Politieke keuses is tussen sleg en vrek sleg

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Deel van die politiek – ʼn moeilike deel – is die maak van keuses. Baie dikwels gaan daardie keuses nie tussen goed of sleg nie, maar tussen sleg en vrék sleg.

Die korona-pandemie is só ʼn saak waar bewindhebbers keuses oor die aanpak daarvan moet maak. En in die proses roep die keuses reaksies onder ʼn deel van die bevolking op, waardeur fopnuus soms die oorhand kry en ekstremiste, links én regs, die politieke inisiatief probeer oorneem.

Kom ons kyk eers na die pandemie. Enige regering sit voor ʼn intense dilemma. Op aanbeveling van mediese kenners en epidemioloë het feitlik alle owerhede wêreldwyd in mindere of meerdere mate vir ʼn vergrendeling gekies om die verspreiding van die koronavirus te beperk.

Dis op sigself logies, want die eerste golf vroeër vanjaar het in talle lande in Europa en Asië gedreig om die breë gesondheidstelsel te oorweldig. Een opvallende Europese uitsondering was Swede, wat besluit het om geen vergrendeling toe te pas nie, en waar tot op datum “slegs” 5 763 sterfgevalle aan die virus toegeskryf is.

Die rede is waarskynlik dat die Sweedse bevolking relatief gedissiplineerd is en dat die regering se beroep op mense om sosiale afstand te handhaaf, goed nagekom is. (Tog was die Sweedse sterftesyfer die hoogste van die Skandinawiese lande.)

In lande soos Amerika en Brasilië het die presidente (Donald Trump en Jair Bolsonaro) die pandemie gebagatelliseer en slegs halfhartige maatreëls geneem. Die gevolg was rampspoedig: In Amerika is meer as vyf miljoen gevalle (tans byna 50 000 per dag) en meer as 160 000 sterftes (tans meer as 1 200 per dag) gedokumenteer; in Brasilië is die syfers, relatief gesproke, ewe sleg.

Daarteenoor staan faktore wat ons in Suid-Afrika baie goed ken: Enersyds lei die einste vergrendeling wat lewens moet red, tot ʼn ineenstorting van die ekonomie, grootskaalse werkloosheid, honger, ellende; andersyds lê dit mense se persoonlike vryheid aan bande. Dink maar aan Nkosazana Dlamini-Zuma se absurde verbod op die verkoop van sigarette en alkohol, waardeur die Wes-Kaapse wynbedryf nou op die randjie van ineenstorting staan.

Wel, in verskeie Europese stede was daar in die laaste tyd grootskaalse betogings teen die vergrendelings. In Berlyn het ʼn paar honderdduisend mense gedemonstreer, terwyl duisende ook in Stuttgart, Amsterdam en Den Haag byeen was. (Terloops, sommige mense beweer dat die “hoofstroom media” die getalle doelbewus te laag geskat het, maar koerante soos die gematig-konserwatiewe Die Welt en die televisiesender ARD het dit ná ’n genuanseerde en wetenskaplike analise eweneens op ʼn paar honderdduisend gestel.)

Sulke betogings het die voordeel dat dit duidelikheid oor bepaalde sake kan verskaf. In al dié gevalle was dit ʼn allegaartjie van anargiste, linkse en regse ekstremiste wat, heel ironies, almal onder die banier van vryheid en demokrasie geloop het.

In Berlyn was plakkate van hippies, aanhangers van homoseksuele groepe en anargiste saam met dié van die regspopulistiese Alternative für Deutschland (AfD) en die sogenaamde Reichsbürger (mense wat nie die huidige Bondsrepubliek erken nie en die Deutsche Reich wil herstel) te sien. In Amsterdam en Den Haag is soortgelyke tonele bemerk.

Willem Engel, leier van die Nederlandse betogings, is ʼn bekende anargis. Hy ontken selfs dat die koronavirus dodelik kan wees en beweer dat dit alles deel is van ʼn komplot om “die samelewing te verkneg”. Wat die groepe verenig, is meer as hul verset teen die vergrendeling. Hulle verwerp die demokrasie as sodanig.

Engel het onlangs in ʼn televisieonderhoud gesê: “Daar kom steeds meer ʼn punt waarop ons ʼn volksopstand sien, waar almal die Tweede Kamer [parlement] bestorm en ons ʼn herhaling van die gebroeders De Witt kry.” Dit was ʼn verwysing na ʼn opstand in 1672, toe ʼn menigte die twee belangrikste leiers van die destydse Nederlandse Republiek in Den Haag bestorm en vermoor het.

Eweneens het ʼn AfD-parlementslid, Enrico Konming, aan die Schweriner Volkszeitung gesê: “Hoe jy hierdie demokrasie ook al wil noem, dit wil ons glad nie hê nie, dit wil ons altyd afskaf.” En op ʼn strategiekonferensie van Die Linke (erfgename van die ou Oos-Duitse kommuniste) het een deelnemer gesê: “Ons moet hierdie op die parlement gerigte verteenwoordigersbedryf verswak.” ʼn Ander kameraad het voorgestel dat alle rykes geskiet moet word.

Die probleem (uit die oogpunt van die betogers) is dat die breë bevolking glad nie agter hulle staan nie. Luidens ʼn onlangse meningspeiling het 91% van die Duitsers “geen begrip” vir die proteste nie.

Nog ʼn leier van die Nederlandse proteste is Martijn Koops, iemand wat sê “ons staan hier omdat ons ons vryheid terug wil hê” – ʼn algemene geluid in die kringe waar hy beweeg.

Luidens ʼn artikel in die Algemeen Dagblad deel hy graag berigte van QAnon, ʼn skimmige Amerikaanse beweging wat beweer dat die “Deep State” ʼn komplot is om die wêreld te regeer. “Daar lê eenvoudig ʼn internasionale draaiboek klaar vir dié pandemie. Dit is nie meer toevallig nie. Ek het ʼn hoop vermoedens.”

ʼn Anargis wat ek goed ken, gaan gereeld te kere oor die “geheime wêreldregering” wat alles en almal wil oorheers. Verreweg die meeste wêreldleiers is trouens pedofiele, beweer hy – ʼn standpunt wat jy meermale in dié omgewing teenkom.

Hoe nou in Suid-Afrika? Ook Solidariteit vra dat die vergrendeling drasties verslap moet word. Maak dit van Solidariteit ʼn anargistiese of ekstremistiese beweging?

Die situasie in ons land is anders as in die hoog ontwikkelde Europa, Amerika of Asië. In Suid-Afrika het ons ʼn swak ekonomie, bowendien ʼn wanbestuurde een, saam met ʼn nypende armoede wat die bevolking in ʼn ysere greep vashou.

In die townships weet die mense dikwels nie waar die volgende bord kos vandaan moet kom nie. Bowendien woon die mense op en bo-oor mekaar in pondokkies waar sosiale afstand eenvoudig onmoontlik is. En ons sit met ʼn regering wat fundamenteel korrup, onbekwaam en magsbelus is – ʼn plofbare en toksiese mengsel wat niks goeds voorspel nie.

Vanweë die spesifieke politieke en sosiaal-ekonomiese situasie in Suid-Afrika kan ʼn mens begrip vir Solidariteit se standpunt hê. Ook vir dié beweging gaan dit om ʼn keuse tussen sleg en vrék sleg, en dan kies jy maar téén die vrék slegte keuse van die regering.

In die ontwikkelde wêreld is sake ook ver van ideaal. Maar die verset van die betogers in Berlyn, Amsterdam en Den Haag is ligjare verwyder van Solidariteit s’n.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Professor, dit wil mos sowieso lyk of dit nie veel beter gaan in Europa as in die VSA nie. En dat Bolsonaro nie veel erger as ‘n paar ooms in jou eie omgewing is nie. Heelwat sports wag in die politiek in die komende paar maande. Hou die inkpot vol.

Therese

Wêreldmedia het die gekanselleerde 2020 Tokyo Olimpiese Spele op bedenklike wyse vervang met die ‘2020 Covid-19 Politieke Spele(tjies)’, kompleet met wenners en verloorders, bepaal deur niks minder as … Covidsterftesyfers nie!
Beslis ‘n nuwe laagtepunt vir die bestaande orde.

Protesbewegings deur honderdduisende vreedsame gematigdes word ongelukkig weer eens verdag gemaak deur die inspan van ekstremistiese anargiste.
‘n Sprekende voorbeeld van, om Kallie Kriel aan te haal: “linksgesindes se diktering van die openbare agenda”.

Fritz

Jaaaaa, ek wens ek kon kies tussen my vryheid van beweging en ander mense se lewens. Raai watter een sou ek kies?

marius

Twee keuses , die duiwel of die duiwel se suster . Dis hoekom mense siek is vir politiek .