Politieke stryd ontbloot VSA se groot verdeling

Larry Elder. (Foto: Twitter)

Demokrate se ware kleure kom na vore wanneer hulle met swart en gay konserwatiewes te doen kry. Hulle ergste vooroordele tree na vore tydens verkiesings, ongeag die front wat hulle voorhou om moreel suiwer te wees. Rassistiese en homofobiese uitsprake kom natuurlik wanneer hulle deur swart of gay konserwatiewes uitgedaag word. Swart geleerdes soos Larry Elder, Candace Owens, Allen West, Herschel Walker, Shelby Steele, Carol Swain, regter Clarence Thomas en vele ander moet gedurig walglike beledigings trotseer wat na hulle geslinger word net omdat hulle dit waag om konvensionele wyshede te bevraagteken. Onafhanklike swart denkers – beswadder, verwerp en in die pad gesteek ondanks suksesse behaal – maak wit linksgesindes woedend as hulle weier om onderdanig te wees.

Larry Elder, wat sopas die herroepingsverkiesing teen Gavin Newsom, Demokraat en Kalifornië-goewerneur, verloor het, moes die ergste mees vernederende rassistiese skeltaal van Demokratiese ondersteuners verduur omdat hy, as swart konserwatiewe, dit gewaag het om ʼn veldtog teen Newsom te voer. “Die swart gesig van wit oppergesag” is wat die Los Angeles Times gebruik het om Elder se merkwaardige prestasies tot niet te maak. “Rasverraaier”, “Oreo-koekie” en “Uncle Tom” is van die kragwoorde wat tot vervelens toe teen Elder gebruik is.

Elder het skaars besluit om in die verkiesing te staan toe aanklagte van seksuele teistering oral in Kalifornië-koerante deur die media aangeblaas is. Die LINKSES se ou paaiboelie wat hulle gebruik wanneer hulle invloedryke mans tot ʼn val wil bring van wie hulle nie hou nie, het klagtes van seksuele aanranding sy betekenis laat verloor, veral wanneer die Demokrate dikwels die losbandigste spesie onder die son is.

Aktrise Rose McGowan, wat Harvey Weinstein se seksuele uitbuiting van jong aktrises aan die lig gebring het, het koue water op hierdie holruggeryde perd teen die Republikeine gegooi toe sy in detail bekendgemaak het hoe goewerneur Newsom se vrou haar gebel en probeer omkoop het om haar aanklagte teen Harvey Weinstein te laat vaar. McGowan ondersteun Elder openlik.

Elder, wat weier om na sy teenstanders se vlak te daal, maak hierdie rassistiese skeltaal af met ʼn skouerophaling, terwyl sy plakkate gedurig ontsier word. Net ʼn paar dae gelede het ʼn jong wit vrou op ʼn fiets, terwyl sy ʼn gorillamasker gedra het, Elder en sy persoonlike veiligheidswagte met eiers bestook. Dit was duidelik ʼn haatmisdaad, maar die polisie het haar tot dusver nog nie in hegtenis geneem nie. Was dit ʼn swart Demokraat wat op soortgelyke wyse aangeval is, sou dit volledige mediadekking geniet het en sou die oortreder lankal reeds toegesluit gewees het. Nie een Demokraat het hierdie haatmisdaad veroordeel nie.

So, wie is hierdie Larry Elder wat dit waag om een van die Demokrate se goue seuns uit te daag?

Gavin Newsom (Foto: Twitter)

Anders as Newsom het Elder ʼn BA-graad in politieke wetenskappe aan Brown-universiteit verwerf, wat hy net daarna in 1977 met ʼn doktorsgraad in regte aan die Universiteit van Michigan Law School opgevolg het. As jarelange gesindikeerde rubriekskrywer en radioaanbieder sluit een van sy eerbewyse ʼn Los Angeles-area Emmy vir KCAL-TV News in, getiteld Making Waves. In 2015 is hy met ʼn ster op die Hollywood Walk of Fame vereer.

Elder het onlangs ’n film, Uncle Tom, vrygestel waarin hy die spervuur van rassistiese beledigings presies onthul wat swart intellektueles gereeld moet trotseer omdat hulle dit waag om onafhanklik te dink. As skrywer van talle boeke en films blyk dit dat dit eerder Elder se ras en politieke oortuiging is wat die onnosele linkervleuel Demokrate laat slaags raak as sy indrukwekkende getuigskrifte – weereens ʼn bewys dat linkses intelligente swart mense, wat weier om deur hulle gedefinieer te word, verafsku.

Die hoogs ongewilde Newsom is geen intellektuele eweknie vir Elder nie. Al het Newsom die verkiesing oor Trump laat gaan, het Republikeine, Demokrate en Onafhanklikes – ʼn totaal van meer as 1,7 miljoen mense – die herroepingspetisie teen Newsom onderteken vir sy tiranniese inperkings (wat hy self oortree het); sy onvermoë om veldbrande te bekamp (waarvan sommige die hele historiese dorpie Dixie vernietig het); stygende misdaad; die sluiting van 15 000 klein besighede; en die toename in haweloosheid.

Gebore midde-in Kalifornië-aristokrasie lyk dit asof Newsom polities opwaarts gemobiliseer het, hoofsaaklik weens sy betrekkinge met die politieke elite. Newsom het regdeur sy veldtog vir Elder beswadder deur hom herhaaldelik met Trump te verbind, asof Elder nie ʼn persoon in eie reg is nie. Daarteenoor was Newsom die grootste deel van sy loopbaan ʼn politikus: Burgemeester van San Francisco 2013-2010, luitenant-goewerneur van Kalifornië 2011-2018, goewerneur in 2018, en hy het homself vir ʼn kort rukkie voor sy politieke loopbaan bietjie met besigheidsaktiwiteite besig gehou.

Ongeag die beskrywing deur die hoogs eensydige Wikipedia as ʼn “prominente voorstander van LGBT-regte, gay-huwelike, immigranteregte, universele gesondheidsorg, bekostigbare verblyf om die behuisingstekort te beveg, omgewingsbeleide om klimaatverandering te bestry, ʼn minimumloon, wapenbeheer en die wettiging van dagga”, is daar nie veel meer wat Newsom oor homself kan sê nie. Hierdie nege generiese gebooie is niks anders nie as die heilige graal van identiteitspolitiek wat by elke naam van ʼn leier-Demokraat gevoeg word.

Argieffoto (Foto: Tumisu/Pixabay)

Sy oproep vir beleide om klimaatverandering te beveg, verberg sy onwilligheid om bosbestuur en brandbestryding voldoende te befonds en dit veroorsaak jaarliks miljoene dollars se verliese weens die voortdurende brande. Deur president Trump ʼn klimaatloënaar te noem, verskuif hy die aandag weg van sy volslae onbevoegdheid. Kalifornië spandeer meer as enige ander staat aan geestesgesondheid per capita. Die invloei van dodelike dwelms soos fentaniel, heroïen en meth deur die toeganklike suidelike grens het tot onbeheerbare kroniese probleme van geestesiektes en dwelmverslawing gelei.

Newsom se ondersteuning vir bekostigbare behuising is ʼn grap terwyl eiendomsregte in Kalifornië die hoogste van alle state is en vandaar ook die hoogste koers van haweloosheid (in 2020 was daar 151 000 haweloses). As tuiste van 189 miljardêrs en 44% van Amerika se 618 000 miljoenêrs verbloem Newsom se kastige empatie sy minagting vir die armes.

Die Center Square (19 September 2020) doen verslag, op grond van Sensusburo-data:

“… dat ʼn gemiddeld van 18,2 % van Kalifornië se ongeveer 40 miljoen inwoners gedurende die voorafgaande drie jaar behoeftig geraak het.”

“Kalifornië se koers is drie keer hoër as dié van Iowa se 6,8%, wat die laagste in die land is. Dit is ook aansienlik hoër as buurstate se armoedekoers van 13,7% in Nevada, 12,8% in Arizona en 11,1% in Oregon.”

“ ʼn Bietjie meer as 36% van Kalifornië se inwoners leef op of naby die broodlyn; meer as een derde van sy bevolking.”

Kalifornië, die rykste en mooiste staat, is vinnig besig om inwoners te verloor met duisende wat na vryer state soos onder andere Texas, Florida en Tennessee emigreer. Slegs tussen Julie 2019 en Julie 2020 het 135 000 mense die staat verlaat en volgens Lauren Heppler van CalMatters (11 Februarie 2021) het “meer mense die staat verlaat as wat hierheen getrek het. Dit is slegs die twaalfde keer wat dit sedert 1900 gebeur het.”

(Foto: Sandy Huffaker/Getty Images/AFP)

Moeg vir tiranniese inperkings, agteruitgang in die kwaliteit van onderwys in publieke skole, Covid-19-mandate, eindelose brande en hoë misdaadsyfers is redes vir die uittog uit Kalifornië en bewys van Newsom se swak regering. Volgens goewerneurs-kandidaat Caitlyn Jenner is Tesla, Oracle en Hewlett Packard reeds weg, sowel as duisende ander besighede. Paul Petrovich, bekende Kaliforniese entrepreneur en kommersiële eiendomsontwikkelaar vir groot besighede soos Costco, Target, Walmart, McDonalds, Wells Fargo en Verizon, het in 2020 gesê dat hy die staat sou verlaat. Mense wat die staat verlaat, is hoofsaaklik lae- en middel-inkomstegroepe wat moeg is vir hoë belastings, hoë eiendomsbelasting, swak skole, verkeersopeenhopings en swak vervoerstelsels.

Op 8 September 2020 lewer Lee Ohanian as volg verslag:

“Kaliforniese besighede verlaat die staat in hulle hordes. Net in 2018 en 2019 – ʼn ekonomiese bloeityd – het 765 handelsinstellings Kalifornië verlaat. Hierdie uittog sluit nie Charles Schwab se aankondiging in om San Francisco volgende jaar te verlaat nie. Dit sluit ook nie die geskatte 13 000 besighede in wat tussen 2009 en 2016 die staat verlaat het nie.

Die rede? Ekonomie, doodeenvoudig. Kalifornië is te duur en belastings en voorskrifte is te erg. Die Tax Foundation plaas Kalifornië 48ste op die ranglys wat betref besigheidsklimaat. Kalifornië word ook 48ste in terme van reguleringslaste gelys. Kalifornië se lewenskostes is ook 50% hoër as die nasionale gemiddeld.”

Die politieke stryd tussen Newsom en Elder ontbloot Amerika se verskuiwingslyn van diepliggende verdeling van ras, klas en geslag wat, wanneer dit geïgnoreer word, ons dieper in die politiek van verdeling en persoonlike vernietiging sal intrek. Newsom, wit en bevoorreg, het regte om Elder op grond van ras te beswadder, om skelname en leuens te gebruik om sy swart teenstander te belaster, bekwaam bygestaan deur die hoofstroom media. Elder, daarteenoor, wat meer as genoeg vraagstukke gehad het om ʼn veldtog oor te voer, was in elke opsig hoogs gekwalifiseerd om Newsom op meriete teen te staan en het gevolglik geweier om na goedkoop geswets en beledigings te gryp.

Ondersteuning vir Elder het die Kalifornië-elite in Hollywood geskok. George Soros, die unies en korporasies het – toe hulle die bedreiging besef – miljoene aan hierdie veldtog spandeer, wat die toenemende besef dat Amerikaanse verkiesings al hoe meer deur rykes gekoop en deur aanspraakmakers gemanipuleer word, bevestig het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.