Politieke korrektheid: ʼn Eenrigting-doodloopstraat en geen oplossing

Uit: Kwinksinnig: Taalskertse deur Johan Combrink en geïllustreer deur Piet Grobler

Een van die mees kontensieuse onderwerpe vandag is sekerlik politieke korrektheid. Dit staan feitlik buite twyfel dat politieke korrektheid, ʼn moreel-utopiese idealisme en wit skuld blywende konsepte van Suid-Afrika se sosiale en politieke landskap geword het. Apartheid en kolonialisme, wat vandag as groter misdade teen die mensdom as kommunisme beskou word, het immers albei in ons land op verskillende tye plaasgevind. Die ANC maak gereeld melding van die feit dat rassisme die samelewing se grootste gevaar is en dat politieke korrektheid vereis word van almal wat in die land bly.

Maar hoewel ek as trotse Christen en Afrikaner self die konsep van vreedsame naasbestaan, wederkerige respek en naasteliefde volledig onderskryf, dink ek nie dit gaan die land se nypende probleme soos armoede oplos nie. Bowenal beskou ek dit in sy huidige gedaante as ʼn eenrigtingstraat waarin daar van een groep verwag word om verskoning te vra en nie diskriminerend en opruiend te wees nie, terwyl andere willens en wetens rassehaat aanblaas vir hul eie politieke gewin. In plek van ʼn oorvereenvoudigde beskouing van “reg en verkeerd”, wil ek eerder ʼn wyer soort moraliteit bepleit wat vir almal, ongeag wie hulle is, ʼn vars blik op moraliteit sal gee en hulle tot selfverbetering sal dwing. Hierdeur sal elkeen van ons, in pleks van ʼn “hulle-is-verkeerd-en-ons-is-reg” gesindheid, ons menigte foute raaksien en besef die verandering begin by ons en nie by eksterne faktore nie.

Eerstens moet ons as wittes erken ons het foute in die verlede gemaak. Of dit ʼn politieke fout was wat noodgedwonge gepleeg was weens demografiese faktore of vrees vir die “ander” of bloot ʼn morele flater wat een etniese groep bo ʼn ander geag het, moet ons erken dat ons gefouteer het. Eweneens is die Afrikaner ook al verslaan, sy eiendom geplunder en in armoede gedompel terwyl hy vir sy vryheid geveg het en moet dit ook nie uit die oog verloor word nie. Die Afrikaner het ook die swart bevolking se vryheid bewerkstellig binne 46 jaar terwyl Frankryk en Brittanje vir dekades die swart bevolkings in hul onderskeie kolonies verontmenslik en onderdruk het. Apartheid was egter toegepas op ʼn tyd toe die verligting oor Europa gespoel het en dit nie meer fatsoenlik was om te kolonialiseer nie, maar eerder te dekolonialiseer sonder om die vergrype van die verlede te onthou. Die Afrikaner het boonop wêreldklas-infrastruktuur en ʼn eersterangse staat op die been gebring, ons was altyd verbonde aan die land, die swart bevolking se getalle en lewensverwagting het meteories toegeneem tydens Apartheid en ons het vreedsaam die pad na demokrasie verseker. Dus kan ons wel skaam kry oor sekere gebeure in ons verlede, maar beslis nie onbepaald apologeties staan oor goed wat ander volkere in ʼn veel erger mate gesondig het nie. Dus was ons skuldig sowel as onskuldig. Slagoffer sowel as onderdrukker. Bevoordeelde en nou ook ʼn benadeelde.

Die ANC sien dinge anders. Hulle beskou ons nog steeds as “kolonialiseerders van ʼn spesiale soort” (aldus oudpres. Thabo Mbeki) en het húlle die Messiaanse rol alleen gespeel. Derhalwe moet die wittes aanhou boete doen, betaal (geldelik sowel as statutêr in terme van regstellende maatreëls) en polities korrek optree en dan sal als perfek wees. ʼn Groot deel van die swart bevolking sowel as die liberale elite in die land beskou dit op dieselfde manier. Hierdie siening versterk die persepsie dat die Afrikaner (en alle wittes) moet betaal en stilbly oor huidige gebreke in die land want hulle het mos hul morele stem prysgegee, dat hulle vir ewig verkeerd is en moet boete doen. Hierdie beskouing skryf ook voor dat die samelewing, “die ander”, die verlede en diskriminasie vir hul probleme en soek altyd sondebokke. Die probleem hiermee is dat dit nie slegs aan geldige doelwitte tekort skiet nie, maar dat dit moreel oneerlik is. Die slagoffer-mentaliteit raak dus sterker ingevolge hierde denkraamwerk sonder ʼn meegaande teenprestasie om verantwoordelikheid om met die huidige werklikheid se feite te werk en self verantwoordelikheid vir jou lewe te neem. Die “slagoffers” en hul wit simpatiseerders stel boonop nie ʼn duidelike doelwit met hierdie politieke korrektheid nie. Is dit net om nie ander se gevoelens seer te maak nie? Is dit sodat die gewese onderdrukkers net nie skuldig moet voel nie? Wanneer is hierdie oënskynlike doelwit bereik en kan die samelewing weer normaal funksioneer? Of wil hulle maar net die morele hoë grond kaap en daardeur weer ʼn nuwe heersersposisie sonder teenstand of kritiek inneem? Die Amerikaanse liberale sosioloog Martin Spencer gee sekere antwoorde op hierdie dilemma met die volgende verklaring:

“In this moral dialogue (synde politieke korrektheid) the victims are morally superior to their oppressors, who are generally White, and often particularly White males, depending on the group leveling the charge . . . Only whites can be racist, and are intrinsically so, whether they are prepared to acknowledge this fact or not.”

Terwyl Spencer hiermee na die VSA en sy samelewing verwys, kan hierdie aanhaling byna identies op Suid-Afrika se diskoers toegepas word. Die probleem is egter dat hierdie nuwe vyandigheid jeens die voormalige heersersgroep slegs om verskoning vra en nie die uitwerking van hul historiese aksies aanspreek nie. Blaam is nie ʼn oplossing vir swart armoede nie, dit vererger dit juis omdat dit die voormalige onderdrukte verlam om vorentoe te beweeg en self, en in samewerking met die gewese onderdrukker, ʼn beter gesamentlike toekoms te bepaal. Desgelyks kan dit nie verdere griewe tussen mense wegvee nie. Die aantal hofsake wat hangende is, misdaadgevalle en mense van dieselfde en verskillende rasse wat met mekaar stry, getuig van die onafwendbare aard van konflik tussen mense regoor die wêreld. Slegs die mees naïefste utopis sal hierdie feit ontken.

Moraliteit behels egter nie bloot net die aangenaamheid en neutraliteit van mense teenoor mekaar en die geskiedenis van amptelike politieke onderdrukking nie, maar ook ons daaglikse handelinge en huidige politieke euwels. Terwyl ek reeds melding van die Afrikaner en wittes se aandadigheid aan vergrype gemaak het, kan die huidige vlaag van amptelike korrupsie, gebroke gesinne, swart-op-wit rassisme, afwesige pa’s, stokkiesdraaiery en afhanklikheid van die staat ook in morele terme beoordeel word. Dus moet rassisme, diefstal van belastingbetalers se geld, luiheid, laksheid en oproepe om ander dood te maak almal oor dieselfde kam geskeer word. Die Britse akademikus Robert Hinde verwoord dit perfek:

“Moral principles are based in human nature, but societies and their cultures change, leading to a limited differentiation of moral codes between societies. Thus morality is neither absolute nor wholly sosially constructed.”

In ʼn demokrasie soos Suid-Afrika behoort ʼn sosiale kontrak te geld. Die burgers betaal hul belasting waarvoor daar bepaalde dienste op ʼn aanvaarbare standaard gelewer word deur die amptenary. Hierdie amptenare behoort hul salarisse op meriete te verdien en nie die taksgeld as hul eie te beskou nie. Indien rassisme verbied word, moet dit in alle kontekste geld. Daar kan nie buite die hof betoog word as ʼn boer – skuldig of onskuldig – kwansuis ʼn swart persoon in die nag op sy eiendom doodgeskiet het as verdedigingsmaatreël as Julius Malema nie deur sy eie party gerepudieer word as hy by voorbaat die doodmaak van boere bepleit nie. Swart rassisme en wit rassisme is ewe laakbaar. En vir elke morele reg is daar ook ʼn plig. Indien jy belasting ontduik is jy net so skuldig soos die persoon wat jok oor die hoeveelheid kinders wat hy het sodat hy nog staatstoelaes kan trek terwyl hy by die huis sit en niks doen nie. Beide is immoreel. So ook die man wat talle vroue swanger maak en hulle met MIV/Vigs besmet sonder ʼn aks van ʼn gedagte aan die gevolge aan diegene wat betrokke is. Jy as pa het ʼn plig om na daardie kind om te sien en jouself slegs tot een vrou te verbind.

Ek wil afsluit deur ʼn pleidooi aan almal in die land te lewer om hul eie morele kwesbaarheid te besef voordat hulle vingers na ander wys. Politieke korrektheid as ʼn soort aangenaamheidsmaatreël is ʼn naïewe en nie-spontane manier om nasiebou in die hand te werk. Die ekonomiese probleme gaan bly en maatskaplike samehorigheid gaan slegs slaag as mense vrywillig inkoop op die idee. Politieke korrektheid soos tans toegepas in Suid-Afrika, is ʼn eenrigting-doodloopstraat met swak doelwitte en dus swak oplossings. Dit kan nie werk nie. Hoe gouer almal dit besef, hoe gouer kan sukses behaal word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louis du Plessis ·

NIE WAT NIE, MAAR HOE

Eugene ~

1 Politieke korrektheid hang saam met die psigologiese predisposisie van konformisme. Vladimir Tikonov, ‘n Rus in die Sowjetunie van 1985, bedryf politieke korrektheid as hy Maxisme-Leninisme klakkeloos napraat, sonder nadenke. Maar die eerste Leniniste in die 1920s was nie polities korrek nie; hulle was oortuig van hulle saak. Die sleutelvraag is nie: Wat is die saak? nie. Die sleutelvraag: Hoe beredeneer ek die saak?

2 Talle ANC-ideoloë van die sogenaamde skuld van wittes, is oortuig van daardie skuld. Hulle tree níé polities korrek op nie. Hierteenoor: Die massa wat dit napraat – vir hulle is dit wel ‘n geval van politieke korrektheid. Ek sien ook in die Groot Debat ‘n paar vername here, wie se name ek beleefdheidshalwe nie sal noem nie, “erken” die skuld van wittes, wat ek weet hulle, onder makliker omstandighede, nie sou doen nie. Hulle het onwetend die geestelike knie gebuig. Hulle het die ANC-gif oornag ingekry. Vir hulle is dit waarskynlik reeds ‘n geval van politieke korrekheid.

3 Politieke korrektheid is nie eerstens ‘n stel standpunte nie; dis eerstens ‘n hóúding teenoor standpunte.

4 Ek kan jou name noem wat ek, weer eens hoflikheids nie sal doen nie, van slaafse aanhangers van die destydse Nasionale Party-regering wat deesdae net sulke slaafse aanhangers (en fondsinsamelaars!) is van die ANC-regering. Dis wat politieke korrektheid is: ‘n slaafse intellektuele gedienstigheid. Hierteenoor is daar tallose indiwidue wat die Nasionale Party ondersteun het, maar op grond van rasionele beredenerings. Hulle het destyds steeds ‘n gesonde en kritiese afstand gehandhaaf. Hulle was nie polities korrek nie, al het hulle dieselfde uiterlike standpunte gehandhaaf as die slawe. Dis daardie Afrikaners wat steeds vandag hulle onafhanklikheid teenoor die huidige bewind handhaaf. Hulle beoefen nie politieke korrekheid nie, maar politieke nadenke.

5 Jy ontleed tereg die kernelemente van politieke korrektheid onder die ANC-bewind in Suid-Afrika vandag, en wel deur ‘n sinvolle raamwerk te skep oor verskynsels soos apartheid, kolonialisme, rassisme, wit skuld, vergrype teen die bevolking, die ontvangs van salarisse op meriete of nie, en korrupsie. Jou deeglik geformuleerde raam hang saam met ‘n uiterlike werklikheid van sosiale, ekonomiese en politieke gebeure. Die faktor wat jou analise aansienlik sal versterk, is om ‘n oomblik weg te beweeg van uiterlike faktore na innerlike faktore toe: na hóé iemand hierdie verskynsels beleef. Natuurlik is die frases in ‘n standpunt ter sake, maar die vryheid en diepte van wie dit handhaaf, is net so ter sake.

6 Elkeen van ons kan die virus van politieke korrektheid inkry, as ons die heersende ideologiese clichés van ons omgewing, onnadenkend napraat. As ek en jy lank in die dampkring beweeg van ‘n werknemer of party of beweging en sy denkraamwerk, en dit later blindelings beaam, wat ook al die inhoud daarvan, verlam politieke korrektheid ons gees. Wat is die medisyne teen politieke korrektheid? Dit is daardie onafhanklikheid van denke wat NP van Wyk Louw so hoog waardeer.

Met agting

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.