasie gaan oor my ervaring as ʼn student. Ek studeer by die Universiteit van die Witwatersrand omrede dit die enigste universiteit in die land is wat geakkrediteer is om die Internasionale Arbeidsorganisasie se kursus in vakbondwese aan te bied. Uiteraard beland ek toe in ʼn klas waar ek die Blou Bulle ondersteun en die res van my klasmaats tipies Orlando Pirates of Kaizer Chiefs sal ondersteun. Omdat die meeste klasmaats vakbondamptenare is, het ons dieselfde gemaklike verhouding met mekaar soos reeds beskryf. Van die voltydse studente kom vinnig agter hoe gemaklik ons kan grap oor iets wat ʼn rasondertoon het, en dat dit humor is wat na vore kom, en nie ras nie. Ons diep verskille kom wel na die oppervlak in ideologiese gesprekke, maar weer eens het dit nie ʼn rassekonnotasie nie, want selfs die Wits-dosente wat meestal wit is, steun ook nie my markekonomie en vryemarksienings nie.

Die wyse waarop die vakbondamptenare iemand van Solidariteit by die universiteit as deel van “ons” ag, dien as voorbeeld vir die ander studente; die leiers van die toekoms wat tot die besef kom dat hulle nie teen die skeefgetrekte en haatdraende rasretoriek wat uit ʼn Julius Malema se mond kom, hoef vas te staar nie. So het dit ook gebeur dat een van die radikale FeesMustFall-voorbokke wat saam met ons studeer, vir my kom vertel het dat ek sy siening oor wit mense verander het. Ek het werklik niks spesiaals gedoen nie – ek was bloot nie die tipe mens wat politieke populiste verkeerdelik as wit mense wil uitbeeld nie. Hierdie selfde positiewe dinamika is algemeen in die werkplekke waar Solidariteit-lede met hul swart kollegas sy-aan-sy werk en onderhandel.

In die derde instansie is ek en ons predikant van die Gereformeerde Kerk Randburg versoek om in Diepsloot te bemiddel in ʼn dispuut tussen ʼn kerk en ʼn kleuterskool wat op dieselfde terrein geleë is en daar ʼn netelige kwessie oor verblyfreg opgeduik het. Dit was so wonderlik hoe die strydende partye en die betrokke gemeenskapsleiers ons bemiddeling waardeer het en benewens ons vele verskille, ons met ope arms ontvang het. Hierdie selfde ervaring kry ons waar van die Solidariteit Beweging se instellings ons ondersteuners, byvoorbeeld, in ʼn diensleweringskwessie bystaan of kospakkies aan kwesbare werknemers uitdeel, waar die breë gemeenskap ook daaruit voordeel trek.

So kom daar vele brugbougeleenthede oor ons normale mense se pad en hoewel die uitkoms nie altyd perfek is nie, wil die meerderheid van Suid-Afrikaanse burgers in vrede saamwerk en -leef, terwyl ons steeds die kulturele dinge wat ons na aan die hart lê, wil koester.

Maar, dan begewe jy jouself in die hoofstroom- politieke omgewing, soos ʼn parlementêre portefeuljekomitee of openbare verhoor, en dan besef jy dat identiteitspolitiek aan die kern van die land se brugbouprobleme lê. Voordat jy die parlementêre leeuhok in Kaapstad binnegaan, het die LUR vir Onderwys, Panyaza Lesufi, jou reeds hier in Gauteng vervreem met sy growwe veralgemenings en venynige aanvalle, wat ook algemeen van Julius Malema en deesdae ook van Ace Magashule is, wat jou noodgedwonge op die aanval of verdediging plaas. Hierdie retoriek word dan in sekere parlementêre portefeuljekomitees voortgesit.

Die laaste drie besoeke aan die portefeuljekomitee vir minerale hulpbronne het soos volg verloop: Met die eerste besoek was ek en my kollega, nog voor ons met ons aanbieding kon begin, deur agbare lede van die ANC en IVP vertel dat hulle nie na aanbiedings sal luister van organisasies wat nie getransformeer is nie. Met die volgende verskyning was dit nog erger, want toe daag ons twee weer daar op as “ongetransformeerdes” en het ons weer onder hewige kritiek deurgeloop. Met die mees onlangse en derde besoek aan die portefeuljekomitee was die versoek aan verskeie mynbourolspelers om vir die agbare lede van die portefeuljekomitee te vertel wat die probleme in die mynbedryf is, hoe dit opgelos kan word en wat ons dink die rol van die portefeuljekomitee moet wees. Daar volg toe ʼn vraag of Solidariteit die beginsel van “eens bemagtig-altyd bemagtig” steun. Ons antwoord was: “Om dit in perspektief te plaas, beteken hierdie beginsel in praktyk dat indien ʼn mynmaatskappy wat een keer aan die beginsel van swart bemagtiging voldoen het, altyd daarna as swart-bemagtig geag sal word, al sou hul swart aandeelhouers onttrek en vir altyd deur leliewit aandeelhouers vervang word. Dit skep ʼn etiese vraagstuk gegewe die konteks van mynbou se geskiedenis en die tyd waarin ons leef en ten spyte daarvan dat Solidariteit hoofsaaklik wit werknemers verteenwoordig, ons ʼn ongemak met die beginsel van ‘eens bemagtig-altyd bemagtig’ het.”

Ná voorgenoemde antwoord, breek daar pandemonium uit en die agbare lid van die EFF dui toe aan dat óf ek óf hy die gebou moet verlaat, want hy is gewalg deur my rassistiese antwoord. Sy vraag was: “Hoe kan die meerderheid van Solidariteit se lede wit wees?” Hy het dus sonder om die konteks van die antwoord in gedagte hou, soos ʼn gespande boog gewag vir die woordjie “wit” om sy rassistiese pyle af te skiet – hou maar ook die EFF se ledeprofiel in gedagte. Die agbare lid stel dit toe duidelik dat hy hom nie deur minderhede sal laat voorsê nie. Toe klim die ANC en IVP ook op dieselfde “white bashing”-boot en raak soveel belaglikhede kwyt. Byvoorbeeld, in Solidariteit se skriftelike aanbieding wat aan almal uitgedeel is en woordeliks voorgelees is, het ons duidelik na “president Ramaphosa” en “minister Mantashe” verwys. Die agbare lid van die ANC was ook toe “gewalg” dat ons met disrespek sommer na “Ramaphosa” en “Mantashe” verwys, wat ons vir seker nie gedoen het nie. Ons is só aangeval dat ons uiteindelik voorgestel het dat die “mynbousektor ʼn tipe Kodesa-proses moet volg” om die sektor weer op ʼn pad van volhoubaarheid te plaas. Dit het die agbare lid van die ANC oor die randjie gestoot, want om die woord “Kodesa” (Konvensie vir ‘n Demokratiese Suid-Afrika) te gebruik, was totaal onsensitief teenoor swart mense.

Elke keer as ons by die parlementsgebou uitstap, kry ons weer eens die bevestiging waarom die mynbousektor in so gemors is, want as dít die vlak van debatvoering is van die komitee wat ʼn oorsigrol moet vervul, dan is daar nie hoop vir die sektor nie. Met die fokus egter op die sabotasie van brugbou, is die probleem die gedrag en uitsprake van die populistiese politici wat nie op feite en realiteite van die hede fokus nie, maar dit verbloem met identiteitspolitiek deur op ras en die verlede te fokus.

Hierdie tipe ervarings met politici is ook ʼn bevestiging waarom gewone Suid-Afrikaanse burgers van alle rasse so sukkel om brûe na mekaar oor te steek, want daar is politici wat “bomme plant” onder die brûe wat ons wil bou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

schaun ·

Ek stem saam die gemiddelde persoon op straat en in die werkplek is nie die probleem maar mense soos lezufi,malema,magashule moet in die bek geruk word oor die aanhitsing van geweld deur hulle onaanvaarbare uitsprake.

Stephan de Swardt ·

Dankie vir hd blik op n lewensfeer waarvan ons gewone straatbrakke niks weet nie( hoop nie Kobus vra nou weer wie is die “ons” nie). Mag wysheid en deursettingsvermoë ryklik oor jul pad kom.

Gert ·

Dis eintlik voor die hand liggend dat as alle vakbonde getransformeer is, is daar niemand wat die belange van minderhede behartig nie. So kan daar byvoorbeeld in ‘n werkplek gediskrimineer word teen ‘n minderheid, maar die minderheid kan nie by die vakbond kla nie, want die is getransformeer en kyk na die belange van die meerderheidsgroep.
Deur hierdie uitsprake bevestig die politici dus dat hulle voel minderhede het geen regte nie, en dis die boodskap wat ons deurgaans kry.

Jerry ·

Indien n persoon self ideologies gestrand is sal sy nie weet hoe om deel te wees van die oplossing nie en onbewustelik, soms bewustelik toelaat dat die populistiese politici hulle ideologiese bomme onder die brue plant. Omdat sommiges van ons nie ons opponente se ideologiee wil of kan verstaan nie en dus hulle rigting van denke nie kan peil nie, bou ons maar eerder mure wat ons dan voorhou as kwansuis die oplossing omrede dit die populiste is wat die brue opgeblaas het, dit was mos nie ons nie, alhoewel ons nooit sal erken dat ons agv ons eie ideologiese gestremdheid, daarin gefaal het om te verhoed dat die populiste die brue kon opblaas! Daar is organisasies wat ook daarin faal om boere teen plaasaanvalle te beskerm, hoekom ? want hulle beskik nie werklik oor die kennis of die vermoe om plaasaanvalle te verhoed nie, dis hoekom ( you dont know what you dont know)! Indien ons nie werklik die “know how” het van hoe om te verhoed dat die populiste die brue opblaas met hulle idees nie, dan verdien ons dit om maar eerder vir die res van ons bestaan, mure te bou of totdat die skille van ons oe afval wanneer ons besef ons was toe nie so slim soos ons gedink het nie!

Wingman ·

Almal bou brûe en almal brand brûe. Dis maar hoe dit is. Hang net aan watter kant van die brug jy staan.

JohanL ·

Skitterende stuk Gideon – dankie daarvoor. Ek dink baie van ons dink of raai dat politici die eintlike probleem is in die land wat rasse-haat aanwakker – dink maar net aan (Mnr) Malema se uitsprake en die van die BLF. Hierdie stuk bevestig die vermoede wie die ware “bomplanters” is. Die vraag is natuurlik hoe kan ons as Jan Publiek die probleem help oplos?

Jerry ·

Wanneer jy in die posisie is om te verhoed dat brue gebrand word en jy verhoed dit doelbewus nie omrede daar geld daaruit te maak is en daarom bou jy dan eerder mure, dan is daar seker nie te veel wat n mens daarmee kan fout vind nie, behalwe indien dit sou aanleiding gee dat dit tot voordeel en veiligheid van slegs n paar weerbare mense strek en tot nadeel en ellende van die weerlose en kwesbare, res van die mense. Wanneer jy dus n geldgierige motief het moet jy liefs maar daarteen waak dat dit en ander bymotiewe, jou nie gewetenloos laat teenoor die weerloses en kwesbares van jou gemeenskap nie. Dit mag dan dalk net bydra tot jou eie ellende wat op jou wag, maar jy natuurlik glad nie verwag nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.