Politiek begin lang skaduwee uit korona-krisis oor SA werp

Deur prof. André Duvenhage

Prof. André Duvenhage. Foto: NWU

Potch Mall (daar waar die meeste inwoners inkopies doen) het bykans vol gestaan. Rye om by winkels in te kom was ten minste 50 m lank. Skielik het ek besef dat mense hulle al hoe minder aan die reëls gaan begin steur. Hulle gaan nie soos die uwe akademies probeer argumenteer nie, maar net handel. Die weg van die minste weerstand, masker oor die gesig.

Ná die ergste skok is ons as land stadig besig om tot verhaal te kom. Pynlik, onseker, gekwes en ook met onsekerhede wat eskaleer. Werkverliese, mense sonder kos, ʼn media wat net korona praat. Kommerwekkend is die politiek wat sy lang skaduwee vanuit korona oor Suid Afrika begin werp. Dis laasgenoemde wat my interesseer.

Uit die koronadinamiek tree ʼn bekende en gevestigde, maar problematiese patroon na vore. Die krisis regverdig dat geld spandeer word (selfs geld van die IMF sal welkom wees); die bevoordeeldes en begunstigdes is reeds bepaal volgens BBBEE-kriteria (die minister kan tog nie teen die Wet optree nie);  kospakkies en voordele vir die armes (lees ANC-ondersteuners alleen); en toegepas deur onkreukbare ANC-leierskap wat sal toesig hou oor die regverdigheid en billikheid van die proses…. en onthou, daar is groter magte aan sekurokrate om toe te sien dat die president (nie noodwendig die Wet nie) se wil gehandhaaf word.

Die president en sy raadgewers sien ook in die krisis die positiewe horison van ʼn nuwe ekonomie wat soos die spreekwoordelike feniks uit die as vereis en waarin gelykheid as dominante waarde ʼn nuwe samelewing sal definieer. As voetnoot kan genoem word dat die regering goed op pad was om hierdie ongelykhede reg te stel as dit net nie was vir die ontydige intervensie van die virus nie, maar gelukkig het die president en sy manne reg gesit en die aanslag suksesvol afgeweer. Wie kan met die logika stry, wie kan dit waag om die logika en sy morele grondslag te bevraagteken? Dit wil voorkom of korona soos ʼn geskenk uit die hemel in die skoot van die ANC en CR geval het.

Gelukkig gaan daar al meer stemme op dat daar iewers groot fout is. Nie net is dit meer hardegat ekonome; aweregse politieke en sosiale wetenskaplikes en alternatiewe mediese wetenskaplikes wat verskil nie. Al meer stemme gaan op dat hier groot denkfoute en dalk nóg meer toepassingsfoute gemaak is en dalk nog meer op pad is.

Kom ek noem ʼn paar:

Ons het die virus te vroeg bespring met ʼn sogenaamde “overkill” (die bomber en die muskiet), en die berg het toe die spreekwoordelike muis gebaar? Kortom, die syfers regverdig nie die optredes nie, en nog minder die volhoubaarheid hiervan.

Die virus gaan later eskaleer, dalk eers September of Oktober, en dan sal afsonderingsmaatreëls weer ingestel moet word. Overgeset syne:, “we jump the gun”, maar betaal ʼn ongelooflike (dalk dubbele?) prys hiervoor met ʼn ekonomie wat reeds op sy knieë was voordat die virus toegeslaan het.

Die ekonomie het onherstelbare skade gelei, gaan moeilik herstel, gaan die lewens van baie verander en dit gaan die armes en ongeletterdes wees wat die grootste prys gaan betaal.

Die hoë morele grond gaan dien as regverdiging vir die uitbouing van mishooppolitiek in die vorm van uitgebreide en versterkte patronaatskappe. Dit is die grondslag vir die plan om die 2021 plaaslike verkiesing te betree ná groot steunverliese in die onlangse verkiesings.

Nuut geleende geld gaan hul weg vind na die politieke elite (lees ANC-raadslede, burokrate, ensovoorts). Ons weet Luthuli-huis is in die moeilikheid en ʼn megaprojek (dit sou kernkrag gewees het) is nodig om ʼn reddingsboei te gooi en die ANC-skip weer op koers te plaas.

Opponente sal op hul plek gesit word met morele argumente (ryk vs. arm; slagoffer vs. Aggressor, ensovoorts). En, indien nodig, is daar darem Bheki Cele, minister Fear F*kk*l Mbalula, en ander tegnokrate en sekurokrate om doodseker te maak dinge verloop volgens plan.

My oorheersende indruk is dat ons nou die voorfase van die drama – of dalk nagmerrie – betree. Die situasie gaan aansienlik moeiliker word vorentoe. Geld gaan skaars word, lewensmiddele moeiliker bekombaar, sosiale frustrasie gaan eskaleer, en meer mense met die vermoë (lees belastingbetalers) gaan die land verlaat. Skuldlaste gaan eskaleer, rentekoerse op buitelandse lenings gaan verhoog, en ou historiese politieke konflikte gaan sterker gedefinieer word. Kortom, die situasie gaan meer onstabiel en onseker word. Demokratiese waardes gaan swaarkry en identiteitspolitiek gaan sterker na vore tree. Laasgenoemde gaan iets wees soos elkeen vir homself en die duiwel vang die agterste een.

Wat staan ons te doen om hierdie werklikheid beter te bestuur en te hanteer?

Ten eerste, oortuig politici om die ekonomie so vinnig as moontlik met beperkte kwalifikasies te aktiveer. Ons moet nou alreeds by vlak 3 gewees het. Staan sterk op demokratiese en grondwetlike waardes. Gebruik die reg waar jy kan om die goeie stryd te veg. Hier is reeds baie hofsake op pad en nog meer gaan kom. Ondersteun mense en gemeenskappe in nood. Onthou, meer as 50% van die bevolking leef reeds in armoede en daar is omtrent 400 000 blankes wat in krotbuurte en armoede bly. Lê inisiatief aan die dag om met kreatiwiteit antwoorde vir vraagstukke te vind. Beveilig jou eie gemeenskap, buurt en familieverband.

Verset jou teen die onreg en tree op waar nodig en soos benodig. Ons kan nie meer politieke korrektheid en gedienstigheid ten opsigte van uitgediende denke en toepassings bekostig nie. NP van Wyk-Louw het by geleentheid gesê die grootste gevaar is dat ʼn generasie verby kan gaan sonder verset. Verset teen die onreg is waarna ek hier verwys. Ook wetgewings en toepassings wat openlik diskrimineer teen burgers van hierdie land.

Hier wag ʼn moeilike rit met groot onsekerhede en dinge kan letterlik oornag drasties verander.

Kom ons hoop politici sien die lig en volg die pad waar bakens nie altyd baie duidelik is nie; maar beginsels en norme sterk staan en ʼn mensgerigte benadering vooropgestel word. Uiteindelik moet ons almal hierdie land laat werk. Dit is groter as ek en jy en ook en veral ʼn politieke party of groepering.

Hef aan lê voor.

  • Prof. André Duvenhage is ‘n politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit (NWU). 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

koos10 ·

‘n Baie geleerde man het my eendag vertel dat ‘n oorlog ‘n land se ekonomie kan red, want uitgawes kan aangegaan word sonder teenstand, maar die kostes daarna is astronomies. Kyk maar na die geskiedenis en oordeel self.

JohanR ·

Prof Duvenhage ek het ophou na politici luister toe die Kubane land. Het gedink die ANC is eintlik erinstig tot op daai punt. Nou sal ek nog myself, myne en my medemens beskerm, maar op die selfde tyd sal ek sien in Fase 4 van toesluit hoe ek die lewe net soe bietjie maklikker kan maak vir myself, maar sonder om in die tronk op te eindig. In Engels sal ek se….”the ANC was handling the Corona Virus well and seriously, until the Cubans landed. From that point onwards the ANC went back to being a huge joke and laughing stock!”

Johan ·

Ai die mensdom! Ek sit in Gauteng vasgekeer. Wil graag huis toe (George). Dit gaan waarskynlik vandag in die staatskoerant gemagtig word. Ek het ‘n kaartjie, maar die vliegtuie mag nie vlieg nie. Hoe nou?

piket ·

Absoluut n korrekte aanname en vooruitbeskouing van die toestand as geheel. Hiedie virus het op n geleë tyd vir die anc verskyn en hulle slaan nou politieke munt daaruit. Enigste maklike uitweg vir ons is dat die uitwerking van die teenwoordigheid van die virus sal verdwyn, maar daar is nie n manier dat dit oornag sal gebeur nie. Tot en met dan sal ons onder onsself maniere moet vind om die aanslag op ons te bestuur om die impak daarvan te minimaliseer.

Kokerboom ·

Dankie Prof Duvenhage vir u realistiese ontleding. Die sogenaamde nuwe ekonomie en samelewing gaan uiterste eise aan ons stel en nuwe strategiee moet in plek gestel word om die ekonomiese en veral politieke uitdagings die hoof te bied. Ons moet op ons kniee gaan en bly bid dat realisme sal oorwin

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.