Politieke klimaat in Duitsland word meer aggressief

Foto: Pixabay

Duitsland se politiek was gewoonlik eerder vervelig en het gegaan oor brood-en-bottersake en die partye het min van mekaar verskil. Ekstremisme en terrorisme was (en is nog steeds) ’n totale randverskynsel.

In die sewentiger- en tagtigerjare was die links-ekstremistiese terreurgroep Rote Armee Fraktion (RAF) bedrywig, maar is later verslaan. Verregse terreur was feitlik onbekend, maar fanatieke enkelinge wat deur die internet beïnvloed is, is ook hier ’n nuwe (gelukkig nog nie algemene) verskynsel. Selfs Islam-terrorisme het eers redelik laat, met die verskriklike aanval op die Kersmark in Berlyn in 2016, na vore getree. Daar was nie weer ’n vergelykbare aanslag nie, ook omdat die polisie danksy goeie werk menige aanslae kon voorkom.

Indien daar wel aanslae deur Moslems gepleeg word, word die toedrag van sake lank stilgehou om nie “aanleiding tot valse vermoedens en vooroordele” te gee nie. As die Islamitiese verband nie langer ontken kan word nie, is die hoofstroommedia en die meeste politici dadelik op die voorgrond en waarsku almal om nie Moslems te blameer nie en om nie te veralgemeen nie. Uit die oorde van linkse aktiviste kom ook dikwels die stelling dat die ergste aan “vermeende” aanslae deur Moslems die feit is dat “regses dit misbruik vir hul agenda van vreemdelingehaat”.

Onlangs was daar ’n amokloop van ’n jong Duitse man in die stad Hanau, waarin hy nege mense, hoofsaaklik Turke, doodgeskiet en talle ander beseer het. Daarna het hy sy ma en homself doodgeskiet. Die man was blykbaar versteurd en het onder meer aan vervolgingswaan gely. Sy sienings was onsamehangend en ’n sameflansing van haat en vrees vir alles en nog wat, onder andere vreemdelinge, maar ook geheime magte, Amerika, ondergrondse fabrieke, ensovoorts. Oor sy politieke oortuigings is niks bekend nie. Vlugtig is genoem dat sy pa blykbaar aktief was vir die Groenparty, maar dit het dadelik weer uit die nuus verdwyn. Nogtans (of juis daarom) is die wandaad onmiddellik as “regse terreur” gebrandmerk en is daar ’n lyn na die regs-konserwatiewe Alternative für Deutschland (AfD) getrek.

Aangesien almal die mes inhet vir die AfD, veral sedert die gebeure in Thuringië (Lees ook: Groot drama oor ʼn klein provinsie), het feitlik elke invloedryke persoon op die wa geklim en die haatveldtog teen die AfD is nog ’n paar ratte hoër geskakel. Sonder enige bewysbare verband is besluit dat die AfD met hul retoriek verantwoordelik is vir aanslae soos dié van Hanau. Terwyl hulle in die verlede nog as “regse populiste” uitgekryt is, is hulle nou sommer “fasciste” en selfs “Nazi’s”.

Die ergste is dat die meningsvormers en die magtiges – van kanselier Merkel en president Steinmeier tot die plaaslike politici en sosiale media-aktiviste – nie daardie belaglikheid aan die kaak stel nie, maar selfs nóg olie op die vuur gooi. Dit is asof die AfD nou voëlvry verklaar is, en daarmee saam enige iemand wat vir hulle probeer opkom of wat regs van Merkel is.

Dit herinner nogal aan Suid-Afrika, waar haat op wit mense altyd geregverdig word met hul “rassisme”, waarby “rassisme” ook blote kritiek op die regering kan wees. Binne die partye wat tradisioneel in die middel of selfs effens regs van die middel is – die Vrye Demokratiese Party (FDP) en die Christen-Demokratiese Unie (CDU) – is daar ’n ware heksejag aan die gang teen almal wat iets positiefs oor die AfD gesê het of koalisies met hulle as ’n moontlikheid beskou. Daar is natuurlik ook heethoofde by die AfD, maar die meerderheid lede is gewoon behoudend of selfs liberaal en bekommer hulle oor misdaad, massa-immigrasie, verval van waardes en norme, die onvolhoubare beleid oor energie, die ekonomie, ensovoorts.

Saam daarmee gaan ’n al hoe groter politieke korrektheid, wat mens ook aan Suid-Afrika laat dink. Dit is lankal nie meer net persone wat direk aan die Nazi-era verbind kan word, wie se name uit openbare plekke en selfs uit museums verwyder word nie – dit strek nou al hoe verder terug tot in die era van die Keiserryk en selfs die 19de en 18de eeu. Almal word aan vandag se (soms skewe) standaarde gemeet.

Alhoewel die huidige regering nominaal die breë middelgrond verteenwoordig, regeer die links-groene Zeitgeist in praktyk reeds.

Die veldtog teen alles wat regs is op alle kanale laat die mense nie onbeïnvloed nie. Al is daar nog steeds alternatiewe en sosiale media wat (nog) nie aan bande gelê word nie, vertrou veral die ouer mense die televisie en die groot hoofstroomkoerante en laat hulle daardeur voorsê.

Sedert die gebeure in Hanau wys meningspeilings vir die eerste keer dat ’n linkse blok uit Sosiaal-Demokrate, Groenes en Die Linke Party ’n meerderheid het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Arnold ·

Ja die gesig van Duitsland is snel besig om te verander. Ek hoor met die krisis op die Griekse grens met Turkye waar migrante met geweld probeer Europa binnegaan het Duitsland gesê hulle het plek vir ‘n miljoen migrante. Oor twintig dertig jaar sal die Duitsers seker die minderheid in hul eie land wees en Islam seker die enigste geloof wat geduld sal word.

Therese ·

Uiters kommerwekkend en onverstaanbaar dat konserwatiewe, tradisievaste mense gereeld as gevaarlike, regse populiste gebrandmerk word. En nie net in Duitsland nie, dis ‘n wêreldwye tendens.
Die “meningsvormers en die magtiges” is meedoënloos.

Dalk was andersdenkendes vir té lank stil, want dis wragtie laat in die dag as selfs historiese gebeure en persoonlikhede konstant in die spervuur is.
Die AfD moet sterk staan en probeer om die morele hoëgrond te behou teen besete linksgesindes.

Rose ·

Europese regerings sal nie langer hul eie burgers onder n wanindruk kan bring nie. Die mense op straatvlak kan mos sien dat hulle erfenis bedreig word deur invalle van ander nasies wat net morele verval en armoede aandra. Hulle sal opstaan omdat hulle moet swaar kry om vlugtelinge te huisves wat niks vir hulle welstand beteken nie. En dit sal op burgeroorloe uitloop. Hoekom moet jy soos n stiefkind in jou land behandel word. Die vlugtelinge hou nie net n veiligheids risiko in nie, maar is ook n hengse las op die staat en belastingbetalers. Kyk maar wat is die oorspronklike herkoms van die liberale in die Europese lande.

Autobahn ·

Soos PI-News berig kom die nuutste Europol-berig ongeleë vir die Duitse regering. En waarom is die Europol-berig „classified“?
Die AfD poliker Nicolaus Fest kon die berig lees en vertel in ´n youtube video, volgens die berig word Islamiese terrorisme met grootste afstand as grootste gevaar gesien. Die tweede grootste gevaar kom van links terrorisme. ´n Bedreiging van „regs“ of „regsterrorisme“ bestaan nie! ´n Dag na Nicolaus Fest se video is sy motorkar aan die brand gesteek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.