Politieke temperatuur in Persiese Golf aan die styg

Die Britse olietenkskip, die Stena Impero, in die see by die Iranse hawestad Bandar Abbas. Foto: (Morteza Akhoondi/Tasnim News Agency via AP, File)

Die politieke temperatuur van die krisis in die Persiese Golf is weer aan die styg. Iran het pas ’n tweede tenkskip gekaap en daag daarmee die ganse Weste uit.

Dis geen esoteriese saak van doer ver wat niks met Suid-Afrika te make het nie. Suid-Afrika het weliswaar al sy invoer van olie uit Iran weens internasionale sanksies teen dié land gestaak, maar kry ’n groot deel van sy olie uit die Persiese Golf as sodanig.

Amptelike syfers wys dat Suid-Afrika 42% van sy olie uit Saoedi-Arabië (waarvan verreweg die meeste olievelde naby aan die Persiese Golf geleë is) invoer. Nog 34% kom uit Nigerië en 13% uit Angola.

Die Suid-Afrikaanse regering het nog in Maart vanjaar laat blyk dat hy polities aan Iran se kant staan in dié se konflik met Amerika, maar die land het weinig keuse as om aan die internasionale verbod op invoer van olie uit Iran toe te gee.

Hoe ook al, gesien die feit dat 42% van ons olie uit Saoedi-Arabië kom, is die Suid-Afrikaanse ekonomie buitengewoon gevoelig vir wat daar gebeur. En wat tans daar gebeur, is dat dinge dreig om buite beheer te raak.

Die agtergrond vir die krisis is dít: In 2015 het ’n internasionale koalisie, bestaande uit Amerika, Rusland, China, Duitsland, Frankryk en Brittanje, ’n ooreenkoms met Iran gesluit waarvolgens laasgenoemde sy program om kernwapens te ontwikkel, laat vaar het. Die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA) sou toesig hou oor die afbreek van die program, en in ruil is internasionale sanksies grotendeels laat vaar.

Die ooreenkoms het een groot leemte gehad. Geen beperking is geplaas op Iran se destabiliserende aktiwiteite in die Midde-Ooste – sy deelname aan die burgeroorloë in Sirië en Jemen – nie.

Dit het aan pres. Donald Trump die gaping gegee om dit as “die slegste ooreenkoms in die geskiedenis” te bestempel, en verlede jaar het hy Amerika aan dié akkoord onttrek. Die sanksies teen Iran, strenger as ooit, is hervat.

Sedertdien het die ander lande in die internasionale koalisie wat die 2015-ooreenkoms met Iran gesluit het, hard gespook om dit te red. Maar stukkie vir stukkie het dit verder uitgerafel.

John Bolton. Foto: (AP Photo/Martin Mejia)

’n Grens is ’n paar weke gelede oorgesteek toe Britse mariniers onder Amerikaanse druk ’n Iranse tenkskip, na bewering vol olie vir Sirië, in die hawe van Gibraltar in hegtenis geneem het. Die VN het ’n verbod op die uitvoer van olie na Sirië geplaas.

Iran het twee weke gelede teruggeslaan deur ’n Britse tenkskip in die Straat van Hormoes met soldate in te neem en noordwaarts na die hawestad Bandar Abbas te dwing. ’n Britse fregat was net te laat om dit te verhinder. Vandeesweek het Iran ’n tweede tenkskip, dié keer van Irak, op see in die Persiese Golf beset.

’n Blik op die kaart wys waarom die omgewing so belangrik is. Op sy nouste punt is die Straat van Hormoes maar sowat 18 km breed en kan dus relatief maklik toegestop word.

Dis nie dat Iran ’n kragtige vloot het nie, maar hy het nie een nodig nie. Klein, vinnige bootjies met spesmagte aan boord en seemyne is volkome voldoende om alle skeepsverkeer deur die Straat te verlam.

Die internasionale gemeenskap reageer, soos gewoonlik, verdeeld.

Amerika het ’n internasionale maritieme taakmag onder sy leiding voorgestel om die deurgang tussen die Persiese Golf en die Indiese Oseaan (en dus die res van die wêreld) te beveilig, maar Brittanje verkies ’n Europese inisiatief. Premier Boris Johnson, wat pas die mag in Londen oorgeneem het, wil klaarblyklik nie lyk of hy willoos aan Trump se leiband loop nie.

Die ander Europese moondhede wik en weeg nog, dikwels omdat die regerende koalisies verdeeld is en geen definitiewe besluit kan neem nie.

Intussen nader die politieke temperatuur in die Golf kookpunt. Die Internasionale Krisisgroep (ICC), ’n onafhanklike dinkskrum in Brussel wat die internasionale politiek ontleed, het pas ’n omvattende verslag gepubliseer met die veelseggende titel “Averting the Middle East’s 1914 Moment”.

Daarmee word bedoel die wyse waarop Europa in 1914 – sonder dat enigeen werklik daarop uit was – in die Eerste Wêreldoorlog ingegly het – of, in die woorde van die historikus Christopher Clark, in hul slaap in ’n oorlog ingewandel het.

Die ICC maak die punt dat slegs ’n vonk nou genoeg kan wees om ’n brand te veroorsaak wat na ander wêrelddele kan oorslaan.

Washington en Teheran is elkeen op ’n koers wat hulle reg van voor teen mekaar kan laat bots. En, net soos in 1914, is daar geen kommunikasiekanale waardeur hulle hul werklike bedoelings kan verduidelik nie. Dit beteken dat, soos destyds, een se stap verkeerd deur ’n ander verstaan kan word, met die gevolg dat hy verkeerd reageer – en so eskaleer dinge tot hulle heeltemal buite beheer is.

Die probleem is dat die oogmerke van elemente in albei partye totaal is. Trump self is duidelik nie op oorlog uit nie, maar van sy nasionale veiligheidsraadgewer, John Bolton, word dikwels gesê dat hy nog nooit ’n oorlog teëgekom het waarvan hy nié gehou het nie.

Bolton se oorkoepelende strategiese doel is duidelik om die Iranse regime tot ’n val te bring. Dit druk die Iranse maghebbers in ’n hoek waaruit dit moeilik is om met diplomasie te kom; dit maak hul toevlug tot geweld meer logies.

Hassan Rouhani, president van Iran. Foto: (Iranian Presidency Office via AP)

Andersyds is ook die Iranse regime verdeeld. Die verkose president, Hassan Rouhani, is relatief gematig, maar die grondwet gee hom slegs beperkte magte.

Die egte mag agter die troon, wat die kitaar slaan, is die geestelike leier, ajatolla Ali Khamenei, gesteun deur die invloedryke bevelvoerders van die Iranse Revolusionêre Garde, genls. Hossein Salami en Kassem Soleimani. Dis mense wie se voorvingers brand om die sneller te trek.

Hulle word besiel deur ’n ekstremistiese vorm van een van die twee hooftakke van die Islam, die Sjiïete. Tradisioneel word die Sjiïete beskou as die tak wat die maklikste bereid is om mense as martelaars op te offer.

Aangesien alles in die Midde-Ooste met alles verbind word, kan die konflik maklik na ander kruitvate oorslaan. Iran is immers reeds in Sirië en Jemen betrokke, en dit sal nie veel kos om Israel ook in te suig nie.

En intussen kan Suid-Afrika die ontwikkeling met kommer dophou. Ons lotgevalle kan ook beïnvloed word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jerry ·

Die regerende party van SA se lojaliteite teenoor Iran, inteendeel teenoor alle lande wat anti-westers is, is welbekend. Europa en Iran sal vredesooreenkomste aangaan wat Amerika gaan uitsluit. Dat Amerika se Trump briesend gaan wees en almal gaan beledig en wil sanksie, maar militer niks daaromtrent sal doen nie, is tenminste 99% virseker en tekenend van n lieplapper president!

HPV ·

Jy is reg Francois, die wêreld het lankal vergeet hoe lyk ‘n wêreldoorlog. Dit is seker tyd vir ‘n volgende een waarna weer gesê sal word, dit moet nooit weer gebeur nie. Die mens leer nooit uit sy vorige ellendes nie!

Abel ·

Dankie vir nog ‘n insiggewend artikel, Leopold. Die Weste is op die oomblik in ‘n interessante posisie. Trump sit tussen twee warm klippe. Die VSA kan nie nog ‘n oorlog in die Golf bekostig nie: nie polities of ekonomies nie. Maar in die aanloop tot die Amerikaanse verkiesing sal hy nie uitgemaak wil word as ‘n swakkeling as dit by buitelandse beleid kom nie. Teen die agtergrond van Brexit is Europa nie oorgretig om met Brittanje saam te werk nie. Die VK se ekonomie laat nie baie bandwyte vir oorlogspeletjie toe nie. Die Britse Koninlike Vloot is verwaarloos tot op die punt waar dit nie oor die vermoë beskik om oor lang afstand vir lang tye operasies te kan uitvoer nie . Europa sal teen die agtergrond van sy eie Moslemvlugtelingsprobleem nie verder die pot in die Midde-ooste wil roer nie. Rusland is besig met sye eie speletjies in die Golfgebied om Amerikaanse invloed in te perk. Interessante tye.

Kom Ons Boks ·

Hierdie artikel van Mnr. Schotlz is in die kol. Baie Dankie. Sommer hele rukkie terug was ek mooi op MM uitgehaal oor my siening dat die Shiites oor die algemeen baie meer vyhandig was/is teenoor die Weste as die Sunnis. Alhoewel Bin Laden en heelwat ander Moslem ekstremiste wel Sunnis (Salafalism – ekstremistiese uivloeisel/doktrine van Sunnism i.e ISIS) was/is, is die Sunnis wat nie-ekstremisties is baie meer goedgesind teenoor die Weste oor die algemeen. Amerika het allermins’n permanente militere basis in Saoedi Arabie en die land het letterlik die rooi tapyt uitgerol toe Pres. Trump vroeg in sy Presidensie die land besoek het (Pres. Trump se eerste offisiele buitelandse besoek na sy inhuldiging nogal). Die VSA het dan ook histories baie goeie verhoudinge met Irak se Saddam (‘n Sunni) gehad voor Desert Storm en Bush se inval onder valse voorwendsels. Iran aan die ander kant is die grootste befondser van terreur in die wereld en hierdie onlangse blatante skeeps-kapings is verdere bewys van hul rampokker status. Selfs tydens die Obama administrasie se akkoord met Iran, het menige van Iran se parlementslede in die publiek luidkeels “Death to Amerca” gesing en VSA vlae verbrand. Iran is soos die klein stout seuntjie wat die grootste seuns in die skooljaard gedurende pouse aanhoudend terg. Internasionale saamstaan is nou nodig om onnodige oorlog af te weer soos wat Mnr Scholtz ook noem.

chrisjan ·

Ai as hier darem net ‘n reuse oliebron in die land raak geboor kan word.!Dit sal BAIE dinge vergemaklik en verbeter vir ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.