Politieke gebooie in ’n polities gebroke beloofde land

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Presidensie)

Pres. Cyril Ramaphosa het op 15 Maart aangekondig dat die koronaviruspandemie tot nasionale ramp verklaar word, ingevolge die Wet op Rampbestuur. Sedertdien word die optrede van die regering gemagtig kragtens die Wet op Rampbestuur (Wet 57 van 2002). Die grondwetlikheid van die verklaring en daaropvolgende besluite en regulasies moet nog deur die grondwethof getoets word.

Aangesien die president dit vir een of ander rede verstandig geag het om die Wet op Rampbestuur te gebruik ten einde noodmaatreëls toe te pas, was hy, kragtens die Wet, verplig om ‘n Interdepartementele Komitee vir Rampbestuur daar te stel wat, onder meer, bestaan ​​uit “kabinetslede wat betrokke is by rampbestuur” en volgens Artikel 4 (2) moet hierdie komitee (a) “uitvoering gee aan die beginsels van samewerkende regering”, (b) “verantwoordbaar wees en aan die kabinet verslag doen oor die koördinering van rampe”, en (c) “advies gee en aanbevelings doen aan die kabinet oor kwessies rakende rampbestuur. ”

Aangesien die Interdepartementele Komitee vir Rampbestuur die implikasie gehad het om maar net nóg ‘n ministeriële komitee te wees – wat meer koördinasie en meer verpligtinge en aanspreeklikheid in ‘n reeds falende staat beteken – het die president dit toe goedgedink om die sag klinkende Interdepartementele Komitee vir Rampbestuur te hernoem na die veel meer kragtige en gesagdraende Nasionale Korona-bevelsraad. By implikasie het die komitee ‘n militaristiese inslag en benaming ontvang.

As ‘n interdepartementele komitee sou die oorkoepelende struktuur waarskynlik meer suksesvol gewees het, selfs midde-in ʼn mislukte staat, maar sou daar hopelik groter koördinasie tussen funksionele departemente kon wees.

Die Nasionale Korona-bevelsraad (National Corona Command Council) het egter die bykomende voordeel gehad dat die naam aandui dat iemand bevele maak. So al asof Suid-Afrikaners gewag het om bevele te ontvang van die nuwe “bevelsraad”.

En dit is hier waar ideologie en praktyk mekaar kon vind, want die verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal beskryf “bevel” as “gebod” en tweedens as “onder gesag of aanvoering”. Die herbenoeming het dus ʼn struktuur geskep wat nie belangrike sake demokraties koördineer nie, maar eerder die besluite outokraties afdwing deur ’n bevel.

Die Engelse vertaling is dalk meer beskrywend. ‘n Mens hoef net ‘n vinnige aanlyn-soektog na die regte betekenis van die woord “command” te doen, en die aanlyn- Cambridge Dictionary beskryf dit gepas as ‘n “bevel, veral een wat deur ‘n soldaat gegee word” en tweedens word “command” beskryf, as “beheer oor iemand of iets”.

Dit is miskien geen wonder dat die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu (wat so graag soldaat-soldaat speel met semi-militêre uniform en miniatuur Suid-Afrikaanse / Kubaanse vlae op haar baret), dieselfde definisie aanlyn gelees het en haar styl daarvolgens aangepas het nie. Sy het vergeet dat Suid-Afrika in werklikheid ‘n volwaardige demokrasie is, wat veronderstel is om deur demokrate beheer te word. Dus het ons lede van die nuutgestigte Bevelsraad (almal lede van die kabinet) hierdie bevelsrol ernstig opgeneem.

In plaas van ordentlike en behoorlik nagevorsde besluite en met aankondigings in die parlement, het hulle op nasionale nuuskonferensies bevele, oftewel gebooie (volgens die HAT) aangekondig, gerig op ‘n reeds oorblufte en niksvermoedende Suid-Afrikaanse publiek.

Hierdie gesagsfigure, wat hulself intussen verhef het tot politieke gode, reik amper roekeloos en op die ingewing van die oomblik bevele of gebooie (ook bekend as regulasies) uit wat andersins nie toegelaat sou word nie. Dit sluit in ‘n verbod op die verkoop van alkohol en sigarette, wanneer om te stap vir ontspanning of oefening en wanneer nie, watter klere en kos om te koop en van wie. Net so word beweging ingeperk en bevat hierdie gebooie ook beperkinge op reis en ander absurde reëls wat wanorde en chaos skep.

Wat begin het as ‘n algemeen aanvaarde redelike plan om die verspreiding van Covid-19 te stuit en voorbereidings te tref, het mettertyd in ʼn komiese klug ontaard met die hoofrolspelers, die Bevelstruktuur van die Bevelsraad. Die hoofrolspelers se draaiboek is die bevele of gebooie en wissel van perskonferensie tot perskonferensie en word anders geïnterpreteer deur elke rolspeler wat so graag sy en beslis haar politieke gesag wil demonstreer.

Die derde definisie van “command” beteken dat iemand ”oor ’n goeie kennis van ‘n onderwerp en oor die vermoë beskik om die kennis te gebruik”. Ons weet nou dat hierdie laaste definisie, amper 78 dae later, nie van toepassing is nie, nie gelees is nie en vir die meeste lede van die bevelsraad nie eers in hulle verwysingsraamwerk verskyn nie, aangesien hulle baie min vaardighede het en bykans geen kennis van die onderwerp getoon het nie.

Die Suid-Afrikaanse publiek het met byna ingehoue verbasing en oorbluftheid geluister na onwerkbare en onpraktiese gebooie (regulasies) wat deur ons dapper bevelvoerders na ons toe in kortaf taal geblaf is.

‘n Nuwe groeiende swartmarkhandel in sigarette en alkoholverkope het begin; kreatiewe oplossings het na vore gekom vir swak uitgedinkte regulasies. Oor die algemeen het mense hierdie gebooie, wat as regulasies in die Staatskoerant gedruk is, begin ignoreer. Toe die parlement in 2002 die Wet op Rampbestuur goedkeur het, het hy duidelik nie voorsien dat die Wet eendag deur loopbaanpolitici, met meer ambisie as vermoëns, toegepas sal word nie.

Die chaotiese gemors rondom die opening van skole, dubbelsinnigheid en teenstrydighede en omkeer van die beslissings in die hof, het alles gewys op ‘n wanfunksionele regering.

Toe die pandemie ons in Maart vanjaar tref, het die regering – of eerder die ideoloë – die Wet op Rampbestuur ontdek en die geleentheid en gaping gesien om die meganismes wat ingebou is in Artikel 37 van die Grondwet, en wat handel oor noodtoestande, te omseil. Sommige dapper, ideologiese lede van die bevelstruktuur het onmiddellik die skuiwergate gesien wat die Wet op Rampbestuur bied vir die vinniger implementering van die ANC se weergawe van sosialisme en gesentraliseerde sosiale ingenieurswese.

Die bevele, wat ook as gebooie vertaal word, bring gevolglik en onwillekeurig die Bybelse vergelyking na vore. Toe Moses die Tien Gebooie van God ontvang het, moes die Israeliete nog 40 jaar wag voordat hulle die beloofde land kon binnegaan.

Eeue later volg miljoene Christene oor die hele wêreld nog steeds hierdie gebooie nougeset. Waar vind ons die ooreenkoms met Suid-Afrika? Ons is klaarblyklik reeds in die politiek beloofde land. Die land word egter stelselmatig vernietig deur ondeurdagte gebooie (regulasies) van onbekwame en swak toegeruste ministers wat hulself in ʼn goddelike lig sien. Die onhaalbaarheid en onwerkbaarheid van honderde regulasies is egter in minder as 40 dae uitgewys en vervang met ander en nog vreemder “goddelike gebooie”.

Ons het nou nie net ‘n disfunksionele staat nie, maar ‘n ewe disfunksionele en leierlose Nasionale Ramp-bevelsraad wat in chaos regeer in ‘n gebroke politiek beloofde land.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Dankie Jan Bosman….jy het nou die gebeure vanaf die 26ste Maart nou soe mooi opgesom. Die ANC sirkus met Cyril Ramaphosa aan die voorkant, en dan deur elke liewe nar ANC Minister! In Engels sal mens se “absolutely NO ONE covered themselves in glory!” Vir my sal die hartseer van hierdie pandemie altyd die kind by Cradle of Hope wees wat net ‘n grondboontjie toebroodjie en ‘n piesang te ete kry vir die dag, maar dan word die plek toegemaak, en ‘n polisie bakkie staan buite. Who do we have to thank? “Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu (wat so graag soldaat-soldaat speel met semi-militêre uniform en miniatuur Suid-Afrikaanse / Kubaanse vlae op haar baret).” Onthou as julle julle kruisie gaan trek in die volgende verkiesings om net verby die ANC op die stem papier te kyk!

Jan ·

Covid-19 kom handig te pas. Benewens die verklaarde ANC agenda om “ekonomiese transformasie gebaseer op gelykheid” nou te implementeer deur blanke besighede oor die afgrond te stoot, gee dit die regering ‘n nuwe skuifmeul om hul onvermoë om te kan regeer te verberg. Hulle hoef nou nie meer alles aan apartheid toe te skryf nie. Covid-19 kan nou deel van die skuld dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.