Politieke verdelingslyne in VSA verhard verder

trump en clinton

Donald Trump en Hillary Clinton

Die Yuengling-bierbrouery, in Pennsylvanië in die VSA, is die oudste bierbrouery in dié land. Die eienaar van die brouery, Richard Yuengling, se onlangse besluit om sy steun aan Donald Trump in die Amerikaanse verkiesing toe te sê, veroorsaak nou dat ʼn volskaalse veldtog teen sy brouery gevoer word. Nadat ʼn linkse drukgroep onlangs begin het om kroeë en ander afsetgebiede, waar Yuengling se bier verkoop word, te teiken, het talle instellings reeds besluit om die verkope van dié bier te staak.

Die kitskosmaatskappy, Chick-fil-a, was die afgelope paar jaar self die teiken van ʼn boikotaksie, nadat die uitvoerende hoof van dié familie-onderneming homself gedurende 2012 teen die wettiging van huwelike tussen persone van dieselfde geslag uitgespreek het. Vroeër vanjaar het die burgemeester van New York inwoners van dié stad versoek om die restaurantgroep te boikot.

Wat met Yuengling en Chick-fil-a in die VSA gebeur het, is nie geïsoleerde voorvalle nie. Verskeie drukgroepe regoor Amerika is toenemend besig om ondernemings waarvan die eienaars hulself by spesifieke politieke partye, leiers of selfs net beleidstandpunte en waardes skaar, te identifiseer en dan veldtogte teen hulle te voer.

Die rede hiervoor is die toenemende politieke onverdraagsaamheid veral teenoor konserwatiewe sakelui. Politieke aktivisme in die VSA neem die afgelope paar jaar toenemend ʼn nare karakter aan soos wat elke individu en instelling, wat nie met ʼn bepaalde groep se standpunte saamstem nie, geïdentifiseer en verneder word. Daar bestaan vandag webbladsye waarop mense met spesifieke standpunte kan gaan kyk watter ondernemings om te steun en watter ondernemings om te boikot. Die tradisionele verdeling tussen liberale en konserwatiewe Amerikaners word tans so ver gevoer dat die harde verdelingslyne deurgevoer word tot op die vlak van jou keuse vir ʼn bier of vir ʼn wegneemete.

Die idee van twee Amerika’s is lank reeds bekend. Die verdeling tussen Republikeine en Demokrate en tussen konserwatiewes en liberales bestaan reeds baie lank. Gedurende die grootste deel van die twintigste eeu kon Amerikaners egter daarin slaag om gereeld hul politieke verskille agter te laat wanneer dit nodig was. Deesdae lees ʼn mens egter in Amerikaanse koerante hoe families opgebreek en saketransaksies skipbreuk ly omdat mense met verskillende politieke standpunte nie meer daarin kan slaag om daardie verskille op die agtergrond te skuif wanneer dit nodig is nie.

Vier jaar gelede het Mitt Romney, toe die Republikeinse Party se presidentskandidaat, tydens ʼn private fondsinsamelingsgeleentheid die opmerking gemaak dat 49% van Amerikaners nie vir hom sal stem nie, omdat hulle afhanklik is van die staat. Sy neerhalende opmerking, oor byna die helfte van die VSA se bevolking, was natuurlik naby aan feitelik korrek. Onlangs het Hillary Clinton gesê die helfte van Trump se ondersteuners s ʼn betreurenswaardige klomp. Dit sluit aan by talle ander neerhalende opmerkings van haar en haar veldtog teen Trump-ondersteuners.

Volgende week se verkiesing in die VSA sal waarskynlik die harde skeidslyne net vererger. Die gevolge van hierdie harde verdeling tussen politieke pole sal oor die volgende paar jaar meer duidelik raak soos wat Trump of Clinton as president eerder die verskille sal beklemtoon as versag.

  • Hierdie meningstuk is oorspronklik op Pretoria FM uitgesaai. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

John ·

Die American Dream wat deur een of ander buiteruimtelike wesens (wat snaaks genoeg altyd net die’ fiksie-georienteerde nasie teiken) op die VSA afgedwing is, gaan binnekort grootliks inplof met effe groter skade as tydens die Manhatten-ramp. Hillary sal wit babakousies brei en vrolik babbel langs guillotine-teregstellings waar bloed ver spat.

Henry ·

Moet tog nie die Marxiste se verdraaïng van Friedrich Hegel se teorie glo dat hierdie proses uiteindelik tot stilstand kom wanneer hul fiktiewe Utopia eendag bereik word nie.
Die Sintese word weer die nuwe Tese, waarna die hele proses homself herhaal.
Dit is uiteindelik ‘n nimmereindigende proses.

gatiep ·

Hehe John moet lag vir jou maar dink dit is wat gaan gebeur as sy inkom.
Daar is nie plek vir normale mense met normale denke in USA nie en sy gaan met n spoed van hulle ontslae raak.

DewaldS ·

Ons hou maar duim vas dat Donald Trump deurkom, dat hy die prop uittrek en Washington se verrotte moeras leegdrein en dat die pers (wat die eintlike verdelers is) tot verantwoordelike optrede deur die nuwe regering en deur die mense geroep word.

Daai is my wenslysie.

Therese van Schalkwyk ·

Sit my naam by daai wenslysie. Sou graag vir hom wou stem. Glad nie skaam om dit hardop te sê nie. Kans op Trump-oorwinning lyk egter skraal.

Schalk ·

Therese, Met die ondersoek teen haar op die stadium deur die FBI, verklein haar kanse om die volgende President te word met die spoed van witlig. Ek is bevrees, die vrou is die duiwel, maar die liberale Amerikaners gaan nog lang trane huil indien sy dit sou regkry om wel die verkiesing te wen.

Herman G ·

Hoor, Hoor!
Dis belaglik hoe die pers Trump heeltyd kasty, maar Hillary Clinton kom met (figuurlike) moord weg!

Thuunda ·

Dit is ook moontlik dat as HRC wen as president dat state soos Texas sal druk vir afstigting…onwaarskynlik dat dit deurgevoer sal word, maar die druk sal vermeerder.

VSA is in vir ‘n harde tyd, of HRC of Trump nou wen maak nie saak nie, die ander helfte gaan BAIE ongelukkig wees met die resultaat.

Hoop nie die heks wen nie…Trump is nie perfek nie, glad nie, maar soveel 1000’de male beter as HRC.

Thyskotze ·

Ja die VSA is n nasie op sy eie maar regoor europa neig die mense meer weg van liberalisme dit word aljare afgedwing deur Amerika en Engeland

Chris ·

Liberalisme is ‘n euwel wat beveg moet word – kyk maar net na Europa en wat die oop grense en vlugtelinge aan die eens rustige kontinent gedoen het – HRC sal miljoene Meksikane burgers maak en die Republikeine kan dan daarvan vergeet om ooit weer n verkiesing te wen

Bert ·

Hoe meer die demografiese druk op wit inwoners van die Weste, hoe meer die neiging na regs. Dit speel ‘n baie belangrike rol in wat ons tans sien uitspeel in die Weste.

Knikkebollen ·

In die tweede helfte van die 19de eeu, was daar ‘n groep in Frankryk wat na hulle self as die Liberale verwys het. Hulle het aangedui dat demokrasie nie in lande met veelvuldige rasse, stanme ens kan werk nie as gevolg van wat hulle beskryf as ‘irreconcilable differences’. Logika wat meer en meer bewys word as jy my vra maar meer en meer hardenekkig ontken word.

Riaan ·

Die heilge gedagte dat die VSA ” one nation, under God and indivisible ” is moet van wegbeweeg word. Ons wat hier vir jare woon ervaar hoe state en gemeenskappe in state verskil. Ek sou wou sien dat state moes kan afskei as demografie en lewesuitkyk en beskawingskarakter dit vereis.

Pietman ·

Snaaks hoe onverdraagsaam liberales is wanneer iemand van hul uitkyk verskil. Die persoon moet geboikot word of sy werk verloor of sy opninie moet van die koerant verwyder word. Ou steve het dit al hier ervaar, ook het vele lesers dit met Naspers ervaar. Hulle is ook meesters om byeenkomste te ontwrig. Die demokrate het self mense betaal om dit met Trump te doen. Hulle noem hulsef dus liberale maar is in effek diktators. Is dit nie tyd vir die nasionaliste en regses om hierdie spel te speel nie?

Wilhelm ·

Trump stel die VSA eerste en Clinton probeer die wereld tevrede stel!
Die vraag is wie is die beste om die VSA te lei; beslis nie Clinton nie.
Sela

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.