Politieke versplintering na nuwe vlak gevoer in Nederland

geert-wilders-van-pvv

Geert Wilders, leier van die Partij voor de Vrijheid (PVV). Foto: Twitter.

Op 15 Maart, vier weke van nou af, sal sowat 10 miljoen Nederlanders die geleentheid kry om 150 volksverteenwoordigers tot die Tweede Kamer der Staten-Generaal te verkies. Die Tweede Kamer der Staten-Generaal, oftewel die laerhuis van die Nederlandse Parlement, is ʼn magtige politieke instelling waar koalisieregerings ná verkiesings gevorm word en waar die meeste wette geskryf en toesig oor die kabinet uitgevoer word.

Tans het 17 politieke partye verteenwoordiging in die Tweede Kamer. Tydens die komende verkiesing sal kiesers vir kandidate van 28 partye kan stem. Nederland word tans regeer deur ’n koalisie van die sentrumregse Volkspartij voor Vrijheid en Democratie en die sentrumlinkse Partij van de Arbeid. Hoewel hierdie koalisie sedert die vorige verkiesing in 2012 oorleef het, lyk die kanse skraal dat dié twee partye ná vanjaar se verkiesing weer saam sal kan en wil regeer. Die Partij van de Arbeid het oor die afgelope vier jaar bykans in duie gestort wees sy rol in die huidige regering. Mark Rutte, die huidige eerste minister van Nederland en leier van die Volkspartij voor Vrijheid en Democratie, het die arbeiders op meesterlike wyse gebruik om sy sentrumregse, meer vryemarkgesinde beleid uit te voer. Behalwe dat hierdie twee partye nie meer vreeslik lus is om met mekaar in ’n regering saam te werk nie, is daar byna geen kans dat hulle saam genoeg steun sal kry om ʼn regering te vorm nie.

Soos in die meeste Europese lande beleef ook Nederland hoe die gevestigde politieke partye wat meestal sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog regeer het, toenemend ongewild raak en hoe die politieke landskap ’n totale versplintering beleef. ’n Tweede Kamer met 150 parlementslede wat uit soveel as 20 politieke partye saamgestel is, gaan sukkel om ’n werkbare regeringskoalisie te vorm. Die dae waar twee of drie partye kon saamkom om die nodige 76-stemme meerderheid te behaal, is waarskynlik verby. Soveel as vyf of selfs ses politieke partye van regoor die ideologiese spektrum sal in ’n koalisie bymekaar moet kom ten einde ’n nuwe regering te vorm.

Die politieke uitdaging in Nederland is nie net die agteruitgang van die ou groot partye nie, maar ook die vestiging van ’n breë front van nispartye wat elkeen deur een of twee kernsake gedryf word. Tans is daar in die parlement ’n party vir diereregte, ’n party wat die belange van bejaardes vooropstel en selfs ’n party wat op die regte van Turkse immigrante fokus.

Soos wat daar in België, Spanje en Griekeland deesdae gesukkel word om regeringskoalisies saam te stel, gaan Nederland waarskynlik ook toenemend dieselfde beleef. Burgers se frustrasie met die gevestigde politieke orde en die toenemende ondermyning van demokrasie deur ’n regerende Europese elite gaan tot ’n verdere fragmentering van die Nederlandse politiek aanleiding gee. Intussen gaan die nasionalistiese Partij voor de Vrijheid van Geert Wilders waarskynlik eerste of tweede eindig. Die uitsluiting van hierdie party uit ’n koalisieregering sal die vertroue in die Nederlandse demokrasie eerder laat afneem. Massa-immigrasie, terrorisme, die burokrasie van die Europese Unie en Nederlandse identiteit in ’n globaliserende wêreld kan oor die volgende vier weke tot ’n baie interessante politieke stryd in Nederland aanleiding gee.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Regi ·

Ongelukkig is die Nederlanders nes die meeste Afrikaners…stiksienig, passief en fatalisties. Daar is min ruggraat.

Kas ·

Kyk hoe word ons nou oral uitgedruk omdat ons n minderheid is. Julle europeers moet uit ons foute leer. Moet nie die minderheid word nie want dan word julle uitgevee soos ons.

Andries Erwee ·

In watter land regeer n party al sedert die 2 de wereldoorlog.? N verregse groep Forteyn was al in Nederland deel van die regerin (2002) maar daardie regering het n paar maande gehou en die Forteyn groep is in die volgende verkiesings heeltemal uitgewis.

Jaco Kleynhans ·

Andries. Lees asb weer. Ek sê dat die gevestigde partye meestal sedert die einde van die oorlog regeer het. Dus nie een party nie, maar meestal een van die gevestigde partye. Groep Fortuyn het nooit regeer nie, maar die PVV was wel vir enkele jare ‘n stille vennoot in die Rutte 1-regering. Die punt wat ek probeer maak het is dat ‘n klein groepie hoofstroompartye die meeste Europese lande vir dekades binne ‘n soort konsensus regeer het en dat dit met die opkoms van nuwe populêre en enkelkwessie-partye bedreig word.

danie ·

Die Nederlanders is tegnologies ons ver voor. hulle opvoeding van die hoogste gehalte. Min werkloosheid. Hulle beredeneer en debatteer alles en die resultate is goed. Dis ‘n land wat uitstekend funksioneer. Dit gaan ‘n baie interresante verkiesing en nagevolg hê

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.