Politieke etikette só geskommel

francois-fillon

Francois Fillon. Foto: Facebook.

Die politikus wat die naweek deur die lede van die Franse Republikeine as presidentskandidaat in aanstaande jaar se verkiesing aangewys is, François Fillon, is in die Europese media beskryf as “regs”, “konserwatief” en “liberaal”.

Vir Suid-Afrikaanse lesers kan dit teenstrydig klink. Hoe kan iemand sowel konserwatief as liberaal wees?

Die vraag is natuurlik wat presies met die begrippe bedoel word. Ek wil vandag iets aan die orde stel wat byna op ’n verwarrende revolusie van begrippe neerkom.

In Suid-Afrika was die woord liberaal tradisioneel baie na aan ’n vloekwoord. Liberaal was links (sleg), en konserwatief was regs (goed).

Die liberalisme waarmee Afrikaners te make gekry het, was die Britse liberalisme, wat ’n aantal negatiewe konnotasies gehad het.

Dié liberalisme het twee eienskappe verenig.

Die een was ’n oortuiging dat rasse- en kultuurverskille irrelevant was, dat gelyke regte sonder onderskeid vir alle mense nastrewenswaardig was, dat ’n beleid soos apartheid immoreel was. Die tweede, wat – heel ironies teen die eerste ingedruis het – was ’n vanselfsprekende aanname dat die Engelse taal en kultuur meerderwaardig was. Daar is, al was dit soms onbewus, op die Afrikaanse taal en kultuur neergekyk.

Om maar ’n voorbeeld te noem: In 1963 het die Britse ambassadeur in Suid-Afrika, sir John Maud, teen die uitdruklike wens van die destydse regering, ’n veelrassige onthaal by die ambassadeurswoning in Kaapstad gegee – ’n liberale uitdaging. In haar dagboek het lady Maud entoesiasties verwys na die “triumphant success”, en bygevoeg “the first since the peasantry took over in 1948”.

Wat wys hoe die Britse liberalisme gepaardgegaan het met minagting vir die Afrikaners. En dit dra ook by tot die verklaring waarom die Afrikaners nooit vat aan dié liberalisme kon kry nie.

Wat beteken die begrip liberalisme? Die woord word afgelei van die Latynse liber (vry) of libertas (vryheid).

Die woord het ’n politieke betekenis begin kry in die 18de eeu, die era van die Verligting. Liberale was teen die heersende rigiede standestelsel, waarvolgens regte op grond van hiërargie toegeken is. Die adel was boaan die leer, dan het die ryk burgers gevolg, en onderaan die armes wat prakties sonder regte was.

Die liberale van destyds was teen bevoorregting op grond van geboorte en ten gunste van die uitbreiding van demokratiese regte. Elke moderne demokratiese grondwet ter wêreld is in mindere of meerdere mate deur die liberalisme beïnvloed.

Allengs het dit ook ’n sosiaal-ekonomiese betekenis gekry. Die liberalisme het ’n verdediging van die vryemarkstelsel geword, ’n oortuiging dat die owerheid hom so min moontlik met die ekonomie besig moet hou.

Veral op die Europese vasteland is die kapitalisme mettertyd met onvryheid en verdrukking van die armes vereenselwig. Die “vryheid” van die kapitalisme is gesien as vals, soos uit dié bytende sarkasme van die 19de-eeuse Franse skrywer Anatole France blyk: “Die wet gee in sy majestueuse gelykheid elke man die reg om by die Ritz te dineer en onder ’n brug te slaap.”

Dié oortuiging is deur revolusionêre soos Karl Marx en Wladimir Lenin verder uitgewerk tot die kommunistiese diktatuur van die proletariaat. Dít was ’n vryheid wat veel meer eg was as die valse vryheid van die kapitalisme, was hul standpunt.

Tussenin het ’n rigting bekend as die sosiaal-demokrasie sy kop opgesteek. Die sosiaal-demokrate het die liberaal-demokratiese politieke stelsel aanvaar, maar wou dit koppel aan ’n sosiaal-ekonomiese benadering wat die armes sou bevoordeel.

Teen dié agtergrond is die begrip liberaal mettertyd juis met konserwatief vereenselwig.

In Nederland noem die Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD) homself byvoorbeeld liberaal, maar met sy verdediging van die kapitalisme is hy in dié opsig eerder konserwatief. Dus sou die Britse party wat ideologies die naaste aan die VVD kom, juis die Tories wees.

Daarom dat François Villon as “regs”, “konserwatief” en “liberaal” (in die sin van sinonieme) beskryf word. Daarom ook dat liberaal by linkses, ook in Suid-Afrika (maar om ’n ander rede as tradisioneel by die Afrikaners) baie na aan ’n vloekwoord is.

Die verwarring hou nie hier op nie. In die afgelope jare het ’n nuwe rigting in die Weste kop uitgesteek, wat verteenwoordig word deur politici wat in mindere of meerdere mate as populisties beskryf kan word – mense soos Marine le Pen (Frankryk), Geert Wilders (Nederland), Frauke Petry (Duitsland), Nigel Farage (Brittanje), en nou ook Donald Trump in Amerika.

(’n Mens moet natuurlik versigtig wees met die begrip populisme, want in sekere sin is elke politikus ten minste in beperkte mate populisties. Daar is haas geen politikus wat nié onhaalbare beloftes maak nie, een van die sentrale eienskappe van ’n populis.)

Die interessante verskynsel nou aan die meeste Europese populiste is dat hulle in sosiaal-ekonomiese opsig juis links is.

Die liberale (regses, dus) wil juis die sosiaal-demokratiese welsynstaat, soos dit sedert die beginjare van die 20ste eeu ontwikkel het, beperk. Met ander woorde, werkloosheidsuitkerings moet beperk word, die ouderdom vir staatspensioene moet verhoog word, die staat se finansiële bydrae tot siekefondse moet verminder word, ensovoorts.

Dis alles sake wat stuit op die verbete teenstand van sowel tradisioneel linkse as nuwe “regs”-populistiese partye. Op sosiaal-ekonomiese terrein is daar byna geen onderskeid tussen – sê maar – Geert Wilders se Partij voor de Vrijheid en die behoorlik linkse Socialistische Partij nie.

Laat ek lesers nou nóg verder verwar: Dit alles gaan bowendien gepaard met die “populiste” se begeerte om grootskaals van die gevestigde orde weg te breek en dit met iets volkome nuuts te vervang. Dit maak dié populiste nie konserwatief nie, maar juis radikaal.

Wat alles daarop dui dat tradisionele begrippe en definisies deurmekaar begin loop. Die tradisionele grense tussen partye en ideologieë vervaag. Jy kan nie meer so maklik ’n etiket op ’n party of politikus plak nie.

Dit lyk of daar ewenwel een terrein is waar ’n mens wel helderheid kan skep. Die “regse populiste” (ek gebruik dié hopeloos onvoldoende begrippe omdat ek nie aan ’n alternatief kan dink nie) is oorwegend etnies nasionalisties – Frankryk vir die Franse, Nederland vir die Nederlanders, en die res moet óf weg óf hulle volledig aanpas.

Dit gaan, interessant genoeg, veral gepaard met ’n gevoel teen Moslems en immigrante uit die Midde-Ooste en Noord-Afrika, eerder as teen diegene (ook swartes) uit Afrika en die Karibiese gebied.

In internet-kommentare sien jy hoe ons Afrikaners steeds te kere gaan teen “liberaliste” en die “liberalisme”. Ek het hier bo probeer aandui dat dinge nie so eenvoudig is nie.

Finale alternatiewe antwoorde het ek nie. Maar dit alles maak die wêreld opwindend en fassinerend.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Leendert ·

Dankie, jou skrywes en insigte hou mens op hoogte van politieke paaie, rigtings, denke en invloede, die dryf daaragter. Dit laat mens verstaan.

Gee hierdie nou vir Zuma en die ANC, maar nee, hulle strompel net voort op ‘n ander planeet.

DewaldS ·

Goeie skrywe, Dr Scholtz. Absolute etikette is die uitvloeisel van lui breine.

Herman G ·

Ja, links en regs soos mense dit geken het oor die laaste paar dekades het baie verander, veral nou onder Trump.
Leopold, ek het verwag jy sal ‘n stuk skryf oor Fidel Castro, veral oor jou kennis van die Grens Oorlog. Btw, ek het “Die SAW & Grensoorlog” baie geniet.
Groete

Leopold Scholtz ·

Beste Herman, dis ‘n goeie idee. Ek gaan dit ernstig oorweeg vir aanstaande week.

Cecile ·

In Australie is ‘n koalisie tussen die “Liberal Party” en die “National Party” aan bewind. Hulle word beskou as regs van die “Labour Party ” en die “Greens”. Die “One Nation Party” van Pauline Hanson word as verregs beskou. One Nation het 4 verteenwoordigers in die Senaat na die onlangse verkiesing in Australie, wat buitengewoon is maar aansluit by die wered tendens van groter steun vir konserwatiewe kandidate.

Pietman ·

Dis waar , die terme “links” en “regs” en “konserwatief” en “liberaal” kan misleidend wees. Die hedendaagse “liberales” is eintlik die bekrompes aangesien geen alternatiewe idees geduld word nie. Hulle eien die morele hoë grond en almal wat an hul verskil is immoreel en moet dan geëtiketeer word. Liberaal beteken vryheid. DWS , vryheid van spraak, vryheid om jou opinie te kan gee op’n webblad , vry van regulasie , vry om jou eie besluite te mag neem, minimum regerings inmenging. So mense wat kulturele integrasie forseer val in dieselfde kamp as die wat apartheid wou forseer. In ‘n ideale wêreld moet daar ruimte wees vir almal om hul persoonlike oortuigings te kan uitleef.

Sebastiaan ·

Goeie artikel, dr. Scholtz, dit help om ‘n bietjie duidelikheid te bring. As student in Pol. Wet. het ek ook veel te doen gekry met die indeel van politieke ideologie in links en regs. Tradisioneel is liberaal wel effens aan die linkerkant van die spektrum (reaksioner-konserwatief-gematigd-liberaal-radikaal, die klassieke indeling van ver regs tot ver links). Omdat Amerikaners nie praat van “Leftism” maar van “Liberalism”, waarmee hulle eintlik “Leftism” bedoel, en ons politieke begrip hoofsaaklik uit die VSA beïnvloed word, het die twee sinoniem geword. Daar is ook geen goeie woord in Afrikaans vir “Leftism” nie, dus val ‘n mens terug op liberalisme. Blykbaar is regs en konserwatief deesdae ook twee verskillende ideologieë, en neo-regs en neo-konserwatief verwar mense verder. Die groot verdelingslyn myns insiens is egter nie meer of minder staat, markkapitalisme of staatsinmenging nie, maar die behoud van en waardering vir eie (en ander) kultuur, taal, gewoontes, tradisies en godsdiens aan die een kant, en die “one world/almal is dieselfde” kulturele globaliseringsideologie, aan die ander kant. So gesien is die ANC en DA eintlik maar net variasies van dieselfde, en ook partye soos CDU, SPD, Groenes, VVD, PVDA, Labour, ens. verskil nie wesenlik van mekaar nie.

hanno ·

“Libertaries” is ‘n verbandhoudende woord wat nie hierbo genoem is nie. Wat beteken dit? Hoe verskil dit van “liberaal”?

Leopold Scholtz ·

Beste Sebastiaan, Libertaries is ‘n gedagterigting wat veral in die VSA bestaan. Daar was byvoorbeeld ‘n libertariese party wat aan die pas afgelope presidentsverkiesing deelgeneem het (maar nie veel stemme gekry het nie). Die aanhangers van hierdie rigting sien vryheid as afwesigheid van owerheidsgesag. Hoe minder owerheid, hoe beter. Trouens, hulle wantrou enige owerheid. In sekere sin sou ‘n mens hulle as ideologiese anargiste kon beskou, maar dis ‘n aanduiding wat misleidend kan wees as jy dit te ver voer. Dankie vir die vraag.

Theuns ·

More Leopold, jou artikel laat my glimlag want dit will voorkom of die meeste mense nie weet wie of wat hulle is of wil wees nie. Ek kan nie help om te dink aan die advertensie waar die ou by die lugdiens toonbank aanmeld en omdat hy swak diens ontvang vir die dame vra of sy weet wie hy is? Die dame praat dan op die interkom en vra of iemand dalk weet wie hy is! Dit was nogal skerp! Dit laat my by die vraag kom! “Weet die Afrikaner wie hy is of wil wees?” Weet jy dalk? Groete.

Leopold Scholtz ·

Beste Theuns, ja – oor daardie vraag is miljoene woorde gespreek en geskryf, en dit oor dekades heen. Ek onthou toe ek ‘n kind was in die jare vyftig en sestig van die vorige eeu, was daar geleerdes wat al eie eienskappe van die Afrikanervolk netjies op ‘n ry kon opnoem: Calvinisties, konserwatief, nasionalisties, lief vir die grond, hardwerkend, eerlik, humoristies – noem maar op. As ‘n mens die geskiedenis bekyk, blyk dit die Afrikanerkarakter was baie meer uiteenlopend as dit. So is dit vandag nog. My eie gevoel is altyd dat dit vrugteloos is om die Afrikaners by wyse van spreke met ‘n wiskundige formule te beskryf. Die Afrikanervolk bestaan, en hy weet dat hy bestaan – dis omtrent al wat ‘n mens daaroor kan s^e. En natuurlik dat hy ‘n reg het om te bestaan. Vir die res: Wat my betref, is enigiemand wat hom- of haarself as ‘n Afrikaner beskou, ‘n Afrikaner. Dankie vir jou bydrae.

Theuns ·

Dankie Leopold. Weldeurdagte antwoord. Ek raak partykeer moedeloos oor die Afrikaner se uiteenloopenheid! Net as jy dink jy verstaan hom dan gebeur daar iets wat hom onverstaanbaar maak. Hy is stroomop en baie moelik!

John ·

Trump, Fillon ea word as populisties beskryf. Obama, Clinton en Merkel behoort eerder so genoem te word want hulle wil die massas plesier. Om mense te gee wat naaste aan hul oerdrange le en die minste weerstand vra is altyd ‘n wenner, of jy kan is ‘n ander saak. Vandaar dan ook die ongelukkigheid en selfs heftige aanvalle vanuit die geledere van die pers na’ Trump se oorwinning. Rusland is selfs nadergesleep. Die grenslose Nuwe Wereldorde, en wat dit verder behels, word deesdae deur die VV ondersteun. Die meer behoudende standpunte van die nuwe leiers word en gaan heftig teegestaan word. Clinton sal nooit aanvaar dat sy verloor het nie en sy sal alle gegriefdes se pyn en lyding opstook en Trump al sy dae gee. Die Duitsers, nasate van die Nazi’s, het steeds hul mes in vir Rusland en is weereens besig om hul magsbasis uit te bou, maar nou onder die vaandel van die EU en feitlik niemand kla daaroor nie net Brittanje probeer halfhartig vlug. Niks het basies verander sedert WW2 nie, ons almal hoop en glo maar net dit het…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.