Politieke korrektheid in Amerika

Amerikaanse-vlag

Foto: pixabay.com

Deur Johann Holzapfel

“Politieke korrektheid” het behoorlik wortel geskiet in ons omgangstaal. Dis ʼn verskynsel wat veral sedert die politieke oorgang in 1994 ʼn dramatiese invloed gehad het op hoe mense teenoor mekaar optree en op alle vlakke met mekaar kommunikeer.

Word oor ras gepraat, moet jy jou woorde mooi kies. Tot selfs die woorde “swart” en selfs “bruin” moet deesdae versigtig gebruik of liefs vermy word. (Die rede waarom dit mode geword het om in die debat oor kleurkwotas op sportgebied liefs te praat van “spelers van kleur”?)

Indien wel na kleur verwys word, kan ʼn gesprek vinnig in ʼn vuurwarm debat verander met die stank van die aljimmerse muishond van rassisme (en natuurlik apartheid) in die lug.

Drie jaar in die VSA – van 1997 tot begin 2000 – hy my nader kennis laat maak met Amerikaners se “politieke korrektheid” wat ontwikkel het in ʼn soort “newspeak”, veral wanneer pigment, maar ook seksisme, manlike chauvinisme, homofobie en mense se seksuele voor- of afkeure ter sprake kom.

Daardie ervaring in die Land van Groot Geleenthede (ʼn uitdrukking wat ook al taboe verklaar is omdat dit deesdae as kwetsend beskou word teenoor dié wat nie deel in die voorregte nie!) het van die VSA ook ʼn Land van Oordaad en Obsessie gemaak.

Dit is ʼn verskynsel wat in die vroeë negentigerjare soos ʼn virus versprei het: Toe mense- en diereregte-aktiviste aan ʼn swetterjoel fronte begin woel het om die daaglikse spreektaal op alle vlakke van die samelewing te reinig van woorde wat deur sekere groepe mense as beledigend ervaar kan word. Met die heel “edel” doelwit die skep van ʼn “verwelkomende omgewing waarin diversiteit en inklusiwiteit” sal gedy. ʼn Soort kompas onderweg na die paradys van vrede op aarde en in die mens ʼn welbehae.

Twee voorbeelde van ons eie weergawe van “politieke korrektheid” (en daar is talle meer) verdien vermelding:

Die eerste voorval is die sito-sito veroordeling en aanvanklike skorsing van die twee Heemstede-studente op Stellenbosch weens hul rassisme – omdat hul pers gesigte volgens Maties se kleurinspekteur Mathew Smorenburg eintlik as swart bedoel was.

Die hele herrie, wat hoofnuus in die media was, het hoeveel maande later ʼn stille dood gesterf met die bevinding dat die meisies niks verkeerds gedoen het nie! Geen bevinding oor Smorenburg se gedrag of optrede teen die “studente” wat Heemstede onwettig binnegestorm en die huiskomitee oor rassisme uitgetrap het nie. Geen verskoning vir húl vernedering nie!

In ʼn ander voorval is ʼn MyCiti-busbestuurder, Jerome Rose, ontslaan nadat een van sy passasiers beswaar gemaak teen sy gewoonte om soggens voor die rit van Atlantis Kaap toe die Here in ʼn kort gebed te dank vir ʼn nuwe dag en lewe en Hom te vra om hulle op die reis te bewaar.

Die rede vir sy ontslag? As jy wil bid, doen dit tuis of stil want jou passasiers is nie almal Christene nie en sommige mag aanstoot neem!

Een definisie van “politieke korrektheid” is: Die vermyding van ʼn aanstootlike manier van praat oor sosiale gebruike en wat nog omdat dit berekend bedoel is of deur ander ervaar kan word as kwetsend, hetsy agtergeblewenes of ʼn bepaalde groep mense in die gemeenskap.

Wat nie veel verskil van die baie eenvoudige en beskaafde gedrag en spreekwyse van mense wat al kleintyd van ma en pa geleer het jy sien nooit neer op ander mense nie. Kies dus jou woorde versigtig. En jy staan terug en hou die deur oop sodat ʼn vrou of oue van dae eerste kan instap. Jy groet mense. Sê dankie en asseblief. Ensovoorts…

Sommer net gewoon ouwêreldse ordentlikheid. Jy behandel ander soos jy graag wil hê ander moet jou behandel. Bedagsaam en verdraagsaam. Jy spot nie met iemand wat hakkel of vet is nie. Of met ʼn ander se velkleur, geloof of fisieke gebrek nie.

Maar in die oortreffende trap lei dit gereeld tot ʼn Babelse spraakverwarring omdat wat gesê word in stryd is met wat werklik gedink word.

In die VSA is “niggers” vervang deur “swart” en “Afro-Amerikaner”. In Suid-Afrika is die k-woord (genadiglik en reg ook) uit die woordeskat gehaal, nie net wanneer na “swartes” verwys is nie, maar ook die ou name van riviere, bome en ʼn sekere soort waatlemoen.

Maar dit het gaandeweg in Orwelliaanse “newspeak” ontwikkel, wat deur kritici van “politieke korrektheid” beskou word as ʼn neurotiese en kosmetiese konkoksie van die ultra-linkses, steriel en humorloos, gedryf deur vrees vir aanstoot en wapen van almal wat hulleself as slagoffers van “die stelsel” beskou: ʼn teelaarde vir leuens en bedrog, voorgehou as die ideale kuur vir rassisme en diskriminasie en die bereiking van die ideaal van ʼn soort globalistiese mulikulturele utopie. ʼn Volledige morele kode, lewensbeskouing en kulturele etos, bemark met die etiket: “Ons weet beter en ons is beter.”

Dit het ʼn impak gehad (en het dit steeds) op wat voorgehou word as liberale pogings om viktimisasie te beveg deur onder meer regstellende aksie en selfs die aanpassing van leerplanne op skool en universiteit.

Mense is nie vet of oorgewig nie, maar horisontaal uitgedaag. Jy praat nie van “onwettige immigrante nie”, maar van “ongedokumenteerde persone op soek na ʼn beter lewe”.

ʼn Paar voorbeelde van politieke korrektheid waaroor destyds uit die VSA verslag gedoen is, sluit in:

Tegnologiese vooruitgang het ʼn splinternuwe wêreld vir kinders in hul grootwordjare ontsluit. Albasters, tol, kennetjie en bok-bok is verdring deur passiewe vermaak met slimfone, skootrekenaars, CD-spelers en oorfone.

Omtrent net inkleurboeke as deel van ʼn kleuter se skoling het oorleef met die vetkryt van die verlede wat steeds in Crayola se oorspronklike donkerbruin-en-geel boksie bemark word.

In die ou beginnerstel was een van die gewildste kleure ʼn roesbruine met die naam Red Indian. Die kleur is nog beskikbaar. Maar die naam het in 1999 die slagoffer geword van politieke korrektheid.

Menseregte-aktiviste, wat toe reeds die “rassistiese” benaming Rooihuide uit die omgangstaal gedryf en met Indiane vervang het, het gesê Red Indian is beledigend vir duisende nasate van die steeds agtergeblewe inheemse Indiane.

Die verduideliking dat die naam Red Indian kom van ʼn pigment in Indië en niks uit te waai het met velkleur nie, is verwerp. Toe gedreig is met ʼn landwye boikot van al die maatskappy se produkte, is gehensop.

Die gewraakte stukkie vetkryt het sy pigment behou, maar is herdoop tot kastaiingbruin (chestnut).

In Florida is ʼn bofbalspan ingevolge ʼn hofbevel verplig om die naam Squaws (ʼn naam vir inheemse Indiaanse vroue) van al sy klere te verwyder. Want dit gee aanstoot en is rassisties, was die hof se bevinding.

Die gewilde Amerikaanse voetbalspan Washington Redskins hou nog uit, maar is al dekades onder druk om van “Redskins” ontslae te raak. Ander bekende handelsname soos Apache (ʼn aanvalshelikopter) en Cherokee (ʼn Jeep-model) kan nie veilig voel nie.

Destyds is ook beswaar gemaak teen die gebruik van die woord “arm” as na agtergeblewenes verwys is. “Ekonomies uitgedaagdes” was beter. En mense is nie mal, blind, dom, vet, lelik of kreupel nie, maar landgenote met intellektuele, geestelike of liggaamlike uitdagings.

Hierdie “newspeak” hou verband met die goedvoel-sindroom in die VSA. Kinders mag nie gekritiseer word as hulle ʼn eksamen druip nie. Of selfs as hulle op die sportveld slae kry nie.

In ʼn ondersoek is bevind dat die uitslae van interskole-hokkiewedstryde in Boston al jare lank doelbewus verkeerd aan die media gevoer is. Tellings van 18-0 en 10-0 is verander na 3-0 en 1-0.

Die verduideliking was: “Ons wil nie die verloorders se selfbeeld knou nie.”

In die deelstaat Maryland het sportbyeenkomste by skole nie wenners en verloorders opgelewer nie. Almal het presies dieselfde bekers en medaljes ontvang. Die redenasie: “Bloot deur deel te neem, maak van jou ʼn wenner. Die uitslag is bysaak. Maak jy ʼn ophef van die wenners, diskrimineer jy teen die verloorders.”

Die uitgewer van die werke van die beroemde Amerikaanse skrywer Walt Whitman, ʼn selferkende homoseksueel, het die word “man” uit al sy gedigte geskrap en met die neutrale hu, hus en hum vervang “omdat Whitman self nie die betekenis van man verstaan het nie”.

Een van sy gedigte lui nou: “Hu will never sleep any more and hu died in the cot in hu’s mother’s bedroom.”

Die militante diereregte-organisasie Peta het destyds ʼn veldtog gevoer om melk amptelik as rassisties te laat klassifiseer. Die rede? “Miljoene Afro-Amerikaners, Spaanssprekende Amerikaners en ʼn groot persentasie van die inheemse bevolking (Indiane) is allergies vir melksuur”.

Die rassistiese etiket wat melk van Peta gekry het, het ʼn rubriekskrywer laat opmerk: “Wel, as daar ʼn rassis in die yskas is, is die son ook rassisties, want hy brand wittes erger as swartes.”

Baie van die politiek korrektes teiken egter steeds godsdiens, spesifiek die beoefening daarvan in die klaskamer, op die sportveld, tydens Pase of met Kerstyd.

In een voorval in New York het ʼn meisie tydens skoolure in die klas vertel dat haar maatjie verdrink het. Sy het gevra: “Dink juffrou sy is nou in die hemel?”

Die onderwyeres, ʼn belydende Christen, se antwoord was: “Natuurlik. Want Christus het na die wêreld gekom om ons almal te red.” Sy het daarop ʼn kort gebed gedoen.

Een van die kinders het haar pa daarvan vertel. Hy het by die skoolraad gaan kla en die onderwyseres is ingeroep om te verduidelik.

Die raad het aangedring op ʼn onderneming dat sy dit nooit weer sou doen nie. Sy het geweier. Vier dae later is sy geskors en toe afgedank. As rede is aangevoer dat gebed in skoolure ingevolge federale en staatsregulasies verbode is. Dit geld Christen, Moslem en Jood.

Die wet ingevolge waarvan onderwysers verbied word om in die klaskamer te bid, is in 1962 bekragtig. Die motivering was: In skoolure verteenwoordig die leerkrag die staat en nie ʼn bepaalde kerk of godsdiensgroep nie. Almal is nie Christene nie en die beoefening van een geloof kan die minderhede krenk.

Dit is ingespan vir ʼn hofbevel wat ʼn stadsraad in New Jersey verplig het om ʼn voorstelling van Christus se geboorte, kompleet met liggies en ʼn Kersboom, van die stadsplein te verwyder.

Raad van ons bure voor ons eerste wit Kersfees in 1998 was: Moet liefs nie vreemdelinge ʼn geseënde Kersfees (Happy Christmas) toewens nie. Sê maar eerder “Happy Holidays!”

Dit was ʼn vreemde Kersfees. Oral Kersbome, oral liggies. Maar behalwe tuis en in die Presbiteriaanse kerk oorkant ons woonplek geen gewyde Kersmusiek nie. Net “Jingle Bells”, “Sleigh Ride” en “Happy Holidays”….

My politiek “inkorrekte” standpunt van destyds het nie verander nie:

“Politieke korrektheid, hoe edel ook die aanvanklike bedoeling, het gelei tot ʼn kortsluiting tussen wat in die hart omgaan en by die mond uitkom.”

Baie van die idees van die volgelinge van hierdie kwasi-ideologie vloek teen gesonde verstand. Mense dink in taal. En sodra jy ʼn mens se taal begin manipuleer, is beheer oor sy denke seker nie vergesog nie. Dis ja vir sensitiwiteit en verdraagsaamheid in ʼn wêreld vol kwinte en kwale, stereotipes en vooroordele. Maar nee vir oneerlikheid.

Amerika, o Amerika. Waar ʼn president elke vier jaar met die hand op die Bybel ingesweer word. Die land waar die woorde “In God we Trust” in enorme letters oral in staatsgeboue pryk.

En op die dollar.

En waar mense verbied word om in die klaskamer of op die markplein te bid.

Klink mos baie soos Suid-Afrika in die jaar van onse Heer 2016.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Basson ·

Sjoe – goeie oorsig. dankie,
Baie goeie opm oor ‘beheer taal en jy beheer die denke’.

Kom ons toets ‘n paar opinies – Mag ‘n persoon homself bestempel as ‘Proud Black and (bv) Zulu’, of ‘Trots Wit en Afrikaans’, ens??

JC ·

Puik artikel!
Wat ‘n siekspul is die diktatuur van die liberaliste nie!!
Dankie die Here baie van ons het AL LANKAL daardeur gesien en vermy die populistiese ideologies gedrewe linkse en polities korrekte nuusagentskappe!!(almal weet seker waarvan ek praat)

chrisp ·

Daarom my standpunt.Liberalisme is ‘n alles verterende kanker wat die wereld oorspoel waarvan PK terme maar net een tentakel is.
Laat my baie dink aan die DA se een slagspreuk in die toekoms sal ons geen verskil sien nie(‘n prentjie van swart en wit paartjie). Dit het belaglik geraak geen kleur,geslag ens verskille nie ons is almal dieselfde. Die storie van geen wenners en geen verloorders sal gesonde kompetisie totaal dood’smoor. Dit sal nuwe denke en idees ook vernietig.

Basson ·

Dis die groot plan – geen eie unieke identiteit, dit moet alles vernietig word.

(Maar gelukkig kry die NWO plan teenstand, en ons kans selfs vir Putin dankie se wie deur Washington se planne begin sien)

Nico K ·

Ek dink Europa begin nou ook te ver gaan. Ek kan bv. glad nie saam stem met Frankryk wat nou Moslems swemdrag verbied nie. Dit is nou blykbaar vir vrouens wat hulself heeltemal toe maak. (Maar kaal swem is aanvaarbaar!) Ek dink daar is nou nie meer geloofsvryheid nie. Dit word nou anti-geloof. Ek verstaan sekere Christen gebruike soos ‘n kruisie om jou nek, word ook in skole in Frankryk verbied.

Henk ·

en ek moet 100% hiermee saamstem! Amerika, die land van die skynheiliges en die bewaarder van die illuminati wat mammon aanbid en nie vir God aanbid nie. Wat daarop uit is om die “nuwe wereld orde” op almal af te dwing, wat daarop uit is om die geloof van die Christen in God te probeer uitwis. Maar God slaap nie.

Loeis ·

Mens moet eintlik maar net ‘n houding innneem van jy probeer om nie aanstoot te gee nie. Maar as jy doen, maak dit kategories duidelik jy gee nie ‘n flenter om wat mense dink nie.

gatiep ·

Dankie mooi uit een gesit.
Die nuwe een in USA is nou dat jy binnekort nie meer man en vrou of seun en dogter mag se nie want gay mense neem aanstoot.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.